Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Psalms

PSALMS 1-41


ONS MOET DIE PSALMS LEES .....


Daar is twee redes waarom ons die psalms moet lees: Die moderne mens met sy lewe vol onsekerheid en bedreigdheid, het nodig om stil voor die aangesig van God weer in hóóp te leer lewe. Ons moet ontdek dat dit nie die magte van hierdie wêreld is wat die laaste woord spreek nie, maar God. Juis hierin lê ons hoop wat ons weer moet ontdek. En tweedens: die psalms wil ons ook leer hoe ons God in lof en dank kan antwoord. Niemand kan dit beter doen as hulle wat deur die krisis en deur die aanvegtinge heen kan terugkyk en sê: "Die Here hét my geantwoord". Dus:  om weer in die hoop te leer lewe. en om met lof en dank te leer antwoord is dit nodig dat die kerk vandag nog die psalms moet lees. Was dit nie Athanasius (4de eeu) wat gesê het nie: "Die hele Skrif praat mét ons - die psalms vír ons!"?



AGTERGROND VAN DIE PSALMS


Wanneer ons spesifiek op Psalms 1-41 let, val die kollig sterk op die mens en sy lewenskrisisse. Dit wat mense moes deurmaak, hoe hulle gely het, hulle klaag, hoe hulle vervolg is en ook gebid het - dit het alles neerslag gevind in die psalms. Die klaende en vervolgde mens word dikwels die benaming "arme" gegee. Hierdie benaming dien as 'n omvattende begrip vir die noodlydende, die swakke, die verdrukte en het in die verloop van die geskiedenis telkens nuwe inhoude en betekenisse gekry. Die emosie en stryd wat die "arme" beleef het, het meegehelp aan die vormgewing van die psalms soos ons dit in die psalmbundel aantref. Hierdie proses is in die veelbewoë tyd in Israel-Juda se politieke en sosiale geskiedenis in die jare vanaf 620 vC tot sover as die Hellenistiese (Griekse) tyd (333 vC) voltrek. Ons kan dus die tyd vir die totstandkoming en die onderskeie lewenssituasies vir die psalmbundel veral in hierdie tydperk dateer.


Die nabloei van 620 vC, die vrug van Josia se hervorming, het tot gevolg gehad dat 'n aantal Jode hulle sterk beywer het vir 'n ommekeer in hulle godsdienstige en volkslewe. Ander het hulle weer nie daaraan gesteur nie. Dit het interne konflik en konfrontasie tot gevolg gehad. Hulle noodsituasies en die oorsake daarvan kan uit die onderskeie psalms afgelei word: vervolging, armoede as gevolg van ekonomiese uitsluiting, onderdrukking, valse aanklagte, regsverydeling, magsbeheptheid, brutaliteit van die magtiges en rykes, siekte en ook eie sonde. Die benaming "arme" het in die tyd voor die ballingskap pertinent op die materieel arme gedui. Hulle dringende gebed was dat die Here in hulle lyding reg aan hulle moet laat geskied en die arrogansie van hulle vyande smoor. Hierdie stryd is opgevolg met 'n tweede vlaag nasionale krisisse: die Babiloniese ballingskap van 597 vC en die val van Jerusalem in 586 vC. Die effek van die ballingskap kan beswaarlik beskryf word. Alles is letterlik verwoes en die mense is ontwortel en weggevoer. Teen 536 vC, met die dekreet van Kores, het Serubbabel die eerste ballinge teruggebring na Jerusalem. Dit word gevolg deur nog groepe wat mettertyd ook teruggekeer het - tot met die optrede van Esra en Nehemia (430 vC). Die terugkeer na Jerusalem gee aan die begrip "arme" nou 'n nuwe inhoud - dit word gevul met godsdienstige betekenis. Hulle leef vanuit die ideaal van die lydende kneg van die Here (Jes 53). Dit het geïmpliseer dat God 'n mens verwerp en onaansienlik maak om dan deur hulle redding en uitkoms te bring. Hulle het hulle vertroue daarop gestel dat die Here in sy wêreldheerskappy na hulle sal omsien. Hierdie ideaal duur voort totdat in die Hellenistiese tyd (na 333 vC). Teen dié tyd het die illusie van 'n herstelde nasionale staat vir Juda vervaag en het die term "arme" algemene aanduiding begin word van die "vrome", die "opregte" en die "regverdige". Hierdie vlugtige oorsig gee vir ons 'n kykie in die ingewikkelde proses onderliggend aan die vorming van die onderskeie psalms en die psalmbundel.


SAMESTELLING VAN DIE PSALMS


Die psalmbundel is in vyf boeke verdeel. Elkeen van dié boeke sluit met 'n lofprysing (Pss 41:14; 72:18-19; 89:53; 106:48 en 146-150). Ons fokus nou op die eerste boek (1-41), die sogenaamde Dawid-versameling.  Psalms 1-41 kan in vier kleiner groepe verdeel (Ps 3-14; 15-24; 25-34 en 35-41). Elk van hierdie groepe het 'n psalm in die sentrum wat van die omringende psalms verskil. Psalm 8, (Ps 3-14), is 'n lofpsalm te midde van klaagliedere. Psalm 19, (Psalms 15-24), is 'n lofpsalm in 'n konsentriese struktuur van koningsliedere (Ps 18, 20/21), klaagliedere (Ps 17/22) vertrouensliedere (Ps 16/23) en liturgiese ingangsliedere (Ps 15/24). Psalm 29, (Ps 25-34), is 'n loflied op die Here en staan strategies op 'n oorgang tussen smeek- en dankliedere. Psalm 38, (Ps 35-41), is 'n smeekgebed ingebed in psalms wat temas soos siekte, vyande,sonde en skuldbelydenis weerspieël.


Die eerste groepering, Psalms 3-14, verwoord bedreiging van buite. Die middelste twee groeperinge, Psalms 15-24 en 25-34, verwoord tempeltaal  en tempelteologie. Die fokus is sterk op die verhouding van God en mens. Psalm 35-41 toon weer tekens van bedreiging van binne, soos byvoorbeeld siekte,  vyande, sonde en eie skuld.


In die dae wat hierop volg, word u uitgenooi om te delf in die rykdom van die psalms en dit wat u hier gebied word, te gebruik as 'n (weg)wyser deur die Woord.