Oostelike Sinode
KORTNUUS 44
2010/04/16
16 April 2010
KORTNUUS 44
Ons Voorsitter, Johan van Schalkwyk het aan die begin van die week saam met die ander Sinodes se Voorsitters / Moderators vergader. Hulle het besluit om 'n pastorale skrywe aan al die lidmate te rig.
Baie groete
HENRY VAN DER SCHYFF
UITVOERENDE AMPTENAAR
Pastorale skrywe aan lidmate van die NGK (15.04.2010)
Die 11 Moderators/Voorsitters van die NG Kerk in SA en Namibië het die afgelope week vir drie dae te Wildernis vergader. Dit is ’n byeenkoms wat reeds die afgelope 17 jaar plaasvind op uitnodiging van ’n lidmaat en sakeman mnr Anton le Roux. Die vergadering is van informele aard, maar daar word indringend na van die werklikhede gekyk wat ons Kerk en land in die gesig staar. Ruim tyd word ook vir gebed en bestudering van die Woord ingerig. Tydens die vergadering is gevoel dat die Moderators/Voorsitters graag die volgende pastorale skrywe aan lidmate wil rig:
1. As Moderators/Voorsitters het ons die afgelope tyd deeglik bewus geword van intense emosies wat in beide ons lidmate en mede-landgenote leef. Dit sluit emosies van seer, onsekerheid, bitterheid en selfs woede in. Genadiglik is ons ook bewus van hoop, die verlange na vrede en die begeerte om ’n positiewe verskil in die land te maak. Dit is ons innige gebed dat die Kerk in hierdie dae al meer ’n instrument sal wees wat hierdie emosies hoor, verstaan en op sensitiewe wyse sal begelei ooreenkomstig die helende Evangelie van Jesus Christus. Hier kan ons ’n verskil maak.
2. Deeglik bewus van die sensitiewe en broos tye waarin ons leef, roep ons lidmate op tot ’n gees van verootmoediging en in die besonder ’n biddag op Sondag 9 Mei 2010 waar ons graag sal wil fokus op:
· Die opstandingshoop wat die Evangelie van Christus ons in hierdie dae bied
· Gebede om vrede
· ’n Geleentheid om weer na God te luister oor wat Hy van ons as Kerk in die dae vra
· Gebede dat God werklik van die NG Kerk ’n instrument van eenheid, geregtigheid en versoening in ons land sal maak.
3. Intussen roep ons alle lidmate op om juis in hierdie dae met konkrete dade van liefde en versoening na mede-landgenote uit te reik.
4. Ons wil lidmate aanmoedig om opnuut die aangesig van God op te soek in die verwagting dat Hy deur sy Heilige Gees aan ons innerlike krag en sterkte sal gee. Dit is ons oortuiging dat, terwyl die Heilige Gees nog altyd ’n sentrale deel van ons gereformeerde teologie uitgemaak het, ’n nuwe seisoen van vernuwing en lewe alleen moontlik is deur die genadige werking van die Heilige Gees in ons kerk en persoonlike lewens. Mag ons dus in hierdie dae opnuut op die Gees van Christus fokus.
5. Ons meen dat hierdie veral ’n tyd is om ook opnuut na mede-gelowiges in alle denominasies uit te reik. Ons is oortuig daarvan dat eenheid onder Christen-gelowiges belangriker is as ooit. Dit het natuurlik ingrypende implikasies vir hoe ons teenoor mekaar optree en hoe ons oor mekaar praat. Mag die liefde van Christus in alle opsigte hier die heerskappy voer. Ons glo onwrikbaar dat ons land in Christus ’n gelukkige toekoms het. Hierdie hoop wil ons leef en verkondig.
6. Graag bid ons hiermee die seën en genade van onse Here Jesus Christus af op ons lidmate, maar terselfdertyd ook op Afrika, die kontinent waar God ons geplaas het om te lewe en Hom te dien.
Prof Piet Strauss (Namens die Moderators/Voorsitters van die 11 Sinodes van die NG Kerk) 15.04.2010
(Tel 082 557 3414; e-pos: straussp@ufs.ac.za )
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

