Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Levitikus

 

Waar pas Levitikus in die Bybel in?

 

Levitikus is waarskynlik een van die boeke in die Bybel wat ons die maklikste oorslaan as ons met ons Bybelstudie besig is! Levitikus is deel van 'n groter versameling wette wat by Eks 20 begin en in Numeri eindig. In die huidige samestelling van die tekste vorm Eks 20-40 die verhaal van die totstandkoming van God se teenwoordigheid onder Israel. Levitikus en Numeri vorm die maatstaf waarvolgens die volk moes lewe sodat hierdie teenwoordigheid van God nie benadeel word nie. Omdat hierdie versameling tekste wette bevat wat die godsdienstige en elkedagse lewe van die Israeliete gereël het, voel dit soms vreemd om as hedendaagse Christene die boeke te lees. As gelowiges vandag deel ons egter met die gelowiges in die tyd van Levitikus die begeerte aan reinheid en heiligheid in ons lewe voor God. Alhoewel die manier waarop ons dit bereik heeltemal verskil, is daar baie te leer uit die erns waarmee Israel hulle lewens rein en heilig voor God probeer hou het. Om Levitikus met erns en afwagting te lees is soos om in 'n stowwerige kelder vol pragtige skatte te ontdek!

 

 

Waar kom die naam Levitikus en die wette vandaan?

 

Die naam Levitikus kom van die Griekse en Latynse vertalings van die Ou Testament en verwys na die besondere rol wat die Leviete as priesters in die boek speel. Die wette wat ons in Levitikus kry, was nie almal uniek aan Israel nie.  Van die wette toon heelwat ooreenkomste met ander wetsversameling uit die Nabye Oosterse wêreld. Hierdie ooreenkomste beteken nie dat die wette noodwendig dieselfde betekenis gehad het nie. In die verstaan van enige wet is die rede waarom die wet deur 'n spesifieke groep mense nagekom moet word, baie belangrik. Wat die gebruik van die wette in Levitikus spesiaal maak, is dat Israel bely het dat die wette nie uit 'n magiese onpersoonlike krag in die heelal kom nie, maar van die God met wie hulle in 'n verbond staan. Israel het die wette in Levitikus gesien as 'n manier waarop hulle gehoorsaam aan God kon wees en hulle lewens en gemeenskap rein en heilig kon hou.

 

Wanneer het die wette ontstaan?

 

Dit is moeilik om die oorsprong van die wette in Levitikus te bepaal. In die geskiedenis van die Bybelnavorsing was daar 'n tyd dat daar aan hand van hoofstuk 1:1 aanvaar is dat Levitikus deur Moses geskryf was. Hierdie siening word egter nie meer deur geleerdes gehuldig nie. Wette word, selfs vandag nog, met verloop van tyd gevorm en nie in een dag uitgedink nie. Die boek Levitikus is baie duidelik nie deur net een persoon geskryf nie en ons kan die invloede van verskillende groepe, of in vandag se terme "regskole", duidelik sien. Hierdie verskillende perspektiewe het met verloop van tyd saamgevloei sodat die boek Levitikus as 'n versameling wette erken is wat vir die Israeliete in hulle lewens rigtinggewend was. Nog moeiliker as om te probeer bepaal wie almal meegewerk het aan die ontstaan van die wette, is die vraag wanneer dit alles gebeur het. Om 'n boek in die Bybel te dateer is dit nodig om onder andere na die historiese raamwerk te kyk waarbinne die boek geskryf is. Die wette van Levitikus, soos dit vandag daar uitsien, het in 'n godsdienstige raamwerk vorm aangeneem. Hierdie godsdienstige raamwerk kan nie vir ons 'n antwoord gee oor die tyd wanneer die verskillende wette finaal in 'n versameling saamgestel is nie. In die geval van wetstekste, net soos by Wysheidstekste, is die datering nie so deurslaggewend vir die verstaan van die boek soos byvoorbeeld by verhalende of historiese tekste in die Bybel nie.

 

Hoe is die boek saamgestel?

 

Die struktuur van die wette kan as volg ingedeel word:

v     Hoofstukke 1 – 5:  Instruksies aan die volk oor die manier waarop die verskillende offers gebring moes word:

Hoofstuk 1:  Brandoffer.

Hoofstuk 2:  Graanoffer.

Hoofstuk 3:  Maaltydoffer.

Hoofstuk 4:1 – 5:13:  Sondeoffer.

Hoofstuk 5:14-26:  Skuldoffer.

v     Hoofstukke 6 – 7:  Instruksies aan die priesters oor die manier waarop die verskillende offers gebring moes word.

v     Hoofstukke 8 – 10:  Beskrywing van die manier waarop die kultus begin het:

Hoofstuk 8:  Die wyding van Aäron en sy seuns.

Hoofstuk 9:  Die begin van die priesters se dienswerk.

Hoofstuk 10:  Die noodsaaklikheid van die korrekte offerhandeling.

v     Hoofstukke 11-15:  Reinheidswette:

Hoofstuk 11:  Wette rondom rein en onrein voedsel.

Hoofstuk 12:  Reiniging na swangerskap.

Hoofstuk 13 – 14:  Velsiektes en swamme en die reiniging daarvan.

Hoofstuk 15:  Voorskrifte rondom die geslagtelike afskeidings by mans en vroue.

v     Hoofstuk 16:  Voorskrifte rondom die jaarlikse versoendag.

v     Hoofstuk 17-26:  Heiligheidswet:

Hoofstuk 17:  Hoe 'n offerdier geslag moet word en die belangrikheid van die bloed in die proses.

Hoofstuk 18:  Wette oor seksuele verhoudings.

Hoofstuk 19:  Behandeling van jou naaste en aanverwante wette.

Hoofstuk 20:  Strafvoorskrifte rondom seksuele oortredings en navolging van afgodspraktyke.

Hoofstuk 21 – 22:16:  Voorskrifte wat die heiligheid van priesters beheer.

Hoofstuk 22:17 – 33:  Voorskrifte waaraan die offers moet voldoen.

Hoofstuk 23:  Feeskalender.

Hoofstuk 24:10 –23:  Godslastering en die straf daarvoor.

Hoofstuk 25:  Sabbatsjaar en hersteljaar.

Hoofstuk 26:  Seën en straf wat gepaardgaan met die wette.

v     Hoofstuk 27:  Voorskrifte rondom loskoopwaardes as die wette oortree is.