Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Genesis

GENESIS VERTEL BESONDERE VERHALE

 

As jy na 'n groepfoto sou kyk waarop jyself verskyn, hoe kyk jy daarna? Jy neem dit eers globaal waar, met agtergrond en mense, en dan begin jy die mense erken en jou oë dwaal deur die rye totdat jy jouself herken en dan fokus jy op jouself: hoe jy lyk, watter beeld dit skep en wat sou ander van jou sê. Genesis se verhale word op dieselfde wyse gelees. Eers sien ons die totaalbeeld van die antieke rolspelers, en dan hoe hulle met mekaar in interaksie is en laastens erken jy iets van jouself: jou kleingeloof, ongehoorsaamheid, liefdeloosheid of ontrou of wat ook al. Wanneer ons die verhale van Genesis op dié vlak van selfherkenning begin lees, besef ons dat Adam en Eva nie net mense was wat eeue eeue gelede geleef het nie, maar eintlik 'n verhaal is oor onsself!  Sodra ons dit besef, begin hierdie verhale buitengewoon betekenisvol vir ons daaglikse lewens word.  Dit is asof God self met ons begin praat en ingrypende dinge vir ons kom sê. wat ons...

 

DIE OPBOU VAN DIE BOEK GENESIS

 

Die boek Genesis bestaan uit vier hoofdele.  Genesis 1-11 handel oor die oergeskiedenis;  Genesis 12 – 28:9 bevat die verhale oor Abraham en Isak; Genesis 28:10 – 36:43 die verhale oor Jakob en Genesis 37- 50 die verhale oor Josef.

 

Hoofstuk 1-11 bied 'n wye perspektief op die ontstaan van die wêreld in die geheel en die mens oor die algemeen.  Dit handel oor die mensdom en die wêreld in breë perspektief.  Vanaf hoofstuk 12 is daar 'n verandering.  Nou is daar 'n toespitsing op 'n individu, nl Abraham.  Tog is God se doel met hierdie individu uiteindelik om die res van die mensdom te bereik.  Hy roep iemand uit die heidendom om die vader te word van alle mense wat in God glo.  (vgl Gen 12:3b).

 

Ons kan dit so voorstel:

Gen


 

WAAR KOM DIE BOEK GENESIS VANDAAN?

 

Genesis het, net soos die res van die Pentateug (die eerste vyf boeke van die Bybel) 'n baie ingewikkelde ontstaansgeskiedenis wat oor bykans 'n duisend jaar strek.  Eers is daar die tyd van mondelinge oorlewering.  Mettertyd is sommige van hierdie verhale bymekaargevoeg en nog later op skrif gestel.  Daarna het die skriftelike verhale 'n ingewikkelde proses aan die hand van redakteure deurloop waartydens die verhale verwerk is en uiteindelik hulle finale gestalte verkry het. Dit vind veral plaas tydens die smeltkroes jare rondom die Babiloniese ballingskap van 597 vC, waar Israel diep geworstel het oor sy identiteit as volk van God. Eers ná die ballingskap (wat met die dekreet van Kores in 538 vC ten einde geloop het) sou die Pentateug skynbaar die vorm aanneem soos ons dit vandag ken. Dit kon waarskynlik verband hou met die heropbou van die tempel in 520 vC – 515 vC. Verskillende rolspelers het hierin groot werk gedoen, met name die priesters.

 

WAAROOR HANDEL GENESIS?

 

Genesis vorm die basis waarop die res van die boeke van die Bybel rus.  Die basiese temas rondom God, mens en die verhouding tussen God en mens en mense onderling kom in die eerste boek van die Bybel aan die orde. 

 

Die mens se situasie-in-die-wêreld (sonde, gebrokenheid) word verduidelik en verklaar.  Verder word die skeppingsdoel van die mens, sy posisie en plek in die skepping (naamlik as verteenwoordiger van God wat die skepping moet onderhou en bewaar), asook die aard van sy verhouding met die res van die skepping uiteengesit. 

 

In Genesis het ons dus onder andere met die heel basiese gegewens rondom ons menswees in hierdie wêreld te doen, naamlik die sin en betekenis van ons bestaan.  Wie dus die verhale van Genesis mooi lees, ontgin die geleentheid  om iets van God se plan met die wêreld en die mens beter te verstaan.

 

Wie Genesis met aandag en toewyding lees, sal 'n boek ontdek wat ongekende sin en betekenis aan jou lewe sal toevoeg. Lees die boek Genesis en mag jy WYSER uit die WOORD aanhou tot by die laaste hoofstuk.

 

Uit Woordwyser 2001

Hersien deur Freddie Schoeman