Oostelike Sinode
KORTNUUS 5
2008/04/24
Ons Sinode is betrokke by die gemeentetjies in die Noorde van Zimbabwe, naamlik Chinhoyi, Karoi, Kariba, Kadoma en Chequtu met ds Johan Haasbroek.
Daarom ondersteun ons die optrede en verklaring van drr Braam Hanekom en Allan Boesak.
HENRY VAN DER SCHYFF
DRINGENDE mediaverklaring oor zimbabwe
Die moderators van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Kaapland, dr Allan Boesak, en die NG Kerk van Wes- en Suid-Kaap, dr Braam Hanekom het gisteraand uit Zimbabwe teruggekeer na twee dae in die land. Hulle was vergesel van dr Kobus Odendaal van die Kommissie van Getuienis-Aksie van die twee Kerke. Die doel was om solidariteit te toon met die kerkleiers en lidmate van verskillende kerke in Zimbabwe en hulleself eerstehands te vergewis van die situasie.
Stedelike en landelike gebiede is besoek. Verteenwoordigers van die landbou en menseregte aktiviste is ook ontmoet. Terwille van die veiligheid van die betrokkenes daar, kan name en plekke nie op hierdie stadium bekend gemaak word nie. Aan die hand van waarnemings word die volgende gesamentlike verklaring uitgereik:
1. Dit is duidelik dat die land in ’n groot krisis verkeer met grootskaalse en blatante onreg wat plaasvind. Die fisieke tekorte van mense is onmiddellike en duidelik sigbaar. Die ekonomiese toestand versleg by die dag. In die lig van ’n swak landbou-oes, weens ongunstige weersomstandighede hierdie somer, is ’n humanitêre ramp op die kort termyn reeds ’n besliste werklikheid.
2. Mense leef in intense onsekerheid en vrees. Volgens getuies was daar kort na die verkiesing aanvanklik vreugde en hoop sigbaar. Namate die verkiesingsuitslae weerhou is, het die gevoel dramaties verander. Groot getalle mense het geen vertroue in ’n opvolgverkiesing nie en voel beroof.
3. Dit is duidelik dat hoë vlakke van intimidasie, wat na die verkiesing posgevat het, meer as net gerugte is. Dit gaan gepaard met intense fisiese geweld. Te midde van ontreddering is daar egter ’n onderdrukte woede by talle mense te bespeur.
4. Dit is duidelik dat die mense van Zimbabwe groot waardering het vir enige vorm van opregte solidariteit wat met hulle situasie betoon word.
5. Die situasie van die boeregemeenskap is haglik. Met 139 gedokumenteerde insidente van is alle aanduidings daar dat die laaste boere nou van hulle plase gejaag gaan word. Van die oorspronklik meer as 4,000 boere is minder as 400 oor en hulle word tans geïntimideer en beveel om hulle plase te verlaat.
6. Uit gesprekke het dit duidelik geblyk dat die regsstelsel in duie gestort het en die howe lakeie van die regering geword het.
In die lig van bogenoemde wil ons die volgende oproep doen:
1. As kerkleiers doen ons ’n dringende beroep op alle gelowiges om baie ernstig in gebed vir die mense van Zimbabwe in te tree. Dit is ’n baie diep en ernstige versoek van die kerke in Zimbabwe.
2. Daar word ’n ernstige beroep op SADEC gedoen vir dringende, direkte en ferme ingrype. Om ’n verskeidenheid van redes, behoort dit die stuur van ’n vredesmag na Zimbabwe in te sluit.
3. Dit is van kardinale belang dat daar gekeer sal word dat enige verdere wapens die land binnekom.
4. In die lig van dreigende hongersnood is dit dringend noodsaaklik dat alle moontlike relevante betrokke partye aksieplanne in plek kry om die (huidige) krisis aan te spreek.
5. Ons wil ook ons stemme voeg by al die ander oproepe om ’n ernstige pleitdooi tot die regering van Suid-Afrika te rig tot daadwerklike ingrype in hierdie krisis.
Hierdie verklaring is voorgelê op ’n mediakonferensie op Woensdag 23 April in Belhar (Bellville-Suid) in die Sinodale Kantoor van die VGKSA-Kaapland.
Dr Allan Boesak
Namens die VGKSA
Dr Braam Hanekom
Namens die NG Kerk
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

