Oostelike Sinode
FAMILIEBRIEF 2009/8
2009/03/13
GEMEENTES IN DIE OOSTELIKE SINODE
Liewe broer / suster
EKONOMIESE OMSTANDIGHEDE
Die Sinodale Diensraad is terdeë bewus daarvan dat die huidige ekonomiese situasie nie by gemeentes verby sal gaan nie. Elke gemeente het uiteraard ook nou die geleentheid om die Woord van die Here in hierdie omstandighede te laat hoor.
Die lig van die Skrif behoort op ons lidmate se lewenstyl te val, ons verwagtinge van die ekonomiese bestel; Bybelse waardes van eenvoud, spaarsin en soberheid; om geldgierigheid en 'n sug na rykdom te vermy; oor rentmeesterskap en ons benutting van die aarde se hulpbronne.
Die gemeentes behoort ook deur ons onderlinge versorging lidmate in die oorgangstye daadwerklik by te staan.
Die Sinodale Diensraad wil gemeentes ondersteun deur te vertel hoe ander gemeentes hierdie tyd beleef en wat hulle doen om te help. Vertel asseblief wat die omvang van die ekonomiese problematiek by julle is, vertel hoe julle lidmate ondersteun en vertel hoe julle in die gemeenskap 'n verskil probeer maak.
Laat weet ons asseblief voor 15 April 2009 en dan deel ons die wenke met mekaar.
Ons Voorsitter Johan van Schalkwyk skryf persoonlik soos volg hieroor:
Liewe Broers en Susters in die familie van Oostelike Sinode!
Ek vetrou dit gaan baie goed met julle elkeen en ook in die gemeentes van ons sinodale gebied.
Die Sinodale Diensraad het net onlangs weer met kommer onder die indruk gekom van al die swaarkry en moeilikheid in ons land. Daar is bykans nie ’n terrein waaroor mense nie praat en selfs kla nie. Maar omdat ons hoopdraers is en wil wees, betaam dit ons nie om die boodskap wat aan ons toevertrou is, te laat oorheers met ’n negatiewe houding nie. In plaas daarvan, wil ons eerder die baie liggies wat alreeds skyn en ander wat nog besig is om aan te gaan, opmerk. Daarom het ons dit goed gedink om te vra hoe ons mekaar positief daarmee kan help. Ons wil by mekaar leer en mekaar aanmoedig en bystaan; nog meer liggies in mekaar se koppe laat aangaan. Die een aspek waarmee ons gedink het ons dalk ’n slag by mekaar kan leer, is om juis in en om die groter huis- en familiekring te begin. Berigte van samewerking, kontak op plaaslike vlak, gesamentelike projekte, uitreike en hulp is immers volop.
Hier is die eenvoudige plan: Ons wil graag so gou as moontlik sommer van elke gemeente ’n paar woorde op papier terugkry van wat op grondvlak gebeur om die werkloses, die armes, ander kerke in ons familie, en enigiets waarmee julle besig is en wat mense se lot help verlig. Op dié manier leer ons by mekaar, en hoef die wiel nie elke keer weer van vooraf uitgevind te word nie
Ten einde die bal af te skop, hier is so ’n paar goed waarmee ons in Lynnwoodrif besig is.
· By ons weeklikse ADVIESSENTRUM (Werkverskaffingsburo) is daar op Woensdae ongeveer 150 werksoekers. Voornemende werkgewers kom van oral oor uit die stad om veral huishulpe of tuinwerkers te soek. Verlede week kon maar net 17 persone gehelp word, maar vir dié ‘kliënte’ beteken dit baie.
· In die LEES- en SKRYFKLASSE word mense toegerus vir ’n beter lewe. Die enigste handboek is die Bybel.
· So ook by die TABITAS, wat vrouens leer om klere te maak.
· Ons het vroeër jare al begin met ’n STOFFERINGSMAATSKAPPY in die stad. Die stoffeerders wat opgelei word, is in staat om ’n eie bestaan te maak, en ook ander mense te evangeliseer.
· Ten einde so veel as moontlik lidmate konkreet te betrek, word al die OMGEEGROEPE aangemoedig om by een plek direk by minderbevoorregtes betrokke te wees, veral met opleiding sodat armes kan begin om sélf hulle EIE ARMOEDE te kan begin hanteer
In vennootskap met ander gemeentes, help ons om jongmense se potensiaal te ontwikkel deur byvoorbeeld gereedskap te koop vir die maak van houtkaste ens.
Baie groete
DS HJ VAN DER SCHYFF
UITVOERENDE AMPTENAAR
Druk
Stuur hierdie nuusartikel na 'n vriend

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

