Skip to content | Skip to navigation

Sinodale diensraad » Besluite Van Sinodale Diensraad » Verklaring 1994 tot 2004

Verklaring 1994 tot 2004


2008/05/05

11 Maart 2004

 

Die Sinodale Diensraad van die Sinode van Oos-Transvaal is dankbaar dat die eerste tien jaar van die nuwe demokratiese bestel in Suid-Afrika relatief vreedsaam verloop het. Verder is ons dankbaar dat alle landsburgers na eie keuse in die komende algemene verkiesing kan gaan stem en aan die dankgeleenthede kan deelneem.  Die Kerk geniet steeds die voorreg om sonder ernstige hindernis met haar Godgegewe opdrag voort te gaan om die Evangelie van Jesus Christus aan alle mense te verkondig en liefde aan alle mense te betoon.  Hieroor is ons bly.  Tog is daar sake waaroor die Diensraad bekommerd is.  Die volgende word vermeld en verdien die Kerk se ernstige voorbidding en optrede:

 

Een:    Die hoë vlak van ernstige geweldsmisdade, waaronder roof, moord, kindermolestering en verkragting.  Die gebrek aan respek vir die lewe en eiendom van ander wat deur hierdie steeds groeiende groep misdadigers geopenbaar word, het reeds tot oneindige hartseer en leed by baie mense gelei.  Ons wil almal oproep om volhardend by die Here in te tree teen enige vorm van geweldsmisdaad.  Indien hierdie vlaag van geweld nie gou gestuit word nie, kan dit tot groot bitterheid onder landsbewoners lei.  Ons herinner die Owerheid ernstig aan hulle plig om al die inwoners van ons land na behore teen geweldsmisdade te beskerm.

 

Twee:  Die behuisingsnood onder baie inwoners, vir wie die gaping tussen ryk en arm (om te hê en nie te hê nie) net groter word.  Vanuit die Christelike geloof moet almal in die land 'n menswaardige bestaan kan geniet.  Christene is mededeelsaam en gun ander wat hulleself het.  Daarom is die herverdeling van grond nie vir die Kerk 'n probleem nie, op voorwaarde dat dit so geskied dat huidige grondbewoners op 'n regverdige en billike wyse behandel word.

 

Drie:    Die krisis in die onderwys, waar dit dikwels moeilik raak om die Christelike godsdiens te beoefen, wek kommer.  Die morele verval in die land noodsaak die Kerk om toe te sien dat die Christelike lewensstyl ook in die skool deur gelowige leerkragte aan die opkomende geslag oorgedra word.  Die Kerk wil steeds hierin die skool en ouergemeenskap se vennoot wees.

 

Vier:    Die groeiende materialistiese en plesier-soekende ingesteldheid van die landsbewoners.  Die ontheiliging van Sondag en die verdringing van die kerklike feesdae is sake waaroor die Kerk nie meer kan swyg nie.  Die Bybel is duidelik daaroor dat mense nie God én Mammon kan dien nie.  Die heil van hierdie mooi land lê nie in geld nie, maar in die hande van die lewende God aan wie ons getrou moet wees.  Lidmate word aangemoedig en moet bemagtig word om hulle lig in die markplein te laat skyn.  Baie dankie aan lidmate en gemeentes wat finansieel en op verskillende konkrete maniere daadwerklik by armoedeverligting betrokke is.

 

Behalwe bogenoemde sake, is daar verskeie ander sake wat die ernstige aandag van alle gelowiges in die land verdien:  gesinsverbrokkeling in alle gemeenskappe, die HIV/Vigs pandemie, voortdurende rassisme en seksisme.  Ons roep ons gemeentes en lidmate op tot getroue voorbidding en aksie in dié verband!

 

 

24 November 2004 - "Sentrale geloofswaarhede in die spervuur!"

 

Na aanleiding van 2 Timoteus 4 vers 3 word die volgende hanteer:

 

                  Een:          Ontmoet die nuwe leermeesters

 

                  Twee:        Waar kom die nuwe leerstof vandaan?

 

                  Drie:          Wat kan ons weet?

 

                  Vier:          Waaroor gaan die nuwe lering?

 

God het nie die wêreld geskep nie – Die wêreld kom uit homself voort.  Dit het implikasies vir die leer oor die hemel en die hel.

