Skip to content | Skip to navigation

KORTNUUS 35
2009/12/11

7 Desember 2009

 

KORTNUUS 35

Ons voldoen graag aan die volgende versoek van Ferdie Clasen:

Die eerste reeks VBO-kursusse van Excelsus word gedurende Maart 2010 aangebied.  Die brosjures word vroeg in Januarie gepos, maar ek wil baie graag die basiese inligting voor die einde van die jaar aan die leraars kommunikeer.

Die inskrywingsvorm is hierby aangeheg.

 

Baie groete

HENRY VAN DER SCHYFF

 

Excelsus - Sentrum vir Bedieningsontwikkeling - Universiteit van Pretoria

 

VBO-KURSUSSE 2010

 

Excelsus bied in 2010 vir die eerste keer ’n kursusreeks, as deel van die VBO-program vir predikante van die NG Kerk, in die volgende vier sentra aan:

 

  • 1-2 Maart:      Johannesburg (Bonaeropark) en Middelburg (Middelburg-Suid)
  • 15-16 Maart:  Potchefstroom (Potchefstroom-Oos) en Pretoria (Skuilkrans)

 

Kursustye: Dag 1: 09:00 – 21:00; Dag 2: 08:00 – 16:00.

 

Kursusgangers verwerf 30 VBO-punte: 15 vir bywoning en 15 vir ’n gepaardgaande werksopdrag.  Indien jy die werksopdrag voltooi, kwalifiseer jy ook vir akademiese krediete en ontvang dus ’n sertifikaat van die Universiteit van Pretoria.

Die kursusse waaruit jy kan kies, word oor ’n tydperk van twee jaar op ’n roterende basis by al vier sentra aangebied.

Al dertien kursusse word aangebied deur persone wat hulle deeglik ingegrawe het op die onderskeie terreine.  Kom deel in die nuutste teologiese ontwikkelinge en verryk op dié manier jou bediening!

 

Navrae: Ferdie Clasen

Tel (012) 809 0107

Faks (012) 809 0445

vbo@excelsus.org.za

 

KURSUSSE:

 

E1.  Die op en af van ’n gemeente en sy stigter - Nuwe Testament en Prediking - Kobus Myburgh

PRETORIA (15-16 MAART)

 

Onder die briewe in die Nuwe Testament is II Korintiërs uniek.  Ons kan in die brief duidelik die hand van ’n redaktor sien wat vier briewe van Paulus aan die gemeente bevat.  Ons gaan na die storie agter die storie kyk, maar veral saam uitkom by die uitdaging om ’n ou dokument weer in ons tyd te laat praat.  Na die kursus sal jy nie net ’n paar preke by hê nie, maar ook goed saam met jou mede- kursusgangers deur die teks van II Korintiërs gewerk het.

 

E2.  WIE IS ONS EN WAARHEEN IS ONS OP PAD? - Die wese en ontwikkeling van missionêre gemeentes - Malan Nel

PRETORIA (15-16 MAART)

 

Met hierdie woorde word die wese van die missionale gemeentes wat ’n verskil maak, vasgevang.  Gemeentes is die uitdrukking van God se liefde vir sy wêreld; dit is God se plaaslike voertuie wêreld toe - in elke gegewe konteks.  Watter rol speel ons in die omvorming (of reformasie as jy wil) van gemeentes?  Ons weet dat dit ons roeping is, dat dié uitdaging kompleks is en dat hierdie pennie moeilik val.  Ek is oortuig dat dit moontlik is om ’n gemeente tot missionale verstaan te reformeer sonder om dit te vernietig!  Saam-dink in hierdie kursus behoort ons te help.

 

E3.  Hoe bemiddel jy die Evangelie sodat mense verander? - Waardevorming André van Niekerk

MIDDELBURG (1-2 MAART) EN PRETORIA (15-16 MAART)

 

Die Bybelboodskap kan mense se eie behoeftes en belange net legitimeer of dit kan mense se lewensperspektief en waardes verander.  Gemeentes moet dringend help om mense te verander sodat die Here se aarde kan oorleef maar ook sodat mense met uiteenlopende lewensbenaderinge sal kan saamleef.  Watter makro Bybelse riglyne het mense vroeër effektief verander?  Kan dit steeds nuwe waardes skep, karaktervormend werk en mense tot verantwoordelikheid inspireer?  Hoe “preek” ons daaroor?  Hoekom is dit versoenbaar met die beste bevindinge van die geesteswetenskappe vandag?

