Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Handelinge

Die boek Handelinge vertel van 'n besondere tydperk in die geskiedenis: die verhaal van die handjievol dissipels wat na Jesus se hemelvaart onder leiding van die Heilige Gees die Goeie Nuus van Jesus Christus dwarsdeur die Romeinse Ryk geneem het. Binne enkele dekades het die klein groepie volgelinge van Jesus in Jerusalem 'n groot menigte getuies regoor die wêreld geword. Handelinge vertel die verhaal van die geboorte en groei van die Christelike kerk. Die dissipels het oor die hele Romeinse Ryk in sinagoges, skole, raadsale, huise en tronke, op markpleine en op straat, op afgeleë paaie en op skepe die verlossingsboodskap verkondig, mense genees en die liefde van Christus in woord en daad uitgeleef. Waar God die dissipels gestuur het, het mense se lewens verander - en ook die hele geskiedenis.

 

Handelinge is 'n narratiewe geskrif, want dit lees soos 'n verhaal wat die geskiedenis van die ontstaan, groei en vestiging van die vroeë kerk teen die agtergrond van die eerste eeu vertel. Handelinge doen nie volledig verslag oor al die doen en late van die Christene van die eerste eeu nie. Die skrywer vertel van die aktiwiteite van die Heilige Gees in en deur Petrus, Paulus en die ander dissipels, en wil wys hoe Christus se belofte in Handelinge 1:8 - dat die kerk krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom - deur die werk van die apostels tot aan die uithoeke van die wêreld van die eerste eeu vervul is.

 

Handelinge is deur Lukas, wat ook die skrywer van die Lukas-evangelie was, geskryf. Hy was 'n noukeurige skrywer wat deeglik navorsing gedoen en volumegewys heelwat meer geskryf het as Paulus! Inhoudelik volg Handelinge op die Lukas-evangelie. Die Lukas-evangelie vertel van Jesus se bediening op aarde. Handelinge vertel verder van die werk van die opgestane Here in en deur die lewe van die kerk. Handelinge kan rofweg in twee hoofdele verdeel word, op grond van die bedieninge van Petrus en Paulus, die twee sogenaamde hooffigure in die ontwikkeling van die vroeë kerk.

 

Die Petrus-gedeelte (1-12) begin by Jesus se hemelvaart (1:1-11), interne reëlings in die dissipelkring (1:12-26), die uitstorting van die Heilige Gees (2:1-13) en Petrus se beroemde toespraak op Pinksterdag, waar hy homself bewys as iemand wat vervul is met die Heilige Gees en daarom die evangelie vreesloos verkondig (2:14-36). Petrus verkondig nie net die evangelieboodskap (3:1-26; 8:4-40; 9:32-11-30) en word om hierdie rede saam met die ander dissipels vervolg nie (4:1-22; 5:17-42; 6:8-7:60; 12:1-19), maar speel ook saam met die ander kerkleiers 'n leidende rol in die organisering van die kerk (2:37-47; 4:23-5:16; 6:1-7). Hy was ook getuie van Saulus wat die kerk vervolg (8:1-3), daarna tot bekering kom (9:1-19) en uiteindelik self 'n verkondiger van die evangelie word (9:20-31).

 

In die Paulus-gedeelte (13-28) verskuif die fokus na die verkondiging van die evangelie deur Paulus buite die grense van Palestina. Lukas vertel van Paulus se Eerste Sendingreis na Siprus en Klein-Asië (13:1-14:28), die "eerste sinodesitting" in Jerusalem om die besnydenis te bespreek (15:1-35), Paulus se Tweede Sendingreis na Klein-Asië, Masedonië en Griekeland (15:36-18:22), sy Derde Sendingreis na vorige bestemmings (18:23-21:26), en die verhaal van Paulus se gevangeneming en uitgerekte verhoor (21:27-26:32), sy moeilike reis na Rome (27:1-28:15) en enkele besonderhede oor sy verblyf onder huisarres in Rome (28:16-31).

 

Ons weet nie presies wanneer Handelinge geskryf is nie. Ons weet uit Handelinge 28 dat dit na Paulus se aankoms in Rome teen ongeveer die jaar 60 n.C. was. Ons weet ook dat Lukas sy geskrifte geskryf het met die Markus-evangelie as vernaamste bron. Markus het die Markus-evangelie in die middel van die jare 60 n.C. geskryf. Ons kan dus reken dat Lukas Handelinge ongeveer tussen die jare 70 en 90 n.C. geskryf het.

 

Handelinge vertel nie bloot die geskiedenis van die vroeë kerk nie. Lukas wil 'n bepaalde boodskap oordra. Hy verseker sy lesers dat hulle nooit hoef te twyfel aan die waarheid en krag van die evangelieboodskap nie. Almal wat die evangelieboodskap hoor, daaraan vashou en dit uitleef, sal by die Ware Lewe, waarvan Jesus self die Outeur is, uitkom.

 

Die ontstaan en groei van die kerk is nie mensewerk nie, maar dié van die Heilige Gees. Die Heilige Gees laat God se genade in mense se lewens konkreet word.  Hy rus die kerk toe om die evangelieboodskap met krag en gesag na die uithoeke van die wêreld te neem, en maak die kerk sterk om staande te bly wanneer moeilikhede sy pad kruis.

 

Wanneer ons in hierdie verhaal lees, moet ons saam met die dissipels die vervulling met die Heilige Gees ervaar, en saam met hulle juig as mense positief op die evangelieboodskap reageer. Soos wat die dissipels hulle nie laat afskrik het deur vervolging, marteling en selfs die dood nie, moet ons aktiewe en vreeslose kinders van God wees wat in opdrag van Jesus Christus, die Koning van die kerk, elke dag onder enige omstandighede ons getuienis na die wêreld rondom ons neem.

 

Uit Woordwyser 2001

Hersien deur Kobus Myburgh