 

Die mens is inherent goed – Die mens is nie sondaar omdat hy/sy só gebore word nie, maar omdat hy/sy verkeerd kies en handel.  Dit het implikasies vir die leer oor die sonde.

 

Daar is nie 'n persoonlike God, wat Hom met die mens bemoei nie – Die mens is aan sy eie lot oorgelewer.  Dit het implikasies vir die leer oor die boodskap  van die profete onder andere.

 

Niks bonatuurliks het rondom Jesus se geboorte plaasgevind nie – Die vroeë kerk het later die storie oor die maagdelike geboorte by die Grieke en Romeine oorgeneem.  Dit het implikasies vir die leer oor Christus se maagdelike geboorte.

 

Jesus het die Joodse godsdiens aangehang en was niks meer as 'n besondere mens nie - Hy het deur sy lewe vir ons gewys hoe ons teenoor mekaar moet optree.   Dit het implikasies vir die prediking oor Christus.

 

Die kruisdood van Jesus was nie 'n offerdood wat God geëis het nie – Mense in magsposisies het Jesus uit eie oorweging doodgemaak.  Dit het implikasies vir die leer oor die offerdood, kruisdood en hellevaart.

 

Jesus het nie liggaamlik uit die dood opgestaan nie – Jesus het slegs in die harte (verbeelding) van sy dissipels opgestaan.  Dit het implikasies vir die leer oor die opstanding.

 

Die hemelvaart het nie werklik plaasgevind nie nie – Dit maak net sin vir mense wat nog in 'n drieverdieping heelal glo.  Dit het implikasies vir die leer oor hemelvaart.

 

Daar sal nie 'n fisiese wederkoms van Jesus wees nie – Soos enige mens wat gesterf het, is Jesus dood en sal hy dood bly, totdat die laaste ster se lig verskiet.  Dit het implikasies vir die leer oor die wederkoms.

 

Die Christelike geloof matig hom aan deur Christus as die enigste weg na die Vader aan die wêreld voor te hou – Die weg na God kan ook in ander godsdienste gevind word.  Dit het implikasies vir die leer oor die uniekheid van Christus.

 

                  Vyf:            Watter antwoorde moet die Kerk gee?

 

Kyk weer na die Bybel en sy agtergrond – Het God self die Kerk voortgebring?

 

Kyk weer na die ontwikkeling van die kerklike dogmas - Is dit die menings van mense of die bekendmakinge van God?

 

Kyk weer na maniere waarop geloof in eietydse terme verstaan en uitgeleef kan word - Kan mense vandag nog in God glo, soos die Bybel Hom aan ons voorstel?

 

Kyk weer na die plek en rol van die Kerk in die samelewing - Is die Kerk 'n  Woordgedrewe en Geesvervulde werktuig van God in die wêreld?

 

 

24 November 2004 – 'n Samevatting van die voetsool sinodesittings

 

 

Vraag een:          Hoe lyk die gemeenskap na 5 jaar?

 

Een:          Baie meer multi-kultureel.

 

Twee:        Die Kerk het 'n taak, maar blykbaar volgens die tradisionele bedieningstyl??

 

Drie:          Onseker oor die aard van die eie plek in die nuwe gemeenskap.

 

Vraag twee:        Wat leef nou in die harte van die lidmate?

 

Een:          Kommer oor die jeug en gesinne – jeug soek rolmodelle!

 

Twee:        Neem sterk standpunt in oor die Woord.

 

Drie:          Onsekerheid oor bykans alles, plus ontnugtering oor die Kerk se werk.

 

Vier:          Veranderinge skep spanning – bestuur dit, plus verskillende spiritualiteite.

 

Vyf:           Kerkhereniging 'n vraag?

 

Vraag drie:          Watter verskil maak die gemeente in die gemeenskap?

 

Een:          Maak wel 'n verskil in die gemeenskap – saam met dié in nood.

 

Twee:        Gesamentlike projekte – deel in vaardighede.

 

Drie:          Skep netwerke met hulle wat reeds bedrewe is, al is hulle nie deel van  die NG Kerk nie.

 

Vier:          Toerusting van lidmate om veranderinge te kan hanteer.