 

E4.  As dit vertaal word… - Hermeneutiek - James Kirkpatrick

MIDDELBURG (1-2 MAART) EN PRETORIA (15-16 MAART)

 

Elke eksegeet ken die ervaring om na ure se deeglike bestudering van ’n Bybelteks te sit met die vraag: “So what?”  Of ten minste “Wat nou?” Hoe vertaal ons die teks in prediking en in pastoraat dat dit die spieël en venster word waardeur ons verrassende nuwe perspektiewe op ons eie wêreld kry?  In die kursus is ons op soek na ’n geloofwaardige proses waarin die ou tekste vertaal kan word vir ons tyd.

 

E5.  PREEK EN LEEF DIE OU TESTAMENT - Ou Testament en Prediking - Fanie Cronjé

MIDDELBURG (1-2 MAART) EN PRETORIA (15-16 MAART)

 

Die Ou Testament is ’n literêre versameling gedrenk in die stof van hierdie aarde.  Juis daarom ontdek ons daarin die diepste wysheid, maar ook ergste oordeel; die mooiste gedigte, maar ook grootste onreg.  Met ons vinger op die teks verken ons die kleurryke gedigte, novelles en historiese berigte.  Ons werk saam, maar ook alleen.  Ons skryf drie preke.  Hulpmiddels word later nader getrek.  Die oogmerk is om die teks toe te laat om ons te gryp, sodat elke preek wat uit ons binneste vloei, sal getuig van ’n eerstehandse belewenis van die teks.

 

E6.  Pastorale sorg in die gemeente - Pastoraat - Lourens Bosman

MIDDELBURG (1-2 MAART) EN PRETORIA (15-16 MAART)

 

Die kursus is gerig op predikante wat hulle pastorale vaardighede wil opskerp.  Die volgende groepe persone sal hierby baat vind: jong predikante wat die basiese pastorale vaardighede wil bemeester, meer ervare predikante wat wil kennis maak met die narratiewe benadering met die oog op hulle eie pastorale werk of predikante wat ’n bediening vir pastorale sorg in hulle gemeentes op die been wil bring.  In die kursus word aandag gegee aan basiese gespreksvaardighede, die beginsels van ’n narratiewe benadering tot pastorale sorg en enkele praktiese toepassings.

 

E7.  WORD WAT JY BEDOEL IS - Persoonsgroei, selfbestuur, loopbaanontwikkeling - Henk en Ansie Gous

JOHANNESBURG (1-2 MAART) EN POTCHEFSTROOM (15-16 MAART)

 

Die kursus werk op 3 terreine:

¨      Persoonsgroei: om doelgerig te groei na ’n droom volgens groeimetodes wat by jou pas.

¨      Selfbestuur: om die optimum te bereik in die daaglikse prioriteite en werkswyses van die belangrikste en moeilikste persoon in jou gemeente: jyself.

¨      Loopbaanontwikkeling: om jou potensiaal, God se drome en die nood van die konteks aan teikendatums te koppel.

Hierdie kursus is baie persoonlik gerig.  Die fasiliteerders gaan werk met wat jy tans is en waag om op die tafel te sit, om jou só te help word wat God bedoel het jy moet wees.

 

E8.  Vensters op die erediens - LiturgiekAndré Bartlett

JOHANNESBURG (1-2 MAART) EN POTCHEFSTROOM (15-16 MAART)

 

In hierdie kursus oor liturgie en liturgiese leiding, word daar vanuit verskillende hoeke na die erediens gekyk.  Daar word onder andere gefokus op die kreatiewe inrigting van die erediens, perspektiewe uit die geskiedenis en dit wat ons by ander tradisies kan leer.  Ook die kerklike jaar, die gebruik van simbole en die bydrae van die estetika word verken.  Die doelwit van die kursus is om saam te soek na beginsels vir verantwoordelike vernuwing van die liturgie gerig op eredienste wat op ’n eietydse manier gereformeerd is.

 

E9.  Waar kinders en jongmense leer glo en deel word van ’n lerende gemeenskap van dissipels - Kategese Johan Avenant

JOHANNESBURG (1-2 MAART) EN POTCHEFSTROOM (15-16 MAART)

 

Kategese skep ruimtes waar geloof ontwikkel, groei en uitgedaag kan word en waar kinders en jongmense ingenooi en geïnisieer word in ’n lewe van dissipelskap.

