Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Hooglied

INLEIDING TOT HOOGLIED

 

Die Hooglied kan beskou word as 'n hoogtepunt van die Hebreeuse digkuns en is al bestempel as een van die grootste liefdesgedigte in die wêreldliteratuur. Die skoonheid van die poësie in Hooglied word allerweë erken. Selfs in vertaalde vorm (waarin talle digterlike stylfigure nie sigbaar is nie) is die inhoud, en veral die deurlopende gebruik van beeldspraak en vergelykings, treffend.

 

Die naam van dié boek kan uit die Hebreeus letterlik vertaal word as "lied van die liedere". In Hebreeus dui dié soort uitdrukking die oortreffende trap van vergelyking aan en die naam het dus die betekenis van "die mooiste lied." Die Afrikaanse "Hooglied" (wat hierdie betekenis probeer weergee) kom via die Nederlands van die Duitse "Hoheslied", wat deur Luther in sy Bybelvertaling gebruik is.

 

Volgens die opskrif is Salomo die skrywer. Die feit dat daar in die Bybel vermeld word dat Salomo 1005 liedere geskryf het (I Kon 4:32), het daartoe bygedra dat Salomo ook as digter van dié lied gesien is. Die outeurskap van Salomo word egter vandag deur min navorsers aanvaar, omdat die verskillende dele van Hooglied waarskynlik in verskillende tye ontstaan het. Uit bepaalde verwysings en woordgebruik is dit duidelik dat minstens sekere gedeeltes eers ná die skeuring van die ryk kon ontstaan het. Die opskrif (uit 'n latere tyd) hou verband met die feit dat Salomo se naam verskeie kere in die boek voorkom (en sou vertaal kon word met "Die Hooglied op Salomo").

 

Daar is waarskynlik nie 'n boek in die Bybel waaroor daar meer meningsverskil bestaan en wat op meer uiteenlopende maniere verklaar is as Hooglied nie. Enkele van die mees algemene verklarings kan hier kortliks oorweeg word.

 

Hoewel dit voor-die-hand-liggend is dat dit hier om die liefde tussen man en vrou handel en die lied baie vroeg al by huweliksonthale gebruik is, was daar deur die eeue verklaarders wat ontken het dat dit oor gewone menslike liefde handel. Hulle het na 'n dieper, "geestelike" (allegoriese) betekenis gesoek. 

 

So het Joodse eksegete uit die 2de eeu na Christus (onder leiding van rabbi Akiva) die lied vertolk as 'n afbeelding van die verhouding tussen die Here en sy volk, Israel. God is dan die "bruidegom" van die boek en Israel die "bruid." Die kleiner besonderhede van die boek is dan ook hiervolgens "verklaar." Op voetspoor van dié allegoriese verklaring het talle Christelike verklaarders geglo dat die boeke sinspeel op die verhouding tussen Christus en sy kerk, of tussen Christus en die individuele gelowige. Daar is talle variasies van hierdie verklaring. 

 

Al is dit so dat die huweliksverhouding in die Bybel gebruik word om die verhouding tussen God en sy volk, of tussen Christus en sy kerk uit te beeld, is daar nie 'n enkele aanduiding in Hooglied dat die boek as allegorie – waarin alles 'n geestelike betekenis het – verstaan moet word nie. Dit is ook duidelik dat die oorspronklike bedoeling van die skrywer nie was dat Hooglied vergeestelik moet word nie. Hooglied is in die Bybel opgeneem lank voor die allegorisering daarvan. Dit was nie oorspronklik as allegorie bedoel nie, maar is later so verklaar.

 

'n Tweede verklaringsweg wat gekies is, is om Hooglied te sien as weergawe of dramatisering van een of ander historiese gebeurtenis.  Sommige verklaarders vind twee hooffigure in die boek, naamlik die koning en die meisie van die platteland. Hul liefdesverhouding word uitgebeeld. Omdat die naam van Salomo verskeie kere in die lied voorkom, word Hooglied soms beskou as die beskrywing van 'n huwelik tussen Salomo en 'n vrou vir wie hy baie lief was.

Ander verklaarders vind drie hooffigure in die boek: die koning, die meisie en 'n herder. Volgens dié verklaring word vertel van 'n meisie wat na die koning se paleis gebring word. Sy bly egter getrou aan haar verloofde op die platteland – die herder – en weier om aan die attensies van die koning toe te gee. Uiteindelik keer sy terug na haar herder-minnaar. Hierdie verklarings gaan egter nie op nie. Daar is geen aantoonbare kronologiese verloop van gebeure in Hooglied nie en die verhale kan nie geherkonstrueer word tensy die volgorde van die boek verander word nie. 

Die verwysing na koning en na herder hoef ook geensins op 'n werklike koning of herder te dui nie. Dit is albei beelde wat meermale gebruik word om die beminde te beskryf, en wat van toepassing is op dieselfde persoon.

 

Talle verklaarders sien Hooglied as 'n versameling liedere wat  rondom  die tema van liefde byeengebring is, en waarin die liefde tussen man en vrou op hartstogtelike wyse besing word. Die boek is waarskynlik uit verskeie liedere saamgestel – liedere wat selfs uit verskillende tye dateer. Tog is dit opmerklik hoedat bepaalde motiewe, temas, beelde en uitdrukkings deurlopend voorkom en herhaal word. Dit kan aanvaar word dat die Hooglied deur 'n (vir ons) onbekende skrywer-digter saamgestel en tot 'n digterlike eenheid saamgeweef is. 

 

In Hooglied gaan dit om die liefdesverhouding tussen man en vrou.  Vir Israel het die boek rigting gegee in 'n tyd toe daar baie verwarrende idees oor seksualiteit bestaan het. Onder Israel se buurvolke is die seksuele dikwels as iets heilig /sakraal gesien, wat met godsdienstige sake saamhang en op magiese manier verband hou met die vrugbaarheid van die land. In Hooglied staan die liefdeslewe los van heidense en bygelowige gebruike. Dit is iets mensliks, en die liefdespel bly uitdrukking van die man en vrou se liefde vir en verbondenheid aan mekaar. Liefde en die seksuele word nie van mekaar geskei nie. Hier is 'n bevestiging van die rol van die liggaamlike in die liefdeslewe.

In Hooglied word die liefde tussen man en vrou besing as 'n gawe van God – deel van sy skepping. Oor die liefde en erotiek word gepraat op 'n wyse wat sterk herinner aan die tuinverhaal (Gen 2:18-25).