Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

FAMILIEBRIEF 2012/6
2012/02/01

1 Februarie 2012

 

GEMEENTES IN DIE OOSTELIKE SINODE

 

Liewe broer en suster

 

DIE DOOP EN DIE ALGEMENE SINODE 2011

 

Die Sinodale Diensraad het vyf gemeentes se verteenwoordigers gehelp om 'n beskrywingspunt oor "Ruimte vir die Bekeringsdoop" op die tafel van die Algemene Sinode te kry.  Die besluite van die Algemene Sinode 2011 is reeds aan almal bekend.  Dit word nogtans aan die einde aangeheg.

 

Tydens terugvoer van die Sinodale Diensraad aan die vyf gemeentes se verteenwoordigers, is ooreengekom om die gemeentes in die Sinode se kommentaar te vra.

 

Bestaan daar 'n behoefte in die gemeente aan verdere gesprek hieroor en 'n proses om die saak weer op te neem?

 

Ons vra dat gemeentes se antwoord Ja/Nee en kommentaar, indien nodig, die Sinode huis teen 7 Maart 2012 bereik, sodat dit gekompileer kan word vir die sinodesitting.

 

Ons hoor graag van julle.

 

Groete

 

DS HJ VAN DER SCHYFF

UITVOERENDE AMPTENAAR

 

DOOP (vgl Agenda Bekrywingspunte B.1 en B.2 bl 291; T.10.1 pt 2.2; Notule Dag 3 bl ...)

1.  Die Algemene Sinode bevestig ons gereformeerde oortuiging dat die Verbondsdoop uitdrukking gee aan die grondwaarheid van die Evangelie dat God se genade en trou te alle tye ons gelowige aanvaarding daarvan voorafgaan en selfs omsluit.

2.  Die Algemene Sinode vra daarom kerkrade en predikante om die gereformeerde verstaan van die verbondsdoop met oortuiging en deernis te verduidelik en te bevestig, ook aan lidmate wat ander oortuigings oor die doop huldig.

3.  Die Algemene Sinode gee terselfdertyd erkenning aan die feit dat Christelike kerke nie almal dieselfde Doopbeskouing huldig nie, maar dat ons nogtans saam met mekaar deel uitmaak van die Kerk van Christus.

4.  Die Algemene Sinode gee dankbaar erkenning aan lidmate wat ten spyte van hulle ander verstaan van die doop steeds lojaal bly aan die kerkverband en wil hulle verseker dat hulle 'n geestelike tuiste in die NG Kerk het.

5.  Die Algemene Sinode vra opreg verskoning vir lidmate wat op een of ander wyse rondom die doop seergekry het, en nooi hulle uit tot onderlinge gesprek waar daar op pastorale wyse saam oor die saak gesels en gebid kan word.

6.  Die Algemene Sinode verseker lidmate wat die NG Kerk vanweë hulle doopverstaan verlaat het, dat die NG Kerk ’n geestelik tuiste wil wees vir alle kinders van die Here en nooi hulle hartlik uit om hulle regmatige plek in hulle plaaslike NG gemeente in te neem en saam te werk aan die koms van God se koninkryk.

 

DOOPHERDENKING/ HERINNERING (vgl Agenda A.8 bl 146 pt 9; T.10.1 pt 2.2; Notule Dag 3 bl ...)

1.  Vertrekpunte vir gesprek

1.1  Die Sinode is van oordeel dat die gesprek en beredenering oor die gereformeerde vertrekpunte van die doop deur die jare in die Nederduitse Gereformeerde Kerk deurdag is en ’n rykdom van teologie ontsluit.

1.2  Die Sinode bevestig weer dat die verbondsteologie sentraal staan in die beredenering van doopherdenking of -herinnering.

1.3  Die Algemene Sinode bevestig dat in gehoorsaamheid aan die verbondsbelofte van ouers, ouers en die kerk verantwoordelikheid moet aanvaar vir die verbondsonderrig (kategese) van hul gedoopte kinders sodat hulle gelei word tot ’n toe-eiening van die heil (belydenisaflegging) wat nie aan ’n bepaalde ouderdom gekoppel kan word nie (soos tans in die kerkorde vasgestel word), en versoek daarom die Taakspan Kategese om die plek, aard en ouderdom vir belydenisaflegging te ondersoek.

1.4  Die Sinode besluit om niks by te voeg tot die gesprek oor die doop, kindernagmaal en kategese nie, maar wel net te fokus op die opdrag oor doopviering.

 

2.  Terminologie

Die Sinode besluit dat die kerk eerder die woorde doopherdenking of doopherinnering sal gebruik.

 

3.  Riglyne vir die herdenking/herinnering

3.1  Die Sinode bevestig dat die heil altyd en in alle omstandighede gevier moet word.

3.2  Die Algemene Sinode wys lidmate daarop dat die gereelde viering van die nagmaal die primêre plek van viering is.

3.3  Die Algemene Sinode bevestig dat die doopherinnering/viering nie as ’n her/weerdoop interpreteer mag word nie, maar direk met die verbonds-/christelike doop saamhang.

3.4  Die Sinode besluit dat gemeentes aangemoedig word om geleenthede te skep waar doopherinnering of herdenking deel word van lidmate en gemeentes se verhaal.

3.5  Die Sinode beveel aan dat sakramentsviering ’n groter rol binne liturgie, kategese en die erediens sal speel.

3.6  Dit staan Kerkrade ook vry om toepaslike rituele te vestig wat die behoefte van sulke lidmate opvang om simbolies uitdrukking te gee aan hulle sterwe en opstanding saam met Christus. Hierdie rituele is nie Sakramente nie en vervang nie die Verbondsdoop nie.

 


Druk die nuus artikel uit Druk      Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriendStuur hierdie nuusartikel na 'n vriend