Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

KORTNUUS 8
2008/06/13
Na afloop van die vergadering van die Moderamen van die Algemene Sinode met die Dagbesture / Moderature van al die Sinodes, is 'n verklaring uitgereik - "Die Kerk wat ons wil wees..."

 

Lees dit gerus.

 

HENRY VAN DER SCHYFF

 

Die Kerk wat ons Wil wees...

 

 Roeping

In ons verbintenis aan die Drie-Enige God, herbevestig ons, as NG Kerk in Suider-Afrika, ons duidelike roeping in Afrika.

 

Gestuur na die Wêreld (Missiologie)

Ons is daarvan oortuig dat die kerk in die eerste plek nie net ter wille van haarself en haar lidmate bestaan nie, maar tot die eer van God en ter wille van alle mense.  Ons verstaan ons roeping om hier en nou ’n verskil te maak.  Ons wil dit doen deur die hoop en versoening wat in ons leef, met almal om ons te deel.


Inklusiewe Kerkwees (Ekklesiologie)

God het ons as gelowiges, almal saam en afsonderlik, uit die hele menslike geslag gekies om vir Hom ’n kerk te wees.  Hy het ons deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof, van die begin van die wêreld af tot die einde toe, bymekaar gebring.  Elkeen is daarom verplig om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van al die ander lede van die kerk (asook dié daarbuite) te gebruik… (Sien Heidelberg Kategismus Sondag 21 vraag en antwoord 54 tot 55).


Konteks

Die konteks waarin ons geroep word, vertel die tragiese verhale van geweld, die verwoestende omvang van armoede, hongersnood, misdaad, die vigs-pandemie en die gebrek aan respek vir God, mens, dier en die omgewing.  Wat meer is, talle mense leef en sterf elke dag sonder Christus en sonder hoop.


Versoening

Ons kan die kerk nie anders verstaan nie as die draer van God se versoening met Hom, met mekaar en die wêreld.  Ons kan en wil hierdie groot uitdaging nie alleen aanvaar nie, want hierdie bediening van die versoening (vergelyk 2 Korintiërs 5:19 en 20) is groter as die NG kerk.  Die omvang is trouens só groot dat alle mede-gelowiges se hulp en samewerking noodsaaklik is.  Ons as kerk verbind ons tot groter sigbare eenheid met ander kerke, maar in besonder met die lede ons eie kerkfamilie.  Ons vind ons eenheid in ons roeping en is uit die Bybel/Evangelie daarvan oortuig dat God dit so wil hê.


Diversiteit

Binne hierdie eenheid, vier ons ons diversiteit as God se geskenk aan ons, want ons andersheid vir mekaar help ons om die volle omvang van God se genade en liefde beter te verstaan en te waardeer.  As die een lid ly, ly al die lede saam en as die een lid geëer word, is al die lede saam bly (1 Korintiërs 12: 26)


Verhoudinge

Ons wil hierdie opwindende pad met eerlikheid, deursigtigheid, integriteit en in gehoorsaamheid stap.  Onderlinge verhoudings in eie geledere, asook met lidmate van ons familie van NG Kerke, sal op hierdie geloofsreis deurslaggewend wees.


Uitdagings

Ons is daarvan bewus dat hierdie pad vir ons onsekerheid, seerkry en selfverloëning mag inhou, maar ons troos is dat hierdie nuwe eenheid ’n viering is van ons verbintenis aan die Drie-Enige God wat in Homself vir ons ’n toonbeeld is van ware eenheid (Markus 12:29 en 30).

 

 

Goedgekeur as deel van die gesprek oor Kerkhereniging by die Uitgebreide Moderamen, 11 en 12 Junie 2008, te Carmelite Retreatsentrum

 

 

 


Druk die nuus artikel uit Druk      Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriendStuur hierdie nuusartikel na 'n vriend