Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

KORTNUUS 6
2008/05/08

Die volgende getuienis aan die owerheid is deur die NG Kerk (Nederduitse Gereformeerde Kerk) Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika uitgereik.

 

Baie groete

 

HENRY VAN DER SCHYFF

 

 

n GETUIENIS AAN DIE OWERHEID

 

Die Kerk glo dat owerhede die verantwoordelikheid het om so te regeer dat die veiligheid en lewenskwaliteit van al die landsburgers beskerm en bevorder word.  Ons is dankbaar oor ’n Grondwet wat die regte van landsburgers verskans.  As gelowiges wil ons landswette gehoorsaam en is ons gekant teen enige vorm van anargie.

 

Tans heers daar onder die meeste mense in ons land ’n gees van bekommernis, onsekerheid en vrees.  Die volgende tendense dra daartoe by:

·                    Misdaad, geweld en korrupsie. Die golf van misdaad, geweld en korrupsie het 'n punt bereik waar baie mense vertroue in die owerheid verloor het.  Nieteenstaande talle vertoë vanuit verskillende sektore van die samelewing dat die owerheid daadwerklik moet ingryp, is daar geen verbetering nie. Onskuldige mense word geteister deur misdaad en geweld.  Daagliks sterf inwoners van ons land as gevolg van wreedaardige en sinlose moorde. Verkragting, kindermolestering en grootskaalse korrupsie het deel geword van ons daaglikse bestaan.  Die afleiding word gemaak dat daar by die owerheid ’n onvermoë is om wet en orde te handhaaf.  Hierdie onhoudbare situasie gee daartoe aanleiding dat mense reg in eie hande begin neem om hulleself te beskerm.  Dit is die voorspel tot anargie en onnodige bloedvergieting.

·                    Vaardigheidstekorte en infrastruktuur.  Daar bestaan ’n persepsie onder die meeste Suid-Afrikaners dat die land besig is om met rasse skrede agteruit te gaan as gevolg van wanbestuur en ’n vaardigheidstekort.  Dit lei tot die ineenstorting van die infrastruktuur op talle terreine soos o.a. die dreigende krisisse in elektisiteitsvoorsiening, gesondheidsorg, onderwys, padnetwerk en die toename van armoede en MIV/Vigs.  Onoordeelkundige transformasie en regstellende aksie is deels hiervoor verantwoordelik.  ’n Toenemende vlaag van emigrasie lei tot ’n verdere verlies van noodsaaklike kundigheid.

·                    Rassisme.  In plaas van noodsaaklike versoening, eskaleer rassisme (wit op swart en swart op wit).  Stereotipering en die neiging om alles wat verkeerd loop aan rassisme toe te dig, verhoog die spanning en lei tot konflik.  Die miskenning van taalregte en moedertaalonderrig van minderheidsgroepe, asook onverantwoordelike regstellende aksies, versterk die gevoel van magteloosheid.

·                    Landbou en voedselvoorsiening.  Die geweldige styging van insetkoste, soos byvoorbeeld kunsmis- en brandstofpryse in die landbousektor maak finansiële oorlewing vir produsente in veral die graanbedryf onmoontlik.  Dit, tesame met die toename van wreedaardige plaasmoorde, onsekerheid rakende eiendomsreg en traagheid van die owerheid om hulle te ondersteun en te beskerm, het tot gevolg dat talle boere die bedryf verlaat.  Dit kan lei tot ’n voedseltekort, rampspoed en hongersnood soos wat Suid-Afrika en die res van Afrika nog nie gesien het nie.

·                    Zimbabwe-krisis.  Die huiwering van die owerheid en die President om sterk en duidelik standpunt in te neem teenoor die immorele en ondemokraties optrede en meegaande skending van menseregte van die regerende party in Zimbabwe, versterk die persepsie dat dit ook mettertyd sal oorspoel na Suid-Afrika.

 

’n Oproep aan die President en regering

Namens miljoene Christene in Suid-Afrika (75% van die bevolking) wil ons u versoek om drastiese stappe te neem om kragtens die Grondwet wet en orde te herstel.  Ons verseker u van ons voorbidding vir u as owerheid.  Hoor die noodkreet van die grootste deel van die bevolking van Suid-Afrika voordat dit te laat is!

 

’n Oproep aan alle mede-gelowiges en burgers van Suid-Afrika

Talle mense is getraumatiseer en ly.  Baie mense leef in armoede, vrees en onsekerheid.  Pessimisme heers onder ’n groot deel van ons bevolking.  Ons doen ’n beroep op alle mense in Suid-Afrika om saam te werk om die euwels in ons samelewing te beveg.  Ons wil lidmate van ons onderskeie kerke en alle mede-gelowiges aanspoor om juis in moeilike omstandighede, soveel te meer sterk te wees in ons geloof, en ons vertroue in God te plaas.  In die eerste en laaste instansie is ons lewe en toekoms in sy hand.  As gelowiges moet ons onder alle omstandighede in verantwoordelikheid voor God leef.  Handhaaf die waardes en deugde wat die Woord van God ons leer.  Bemoedig, vertroos en ondersteun mekaar.  Bid vir, en help diegene wat swaarkry. Bid dat God aan hulle wat oor ons regeer, wysheid sal gee.  Mag God dit so beskik dat ons in hierdie pragtige land in vryheid en vrede mag leef!

 

Namens:

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

Die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika

 

Pretoria

6 Mei 2008

 

 

 

 

 


Druk die nuus artikel uit Druk      Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriendStuur hierdie nuusartikel na 'n vriend