Skip to content | Skip to navigation

KORTNUUS 29
2009/08/17

KORTNUUS 29

 

Die Bediening vir Onderlinge Sorg bring die volgende twee geleenthede onder predikante se aandag.

 

Groete

 

HENRY VAN DER SCHYFF

 

MENTORKURSUS

Dat ons almal vorentoe deelneem aan voortgaande bedieningsontwikkeling (VBO) is ons voorreg en verantwoordelikheid.  Dit help ons om vars te bly in die bediening.

Naas die verskillende geleenthede wat in die Noorde deur Excelsus aangebied word, maak die A-Z beleid ook daarvoor voorsiening dat alle predikante mettertyd inskakel by die Mentorprogram (waarvoor jy ook tien krediete per jaar verwerf). Elke sinodale gebied neem daarvoor eie verantwoordelikheid.

So is daar nou al in ons Oostelike Sinode twee Mentor-kursusse aangebied en het 'n aantal van ons ouer en jonger kollegas reeds hierdie waardevolle opleiding meegemaak.  Die volgende een word eersdaags van 7-9 September onder leiding van Gerrie Doyer en (dr.) Johan van den Heever (Eldoraigne) by Makarios aangebied.  Makarios is Willem Nortje-hulle (Komatipoort) se lieflike terrein net langs Marlothpark aan die Krokodilrivier, waarvandaan mens reg in die Wildtuin inkyk. Pragtig.

Die koste vir hierdie kursus word ruimskoots deur ons Sinode gesubsidieer en daarom kos dit slegs R400 (vorige keer R1200) vir verblyf en die hele aanbieding.

Wil jy dit nie ernstig oorweeg om sommer nou hierdie Mentor-opleiding mee te maak nie?  Ons is baie seker dit gaan 'n nuwe dimensie in jou bediening meebring.

Laat weet net vir Tersia by ons Sinode huis (012-804-9543).

 

MANNEBEDIENING

By dieselfde Makarios en later dieselfde week (11 tot 13 September) hou ons weer die Mannebediening-werkswinkel van ons Sinode - in opvolging van verlede jaar se baie geseënde naweek by Struwig Eko-reservaat onder leiding van Janus Roux.  Hierdie is weliswaar nie primêr op dominees gemik nie, maar alle manne is welkom wat in hulle gemeente graag 'n Mannebediening wil vestig of verder uitbou.  Dis veral 'n kosbare geleentheid om by mekaar kers op te steek en mekaar te motiveer om as manne-dissipels van Jesus ons unieke rol te vervul in die tyd waarin ons lewe.

Verlede jaar was daar 25 manne vanuit dertien gemeentes in ons Sinode. Help ons asseblief dat daar vanjaar nog heelwat meer gemeentes teenwoordig kan wees om die netwerk verder uit te bou.  Hoor by die Here wie julle moet stuur.  Die hele gemeente gaan beslis daarby baat.

Hierdie geleentheid word ook sterk gesubsidieer uit ons sinodale toekennings, en die koste vir die naweek is slegs R350 per persoon.  Die program word volgende week in Familienuus getoon.

Kontak gerus vir my of Janus Roux (082 820 5041) vir meer besonderhede en laat weet vir Tersia by die Sinode huis hoeveel manne dit gaan bywoon.

Beste groete en seënwense,

Louis Louw (Onderlinge Sorg) 072 461 6633 of 012-993-1574

 

 

 

 


Druk die nuus artikel uit Druk      Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriendStuur hierdie nuusartikel na 'n vriend