Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Korintiers

INLEIDEND

 

Hoewel baie 21ste eeuse gelowiges om verskillende redes nie kerkmense is nie, sal die meeste waarskynlik saamstem dat Christene oor die wêreld heen God se nuwe gemeenskap vorm, en as sodanig hul roeping as kinders van God in hul verskillende wêrelde moet uitleef.  Sommige Christene en gemeentes slaag daarin, maar vir baie ander kom die vorming van 'n nuwe gemeenskap wat volgens nuwe, wêreldvreemde beginsels funksioneer, nie spontaan nie.

 

Paulus se briewe aan die Korintiërs kan hierin 'n besondere rol speel.  Anders as in byvoorbeeld die brief aan die Romeine, wat naas Paulus se praktiese riglyne vir gelowiges se lewe uit die geloof ook lang leerstellige gedeeltes bevat, is die briewe aan die Korintiërs van hoek tot kant volgepak met sake wat aktueel was in die gemeente van Korinte in die 1ste eeu nC.  Dit is duidelik dat die Korintiërs gesukkel het om hul verlossing in hul daaglikse lewe as individue én as gemeente konkreet uit te leef.  Die Korintiërbriewe is 'n getuienis van hoe Paulus as gelowige oor die Korintiërs se probleme gedink en daarop gereageer het.  En omdat die omstandighede waarbinne Christene vandag leef, byvoorbeeld die kerk en die huwelik, ook raakpunte het met dié van die Korintiërs, behoort verantwoordelike 21ste eeuse gelowiges Paulus se rigtingwysers aan die Korintiërs deeglik te bestudeer.  Daar is baie wat hy sê wat vandag nog net so geldig is wanneer Christene worstel met die sigbare leef van hul verlossing.

 

1 EN 2 KORINTIËRS

 

Volgens Handelinge 18:1-17 het die gemeente in Korinte tydens die reis wat ons ken as Paulus se tweede sendingreis tot stand gekom.  Paulus het 18 maande lank in Korinte gewoon en gewerk.  Twee baie bekende Nuwe Testamentiese figure, Akwila en Priscilla, het hulle in Korinte oor Paulus ontferm, en ook as belangrike medewerkers 'n groot rol in die vorming van die gemeente gespeel.  Toe Paulus uit Korinte na Efese vertrek het, het hulle met hom saamgegaan.

 

Daar bestaan verskillende teorieë oor die Korintiërbriewe.  Daar word naamlik bespiegel oor die hoeveelheid briewe wat Paulus aan hierdie gemeente geskryf het, die volgorde waarin hulle geskryf is, die samevoeging al dan nie van hierdie briewe of gedeeltes daarvan in die twee briewe wat ons ken, ensovoorts.  Die behoudende standpunt - wat ook die swaarste weeg! - is egter om, sonder om die gegewens wat ons in Handelinge 18 lees, te verwerp, te aanvaar dat die twee Korintiërbriewe eg en volledig is, en jou dan, wat hulle samestelling en volgorde betref,  te verlaat op die gegewens wat in die briewe self voorkom.  Paulus verwys byvoorbeeld in 1 Korintiërs 5:9 na 'n vorige brief waarin hy die Korintiërs gewaarsku het teen mense wat in onsedelikheid leef.  Hieruit kan ons aflei dat die brief wat ons ken as 1 Korintiërs, moontlik nié Paulus se eerste brief aan die gemeente was nie, maar die tweede.  Ongelukkig het die brief waarna hy verwys, nie behoue gebly nie.

 

Uit 2 Korintiërs 2:2-11 en 7:12 kan 'n mens ook aflei dat Paulus na afloop van 'n blitsbesoek aan Korinte 'n derde brief aan die gemeente geskryf het.  Na aanleiding van 2 Korintiërs 2:4 word soms na hierdie brief as die "tranebrief" verwys.  Hierdie brief het ook nie behoue gebly nie, hoewel sommige teoloë die laaste vier hoofstukke van 2 Korintiërs as hierdie "tranebrief" beskou.  Daar is egter weereens kwalik getuienis in die teks van 2 Korintiërs self waarom die egtheid van die samestelling van 2 Korintiërs betwyfel moet word.  Verlaat 'n mens jou op die gegewens in die twee Korintiërbriewe alleen, is die brief wat ons ken as 2 Korintiërs waarskynlik die vierde brief wat Paulus aan hierdie gemeente geskryf het.

 

As 'n mens hierdie uitgangspunte oor 1 en 2 Korintiërs handhaaf, is dit op grond van die gegewens in Handelinge, in die Korintiërbriewe self en gegewens wat ook uit Paulus se ander briewe na vore kom, moontlik om te bereken dat Paulus 1 Korintiërs waarskynlik in 54 of 55 nC geskryf het vanuit Efese, en 2 Korintiërs in 55 of 56 nC vanuit Masedonië.  Die inhoud van die twee Korintiërbriewe is ook van so aard dat, sou 'n mens 'n ander teorie oor die samestelling van die twee briewe ondersteun, dit weinig verskil aan die boodskap van die briewe sal maak.

 

HOE IS 1 EN 2 KORINTIËRS SAAMGESTEL?

 

In 1 Korintiërs is die sentrale tema waarrondom Paulus die probleme van die Korintiërs aanspreek, liefde.  Na die gebruiklike briefaanhef praat hy met hulle vanuit hierdie liefdestema oor verdeeldheid, leierskap en groepvorming (rofweg hoofstukke 1 tot 4);  losbandigheid en die onwenslikheid van hofsake tussen gelowiges (hoofstukke 5 en 6);  die huwelik en met name die seksuele binne die huwelik (hoofstuk 7);  die deelname aan kultusmaaltye en hoe gelowiges hul vryheid in Christus moet beoefen (hoofstukke 8 tot 10);  die plek van die vrou in die gemeente en die heiligheid van die nagmaal (hoofstuk 11);  die funksionering van die gawes van die Gees in die kerk (hoofstukke 12 tot 14);  die opstanding uit die dood (hoofstuk 15).  Hoofstuk 16 bevat hoofsaaklik 'n paar praktiese reëlings en die gewone briefslot.

 

Na die briefaanhef en inligting oor Paulus se reisreëlings in 2 Korintiërs 1, verskuif die fokus in hoofstuk 2 en 7 van die probleme van die Korintiërs na die herstel van die verhouding tussen Paulus en die gemeente.  Vanaf hoofstuk 3 keer hy terug na die brandpunte in die gemeente:  die gesag waarmee Paulus sy bediening uitvoer (rofweg hoofstukke 3 en 4);  die grondbeginsels waarvolgens die nuwe, alternatiewe gemeenskap van die gelowiges funksioneer (hoofstukke 5 en 6);  Christelike vrygewigheid wat sigbaar word in onderlinge hulpverlening (hoofstukke 8 en 9).  In hoofstukke 10 tot 12 kom Paulus se apostoliese gesag weereens aan die orde, en in hoofstuk 13 word die brief afgesluit met 'n aantal praktiese riglyne en die mees bekende briefslot in die Nuwe Testament (2 Kor 13:13).

 

Mag jou besigwees met hierdie briewe van Paulus aan die Korintiërs jou inspireer om jou verlossing en jou leef in God se nuwe geloofsgemeenskap in alles te laat sigbaar word.