Oostelike Sinode
Lukas
INLEIDING TOT LUKAS
Lukas was die skrywer van hierdie baie besondere evangelie. Sy begeerte was om die gebeure van Jesus se koms, sterwe en opstanding so weer te gee dat dit tot geloof en geloofsversterking van sy lesers sou lei. Die mense vir wie hy geskrywe het, was waarskynlik gelowiges uit 'n verskeidenheid volke.
Volgens Lukas 1:1-4 het hy van 'n verskeidenheid bronne gebruik gemaak vir die skrywe van die evangelie. 'n Datum rondom 70 nC. kan aanvaar word as die tyd waarin die evangelie geskrywe is. Lukas was 'n christen uit die heidendom. Hy was waarskynlik van Griekse afkoms en skryf ook sy evangelie vir mense wat nie noodwendig tot die Joodse geloof behoort nie.
Die evangelie is die verhaal van God se redding wat vir almal bestem is. Jesus is die Verlosser op wie daar al lank gewag is. In Hom breek die heil, die heelmaak proses van God, vir die wêreld aan. Hierdie verlossing wat Jesus bring, staan in die teken van God se genade. Sy bedoeling is dat mense aan die hand van dit wat hulle oor Jesus lees, hulle lewe sal inrig. Reeds in die geboorteverhale hoor ons wie Jesus is en wat Hy in die wêreld en in mense se lewens doen. Hy is die Verlosser van die wêreld.
In Jesus se optrede vind ons onbaatwsugtige liefde vir alle mense maar veral vir dié wat in sonde geval het en dié wat op die rand van die samelewing te lande gekom het. Hierdie onbaatsugtige selfopofferende liefde kos hom uiteindelik sy lewe. Die opstanding bevestig sy Messisskap en gesag waarmee hy sonde vergewe.
In die evangelie van Lukas hoor en sien randfigure dat daar vir hulle plek is in God se wêreld:
· Hieronder tel mense wat hulle met die mees aanstootlike sondes besig gehou het: Tollenaars wat verraaiers is en hulleself verryk ten koste van ander, vroue wat in sonde geval het en hulle liggame uithuur, en Petrus wat hom verraai, om maar net enkeles te noem. Vergifnis vind die diepte van sy bestaansreg in die goedheid wat Jesus aan mense uitdeel, sonder enige teenprestasie.
· Ook die armes kry 'n besondere plek. Hulle is nie bloot dié wat net minder het as die rykes nie, maar wat aan basiese bestaanmiddelle gebrek ly.
· Vroue kry 'n opvallende plek in die bediening van Jesus. Ons dink hier aan Maria, die moeder van Jesus, Maria Magdalena, Maria en haar suster Marta en die weduwee van Naïn - die weduwee wat alles wat sy gehad het aan die Here gegee het.
· Dit is duidelik dat Lukas ook die belangrikheid van kinders in God se wêreld wil beklemtoon. Hy is byvoorbeeld die enigste evangelis wat iets vermeld van Jesus se kinderlewe! Verder hoor ons meer as een keer van kinders wat na Hom gebring word.
· Lukas vertel ook van mense wat ly as gevolg van siekte, deur ander verwerp is en hulle wat deur ander as onrein beskou word.
Jerusalem speel 'n baie prominente rol in die evangelie van Lukas. Die verhaal van Jesus as kind begin in die tempel en as volwassene eindig sy aardse bestaan ook daar. Die indeling van Lukas beklemtoon ook hierdie gedagte:
1:1-4:13: Inleiding en geboorteverhaal van Jesus sowel as die voorbereiding op sy bediening
4:14-9:50: Eerste hoofdeel: Jesus in Galilea met die hoogtepunt Petrus se Messias-belydenis en die verheerliking op die berg
9:51-19:27: Tweede hoofdeel: Jesus op weg na Jerusalem, sending van die 72, baie gelykenisse en onderrig met min wonderwerke
19:28-24:53: Derde hoofdeel: Jesus in Jerusalem. Intog in Jerusalem wat uitloop op sy gevangeneming, verhoor, kruisiging, opstanding en hemelvaart.
Jerusalem was nie net die plek waar die tempel van God gestaan het nie, dit was ook die plek waar Jesus se sterwe moes plaasvind. Hiermee impliseer Lukas dat God te vinde is in die sterwe en opstanding van Jesus - die tempel wat in drie dae afgebreek en weer opgebou word. Hy is die koninkryk van God, Hy is die verlossing van God, in Hom vind mense dié God wat aan alle mense, maar op ‘n besondere manier dié wat ly, sy goedheid uitdeel.
Die evangelie het 'n toon van blydskap en lof. Dit sien ons byvoorbeeld in die engelekoor in hoofstuk twee, die lofliedere van Maria en Sagaria, die blydskap oor verlore dinge wat terug gekry word en wanneer 'n verlore seun terugkom. Die evangelie eindig ook met blydskap en lof ná die hemelvaart van Jesus. Die goedheid van God regverdig 'n feesmaal soos met die terugkoms van die verlore seun. Dit pas by Saggeus om na aanleiding van God se oorvloedige goedheid te reageer en in oorvloed terug te betaal wat hy van mense weggeneem het.
In die evangelie van Lukas word die werk van die Heilige Gees sterker beklemtoon as in die ander evangelies.
Die evangelie wil graag sy lesers aanmoedig om, in gemeenskap met Jesus Christus, ook sý karaktertrekke te vertoon, deur onder andere vergewensgesind, barmhartig en vrygewig te wees. En hulleself vir ander te gee!
Mag die Lukas-WOORD elkeen wat dit in die volgende maande gaan lees, help om WYSER te leef!
Kobus Myburgh

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

