Oostelike Sinode
Romeine
INLEIDING TOT ROMEINE
Die boodskap van die brief.
Paulus skryf hierdie brief aan die Christene in Rome om aan hulle 'n uiteensetting te gee van die evangelie wat hy verkondig. Hy vertel aan hulle hoe radikaal die mens aan die sonde uitverkoop is. God se genade is net so radikaal wanneer Hy mense vryspreek. Dit stuur gelowiges se lewenstyl in 'n totaal nuwe rigting. Deur onder beheer van die Heilige Gees te lewe word hulle lewe verenig met Christus se sterwe en opstanding.
Hierdie verhaal van die vryspraak van God en die gevolge daarvan in mense se lewens ontplooi op die volgende manier in die brief aan die Romeine: Paulus vertel aan hulle dat alle mense aan die sonde uitverkoop is en dat almal daarom voor God veroordeeld staan. Jode, nie-Jode, ja alle mense staan skuldig. Almal het nood aan God se vryspraak, omdat hulle regtens almal verdien om veroordeel te word (1:18-3:20).
Verder vertel hy vir hulle dat God mense deur Christus vryspreek en dat sondaars hierdie vryspraak alleen kan ontvang deur in Jesus Christus te glo (3:21-4:25). God is die regter wat mense vryspreek op grond van Christus se sterwe en opstanding. God as regter wat vryspreek, is 'n belangrike tema wat ons in die brief vind. Elkeen wat in Jesus Christus glo, se posisie is nou die van 'n vrygespreekte mens. Hierdie vryspraak het belangrike konsekwensies vir hulle lewens. Mense wat vrygespreek is terwyl hulle eintlik skuldig bevind moes word, is mense wat hulle posisie van verbondenheid aan Christus uitlewe en dus nie meer aanhou met sonde nie (6). Die vryspraak wat hulle ontvang op grond van wat Jesus Christus gedoen het, laat hulle vir God lewe. Hierdie nuwe lewe, wat 'n deelname is aan die opstanding van Christus, word deur die Heilige Gees in die gelowige gewerk (7-8).
In Rome was daar Joodse Christene en Griekssprekende Christene. Die vraag oor die toekoms van die Jode wat nie tot geloof gekom het nie, sowel as die wat tot geloof gekom het, word bespreek (9-11). Deur God se genade is hulle deel van sy volk, omdat Christus dit moontlik maak. God se beloftes bly geldig vir alle Jode wat glo, sowel as die wat nie glo nie.
Verder wil die brief vertel wat Paulus se siening van die nuwe lewe is, dit is deelname aan die opstandingslewe van Christus. Dit vind ons veral in hoofstuk 12-15. Daarin word allerlei sake aangesny, soos hoe mense met mekaar versoen en in liefde met mekaar moet lewe, en die verhouding met die owerheid. Die wat sterk in die geloof is en die wat swak is, kom ook aan die orde.
Wanneer, waar en met watter doel?
Die brief het in die winter van 55/56 in Korinte ontstaan terwyl Paulus daar gewag het dat die weersomstandighede verbeter om seereise veiliger te maak.
Die doel met die uiteensetting van wat hy glo was die volgende:
1. In die brief aan die gemeentes in Rome wil Paulus homself en dit wat hy glo bekend stel, want hy wil baie graag met die evangelie, wat hy hartstogtelik glo en net so graag verkondig, na die Westelike deel van die Romeinse ryk gaan. Hy wil graag deur Rome na Spanje gaan. Hy het gereken dat die evangelie reeds in die Oostelike deel van die Ryk gevestig is en wil dit daarom na onbereikte gebiede neem. Omdat hy die gemeentes nie gestig het nie en nog nie persoonlik daar was nie, het hy die brief geskryf om hulle te oortuig dat die evangelie wat hy verkondig, die evangelie is wat hulle aanvaar en hulle mee vereenselwig.
2. Hy verduidelik ook sy posisie ten opsigte van die Jode en sy siening van hulle toekoms. Paulus het altyd in spanning met die Jode gestaan. Hy was self 'n Jood, waarvan hy hom nie geheel en al los maak nie. Aan die ander kant het hy ook nie met die Jode saamgestem oor hoe mense met God versoen word nie. Hy wou hulle verseker dat God se beloftes vir hulle geldig bly en dat dit slegs uit genade is dat God mense verlos.
3. Hy het ook 'n pastorale doel gehad. Hy was onder die indruk dat daar spanning in die gemeente tussen Joodse en Griekssprekende Christene was en gebruik die geleentheid om hulle in die saak te begelei. Daarom skryf hy oor die verhouding tussen die wat sterk en die wat swak in die geloof staan.
Omstandighede:
In Rome was daar nie net een gemeente nie, maar daar was waarskynlik 'n hele aantal kleiner gemeentes wat bymekaargekom het. Die brief word dus aan 'n groep van gemeentes in Rome gerig.
Samestelling van die boek.
Eerste hoofdeel: (1:18-4:25)
Die behoefte aan verlossing /vryspraak, die radikale sondigheid van die mens (1:18-3:20).
Die Christus bedeling van die genadige vryspraak deur God vir die wat in Christus glo (3:21-4:25).
Tweede hoofdeel: die nuwe situasie van Christen wees (5-8).
Die Christen se lewe (5:1-11).
Die "in-Adam" wees teenoor om "in Christus" te wees (5:12-21).
Die genade maak dit onmoontlik om verder in die sonde te lewe (6:1-11).
Onder nuwe beheer (1:12-14).
'n Slaaf maar van wie? (6:15- 20).
Die ewige lewe as gawe (6:21-23).
Die kontras tussen wet en Gees (7-8).
Derde hoofdeel: Wat is die toekoms van Israel? (9-11).
Vierde hoofdeel: Die Christelike lewe (12-15).
Die Christelike lewe en die gawes (12).
Die Christen en die staat en algemene vermaninge (13:1-14).
Die sterkes en die swakkes (14:1-15:6) .
Afsluiting van Paulus se betoog (15:7-13) .
Reëlings oor sy koms en bediening (15:14-33) .
Groete en lof op God: (16).
Uit Woordwyser 2002
Hersien deur Kobus Myburgh

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

