Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Psalm 90-106

Daar is min Bybelse stof wat so geliefd is soos die psalms.  Daar is ook min dele in die Ou Testament waar christen-gelowiges so direk aangespreek word  as wanneer die psalms aan die woord kom.  Augustinus het gesê dat God in sy Woord met die mens praat, maar in die psalms is dit die mens wat met God praat.  Ons begin die adventviering in 2003 deur agter die stemme van gelowiges van duisende jare gelede self op 'n besondere manier met God te praat.

 

Vanjaar is Boek IV (90-106) van die psalmbundel ons leesgedeelte.  Daar is 'n diepgewortelde gebruik dat ons dele van psalms en selfs hele psalms uitsonder en dit lees.  So het gelowiges deur die eeue troos gevind deur een enkele vers te lees, soos byvoorbeeld Psalm 90:1: "Here, U was vir ons 'n toevlug van geslag tot geslag...".  Watter onpeilbare rykdom is daar net nie in hierdie woorde opgesluit nie! Miskien was dit beloftes van God se teenwoordigheid soos dit in Psalm 91 voorkom, wat vir jou waarde het, soos verse 9,10: "Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref nie...".  Of miskien is dit 'n hele psalm soos Psalm 103 wat vir jou spesifieke betekenis het.  Hierdie psalm is 'n loflied wat in konsentriese sirkels uitkring.  Eers is dit die gelowige self wat verklaar:  "Ek wil die Here loof...".  Dit word opgevolg met 'n uitkringende loflied waar "...almal wat verdruk word...." die Here loof, en uiteindelik is dit selfs die magtige engele en hemelwesens wat opgeroep word om die Here te loof.  So spel Psalm 103 in sy totaliteit vir ons dat lof wat uit 'n dankbare hart ontspring, se reikwydte onbegrens is.

 

Benewens gedeeltes van psalms en selfs hele psalms, is daar ook 'n verdere manier waarop ons die psalms kan lees, en dit is om dit as 'n boek te lees.  Dit beteken doodgewoon dat jy die psalms sistematies lees, vanaf Psalm 90, 91, 92 in opeenvolging totdat ons by Psalm 106, wat die einde van die vierde bundel is, kom.  Hierdie manier van lees word die afgelope 20 jaar sterk aangemoedig.  In Woordwyser 2001 was dit die aanpak, en elke jaar het ons 'n volgende boek ook in opeenvolging gelees.  So is Boek I (1-41), Boek II (42-72) en Boek III (73-89) ook sistematies as 'n boek gelees en het daar vanuit hierdie "groot boek", aangrypende elemente van die geskiedenis van Israel se omgang met God na vore gekom.  Vanjaar wil ons dit met boek IV (Ps 90-106) ook doen.

 

Sonder om die verhaal van die vorige boeke te herhaal, is dit genoegsaam om te herinner dat Psalm 89 die verhaal van die voorafgaande 89 psalms op 'n droewige noot laat eindig.  Die koningskap van Dawid, wat ten nouste verweef was met die verbond wat God met Dawid gesluit het (2 Sam 7), en wat geïmpliseer het dat daar geen einde aan hierdie koningskap sal kom nie, het onverwags wel ten einde gekom.  God het Juda verwerp.  Die geweldige folterende implikasies wat dit vir die Judese volk ingehou het, was veel meer as die fisiese pyn van die ballingskap.  Dat God sy trouverbond met hulle kon verbreek (89:39), is onvoorstelbaar.  Hoe kon God dit doen? Het Hy dit regtig gedoen?

 

Psalms 90-106 wil 'n antwoord bied op hierdie geloofskrisis.  As ons de antwoord kortliks kan saamvat, kom dit hierop neer: (1) Die Here is Koning.  (2) Hy was ons toevlug in die verre verlede, lank voordat die monargie in Israel (Saul, Dawid, Salomo...) bestaan het, dit wil sê in die tydvak wat deur Moses geïnisieer is.  Hier kan ons dink aan die uittog uit Egipte, die wilderniswandeling in die woestyn vir veertig jaar of meer, die stelselmatige inbesitname van die land en alles wat dit geïmpliseer het.  (3) Hy sal steeds ons toevlug wees selfs noudat die monargie heeltemal tot niet gegaan het.  (4) Gelukkig is dié wat in hierdie tye hul vertroue in die Here stel en naby aan Hom leef.

 

Dit val op dat wanneer ons na Boek V (107-145) sou kyk, 'n versameling van psalms met ryke gevarieërdheid, die klimaks in Psalm 145 gevind word in die bevestiging van die Here se koningskap.  Psalm 146-150 is 'n crescendo van lof op die Here.  In hierdie psalms is die eerste en die laaste woord "halleluja", en in Psalm 150 kom die woord "halleluja" selfs soveel as tien maal voor.  Dit is vir ons 'n duidelike teken waarop 'n lewe voor die aangesig van die Here, in vertroue op Hom en in afhanklikheid van Hom, kan uitloop.

 

Dit lyk dus vir ons dat Psalms 1-89, waarvan die oorgrote meerderheid klaagpsalms is, vir ons deel wil maak van die stryd van Israel om 'n werklike bestaan voor die oë van die Here.  Dit eindig egter in geloofstryd en -twyfel.  Het God ons dan nou vir ewig verwerp? Nee, lui die antwoord In Psalms 90-150.  God is steeds ons toevlug soos Hy dit in die vroegste tye van onherbergsaamheid en vreemdelingskap betoon het.  God is Koning, en daarom kan ons inderdaad oor Hom as Koning juig: Hallelu-Ja!

 

Die uitdaging waarvoor ons in dus in Boek IV (90-106) gestel word, is om nie maar net in mooi klinkende versies vas te val nie.  Dit is om elke psalm soos dit in die teks vir ons weergegee word, as geheel te aanvaar en as geheel te verstaan.  Sodoende kom die boodskap van die gedig in sy volheid na vore.  Die uitdaging vat ons dan nog een tree verder: om te probeer vasstel waarom die redaktors van die psalmbundel, dié mense wat werksaam was in die rangskikking van die psalms in die plek wat hulle inneem soos dit nou daar staan, hierdie psalms in hierdie spesifieke volgorde geplaas het en wat hulle oorspronklike bedoeling daarmee was.  Alleen dan begin ons die boodskap hoor wat die gelowiges van die vroegste tye bemoedig en gedra het, sodat dit ook vir ons in ons tyd 'n besielende getuienis oor God kan word.