Oostelike Sinode
KORTNUUS 36
2009/12/11
11 Desember 2009
KORTNUUS 36
Die verklaring van die Moderatuur van die Algemene Sinode oor Saamwoon word vir kennis aan die gemeentes gestuur.
Baie groete
HENRY VAN DER SCHYFF
UITVOERENDE AMPTENAAR
PERSVERKLARING OOR SAAMWOON
Moderatuur van die Algemene Sinode van die NG Kerk
11 Desember 2009
Na aanleiding van die persberigte dat die NG Kerk die goedkeuring van die saamwoon van paartjies oorweeg en die daaropvolgende hewige openbare gesprek, stel ons graag die volgende:
Die Moderatuur herbevestig die standpunt dat slegs die liefdesverbintenis tussen een man en een vrou wat volgens kerklike en wetlike voorskrifte in ’n huwelik bevestig is, uitdrukking gee aan die NG Kerk se siening van ’n huwelik. Ons is daarvan oortuig dat volle geestelike en seksuele gemeenskap tussen ’n man en ’n vrou in die huwelik tuishoort. Saamwoon is nie ’n aanvaarbare alternatief vir die Christelike huwelik nie.
Ons is egter ook daarvan bewus dat daar tans vrae rondom aspekte van huweliksluiting leef wat nuwe kerklike besinning vra en duidelike antwoorde soek. So is dit ’n vraag by sommige of die erkenning van beide staat en kerk by huweliksluiting nodig is. Daarby wil sommige weet of die vaste oortuiging dat hulle later gaan trou, nie aan paartjies die reg gee om voorlopig saam te woon nie. Of dat ’n gesamentlike belofte van trou voor God en sonder getuies uit die kerk of staat, nie ook huweliksluiting kan beteken nie. Sommige pensioenarisse wat wil trou, word gekonfronteer met die feit dat een van die partye bepaalde pensioenvoorregte kan verloor wanneer ’n huwelik gesluit word: wat nou?
Die blote feit dat ’n taakspan van die Algemene Sinode hierdie sake ondersoek, beteken nie dat die huwelik as instelling bevraagteken word nie. Ons betreur die krasse openbare uitsprake van mense in die pers wat, sonder om seker te maak van hierdie feite, die NG Kerk onder verdenking plaas.
Ons glo dat die Bybel die finale woord hieroor moet spreek. Daarby wil ons die vrae van gelowiges hieroor ernstig neem en begronde antwoorde vind. Ons is oortuig dat Christene in liefde met mekaar moet omgaan en saam na antwoorde moet soek.
Daar dien nog geen voorstel oor hierdie saak, of enige saak wat hiermee verband hou, voor die Moderamen van die Algemene Sinode nie. Enige ingrypende besluit wat oor hierdie saak geneem word, kan slegs deur ’n Algemene Sinode geneem word. Die volgende Algemene Sinode vergader in Oktober 2011.
Dr Kobus Gerber
Algemene Sekretaris
Namens Die Moderatuur van die Algemene Sinode
NG Kerk
11.12.2009
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

