Skip to content | Skip to navigation

Sinodale diensraad » Besluite Van Sinodale Diensraad » BESLUITEREGISTER (1)

BESLUITEREGISTER (1)


2008/05/05

 

NUWE NAAM

 

Die naam van die Sinode word verander na Oostelike Sinode met onmiddellike effek.

 

--ooOoo--

 

PRIORITEITSAKE

 

VOLHOUBARE BEDIENING

 

4.8.1       Die Diensprojekgroep vir Volhoubare Bediening gee verder begeleiding aan die gemeentes om in die lig van die ontleding van die problematiek, behulpsaam te wees met strategiese beplanning en met die ontwikkeling van 'n langtermyn volhoubare bediening in die gemeentes.

 

4.8.2       Die Diensprojekgroep vir Volhoubare Bediening tree met die ringe, waarvan die gemeentes deel is, in gesprek ten einde saam te werk aan oplossings.

 

4.8.3       Die Diensprojekgroep vir Volhoubare Bediening stel die werksdokument aan gemeentes beskikbaar en nooi gemeentes wat belangstel om by die proses betrokke te raak.

 

4.8.4       Die Diensprojekgroep vir Volhoubare Bediening kry opdrag om verder navorsing te doen en met ander Sinodes en Kerke in die verband te skakel.

 

4.8.5       Die Diensprojekgroep vir Volhoubare Bediening ondersoek moontlikhede oor hoe die Sinode die gemeentes kan ondersteun ten opsigte van kundigheid en fondse.  Hulle doen in die verband aanbevelings aan die Sinodale Diensraad.

 

--ooOoo--

 

VOORSTEL EEN - VOLHOUBARE BEDIENING

 

Die Sinode versoek gemeentes om baie ernstig na te dink oor hoe hulle op finansiële en kundige wyses die kleiner gemeentes daadwerklik kan bystaan.

 

--ooOoo--

 

TEOLOGIESE LIBERALISME EN FUNDAMENTALISME

 

20.7.1     Streekskonferensies word gehou om die saak op voetsoolvlak te bespreek.  As voorbereiding kan die studies reeds op die webwerf van die Sinode gelees word.

20.7.2     Indien nodig, kan 'n bundel ook gepubliseer word om die verskillende benaderings asook tekste wat op verskillende maniere hanteer word, te verduidelik.

 

--ooOoo--

 

TEOLOGIESE OPLEIDING

 

REGLEMENTERING VAN DIE KURATORIUM

 

36.2.2        Die Sinode besluit dat die vier Aktuarii/Kerkregkundiges van die Transvaalse Sinodes meewerk met die Kuratorium aan 'n sinvolle eie Reglement, waarin duidelikheid gegee word oor die werksaamhede van die Kuratorium, sowel as die posisie van die Kuratorium ten opsigte van die Gesamentlike Sinodale Kommissie.

 

DOEL VAN DIE KURATORIUM

 

36.3.4        Die Sinode erken dat die rol van die Kuratorium al meer moet wees om 'n verhoudingssisteem te vervul tussen die Kerk en die Fakulteit.

 

BELANG VAN KERKEIE OPLEIDING

 

36.4.4.1    Die Sinode wys twee lede aan om saam met die dosente, in 'n gefasiliteerde omgewing, uitklaring oor die kerkeie been van die opleiding (voorgraads asook nagraads) te kry.  (Die Sinodale Diensraad wys die persone aan.)

 

36.4.4.2    Die Kuratorium word volmag verleen om voort te gaan met die implementering in 2008, onderhewig aan die goedkeuring van die totale program in die loop van 2008 deur die onderskeie Sinodale Diensrade/Kommissies.

 

36.4.4.3    Die Sinode bekragtig die vasstelling van 'n diploma in kerkeie bediening wat 'n vereiste vir legitimasie is.

 

SAMESTELLING KURATORIUM

 

36.5.3.1    Die Sinode keur goed dat die Kuratorium voortaan kwartaalliks vergader.

 

36.5.3.2    Die Sinode keur goed dat die Dagbestuur uit vier persone bestaan, wat tussen Kuratoriumvergaderings kan vergader.

 

36.5.2.3    Die Sinode keur goed dat die Kuratorium teen Julie 2008 in 'n gefasiliteerde omgewing uitklaring gee oor:

 

Een:           die funksionering, taak en samestelling van die Kuratorium;

 

Twee:        die taak en funksie van die Predikant vir Teologiese Opleiding;

 

Drie:          kommunikasie na die verskillende Sinodes en Diensrade.

 

36.5.2.4    Die Sinode keur goed dat die Kuratorium jaarliks verslag van hulle werksaamhede aan die Sinode/Sinodale Diensraad lewer.

 

--ooOoo--

 

VOORSTEL 5 - KURATORIUM

 

Die Sinode besluit dat die Kuratorium 'n gesamentlike verantwoordelikheid van die Sinode van Wes-Transvaal, Noordelike Sinode, Hoëveld Sinode en Oostelike Sinode is.  Die Gesamentlike Sinodale Kommissie van Transvaal hou hierdie verantwoordelikheid tussen die onderskeie sinodes in stand.

