Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Psalm 73-89

Welkom by 'n heerlike avontuur om deur Boek III (Pss 73-89) te blaai.  Hierdie is ongerepte omgewing.  Benewens 'n enkele psalm soos Psalm 73 waar ons dikwels in tye van mismoedigheid weer krag vind, en Psalm 84 waar ons saam met die gemeente heerlik uitbundig sing: "Hoe lief het ek u woning, Heer...", is die res van die psalms redelik ombekend.  Ons vind in hierdie sewentiental psalms minstens agt of nege klaagliedere of gebede - 'n baie hoë konsentrasie van liedere waarvoor ons te dikwels terugdeins.  Martin Luther skryf betekenisvol oor die klaagpsalms: "Where do you find deeper, more sorrowful, more pitiful words of sadness than in the psalms of lamentation? There again you look into the heart of all the saints, as into death, yes, as into hell itself.  How gloomy and dark it is there, with all kinds of troubled forebodings about the wrath of God!  ....And that they speak these words to God and with God, this, I repeat, is the best thing of all.  This gives the words double earnestness and life....Hence it is that the Psalter is the book of all saints; and everyone, in what ever situation he may be, finds in this situation psalms and words that fit his case, that suit him as if they were put there just for his sake, so that he could not put it better himself, or find or wish for anything better" (Martin Luther, Luther's Works, vol 35: Word and Sacrament! (Philadelphia: Fortress Press, 1960, 255-56).

 

Mag die lees van hierdie psalms lei tot 'n (her)ontdekking van 'n seggingskrag vir ons emosies en gedagtes voor die lewende God!

 

AGTERGROND EN MOONTLIKE ONTSTAANSTYD VAN DIE DERDE DEEL, PSALMS 73-89.

Hierdie is geen maklike vraag om te beantwoord nie.  Ons kan aanvaar dat baie van die psalms in die reeks Psalms 73-89 in die Noordryk hulle ontstaan gehad het.  Profete soos Amos en Hosea, om maar enkeles te noem, het die Noordryk opgeroep tot inkeer.  Die Noordryk het hulle egter nie bekeer nie en toe die ramp hulle tref wat hulle bestaan as 10 stamme beëindig het, het mense in die Suidryk ag gegee op die profete se woorde in die Noorde, dat die ware profesie was, want dit het waar geword.  Dié profetiese woorde, baie daarvan in die vorm van psalms, is in die Suidryk "omgedig en aangepas" om by nuwe omstandighede aan te pas.

 

DIE STRUKTUUR VAN DIE PSALMBUNDEL (veral boeke II en III)

Die psalms wat ons hier aantref het 'n besondere rangskikking.  Boek II (Pss 42-72) en boek III (Pss 73-89) toon 'n simmetriese opbou (a-b-c-b-a), wat soos volg voorgestel kan word:

 

Ps 42-49

Korag

Ps 50

Asaf

Ps 51-72

Dawid

Ps 73-83

Asaf

Pss 84-85, 87-88: Korag

 

In hierdie versameling het ons hoofsaaklik psalms van Asaf (Pss 73-83) en dan psalms van Korag (84-85, 87-88), een psalms met die naam Dawid in die opskrif (Ps 86) en een psalm met die naam Etan (Ps 89).  Oor wie hierdie persone was, kan ons slegs maar bespiegel.  Vir ons doel is dit belangriker om te probeer vasstel watter temas en beelde by die onderskeie name voorkom en hoe dit help om 'n geheelbeeld te ontwikkel.

 

In die verdere verloop van Psalms 73-89 word 'n moontlike pad aangetoon.  Dit is nie noodwendig al pad nie, trouens, dit is maar een van vele! By die lees van onderskeie psalms bemerk mens bepaalde temas en motiewe (bv "Herder") en probeer mens ook vasstel hoe dit oorvleuel.  Dit is nie altyd moontlik om te sien hoe die geheel uiteindelik bymekaar inskakel nie.  Daar is maar 'n groot stuk subjektiwiteit aan lees verbonde.  Dit word hier ruiterlik erken.  Wat ons hier aanbied, is net nog 'n werkshipotese en het beperkte interpretasiewaarde.  Mag die ontdekkingsreis vir u baie meer inhou as wat hier geskrywe staan.  Om u vlugtig te oriënteer, word hier 'n kort oorsig aangebied:

 

Ps 73

Wysheidspsalm

God word nie gemeet aan die materiële nie.  Hy is onverbreekbaar verbind aan Sy volk met liefde. 

Ps 74

Klaagpsalm van die volk

Omstandighede kan wel op die teendeel dui, maar God is bo dit verhewe - Hy is by ons!

Ps 75

Gedeelte van 'n liturgie? Loflied?

God is as die geduldige Regter teenwoordig.  Wie sy geduld minag, sal die oordeelsbeker drink.

Ps 76

Himne

God tree op - vrymagtig en soewerein - en wie Hom misken, sien in Hom die Ontsagwekkende.

Ps 77

Klaagpsalm

Moenie volstaan met jou beeld van God nie.  Dink wyer en groter oor God...  ook as jou Herder

Ps 78

Geskiedenispsalm: Dawidiese verbond

Neem Hom ernstig ter harte...  Die Noordryk het nie en God is met Juda alleen die toekomspad in

Ps 79

Klaaglied van die volk

Leef 'n lewe van ootmoed voor Gods aangesig.  Erken Hom daagliks as jou Herder.

Ps 80

Dringende gebed

Wees nie onverskillig soos die Noordryk nie...  Hulle hart was nie by God nie.

Ps 81

Verbondsvernu-wingsliturgie

God is hartstogtelik lief vir sy volk, maar hulle gee net voor dat hulle Hom dien...

Ps 82

Liturgie

Wie God as Heer van alle here sien, sien ook om na sy medemens in nood...

Ps 83

Klaaglied van die volk

Noordryk leef nie in ootmoed voor God en in vrede met hulle bure nie.  Net lippediens...maar

Ps 84

Sionslied? Tempelhimne?

God laaf dié wat werklik na Hom dors...  Een dag by Hom is beter as duisend elders.

Ps 85

Klaaglied van die volk

Wie God eerstehands ervaar het, bid voortdurend om die volle verlossing

Ps 86

Individuele klaaglied

Ter bereiking daarvan, roep God vir Hom die "dienaar van die Here"

Ps 87

Loflied op Sion

Langs die weg van lyding roep die dienaar alle volke om kinders van Sion te word.

Ps 88

Klaagpsalm

Die dienaar verkondig God se wil en word verguis

Ps 89

Koningspsalm: himne en klaaglied.

God bring ook 'n einde aan Juda maar rig sy dienaar op pad na 'n nuwe, heerlike toekoms...