Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Johannes

DIE ONTSTAAN VAN DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES

 

Daar bestaan uiteenlopende menings oor wie die Johannes is wat as skrywer van die vierde evangelie gereken word.  Die kerkvaders, onder wie Irenaeus, stem almal saam dat hy die seun van Sebedeus was wat ook Jesus se dissipel was.  Sommige geleerdes meen dat hierdie Johannes met Johannes Markus, die skrywer van die Evangelie volgens Markus, verwar word.  Ander meen weer dat daar 'n ander ouderling Johannes in Efese gewoon het wat vir die vierde evangelie verantwoordelik was.  Daar is egter nie genoegsame rede om te twyfel dat die skrywer wel Jesus se dissipel Johannes, die seun van Sebedeus, was nie.

 

Ons weet almal dat die Evangelie volgens Johannes heelwat verskil van die Evangelies van Matteus, Markus en Lukas.  As 'n mens Johannes deurlees, klink dit sommer baie anders as die ander evangelies.  Johannes gebruik teenstellende begrippe soos "waarheid" en "leuen", "lig" en "duisternis", "lewe" en "dood", "lyding" en "heerlikheid", "sterwe" en "opstanding", "bo" en "onder", "tyd" en "ewigheid" en die "ewige lewe" wat ons "nou reeds" kan hê om dít wat Jesus sy volgelinge geleer het, te beskryf.  Hierdie begrippe kom nie in die ander evangelies voor nie.  Johannes vertel ook van Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou en Lasarus se verhaal, wat ons nie in die ander evangelies lees nie.  Dan verswyg hy weer ander aspekte van Jesus se werk, soos die uitdrywing van bose geeste, die genesing van melaatses en die instelling van die nagmaal.  Anders as die ander evangelies vertel hy ook niks van Jesus se geboorte en kinderdae nie.  Johannes vertel eintlik baie min van Jesus se lewe, maar lê in lang gesprekke groter klem op die  betekenis van gebeurtenisse.

 

Hoekom verskil Johannes se evangelie so baie van die ander?  Wou hy foute by die ander drie uitwys, of hulle dalk heeltemal vervang?  Nee.  Die Evangelie van Johannes se ontstaan was anders, en sy doel is ook anders.  Johannes het nie sommer op 'n dag gaan sit en alles oor Jesus en die werk wat Hy gedoen het, van voor tot agter neergeskryf, en daarmee probeer om die verhaal aan 'n bepaalde groep mense te vertel (soos rofweg die geval met die ander evangelies is) nie.  Hierdie evangelie het oor baie dekades gegroei.

 

'n Mens kan byna sê dat alles by Jesus self begin het.  Hy het wonders gedoen, gesprekke met mense - individue en groepe - gevoer, gepreek en deernis betoon.  Na Jesus se kruisdood, opstanding en hemelvaart het sy volgelinge dit alles onthou, mekaar daaraan herinner en dit vir hulle kinders en vir nuwelinge in die gemeente oorvertel.  Hulle het ook Jesus se woorde van toepassing gemaak op nuwe situasies wat in die gemeente opgeduik het.  Die gemeente kon aanvanklik baie lank so oorleef.  Maar toe die ouer mense wat in Jesus se tyd rondom Hom geleef het, begin wegval, het die behoefte ontstaan om alles wat die gemeente van Jesus kon onthou, neer te skryf.  Die Evangelie volgens Johannes het dus oor dekades gegroei, en is eers teen die einde van die 1ste eeu voltooi.  Omdat Jesus se dissipel Johannes sy woorde en dade kon onthou en oorvertel, het hy die gemeente se borg geword wat kon instaan vir die waarheid en die feite daaragter - daarom dat hy die "skrywer" van die evangelie genoem word.

 

KENMERKE VAN DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES

 

Uit die lang gesprekke wat ons in Johannes vind, kan ons 'n paar groot temas identifiseer, soos lig, lewe, liefde, waarheid en om uit God gebore te wees.  Anders as Matteus, Markus en Lukas gebruik Johannes nie gelykenisse om sy temas toe te lig nie, maar beeldspraak.  Die beelde van die herder en sy skape (hoofstuk 10) en die wingerdstok en sy lote (hoofstuk 15) is enkele voorbeelde.

 

Johannes skryf ook baie oor die Heilige Gees.  Hy is trouens die enigste van die vier evangelieskrywers wat hom uitspreek oor die koms en die werk van die Gees.  Hy onderskei byvoorbeeld vroeg in die evangelie tussen natuurlike geboorte en geestelike geboorte (hoofstuk 3) en skryf dat 'n Voorspraak, die Heilige Gees, die gelowiges sou lei nadat Christus verheerlik is (hoofstuk 14:16, 26).  In die ander evangelies is ook uitsprake oor die Heilige Gees, maar heelwat minder as in Johannes.

 

Johannes beklemtoon ook die verhouding tussen die Vader en die Seun.  Hy noem Jesus die "Seun van God" of die "Seun", terwyl Matteus, Markus en Lukas Hom die "Seun van die mens" noem, wat eerder Jesus se verhouding tot mense aandui.  Vir Johannes is Hy van die begin af Christus.  Hy noem Hom selfs twee keer die Messias (hoofstuk 1:41 en 4:25).

 

HOE IS JOHANNES SAAMGESTEL?

 

Die boek Johannes het 'n baie maklike opbou.  Na die duidelike inleiding volg drie hoofdele, wat weer opgevolg word deur 'n slothoofstuk.

 

Die uitgebreide inleiding aan die begin (1:1-18) vertel waar Jesus vandaan kom en wat Hy in die wêreld kom doen het.

 

Die eerste hoofdeel (1:19-12:50) vertel van die werk wat Jesus in die wêreld kom doen het, min of meer oor 'n tydperk van drie jaar.

 

Die tweede hoofdeel (13:1-17:26) vertel die verhaal van die laaste paar uur voor Jesus se gevangeneming wat hy saam met sy dissipels deurgebring het.

 

Die derde hoofdeel (18:1-20:31) vertel die verhaal van Jesus se kruisiging, dood en opstanding, asook sy verskyning aan sy dissipels.

 

Hoofstuk 21, die slothoofstuk, vertel dan die verhaal van 'n paar intieme gesprekke tussen Jesus en sy dissipels, in die besonder Petrus en Johannes.

 

DIE DOEL VAN DIE EVANGELIE

 

Die doel van hierdie evangelie is voor-die-hand-liggend.  Om Jesus te volg, beteken om te doen soos Hy gedoen het.  Dit wat Hy gedoen het, moes neergeskryf word, sodat sy volgelinge altyd daarna kon verwys, mekaar daaraan kon herinner en hul optrede as Jesus se volgelinge daaraan kon toets.

 

Wie is Jesus nou eintlik?  Johannes sê:  Hy is die Christus, die Seun van God wat lewe gee.  Maar dis nie al nie.  Johannes laat jou ook agterkom wat met jou sal gebeur as jy Jesus leer ken.  Wie hom daarvoor beywer om soos Jesus te wees, sal nooit weer dieselfde wees nie.

 

Wanneer jy oor die volgende paar maande die Evangelie volgens Johannes aan die hand van Woordwyser lees, laat toe dat jou ywer om soos Jesus te wees, jou hele lewe verander.

 

Freddie Schoeman