Oostelike Sinode
KORTNUUS 40
2010/02/22
19 Februarie 2010
KORTNUUS 40
Die Sinodale Diensraad het onlangs 'n brief wat aan Middelburg-Kanonkop gerig was, aan al die gemeentes versprei. Dit weerspieël die Sinodale Diensraad se houding oor die misdaad in die land.
Daar is riglyne in die vooruitsig gestel indien daar gewelddadige trauma in 'n gemeenskap plaasvind.
Hieronder volg 'n aantal riglyne wat volgens plaaslike omstandighede aangepas kan word.
Baie groete
HENRY VAN DER SCHYFF
UITVOERENDE AMPTENAAR
Riglyne vir die hantering van gewelddadige trauma in die gemeenskap
1. Vermy kits antwoorde – gelowiges kan mekaar in hartseertye van die Here se teenwoordigheid verseker.
2. Moenie die troos van fisieke aanraking onderskat nie.
3. Skep 'n veilige ruimte vir lidmate om hulle negatiewe emosies uit te spreek.
4. Gee vir die getraumatiseerde persoon ruim kans om oor sy/haar ervaring te praat.
5. Aanvaar dat die leraar nooit kan sê hoekom so iets met gelowiges gebeur nie. Lyding is baie kompleks. Wanneer die gemoedere gesak het, kan 'n sinvolle gesprek rondom die tema gefasiliteer word. Daar bestaan goeie kundigheid in die Sinode rondom hierdie tema.
6. Reël lidmate om die slagoffers met praktiese sake by te staan soos om kinders by die skool te gaan op– en aflaai, 'n huis skoon te maak indien daar 'n moord gepleeg is of op te ruim in die geval van 'n inbraak, kos, die herstel van diefwering en ander praktiese sake waarmee hulle hulp mag nodig hê.
7. ’n Teologiese perspektief op negatiewe emosies – klag (soos in die klaagpsalms) is net so geldige geloofsuitdrukking as lof. In moeilike omstandighede is dit ’n méér toepaslike geloofstaal as lof. So iets kan binne die tydperk van skok sinvol binne 'n erediens en die liturgie of die gesinsverband aangespreek word.
8. Iets vir die langtermyn: die kwessie van geregtigheid moet aangespreek word. God is 'n God van geregtigheid. Geregtigheid gaan oor 'n breë spektrum sake: sosiale onreg, die toepassing van die wet deur die owerheid, ekonomiese geregtigheid, billike wette. Gelowiges moet self nooit aan onreg meedoen nie.
9. Vorm netwerke met die leraars van ander kerke in jou dorp of voorstad om met die SAPD en plaaslike owerheid rondom gemeenskapsveiligheid.
10. Bied trauma–hanteringskursusse in jou area aan en help so om mense te bemagtig om in hierdie tyd te oorleef.
11. Skep 'n ondersteuningsnetwerk van gelowiges wat óf opgelei in traumabegeleiding is en/óf self deur geweldstrauma is en dit reeds verwerk het en wat ander prakties kan help en ondersteun.
12. Gee die detail van die insident onmiddellik deur na die Sinode huis vir ondersteuning aan die gemeente, leraar en lidmaat. Dit is vir ons belangrik dat die plaaslike kerk op 'n manier sal weet dat die breë kerk nie stom oor die geweld in ons land is nie.
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