 

--ooOoo--

 

ONDERSTEUNINGSDIENS

 

ARGIEF

 

ARGIEF- EN INLIGTINGSWETGEWING

 

23.5.3         Die Sinode versoek Ondersteuningsdienste, ringe en gemeentes om dringend kennis te neem van die implikasies wat die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Wet 2 van 2000) en die Nasionale Erfeniswet (Wet 25 van 1999 en soos aangevul in Goewermentskennisgewing Nommer 1313 van 25 Oktober 2002) vir plaaslike gemeentes inhou en om so spoedig moontlik die ooreengekome inventaris aan ABID te besorg.

 

SENTRALISERING EN REKENARISERING VAN REGISTERS

 

23.6.8.1     Die Sinode versoek gemeentes om met die rekenarisering en sentralisering van lidmaatregisters saam te werk.

 

23.6.8.2     Die Sinode versoek gemeentes om so spoedig moontlik seker te maak dat hulle lidmaatdatabasis volledig en korrek is (met identiteitsnommers), sodat die stelsel op 1 Januarie 2009 in werking gestel kan word.

 

23.6.8.3     Die Sinode versoek Ondersteunings-dienste om die nodige reëlings te tref vir die invordering van gemeentes se jaarlikse tarief vir ABID se dienste ten opsigte van die sentralisering en rekenarisering van lidmaatregisters.

 

23.6.8.4     Die Sinode versoek ATABID en GKABID om gemeentes op hoogte te hou van die vordering met die proses en om gemeentes van hulp te wees met die vereistes van 'n gemeentelike databasis.

 

--ooOoo--

 

BENAMING VAN ONDERSTEUNINGS-DIENSTE

 

31.5.1        Ondersteuningsdienste staan voort-aan bekend as Ondersteuningsdiens.

 

31.5.2        Die Sinodale Diensraad word versoek om in die voortgaande gesprek oor die funksionering van die Sinode, besondere aandag aan die aard van die Bedieninge en Ondersteuningsdiens te gee.

 

--ooOoo--

 

KERKORDE ARTIKEL 28.4

 

32.5           Die Sinode versoek die Algemene Taakspan Regte om spoedig 'n aanduiding te gee hoe gemeentes, wat slegs oor 'n pastorale hulp beskik, gehelp kan word in verband met die teenwoordigheid van 'n konsulent tydens kerkraadsvergaderinge.

 

--ooOoo--

 

HERINDELING VAN RINGE

 

GOEDGEGUN-SWAZILAND

 

Een:        Die Sinode besluit dat die gemeente Goedgegun-Swaziland voortaan deel van die Ring van Barberton sal wees.

 

Twee:        Die Sinode besluit dat dit nie nodig is dat die Ringe van Barberton en Wakkerstroom so spoedig moontlik konstitueer nie.

 

--ooOoo--

 

RING VAN CAROLINA

 

34.5.3.1    Die Sinode versoek die Diensgroep vir Volhoubare Bediening om aandag aan die situasie van die Ring van Carolina te gee, met verslag aan die Sinodale Diensraad.

 

34.5.3.3    Die Sinodale Diensraad word versoek om steeds aandag aan ander moontlike groeperings van gemeentes te gee.

 

--ooOoo--

 

ONDERSTEUNINGSDIENS

 

INHOUDELIKE WYSIGINGS AAN DIE FAMILIEREËLS

 

37.2.2.3    Bepaling 4.1

 

Enige belydende lidmaat mag binne tien dae vanaf die eerste afkondiging van 'n beroep 'n skriftelike beswaar met opgawe van redes by die betrokke Ring of Ringsdiensraad indien, en wel op grond van bepaalde klagtes teen die leer of lewe van die beroepene, of op grond van klagtes insake onreëlmatigheid in verband met die uitbring van die beroep.

 

37.2.3.3    Bepaling 16.3

 

'n Kerkraadslid se dienstermyn word beëindig by bedanking of verhuising en is onmiddellik van krag.

 

37.2.4.3    Bepaling 19.7

 

In die uitoefening van sy bevoegdhede tree die wykskerkraad as kerkraad op en is alles op die wykskerkraad van toepassing wat volgens die Kerkorde en Aanvullende Bepalings vir 'n kerkraad geld.  Die besluite geneem deur 'n wykskerkraad oor sake waartoe die wykskerkraad bevoeg is, het bindende krag en hoef nie deur die kerkraad goedgekeur te word nie.

 

--ooOoo--

 

VOORSTEL 2 - MEJ NITA VAN DER MERWE

 

Die Sinode spreek hulle opregte dank uit teenoor mej Nita van der Merwe vir haar onbaatsugtige en selfopofferende diens op barmhartigheidsvlak.  Sy was vir 42 jaar in diens van die Kerk, waarvan 24 jaar in die CMR.  Sy het gedurende die tyd die rol van Christelike Welsyn onder die werkers en owerhede se aandag gebring en die uniekheid van Christelike Barmhartigheidsdiens beklemtoon en daadwerklik bevorder.  Haar rol in die vestiging en handhawing van supervisiedienste kan nie genoeg beklemtoon word nie.  Waar sy gedurende 2008 aftree, bid die Sinode haar die Here se seën en 'n welverdiende aftrede toe.