Oostelike Sinode
Prediker
INLEIDING OP PREDIKER
Die boek Prediker is een van die vreemdste boeke in die Bybel maar ook een van die mees fassinerendes. Aan die een kant is die boek uit pas met die hoopvolle boodskap van verskeie Bybelboeke, maar aan die ander kant verwoord dit die mens se eeuelange soeke na sin in die lewe.
Die boek is na alle waarskynlikheid in die derde eeu v.C. geskryf. Gedurende hierdie tyd het die Hellenisme (die Griekse kultuur en leefwyse) 'n duidelike merk op die Joodse samelewing in Palestina gelaat. Alexander die Grote het in die jaar 333 v.C. die Persiese ryk ingepalm en sodoende het die Jode ook onder sy gesag gekom. Alhoewel die ryk van Alexander later verdeel is, het die twee ryke noord en suid van Palestina gedurigdeur 'n stryd gevoer oor wie nou eintlik seggenskap oor Palestina behoort te hê. Beide hierdie ryke (die Ptolemeërs [Egiptenare] en die Siriërs [Seleukiede]) het die Griekse kultuur en leefwyse aangehang en gepropageer en hulle merk op Palestina en die Joodse samelewing gelaat.
Heelwat geleerdes meen dat die boek Prediker ook die invloed van die Hellenistiese filosofieë van daardie tyd verraai. Maar dit was nie net die Hellenistiese filosofieë wat 'n invloed op die boek uitgeoefen het nie, die boek is ook duidelik 'n reaksie op die tradisionele Israelitiese wysheid. Om hierdie skrywer (wat waarskynlik 'n vermoënde man was) se denke reg te kan verstaan, moet 'n mens dan ook iets weet van die wysheidsliteratuur van die Ou Testament. In die wysheidsliteratuur speel die gedagte van orde 'n groot rol. Volgens die eertydse wysheidsleermeesters vertoon die natuur en die menslike samelewing 'n bepaalde orde. Hierdie orde (so het hulle geglo) is deur God geskep en Hy hou dit ook in stand. Wanneer mense in pas leef met die orde, gaan dit met hulle goed, maar wanneer hulle in stryd daarmee leef, gaan dit met hulle sleg en oorval allerlei ellendes hulle.
Hierdie siening dat daar 'n orde in die natuur en in die samelewing bestaan, het voorts aanleiding gegee tot die idee dat daar 'n samehang tussen dade en hulle gevolge is. Goeie dade (dade wat in ooreenstemming is met God se orde) het goeie gevolge en bose dade (dade wat teen God se orde ingaan) het slegte gevolge. Vergelyk slegs die volgende spreuke: 'Wie die Here dien, lewe lank; wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min' (Spr 10:27). ''n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam' (Spr 15:1).
Die wysheidsleermeesters het wel geglo dat God ook 'n sê het oor die samehang wat hulle tussen 'n daad en sy gevolg opgemerk het. Hulle het nie eenvoudig aanvaar dat 'n goeie daad outomaties tot 'n goeie gevolg lei en bose dade tot slegte gevolge nie. God gesorg dat 'n goeie daad 'n goeie gevolg het en 'n bose daad 'n slegte gevolg, want Hy is immers die skepper en onderhouer van die orde. Vergelyk die volgende spreuk: 'Die Here laat die mens wat reg doen, nie honger ly nie. Die Here laat nie die begeerte van dié wat verkeerd doen, bevredig word nie' (Spr 10:3).
'n Mens sou in hierdie geval ook van God se seën en straf (sy vergelding) kon praat. God seën 'n goeie daad, maar daarteenoor straf Hy 'n bose daad. Volgens die skrywer van die boek Prediker deel God egter seën en straf uit na willekeur (dink ook aan die boek Job). Daar is werklik geen vaste patroon in hierdie lewe op te merk nie. Die skrywer protesteer na regte teen die siening dat goeie dade goeie gevolge het en bose dade slegte gevolge het (vgl 7:15; 8:14). Volgens hom is die mens uitgelewer aan God se beskikking (vgl 3:1-8; 9:1-3, 11). God beskik oor mense se lewens en daarom kan hulle met hulle wysheid geen sekerheid hê dat hulle sukses sal behaal, 'n lang lewe sal hê, goeie gesondheid sal geniet, voorspoed sal beleef ens. nie. Vandaar die Prediker se uitroep: 'Alles kom tot niks' (of soos die 1953-vertaling dit vertaal het: 'Alles tevergeefs'). Volgens hom bly daar net één stukkie raad in hierdie lewe oor: 'Geniet die lewe wat jou gegun word! Maak die beste daarvan! Gryp die dag!' (Vgl 3:12-13; 3:22; 8:15; 9:7-10; 11:7-12:8).
Die boek bestaan hoofsaaklik uit 'n aantal losstaande stukke wat die skrywer se nadenke oor die lewe en gebeure in die lewe weergee. Die skrywer se redenasie kan eintlik met 'n spiraal vergelyk word: daar is voortgang in sy redenasies, maar hy keer telkens weer terug na bepaalde onderwerpe. Vergelyk die volgende voorbeelde:
- Uitgelewer aan die lot (die tyd) 3:1-9; 9:1-10; 9:11-12
- Geen troos in lewe en dood nie 3:16-22; 4:1-3
- Geen vergelding nie 7:15-18; 8:10-15; 10:2-7; 10:8-11
- Aanvaar die lewe soos dit is 7:8-10; 7:11-14
- Geniet die lewe 3:12-13; 3:22; 8:15; 9:7-10;
- Hou die dood voor oë 7:1-4
- Geniet die lewe, maar hou die dood voor oë 11:7-12:8
Gustav Claassen

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

