Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:
Nuus » Argief » 2009 » Maart » Verder lees
KORTNUUS 25
2009/03/19

Die Moderamen van die Algemene Sinode het 'n besluit oor die VERKIESING geneem wat vir die aandag van alle lidmate is.  Lees wat skryf dr Kobus Gerber.

 

Groete

 

HENRY VAN DER SCHYFF

 

VERKIESING 2009

 

Die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) het op 18 Maart die volgende aanvaar:

 

1.         Ons roep al ons lidmate op om Vrydag (20 Maart) saam met alle ander Christene – en ook elke volgende Sondag tot en met die verkiesing op 22 April – ernstig voorbidding te doen met die oog op die verkiesing.  (Sien ook Riglyne vir Verkiesing aan Lidmate hieronder.)

2.         Al ons leraars en gemeentes word gevra om aandag te gee aan die Verklaring: Nasionale Kerkleiers-vergadering van 19 en 20 Januarie (sien bylae aangeheg).

3.         In aansluiting by bogenoemde, onderskryf die Moderatuur die volgende riglyne waarvolgens lidmate hulleself sou kon oriënteer ten opsigte van deelname aan die Algemene Verkiesing vanjaar:

 

Riglyne vir Verkiesing aan Lidmate

Dit sou bepaalde risiko’s kon inhou vir ’n kerk om sy lidmate te probeer beïnvloed ten opsigte van hulle ondersteuning van (en stem ten gunste van) ’n bepaalde politieke party.  Tog kan daar tye aanbreek waarin dit beskou sou kon word as die dringende roeping van die kerk om aan lidmate perspektief te gee oor die politieke rigting van die land.

Dit is waarskynlik veral belangrik wanneer dit blyk dat die rigting waarin die politieke sisteme neig, sou kon uitloop op

           die bedreiging (selfs die duidelik aantasting) van die menswaardigheid van mense (simptomaties in die hoë voorkoms van armoede – veral die diskrepansie tussen ryk en arm, geweld, misdaad, korrupsie, ens),

           die bedreiging (en selfs die afbreek) van gesonde morele waardes van die gemeenskappe waarin ons lidmate leef,

           die misbruik van mag om eie groepsbelange (etniese, kulturele, of godsdienstige belange) te beskerm en te bevorder,

           die aantasting van die beginsel van geregtigheid aan alle inwoners van die land.

Daarom sou dit in ’n bepaalde tydstip van die geskiedenis (soos voor ’n algemene verkiesing) van die kerk verwag kan word om sy lidmate aan te moedig om hulle politieke keuses te maak in terme van bepaalde waardes soos:

           politieke leierskap wat met integriteit uitgeoefen word

           morele stand van rolmodelle in politiek

           ekonomiese visie in terme van armoedevraagstuk

           die honorering van die waardes van die grondwet en die verbintenis tot die beskerming van die konstitusionele prosesse in die land.

           die wyse waarop oor mag gepraat word, mag gebruik en uitgeoefen word.

Onlangse ongelukkige gebeure in Zimbabwe het ons geleer dat ’n mens nie té laat moet probeer om ’n situasie (konstitusioneel) te red nie.  Die Grondwet is juis veronderstel om ons teen so ’n situasie te beskerm.  Daarom moet ons vroegtydig die gevaartekens raaksien wanneer dit sou blyk dat die integriteit van die Grondwet (en sy waardes) onder druk kom en het ons die verantwoordelikheid om daaroor leiding te gee aan ons lidmate.

Natuurlik is die Grondwet en sy waardes nie onaantasbaar nie.  Vir ons as kerk bly die waardes van die Evangelie van Jesus Christus, soos ons dit in die Bybel verstaan, ons hoogste prioriteit en lojaliteit.  Maar so lank as wat die Grondwet hierdie oortuiging van ons nie bedreig nie, moet ons dit as staatkundige instrument tot vreedsame naasbestaan in hierdie land respekteer en verdedig.

 

Die ASM sal dankbaar wees indien die inhoud hiervan soveel as moontlik lidmate so gou as moontlik bereik.


Druk die nuus artikel uit Druk      Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend