Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Psalm 107-119

Ons gaan vanjaar by twee geleenthede uit die psalms lees. Die eerste geleentheid is die opwindende week voor Kersfees tot en met Epifanie (Pss 107 tot 118) en die tweede geleentheid is drie weke in Koninkrykstyd, wanneer ons Psalm 119 lees.

 

Psalm 107 lei die vyfde boek van die Psalms in (I: Pss 1-41; II: Pss 42-72; III: Pss 73-89; IV: Pss 90-106; V: Pss 107-150). Ons gaan vanjaar slegs op 'n helfte van Boek V fokus, naamlik Psalms 107-119. Psalm 107 tot 118 vorm 'n bepaalde eenheid. Die inleidende verse van Psalm 107:1-3 en die eerste en laaste verse van Psalm 118:1-4, 29 lees dieselfde woorde: "Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie". Hierdie refrein noem ons 'n inclusio, 'n stylfiguur waarop die digter/samesteller vir ons as lesers wil sê dat hier 'n deurlopende gedagte te bespeur is.

 

Ons het in Woordwyser 2001 en elke jaar daarna aangedui dat ons die psalms op 'n nuwe manier wil lees: as 'n boek. Ons het groot geword met die ideë dat ons elke psalm as 'n selfstandige eenheid kan lees, en daarom is volgorde en opeenvolgende lees van psalms nie so belangrik nie. Tog het ons die afgelope tyd meer en meer bewus geword dat die psalms nie maar net op 'n lukrake manier van 1 tot 150 volg nie, maar dat daar 'n bepaalde gedagtelyn daarin te bespeur is. Die beeld van 'n collage, 'n samestelling van verskillende foto’s om een groter geheel te vorm, kan ons nog al help om 'n nuwe omvangryke ideë te vorm van 'n groter geheel. Hierdie werk is die intellektuele breinkrag van mense anders as die skrywers self. Ons verwys na hulle, by gebrek aan 'n beter woord, as die kompilators.

 

Kyk ons na die opskrifte van die spesifieke psalms en onderliggende temas, kry ons 'n goeie aanduiding van die eiesoortigheid van hierdie groepering. Hoewel Psalm 107 nie 'n opskrif het nie, begin dit met die refrein wat meermale herhaal word (Ps 107:1, 118:1-4, 29). Die tema van Psalm 107 is "Bevryding". Dit fokus op die omvangrykheid van die nood, die oorsake van die nood - dat dit dikwels in die onverskilligheid van die mens ook geleë is - en dan die onbegryplikheid daarvan, en dit noem ons genade, dat God ten spyte daarvan, red en bevry! Psalms 108-110 dra die opskrifte: "Van Dawid. 'n Psalm". Hierdie versameling teken weereens aspekte van nood, met die klem daarop dat God op 'n vrymagtige wyse bevry. Psalm 110 kom dan aan die beurt. Die eenvoudige beeld van Psalm 110:7 is vir die verstaan van hierdie psalms baie belangrik. Psalms 111-12 is dikwels al genoem die "tweelingpsalms". Die "tweeling" teken God wat bevryding bewerk deur sy reddingsdade én deur sy verbond en wet heen (Ps 111), en dat dié bevryding deur 'n mens se lewenswandel sigbaar word (Ps 112). Psalms 113-18 staan bekend as die Egiptiese Hallel. Dit begin en eindig met die woorde "Halleluja" (Ps 114 uitgesluit). Psalm 113-18 is ook deursuur met beelde en motiewe uit die tyd toe Israel in die slawehuis in Egipte was. Gevare word geteken: eksterne gevare soos die Riet See, die Jordaan, honger en dors in die woestyn en vyandelike magte. Maar niks is so 'n gevaar soos die mens se drang na afgodery. Dink maar net aan die aanbidding van die goue kalf (Eks 32). Daarom is Psalm 113-118 ten diepste die worsteling van God om die hart van sy bevryde volk. God se bevrydende genade seëvier Daarom kan daar aan die einde van Psalm 118 die refrein weereens opklink: "Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!" (Ps 107:1; 118:1-4, 29).

 

Die bevryding wat God vír die mens maar sónder die mens bewerk het (Ps 110:7), moet gekoester en waardeer word. Vandaar dan die enigmatiese Psalm 119:1-176, die langste psalm, en wat op 'n verrassende wyse aansluit by die voorafgaande Psalms 107-118. God se bevryding word bewaarheid as mense hul vreugde in sy wil soek en daaruit leef. Psalm 119 is in 'n sekere sin God se allerantwoord aan Israel van ouds - en aan ons - dat verlossing wat God bewerk (Pss 107-118), deur toewyding wat God gee, daagliks ons lewens moet bestempel (Ps 119). Ons gaan egter eers in Augustusmaand by Psalm 119 uitkom.

 

Net 'n laaste belangrike toeligting: In watter historiese konteks kan ons Psalm 107-118 lees? Aan die hand van Eksodus 32-34 en Deuterojesaja 40-55 as tekste wat meespreek met Psalm 107-118, kan ons hoogstens 'n voorstel vir 'n historiese konteks bied. Waarskynlik het ons te doen met die ballingskap van Juda in Babilonië. Die maghebber, Babilonië, se gode word geag superieur te wees oor die God van Israel-Juda, want hulle gode het die oorwinning oor Juda in hulle hand gegee. Israel-Juda het nie alleen die smart en lyding ondergaan om verneder en weggevoer te word nie. Nou moet hulle ook nog verduur hoe die God van Israel, die Heilige, belaster en bespot word, verkleineer en geminag word. Hierdie tekste het die funksie om Juda te inspireer en te oortuig dat God sonde vergewe, dat Hy bevryding bewerk, dat Hy alleen aanbid moet word, dat afgode mens niks in die sak bring nie. Kortom, dit is woorde waarin God sy eienaarskap oor hulle handhaaf midde in die ballingskap, juis in 'n tyd toe hulle meen dat God afwesig geword het in hulle lewens. Hulle het ook nodig om herinner te word aan die vrymagtigheid waarmee die God van Israel eenmaal in die verre verlede, toe Israel slawe in Egipte was, opgetree het deur wonderdade en deur sy verbond en wet! Daarom kom die groot heilstradisies ook in dié psalms voor: die uittog, die woestyn, die landinname en die Sinaitradisie. Hulle word dus in hul daaglikse lewensituasie as ballinge in Babilonië opgeroep om die nietigheid van die afgodediens (Eks 32, Djes 44:9-20, Ps 115:4-8) te erken en op God te fokus en Hom met hulle hele hart te dien!