Oostelike Sinode
KORTNUUS 59
2010/10/28
28 Oktober 2010
KORTNUUS 59
Hiermee gee ons aan julle die jongste nuus in verband met die registrasie van huwelike. Lees hoe Ben du Toit die nuwe vereistes beskryf.
Baie groete
HENRY VAN DER SCHYFF
UITVOERENDE AMPTENAAR
PARLEMENTÊRE LESSENAAR
22 Oktober 2010
Beste kollegas
DIE REGISTRASIE VAN HUWELIKE BY DIE DEPARTEMENT VAN BINNELANDSE SAKE
Ek wil baie graag heel aan die begin vir julle baie dankie sê vir julle geduld en vriendelikheid met hierdie proses. Ek weet die geduld is/was nie altyd daar nie – so ook nie die vriendelikheid nie - ’n mens moet somtyds na jou tande soek om op te byt. Maar, dit is nou eenmaal waar ons is met hierdie saak.
Ek vra ook weer dat ons almal sal onthou waar die hele ding begin het: die ontdekking dat sommige huwelike wat ons gedink het wel geregistreer is, al die tyd toe nie was nie. Iewers het die dokumente verlore geraak. Dis toe dat ons uitgevind het, die Departement van Binnelandse Sake (DBS) aanvaar nie meer geposte dokumente nie – juis omdat hulle nie die posdiens vertrou nie. Van toe af het ons keer op keer met senior beamptes van die DBS vergader om die mees aanvaarbare ooreenkoms vir predikante (binne hulle wetlike raamwerk en vereistes) te beding.
Die probleem was boonop dat hulle kommunikasie met die verskillende streke, asook uiteindelik hulle plaaslike kantore (waar ons as huweliksbevestigers onderskeidelik geregistreer is en by wie ons besigheid doen), dikwels ontoereikend was. Landwyd-gesproke was daar ’n Babelse verwarring. Op een plek was die vereistes so, op ’n ander plek sus. Dit het geweldige uitdagings aan ons (kerklike) kommunikasie gestel – en die gemoedere het somtyds effe van die grond af gelig!
Na ons jongste gesprekke met mnr Jimmy Malemela (adj direkteur van die DBS) het hy persoonlik sy kantore begin besoek en ander gebel om hulle duideliker instruksies te gee. Ons het ons groot waardering namens die kerk teenoor hom uitgespreek. Hy doen regtig sy bes in ’n baie moeilike en uitdagende situasie – naamlik om ’n staatsdepartement bekend (berug) vir sy korrupsie en ondoeltreffendheid, om te draai tot betroubare dienslewering.
Die jongste stand van sake lyk so:
1. Uit die gegewens tot ons beskikking is dit duidelik dat bykans elke streekkantoor van die DBS sy eie interne probleme het met die interpretasie van opdragte en daarom reëlings oor huweliksregistrasies kan hê wat van mekaar verskil. Sommige van hulle moet ook unieke aanpassings maak weens, onder andere, kapasiteitsprobleme.
2. Ons as huweliksbevestigers gaan onsself regtig baie help deur daarna te strewe om ’n positiewe verhouding met die personeel van die plaaslike DBS-kantoor op te bou. As dinge gespanne is, versoek ’n gesprek met die betrokke verantwoordelike amptenaar en kyk of daar nie tot ’n aanvaarbare vergelyk gekom kan word nie. In ons nuwe staatsbedeling is dit meer as voorheen nodig dat ons op plaaslike vlak sover moontlik goeie verhoudinge sal bou met die owerheid daar.
3. Die Sentrum vir Kommunikasie (ons) het beperkte mandaat. Ons onderhandel slegs namens die Kerke. Ek het nie die jurisdiksie om aan te dring op beter opleiding vir DBS-amptenare of om uitsprake oor DBS-amptenare se implementering van hulle interne prosesse te maak nie. Ons werk van ons kant af hard om ’n gesonde verhouding met alle DBS-kantore te handhaaf en kan bevestig dat ons baie goeie samewerking van die DBS-hoofkantoor in Pretoria ontvang.
4. Hier volg die algemene reëls volgens die nuutste inligting tot ons beskikking:
4.1 Hoewel huweliksbevestigers steeds hulle ou huweliksregisters mag gebruik totdat dit op is, word daar nou drie (3) stelle ID-foto’s (swart en wit/gekleurd en volgens die normale formaat van ID-foto’s), sowel as drie (3) stelle vingerafdrukke (linker-duimafdruk) van beide die bruid en die bruidegom vereis vir alle huwelike wat bevestig word. In die nuwe register is daar aangeduide spasies daarvoor.
In die ou register word dit direk langs die spasie vir die bruid en bruidegom se handtekeninge aangebring. Vanselfsprekend die bruid s'n by haar handtekening en die bruidegom langs syne.
