Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

KORTNUUS 18
2008/10/24

Die Voorsitter van ons Sinodale Diensraad, Johan van Schalkwyk gee hiermee sy indrukke oor gebeure die afgelope tyd tussen die VGKSA en die NG Kerk.

 

Baie groete

 

HENRY VAN DER SCHYFF

 

Kort nadat die VGKSA alle gesprekke met die NGK opgeskort het, het al tien moderators en vyf moderatuurslede van die Algemene Sinode saam met br Piet Strauss op 14 Oktober vergader.  Die bedoeling was om die hele onverkwiklike gebeure wat tydens die VGKSA se sinodesitting op Hammanskraal ’n hoogtepunt bereik het, indringend te bespreek.  Die harte is oopgemaak.  Elkeen kon sy mening oor die gebeure openhartig gee.  Ons het daarna ook verneem dat die moderatuur van die VGKSA intussen ook ’n gesprek met ons eie moderatuur se dagbestuur aangevra het.  Ook dat die World Alliance of Reformed Churches (WARC) aangebied het om ’n fasiliteringsproses saam met al vier die lede van die NGK te fasiliteer, wat ons meen goed sal wees.

 

’n Belangrike aspek wat na vore gekom het, is dat ons reken die fokus behoort – ten minste vir die nabye toekoms - eerder te wees op versoening, en dan veral op ’n positiewe manier.  Aspekte soos samewerking en raakpunte op grondvlak behoort die grootste klem te kry, in plaas van om voortdurend te fokus op die herenigingsproses.  Daar gebeur immers baie mooi en positewe goed tussen gemeentes van die familie-kerke.

 

Geen verklaring is aan die einde van die byeenkoms uitgereik nie, omdat ons nie graag verder interne sake in die pers met mekaar wil bespreek nie.  Dit word te dikwels sensasioneel opgeblaas, selfs voordat ons lidmate nog deur die kerklike kanale gehoor het wat besluit is.

 

Intussen wil ek ’n beroep doen op ons leraars, kerkrade en lidmate om die goeie werk op plaaslike vlak voort te sit.  Daar is net te veel armoede en positiewe gesindhede om langer al die energie op die verskille en ‘groot sake’ te verspil, wat die afgelope paar jaar die NG Kerk lam gemaak het.  Dit het tyd geword dat die Koning en die koninkryk meer aandag kry.  Ons behoort die aangesig van die Here met groter erns te soek met die oog op die toekoms, en ook om genade en leiding te vra vir nog baie gesprekke wat gevoer sal moet word - veral ook oor moeilike kwessies wat voorlê.

 

Ek bid u elkeen graag die Here se seën op die groot werk waartoe die Here ons almal saam geroep het, toe.

 

U broer in die Here Jesus,

 

Johan van Schalkwyk

Voorsitter: Sinodale Diensraad


Druk die nuus artikel uit Druk      Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriendStuur hierdie nuusartikel na 'n vriend