Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Sinodale diensraad » Besluite Van Sinodale Diensraad » DIE BELYDENIS VAN BELHAR

DIE BELYDENIS VAN BELHAR


2011/11/08

DIE BELYDENIS VAN BELHAR  -  1986

 

 

 

1.   Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur Sy Woord en Gees Sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

 

 

Ons glo aan een heilige algemene christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.

 

 

Ef 2:11 tot 22

 

2.   Ons glo dat die versoeningswerk van Christus sigbaar word in dié Kerk as geloofsgemeenskap van diegene wat met God en onderling met mekaar versoen is;

 

Ef 4:1 tot 16

dat die eenheid van die Kerk van Jesus Christus daarom gawe én opdrag  is; dat dit 'n samebindende krag is deur die werking van Gods Gees, maar terselfdertyd 'n werklikheid is wat nagejaag en gesoek moet word en waartoe die volk van God voortdurend opgebou moet word;

 

Joh 17:20, 23

dat hierdie eenheid sigbaar moet word sodat die wêreld kan glo; dat geskeidenheid, vyandskap en haat tussen mense en mensegroepe sonde is, wat reeds deur Christus oorwin is en dat alles wat die eenheid mag bedreig, gevolglik geen plek in die Kerk van Christus mag hê nie, maar bestry moet word;

 

Fil 2:1 tot 5

1 Kor 12:4 tot 31

 

dat hierdie eenheid van die volk van God op 'n verskeidenheid van maniere sigbare gestalte moet kry en werksaam moet wees, daarin dat ons mekaar liefhet, gemeenskap met mekaar beleef, najaag en beoefen;

daarin dat ons skuldig is om onsself tot nut en saligheid van mekaar gewillig en met vreugde te gee;

 

Joh 13:1 tot 17

1 Kor 1:10 tot 13

Ef 4:1 tot 6

1 Kor 10:16 tot 17

1 Kor 11:17 tot 34

Gal 6:2

2 Kor 1:3 tot 4

daarin dat ons geloof deel, een roeping het, een van siel en een van sin is, een God en Vader het, van een Gees deurdrenk is, van een brood eet en uit een beker drink, met een doop gedoop is, een Naam bely, aan een Heer gehoorsaam is, vir een saak ywer, een hoop met mekaar deel, saam die hoogte en breedte en diepte van die liefde van Christus leer ken;  saam opgebou word tot die gestalte van Christus, tot die nuwe mensheid;  saam mekaar se laste ken en dra en so die wet van Christus vervul, mekaar nodig het en mekaar opbou, mekaar vermaan en mekaar vertroos, saam met mekaar ly vir die geregtigheid, saam bid, saam diensbaar is aan God in hierdie wêreld, saam stry teen alles wat hierdie eenheid mag belemmer of bedreig;

 

Rom 12:3 tot 8

1 Kor 12: 1 tot 11

Ef 4:7 tot 13

Gal 3:27 tot 28

Jak 2:1 tot 13

dat hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie; dat die verskeidenheid van geestelike gawes, geleenthede, agtergronde, oortuigings, soos ook die verskeidenheid van taal en Kultuur, vanweë die versoening in Christus

geleenthede is tot wedersydse diens en verrykking binne die een sigbare volk van God;

 

 

dat die ware geloof in Jesus Christus die enigste voorwaarde is vir lidmaatskap van hierdie Kerk.

 

 

Daarom verwerp ons enige leer wat òf die natuurlike verskeidenheid òf die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die Kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot 'n aparte kerkformasie;

 

 

wat voorgee dat hierdie geestelike eenheid werklik bewaar word deur die band van die vrede wanneer gelowiges met dieselfde belydenis van mekaar vervreem word ter wille van die verskeidenheid en vanweë die onversoendheid;

 

 

wat ontken dat 'n weiering om hierdie sigbare eenheid as 'n kosbare gawe na te jaag, sonde is;

 

 

 

wat, uitgesproke of onuitgesproke, voorgee dat afkoms of enige ander menslike of sosiale faktore medebepalend is vir lidmaatskap van die Kerk.

