FAMILIENUUS 133
2009/01/13
13 Januarie 2009
Liewe Sinode-familie
Voorspoed vir 2009! Mag elkeen uit die oorvloed van die Hemelse Vader genade op genade beleef. Ons Voorsitter sê dat Jesusmense lewe met hoop in die lig van Sy koms.
Aan die begin van 2009 praat ons oor baie belangrike goed: die wêreld-ekonomie; die oorlog in Israel; die krisis in Zimbabwe. Ook oor die groot politieke verkiesing wat vir ons in Suid-Afrika voorlê; armoede en vigs. Amper soos die golwe wat oor die Christusgelowiges van die jaar 55, 56nC gespoel het. Die hele Romeinse wêreld is deurmekaar, nasies begin in opstand kom teen die verdrukking en swaarkry en uitbuiting. In Rome self is die situasie byna onuithoudbaar vir die Christene. In hulle katekombe-skuilings vrees hulle elke dag vir hulle lewe; hulle kry swààr!
Paulus is ten volle daarvan bewus, want hy sien al hierdie goed raak soos wat hy deur Klein-Asië reis. Op hierdie stadium is hy in die wêreldstad Korinte, op sy derde sendingreis. Hy draai sy lesers in Rome se oë na die toekoms om die onsienlike te sien: die koms van die Here Jesus, want dit het ‘n impak op hulle – en op jou en my lewe! Ons wat elke dàg behoort te lewe in die lig van Sy koms.
“Jesusmense, wil hy sê, moenie teen die golwe van die dag vas kyk nie!” Mag dit ook in Oostelike Sinode hierdie jaar so wees dat ons vorentoe lewe, in die lig van Sy koms: Mag God, die bron van hoop, julle deur julle GELOOF met alle VREUGDE en VREDE vervul, sodat julle HOOP al hoe sterker kan word deur die KRAG van die Heilige Gees! Romeine 15:13.
Johan van Schalkwyk
FEESJAAR
Vanjaar is die Sinode 30 jaar oud.
Die 87 gemeentes stam almal af van die oudste gemeente in die land, naamlik Kaapstad of bekend as die Groote Kerk, Kaapstad, gestig in 1665.
Al ons gemeentes stam van vier gemeentes af, naamlik Pretoria, Pietersburg, Lydenburg en Wakkerstroom. Lydenburg en Wakkerstroom het sonder afstigting tot stand gekom en is die twee oudste gemeentes in ons Sinode. Wakkerstroom se naam was aanvanklik Marthinus Wesselstroom.
GEMEENTES
Geluk aan die gemeentes wat op 18 Januarie nuwe predikante bevestig. Dit is Hazyview met Amos Kotze (vanaf Kestell), Nelspruit-Suid met Carel Pienaar (vanaf Langenhovenpark), Skuilkrans met Auke Compaan (vanaf Sonstraal) en Witbank met Jim de Villiers (vanaf Griekwastad).
Dankie vir die gemeentes wat reeds hulle almanakke na die Sinode huis gestuur het. Ons ontvang graag elke gemeente se almanak.
PREDIKANTE
Jan Wandrag (wandrag@lantic.net) van Phalaborwa se afskeid is op 18 Januarie 2009 na 32 jaar in die Sinode.
BEDIENINGE
Ondersteuningsdiens wys gemeentes daarop dat elke gemeente met hulle plaaslike bank oor bankfooie kan onderhandel.
VERGADERINGE
GESAMENTLIKE WERKSAAMHEDE
Onthou die datums vir Voortgesette Bedieningsontwikkeling wat gedurende November 2008 aan julle gestuur is. Lees dit weer by www.excelsus.org.za. Meer inligting volg later.
Lourens Bosman (lbosman@luxmundi.org.za) en Ferdie Clasen (fclasen@ngtyger.com) is vanjaar betrokke met die kerkeie teologiese opleiding. Lourens fokus op die studente en Ferdie op die predikante se bedieningsontwikkeling. Baie Sterkte.
Die Fakulteitsopening geskied op 29 Januarie vanaf 09:30 by Pretoria-Oos. Die tema is: Beteken Calvyn vandag nog iets vir die Kerk?
Die sentralisering van gemeentes se lidmateregisters is op pad. Gemeentes se registers moet een 31 Mei 2009 gereed wees vir opname. ’n Volledige inligtingstuk volg binnekort.
ANDER INLIGTING
Teken gerus Moreletapark se Ester 2009 Vrouekonferensie 13 tot 15 Maart en Daniël 2009 Mannekonferensie 20 tot 22 Maart aan.
PENSIOENARISSE
Ds Eddie Bruwer, vorige Sendingsekretaris van Noord- en Oos-Transvaal is op 27 Desember 2008 oorlede.
Dr Dirk Viljoen, emeritus PSD in diens van die Algemene Sinode met opdrag Dooplidmate is op 11 Januarie oorlede. Sy begrafnis is op 16 Januarie 2009.
VERJAARSDAE
Geluk aan julle wat hier aan die begin van die kwartaal verjaar.
14 Januarie - Jan Venter (Pierre van Ryneveld) epos: jan@pvr.co.za
Groete tot 27 Januarie 2009.
Henry van der Schyff
Uitvoerende Amptenaar
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend