Oostelike Sinode
Job
Dit is moeilik om 'n datum aan die boek Job te knoop, want daar is weinig gegewens in die teks wat ons hiermee kan help. Die hoofkarakter (Job) word voorgehou as 'n vermoënde man met 'n groot huishouding en verskeie veekuddes. Hierdie uitbeelding het mense daartoe gelei om te dink dat Job in die tyd van Abraham moes geleef het en dat die verhaal uit die tyd van die aartsvaders kom (1500-1250 vC). Die taal waarin dit geskryf is en ander gegewens in die boek, het moderne geleerdes egter daartoe gebring om dit in die Persiese tydvak (539-330 vC) te dateer. Die boek kry werklik lewe wanneer ons dit lees teen die agtergrond van die sosio-ekonomiese toestande wat tóé in Juda geheers het.
Die Joodse samelewing was 'n ontwrigte een gedurende die vroeë fase van die Persiese oorheersing. 'n Aansienlike groep mense is deur die Babiloniërs in ballingskap weggevoer (586 vC) en diegene wat agtergebly het, het gesukkel om 'n bestaan te maak. Heelwat van hulle was verarmde kleinboere wat van die hand na die mond geleef het. Daar het mettertyd weer 'n klompie vermoënde mense op die toneel verskyn wat as die nuwe elite beskryf kan word. Sommige van die nuwe elite het nie veel ooghare gehad vir die sukkelende kleinboere op hulle onekonomiese plasies nie en was dikwels daarop uit om ook hulle grond in die hande te kry. Tog was daar vermoëndes wat begaan was oor die lot van die kleinboere.
Die Joodse samelewing het tydens die hoogbloei van die Persiese oorheersing breedweg uit twee lae bestaan: die vermoëndes en die armes. In die geledere van die vermoëndes was daar diegene wat niks omgegee het vir die armes nie, maar daar was ook ander wat hulle die lot van die armes aangetrek het. Hierdie groep is dikwels as die "regverdiges" voorgehou en dit is in hulle geledere wat Job tuishoort.
In die poëtiese gedeelte van die boek (3:1-42:6) word Job geteken as 'n vermoënde man wat tot die elite van die samelewing behoort het. Hy het goud besit (31:24-25), landerye en veekuddes gehad (30:1; 31:20) en slawe en veewagters aangehou (30:1; 31:13). Hy was 'n gerespekteerde burger op wie se raad mense staat gemaak het. Hy het in die stadspoorte as regter opgetree en het ook deel gevorm van die stad se bestuursliggaam (29:7-10, 21-23). Maar Job word ook gekenskets as 'n man wat begaan was oor die lot van die armes, weeskinders en weduwees. Die beskuldigings van sy vriende dat hy ander uitgebuit het, het hy met mag en mening bestry. Hy wys onder andere daarop dat hy die armes van klere en slaapgoed voorsien het (31:19). Hy het sy voedsel met weses gedeel en weduwees se lot hom aangetrek (31:16). Hy het in die bres getree vir diegene wat verdruk en uitgebuit is (29:13-16).
Die boek val duidelik in twee dele uiteen. Daar is 'n vertellende raamwerk (1:1-2:13 en 42:7-17) en 'n poëtiese middelstuk (3:1-42:6). Die vertellende raamwerk is waarskynlik gebaseer op 'n baie ou mondelinge verhaal van 'n vroom man wat al sy kinders en besittings deur rampe verloor het, maar wat enduit aan God bly vashou het. Hierdie verhaal dien as basis vir die mono- en dialoë wat ons in die middelstuk aantref. Die poëtiese middelstuk begin met ‘n roerende klagte wat Job uiter (3:1-26). Dit word opgevolg met drie siklusse van gesprekke tussen Job en sy vriende Elifas, Bildad en Sofar (4:1-27:23) voordat Job weer in 'n monoloog sy lot bekla (29-31). Voor hierdie monoloog is daar egter 'n gedig wat die voortreflikheid van die wysheid besing (28:1-28). Job se klag word opgevolg deur 'n monoloog van 'n vierde vriend (Elihu) wat as 't ware uit die niet op die toneel verskyn (32-37). Die Elihu-rede word op sy beurt weer opgevolg deur twee redevoeringe van God en twee antwoorde van Job (38-42:6).
Om die boodskap van die boek goed te begryp, is dit nodig dat ons een begrip wat telkens ter sprake gaan kom, moet verduidelik. Dié begrip is die woord "vergeldingsleer". In die boek Job is die vergeldingsleer die as waaromheen die hele verhaal en al die mono- en dialoë draai. Met die vergeldingsleer word daardie siening bedoel wat voorhou dat goeie dade goeie gevolge het, en bose dade slegte gevolge. Wie dus goed doen, sal beloon word, maar wie verkeerd doen, sal die gevolge van sy dade moet dra. Hierdie siening tref ons veral in die boek Spreuke aan (vgl Spr 10:27; 13:21; 15:1). Ons kan dit ook 'n wysheids-perspektief noem.
Ná die val van Jerusalem en die vernietiging van die tempel in 586 vC het die vergeldingsleer 'n rigiede leerstuk geword wat geen ruimte vir uitsonderings toegelaat het nie. Daar was nie twyfel dat wie goed doen, sy loon moes en sou kry, en wie verkeerd doen daarvoor gestraf sou word nie. Mense het begin oordeel dat hulle uit ander se lewensomstandighede afleidings kan maak oor hoe 'n soort lewe hulle lei of gelei het. Die skrywer van die boek wou met sy verwerking van die verhaal van Job die rigiditeit van hierdie leerstuk blootlê en sodoende 'n pleidooi lewer vir 'n meer gebalanseerde uitkyk op die lewe en sy probleme. Maar die skrywer wou waarskynlik ook daardie deel van die elite van die Joodse samelewing in Juda wat hulle (soos Job) die nood van ander aangetrek het, aanspoor om nie te verslap nie.

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

