Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Numeri

Wie het die boek geskryf?

 

Dissipelskap is 'n begrip wat uit die Nuwe Testament kom.  Numeri help ons om te verstaan dat navolging van God nie eers in die Nuwe Testament vir die eerste keer deur Jesus beklemtoon is nie.  Trouens, ons kan met redelike sekerheid sê dat dit aan 'n groep priesters te danke is dat ons in die Ou Testament 'n boek het  wat oor die gehoorsame navolging van God handel.  Die priesters wat vir die opstel van Numeri verantwoordelik was, probeer juis om die verhaal van Israel se trek in die woestyn só oor te vertel dat mense daarna sou nadink oor wat dit beteken om God te volg.  Dit is beslis so dat ons nie in staat is om die woestynreis van Israel presies te rekonstrueer nie.  Daarvoor is daar te veel onsekerhede oor van die historiese gegewens en loop die verhale plek plek deurmekaar.  Tog is dit die moeite werd om die voetspoor van Israel in die woestyn te volg.  Dit is nie so droog soos dit op die oog af mag lyk nie!

 

Waaroor gaan dit in die boek?

 

Die boek Numeri help ons om oor 'n paar belangrike sake na te dink.  God voorsien en Hy sorg vir mense.  Maar wat is dan nou mense se verantwoordelikheid in dit alles? By die lees van die teks van Numeri sal jy agterkom hoe vervleg hierdie twee sake van God se voorsienigheid en mense se verantwoordelikheid is.  Dit is 'n tema wat op talle plekke in die OT voorkom.  Ook hier in Numeri.  Ander temas soos God se heerskappy en die wyse waarop Hy leiding aan mense gee maak die noukeurige lees van die boek Numeri deur en deur die moeite werd.  Voeg hierby die aksent wat op die geduld van God geplaas word en 'n mens kry sommer lus om hierdie boek te lees.  Wat met die eerste oogopslag lyk na 'n droë sensusverslag ontvou as 'n reisverhaal wat geweldig baie te sê het oor ons eie lewe wat ons voor God leef.  Die naam van die boek (Numeri – getalle) suggereer dat ons dalk met koue statistiek te doen het.  Die teendeel is waar.  In hierdie boek ontdek ons die oneindige geduld wat God met klaende kermkouse het.  Ten spyte van menslike ongehoorsaamheid hou die genadige God aan om mense te lei om te verstaan wat Hy vir hulle gedoen het en watter verantwoordelikhede dit vir hulle meebring.

 

Wanneer is die boek geskryf?

 

Dit is belangrik vir die verstaan van die boek dat ons moet onderskei tussen die tyd waaroor die boek skryf en die tyd toe die boek geskryf is.  As ons vandag 'n boek oor die Groot Trek sou skryf, kyk ons vanuit die 21ste eeu terug na die 19de eeu.  So het dit ook met Numeri gewerk.  Terwyl die mense in 587 vC in ballingskap gesit het (Babilonië), skryf hulle oor die gebeure tydens Israel se woestynreis.  Vanuit hulle eie "woestyntyd" vind hulle aanklank en nuwe betekenis in die verhaal van God se betrokkenheid by Israel ses en 'n half eeue vantevore (1250 vC).  So help hierdie eeue oue verhaal hulle om die sin van gebeure in hulle eie tyd te vind.  'n Soortgelyke proses vind plaas wanneer jy in 2002 in Suid-Afrika dié boek Numeri in die hand neem en begin lees.  Israel se woestynreis, soos oorvertel en geïnterpreteer deur die ballingskapmense word die punt waar jy met jou eie storie voor God kom staan.

 

Ons weet dat die boek Numeri oor Israel se woestynreis gaan.  Die boek wil egter nie 'n weergawe van 'n tydvak van die geskiedenis wees nie.  Dit is duidelik uit die manier waarop die verhaal vertel word.  Dit gaan nie in die eerste plek oor wat gebeur het nie.  Die gebeure word vertolk en daar is voortdurend 'n poging om die betekenis van die gebeure onder woorde te bring.  Ons kan die boek dus as 'n reisverhaal tipeer waarin moderne mense hulleself ontdek in die verhaal van Israel se reis met God.

 

Die samestelling van die boek

 

Dit help nogal vir die verstaan van die boek om eers in die spreekwoordelike helikopter te klim om sodoende 'n geheelbeeld van Israel se reisverhaal te kry.  Die drie bakens wat in Numeri uitstaan is Sinai, Kades Barnea en die Moabgebied.  In Sinai begin die reis en vir 10 hoofstukke lank word ons ingelig oor al die voorbereidings wat vir die tog getref is.  Die reis self word in 10:11- 22:1 beskryf met 22:2 -36:13 as die afsluiting van die reisverhaal.