 

Tydens hierdie kursus kyk ons vanuit ’n Ou- en Nuwe Testamentiese perspektief na die praktyk van kategese vandag binne ons verskillende kontekste en poog om elke kursusganger te help om ’n holisties-eietydse model te ontwikkel wat teologies verantwoordbaar is, sistemies-, konteks- en fasesensitief is en wat jongmense ná Belydenisaflegging die wêreld instuur as deel van lewende dissipelgemeenskappe.

 

E10.  Die kuns van gemeentelike leierskap - Missionêre leierskap Nelus Niemandt

JOHANNESBURG (1-2 MAART) EN POTCHEFSTROOM (15-16 MAART)

 

Al hoe meer gemeentes ontdek die lewenskrag van ’n missionêre bestaan.  Hierdie kursus help gemeenteleiers en predikante om ’n duidelike beeld te kry van die soort leierskap wat help op die pad van gestuurdheid.  Dit gee insig in die aard van veranderings wat leiers moet hanteer en fokus op praktiese aspekte van leierskap.  Van die temas waarop gefokus word is:

*  Geloofsonderskeiding;

*  ’n Bybelse verbeelding wat God se voorkeurtoekoms kan onderskei;

*  Luisterende leierskap;

*  Klimaatskepping;

*  Die rol van die gemeente in onderskeiding en leierskap;

*  Die verandering van gemeentekultuur en kultuurverandering;

*  Storievertellers;

*  Moed om die onsekerheid van transformasie-leierskap te begelei.

 

E11.  Kom ons verander sonder dat ons gedwing word! - Transformasiebestuur in die kerk - Herman Carelsen

JOHANNESBURG (1-2 MAART) EN POTCHEFSTROOM (15-16 MAART)

 

Sou dit nie wonderlik wees as die bestuur van verandering in die aanleer van ’n resep ondervang kon word nie?  Ongelukkig is dit nie so maklik nie.  In die kursus gaan ons saam dink oor die rol van leiers se idees oor verandering en teoreties die prosesse wat by verandering betrokke is, ondersoek.  Die sterk ekklesiologiese en teologiese motiverings wat leiers kan help om die noodwendigheid van verandering in die kerkomgewing te verstaan, sal aandag kry.  As ons verder as die sigbare probleme kyk, is verandering miskien tog makliker as wat ons dink!

 

E12.  ’n Nuwe generasie van leiers wat jy moet ontwikkel! - Jeugbediening Zander van der Westhuizen

JOHANNESBURG (1-2 MAART)

 

In hierdie kursus gaan ons fokus op die unieke fasette van leierskapontwikkeling in jeugbediening.  Wat is die DNA van my leierskapfilosofie?  Waar pas mentorskap en dissipelskap in?  Wat is die groter tendense in leierskap?  As predikant is jy geroep om jongmense te help om hul gawes en roeping te ontdek en te ontwikkel.  Die kursus sal jou help om te groei in jou selfverstaan en leierskapvermoëns.  Raak bewus van nuwe bronne en gereedskap om jou op hierdie pad te begelei.

 

E13.  ’n eksegetiese reis deur die Filippensebrief - Nuwe Testament en Prediking - Neels du Randt

MIDDELBURG (1-2 MAART)

 

Kursusgangers gaan op weg as reisgenote met ’n gedeelde verantwoordelikheid – die verantwoordelikheid om saam te reis (oop te wees vir ’n leer-deur-ervaring onderneming), saam die reisgereedskap te gebruik en nuwe gereedskap te ontdek (eksegetiese proses), saam nuwe verstaanshorisonne te ontdek en uiteindelik ’n eksistensiële ervaring te beleef ten opsigte van hulle persoonlike lewe en die gebruik van gerealiseerde reisinsigte in hulle prediking (bedieningstoepassing).

 

Die doel van ons reis is om die verstaan van die (Filippense) teks kreatief te transformeer van wat toe gesê is tot wat nou gesê moet word.

 

____________________________________________________________________  

 

LENTE IN BEDIENING EN TEOLOGIE!

ONS JAARLIKSE LENTEKONFERENSIE VIND OP 5 TOT 7 OKTOBER 2010 PLAAS

Tema: Affluenza!* Kan ons genees word?

* “A painful socially transmitted condition of overload, debt, anxiety and waste resulting from the dogged pursuit of more!”

 

Die volledige program is in April beskikbaar.

 


Druk die nuus artikel uit Druk      Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriendStuur hierdie nuusartikel na 'n vriend