Oostelike Sinode
FAMILIENUUS (114)
2008/02/15
Op versoek van die Moderamen van die Algemene Sinode word die verklaring aan elke gemeente deurgegee.
Geniet die naweek se eredienste.
Henry van der Schyff
Uitvoerende Amptenaar
14 Februarie 2008
VERKLARING VAN DIE MODERAMEN VAN DIE ALGEMENE SINODE VIR AANDAG VAN LIDMATE VAN DIE NG KERK
Liewe susters en broers
Die Moderamen van die Algemene Sinode
1. is diep onder die indruk van die nood en onsekerheid by baie NG Kerk lidmate;
2. besef dat die wette- en normloosheid in Suid-Afrika, agteruitgang van infrastruktuur, marginalisering van baie lidmate en politieke onsekerheid vernietigend op hulle emosies en geloofslewe inwerk en ’n gevoel van uitsigloosheid skep;
3. wil lidmate herinner aan die God wat ons dien en wat ons nog nooit in die steek gelaat het nie en dit ook nie nou sal doen nie;
4. onderneem om tydig en ontydig pastoraal en profeties mee te werk om die droom vir ons lande wat ruimte vir al sy mense bied, te help realiseer;
5. wil alle lidmate oproep om weereens die hartklop van ons kerk se Roepingsverklaring te bevestig:
· Ons is verbind aan die Here wat ons kerk 350 jaar gelede hier geplaas het. Ons behoort aan Hom en al ons verwagtinge is van Hom alleen.
· Ons is verbind tot hierdie kontinent en in die besonder Suider-Afrika.
· Ons glo steeds dat ons tot die genesing van ons lande moet bydra en ’n BAKEN van HOOP en ’n SIMBOOL van VERSOENING moet wees.
· Ons sal dit alleen kan bereik wanneer ons onsself oopstel vir die deerniswekkende werking van die Gees van Christus.
As Kerk van die Woord glo en bely ons dat die Here in staat is om van ons diepste verleentheid sy geleentheid te maak.
Uitgereik tydens die vergadering van die Moderamen te Kemptonpark op 13 Februarie 2008.
Dr JJ Gerber
Algemene Sekretaris van die NG Kerk
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