 

 

2 Kor 5:17 tot 21

Matt 5:13 tot 16

Matt 5:9

2 Pet 3:13

Open 21 tot 22

 

3.    Ons glo dat God aan Sy Kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het;

dat die Kerk geroep is om die sout van die aarde en die lig van die wêreld te wees;

dat die Kerk salig genoem word,  omdat hulle vredemakers is;

dat die Kerk deur woord en daad getuies is van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarop geregtigheid woon;

 

Efes 4:17 tot 6:23

Rom 6

Kol 1:9 tot 14

Kol 2:13 tot 19

Kol 3:1 tot 4:6

dat God deur Sy leweskeppende Woord en Gees die magte van sonde en dood, en daarom ook van onversoendheid en haat, bitterheid en vyandskap, oorwin het; 

dat God deur Sy leweskeppende Woord en Gees Sy volk in staat stel om te leef in 'n nuwe gehoorsaamheid wat ook in die samelewing en wêreld nuwe lewensmoontlikhede kan bring;

 

 

dat hierdie boodskap ongeloofwaardig gemaak word en dat die heilsame uitwerking daarvan in die weg gestaan word,  indien dit verkondig word in 'n land wat op Christelikheid aanspraak maak, maar waarin die gedwonge skeiding van mense op rassegrondslag onderling vervreemding, haat en vyandskap bevorder en bestendig;

 

 

dat enige leer wat sodanige gedwonge skeiding vanuit die evangelie wil legitimeer en dit nie wil waag op die pad van gehoorsaamheid en versoening nie, maar uit vooroordeel, vrees, selfsug en ongeloof die versoenende krag van die evangelie by voorbaat verloën, ideologie en dwaalleer is.

 

 

Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die Evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so 'n situasie sanksioneer en daardeur die bediening en belewing van die versoening in Christus by voorbaat belemmer en van krag beroof.

 

 

Deut 32:4

Luk 2:14

Joh 14:27

Efes 2:14

Jes 1:16 tot 17

Jak 1:27

Jak 5:1 tot 6

Luk 1:46 tot 55

Luk 6:20 tot 26

Luk 7:22

Luk 16:19 tot 31

 

4.      Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring;  dat Hy in 'n wêreld vol onreg en vyandskap op 'n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy Sy Kerk roep om Hom hierin na te volg;  dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien;  dat Hy die wat bedruk is, ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir  die goddelose versper; 

dat vir Hom reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek;  dat Hy Sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek;

 

Ps 146

Luk 4: 16 tot 19

Rom 6:13 tot 18

Amos 5

dat die Kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die Kerk sal getuig en sal stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n standhoudende stroom;

 

 

dat  die Kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes; dat die Kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.

 

 

Ef 4:15 tot 16

Hand 5:29 tot 33

1 Pet 2:18 tot 25

1 Pet 3:15 tot 18

 

5.    Ons glo dat die Kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbond wees.

Jesus is die Heer.

Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid.

 

 

BEGELEIDENDE  BRIEF VAN DIE OPSTELLERS

 

1.         Ons is daarvan bewus dat daar in die lewe van die Kerk oomblikke kan ontstaan van soveel erns dat die Kerk die noodsaak kan voel om opnuut sy geloof te bely in die lig van 'n spesifieke situasie.  Ons is daarvan bewus dat so 'n daad van belydenis nie ligtelik gedoen word nie, maar slegs as geoordeel word dat die hart van die Evangelie self op die spel staan en bedreig word.  Na ons oordeel verg die kerklike en politieke situasie binne ons land en veral binne die Ned Geref Kerk-familie tans so 'n beslissing.  Ons doen hierdie belydenis dus nie as 'n teologiese gespreksbydrae of as 'n nuwe samevatting van al ons geloofsgoedere nie, maar as 'n kreet uit die hart, as 'n dwang wat ons opgelê is om die Evangelie ontwil in die lig van die oomblik waarin ons staan.  Ons bely saam met vele ons skuld daarin dat ons nie altyd duidelik genoeg hieroor getuig het nie en gevolglik mede-verantwoordelik is daarvoor dat wat as sonde ervaar en bely is of as sonde ervaar en bely moes word, mettertyd gegroei het tot vanselfsprekendhede en skrifvervreemde ideologieë en dat die indruk by vele geskep is asof die Evangelie nie waarlik op die spel was nie.  Ons spreek hierdie belydenis uit, omdat ons oordeel dat allerlei teologiese argumente daartoe bygedra het om aspekte van die waarheid so eensydig te beklemtoon, dat dit in die leuen verander het.

 