Spesiale duur toerusting is nie hiervoor nodig nie: ’n ink-kussinkie en swart ink is voldoende om ’n duidelik sigbare duimafdruk te verskaf en kan by Waltons of selfs CNA gekoop word. Die DBS het begrip daarvoor dat predikante wat as huweliksbevestigers optree, nie noodwendig almal opleiding hierin ondergaan het nie. Weens praktiese implikasies (oa die ink aan die vingers) sou ’n mens dit kon oorweeg om die neem van die duimafdrukke tydens die finale huweliksgesprek vooraf af te handel.
4.2 ’n Stel foto’s word bo-aan elkeen van die drie (3) bladsye van die huweliksregister vasgekram – nie gegom nie! Gom is nie verkieslik nie, aangesien dit dikwels loskom en foto’s dan verlore mag raak, of die registervorm beskadig word met die losmaak/afhaal daarvan.
4.3 In verband met die volgende reëling is daar dikwels verwarring by sommige kantore. Ons moet mekaar help. Die reëling waarop ooreengekom is (en tans met erns en moeite deur mnr Malemela aan sy streekskantore gekommunikeer word), is die volgende: Die oorspronklike blad word by die DBS ingegee; die eerste kopie (tweede blad) word aan die huwelikspaar gegee as bewys van die huwelik en die derde blad bly in die huweliksbevestiger se register vir sy verdere verwysing. Dit geld vir ou sowel as nuwe registerboeke. Dit mag dalk net spanning met inhandiging verlig, asook die taak van die DBS baie vergemaklik, indien die huweliksbevestiger ’n fotostaat van die eerste blad vir die huwelikspaar gee (dus na die huwelikssluiting pos), sodat daar nie onnodige woordewisseling met inhandiging hoef plaas te vind nie, maar ook sodat die streekkantoor nie eers vir hulle eie rekords ook nog so ’n afskrif moet maak voordat die oorspronklike na Pretoria gestuur word nie.
4.4 Ten einde bedrog te probeer beperk, mag dit moontlik gebeur dat huweliksbevestigers se eie vingerafdrukke voortaan gekontroleer word teen die databasis van die DBS. Dit beteken dat die vingerafdrukke geverifieer word en indien daar geen rekord hiervan op die databasis is nie, word duimafdrukke geneem ter wille van die volledige rekord van die huweliksbevestiger.
4.5 Sou dit gebeur dat ’n huweliksbevestiger nie persoonlik sy registrasies kan behartig nie, moet hy/sy ’n skriftelike toestemmingsbrief aan ’n verantwoordelike persoon as derde party verskaf. Ons voorstel sou wees dat sodanige brief in Engels moet wees, maar dit hang weereens af van die betrokke streekkantoor se omstandighede.
4.6 Hoewel daar probeer word om huweliksbevestigers nie onnodig lank in rye te laat wag nie, speel die grootte en kapasiteit van die DBS-kantoor en die aantal huweliksbevestigers wat daar geregistreer is, onder meer ’n rol hierin. Dit is verder ook so dat die DBS-amptenare sommige tye van die dag self besig is met die bevestiging van huwelike. Ook hiervoor kan ons probeer begrip toon en by die amptenare self uitvind watter tydsgleuf en dag hulle voorstel vir die minste ontwrigting.
4.7 By sommige DBS-kantore word die afgelope tyd skofte gewerk in ’n poging om deur middel van langer ure beter diens te lewer. So weet ons van kantore wat gedurende die week soggens vanaf 07:00 tot smiddae om 17:00 oop is, terwyl hulle ook op Saterdagoggende oop is.
4.8 Soos reeds vermeld (en soos in die meeste organisasies), is kommunikasie binne die DBS soms ’n uitdaging. Dit bring mee dat nie alle streekkantore oor die land heen gelyktydig ingelig is oor die reëlings waaroor met die hoofkantoor in Pretoria ooreengekom is nie. Dit mag goed wees indien ons hiervoor begrip probeer toon.
5. Ons herinner weereens vriendelik daaraan dat die Sentrum vir Kommunikasie slegs as tussenganger tussen die Departement van Binnelandse Sake (DBS) en huweliksbevestigers optree – ons is nie verantwoordelik vir hoe die DBS die registrasie van huwelike hanteer nie. Onthou asseblief dat die Sentrum se betrokkenheid by hierdie proses ontstaan het toe ons deur ’n gemeente genader is om hulp met registrasies wat per pos ingedien is, maar weggeraak het.
Nogmaals baie dankie vir almal se geduld ten opsigte van hierdie saak. Ons hou julle op die hoogte van enige verdere verwikkelinge in hierdie verband.
Vriendelike groete
Dr Ben du Toit
Direkteur Kommunikasie: NG Kerk Sinode van Wes-en-Suid-Kaap
Redakteur Elektroniese Kommunikasie Algemene Sinode NG Kerk
Parlementêre Lessenaar Algemene Sinode NG Kerk
Privaatsak X8, Bellville, 7535
Tel: 021 957 7196; Faks: 021 957 7197
Sel: 0823 328 700
bendutoit@kaapkerk.co.za
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

