Oostelike Sinode
KORTNUUS 52
2010/07/29
29 Julie 2010
KORTNUUS 52
Die Moderamen van die Algemene Sinode het tydens hulle vergadering 26 tot 28 Julie 2010 'n persverklaring oor Kerk en Wetenskap uitgereik.
Dit volg hieronder.
Baie groete
HENRY VAN DER SCHYFF
UITVOERENDE AMPTENAAR
Persvrystelling: Kerk en Wetenskap
Na aanleiding van mediaberigte en internet-gesprekke, waaraan die verhouding tussen die kerk en wetenskap onderliggend is (en waarby Prof Piet Strauss betrek word) wil die Algemene Sinode se Moderamen (dagbestuur van die sinode) graag die jongste standpunt van hierdie vergadering oor hierdie saak, soos wat dit in Junie 2009 geneem het, stel:
“Die vraag oor die aard van die verhouding tussen kerk en wetenskap speel van tyd tot tyd onderliggend 'n bepalende rol in die lewens van ons lidmate, waar hulle hulself ook al bevind in die diverse sektore van ons samelewing. Dit is dan dat standpunte en argumente oor onderwerpe soos die evolusie (teorieë oor die ontstaan van die mens), die oerknal (teorieë oor die ontstaan van die skepping), en ander sake soos die invloed van gebed op (byvoorbeeld) reën, klimaatsverandering en dies meer, dikwels tot onverkwiklike gesprekke lei.
Dit lê ten grondslag van die Gereformeerde tradisie dat onderrig en opvoeding, ook ten opsigte van die volle spektrum van die multidissiplinêre wetenskap, deel is van die kerk se roeping om sy lidmate te begelei tot verwondering oor die God van hierdie skepping/heelal, soos wat ons dan ook gereeld gelowig oor Hom bely.
Alhoewel dit anders is as God se openbaarmaking deur Jesus Christus, is sy skepping ook 'n bepaalde openbaarmaking van die misterie en wonder van God self. Die onvermoeide wyse waarop die kerk dan ook in sy geskiedenis die inisiatief geneem het tot die oprigting van skole en ander opvoedkundige inrigtings, is prakties tekenend van hierdie wedersydse respek tussen geloof en kennis.
As sodanig ondersteun of onderskryf die kerk nie noodwendig bepaalde wetenskaplike teorieë nie – is hy trouens nie bevoeg om daaroor enige gesaghebbende uitspraak te maak nie. Ons beskou dan ook nie die Bybel as 'n handboek wat vir ons allerlei wetenskaplike uitsprake maak wat buite hierdie bundel geskrifte se historiese konteks lê nie. Juis omdat ons respek het vir die teks van die Bybelse geskrifte, het ons respek vir die historiese konteks waarin hulle ontstaan het.
Wat die kerk wel ondersteun en bely, is 'n bepaalde geloofsuitspraak, naamlik dat God die Skepper van hemel en aarde (heelal/veelal) is. Wat is, het nie maar toevallig en spontaan gebeur nie. Oor hoedat hierdie skepping egter tot stand gekom het, asook die komplekse aard van al die wetmatighede waarbinne hierdie proses van skepping plaasgevind het en nog steeds ontwikkel en funksioneer, kan ons as gelowiges ons net verwonder, veral namate die verskillende wetenskaplike dissiplines dit verder aan ons ontvou.
Dit is daarom jammer dat daar dikwels vanuit beide die kerklike, sowel as die wetenskaplike kontekste, uitsprake gemaak word wat dui op 'n onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap, asof beide nie bepaalde uitdrukkings kan wees van God se onbeskryflike grootheid en mag nie.
Die NG Kerk sal graag vanuit hierdie perspektief wil deel wees van die gesprek tussen kerk en wetenskap – en ons daardeur laat begelei in die hantering en beoordeling van sake wat met hierdie verhouding verband hou.”
Dr JJ Gerber
Algemene Sekretasis van die NG Kerk
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