2.         Ons is daarvan bewus dat die enigste gesag agter so 'n belydenis en die enigste grond waarop dit uitgespreek kan word, die Heilige Skrifte as die Woord van God is.  Volkome bewus van die waagstuk verbonde aan so 'n daad, oordeel ons tog dat ons geen ander keuse het nie.  Ons is boonop daarvan bewus dat geen ander motiewe of oortuigings, hoe geldig hulle ook al mag wees, ons die reg veroorloof tot 'n daad van belydenis nie.  Dit moet 'n kerklike handeling wees terwille van die suiwerheid en die geloofwaardigheid van die Kerk en sy boodskap alleen.  Sover dit moontlik is voor die mense verklaar ons hiermee dat ons enigste dryfveer geleë is in ons vrees dat die waarheid en krag van die Evangelie self bedreig word in hierdie situasie.  Ons wil geen groepsbelang dien, partyskappe bevorder, teologieë bevorder of bymotiewe verwesenlik nie. Terselfdertyd weet ons dat ons diepste bedoelinge slegs na ware beoordeel kan word deur Hom voor wie alles oop en bloot is.  Ons spreek hierdie belydenis nie uit vanaf Sy troon en uit die hoogte nie, maar voor Sy troon en voor die mense.  Ons pleit daarom dat hierdie belydenis nie misbruik sal word deur enigiemand met allerlei bymotiewe nie en dat dit ook nie vanuit sulke motiewe teëgestaan sal word nie.  Ons begeerte is om geen valse struikelblokke in die weg te lê nie, maar om heen te wys na die egte struikelblok, die rots van Jesus Christus.

 

3.         Ons spreek hierdie belydenis nie uit teen spesifieke mense of groepe van mense of 'n kerk of kerke nie. Ons spreek hierdie belydenis uit teen 'n valse leer, teen 'n ideologiese verdraaiing wat die Evangelie self in ons Kerk en land bedreig.  Ons versugting is dat niemand hulle sal vereenselwig met hierdie verwerplike leer nie en dat almal wat heeltemal of gedeeltelik daardeur verblind is, hulle daarvan sal afkeer.  Ons is terdeë bewus van die verleidelike aard van so 'n valse leer en weet dat vele wat daardeur gekondisioneer is,  in mindere of meerdere mate die halwe waarheid leer glo het as die volle waarheid.  Ons betwyfel daarom nie talle van sulke mense se Christelike geloof, hulle opregtheid, eerlikheid, integriteit en goeie bedoelinge en in baie opsigte lofwaardige handelswyse nie.  Juis omdat ons egter die krag van die misleiding ken, is ons daarvan bewus dat nie die erns, opregtheid en intensiteit van ons sekerhede ons vrymaak nie, dog slegs die waarheid in die Seun.  Aan dié bevryding het ons Kerk en ons land 'n intense behoefte.  Ons praat daarom pleitend en nie beskuldigend nie.  Ons pleit om versoening, dié egte versoening wat volg op bekering en verandering van gesindhede en ordeninge.  Ons is daarby daarvan bewus dat 'n daad van belydenis 'n tweesnydende swaard is, dat niemand van ons die eerste klip kan gooi of nie self 'n balk in die eie oog het nie.  Ons weet dat die gesindhede en optrede wat die evangelie teëwerk, by ons almal aanwesig is en sal bly.  Daarom is selfondersoek, stryd en bereidheid tot bekering in die Naam van onse Here Jesus Christus in 'n gebroke wêreld.  Dit wil geen daad van selfregverdiging en onverdraagsaamheid wees, sodat ons terwyl ons vir andere preek, dalk self verwerplik hierdie belydenis niks anders nie as 'n oproep tot voortdurende gesamentlike sal wees nie.

 

4.         Ons bede is dat hierdie daad van belydenis nie valse struikelblokke in die weg sal lê en daardeur valse verdelinge sal veroorsaak en bevorder nie, dog versoenend en verenigend sal wees.  Ons is daarvan bewus dat so 'n daad van belydenis en 'n proses van versoening noodwendig veel pyn meebring.  Dit verg die pyn van bekering, berou en skuldbelydenis.  Dit verg die pyn van lewensvernuwing en -verandering, sowel individueel as gesamentlik.  Dit plaas ons op 'n pad waarvan ons die einde nie kan voorsien of na ons eie wense kan manipuleer nie.  Op dié pad sal ons onvermydelik intense groeipyne ervaar, terwyl ons worstel om die vervreemding, die bitterheid, die onversoendheid en die vrees te oorwin.  Ons sal sowel onsself, as mekaar nuut moet leer ken en beleef.  Ons is terdeë daarvan bewus dat hierdie belydenis roep om die aftakeling van denk-, kerklike en samelewingstrukture wat oor baie jare heen gegroei het.  Ons bely egter dat daar ter wille van die Evangelie geen ander uitweg moontlik is nie.  Ons bede is dat ons broeders en susters dwarsdeur die Ned Geref Kerk-familie, maar ook daarbuite, hierdie nuwe begin saam met ons sal wil maak, sodat ons sààm kan vry word en sààm hierdie weg van versoening en geregtigheid kan gaan.  Ons bede is dat hierdie droefheid gevolglik 'n droefheid tot verlossing sal wees.  Ons glo dat dit moontlik is in die krag van onse Here en deur Sy Gees.  Ons glo dat die Evangelie van Jesus Christus hoop, bevryding, heil en ware vrede vir ons land kan en wil bring.