Oostelike Sinode
Galasiers
Die ontstaan van die brief
Ons weet nie vandag presies na watter gebied Paulus as Galasië verwys het nie. Galasië is òf die noordelike deel van die landstreek Klein-Asië, òf die Romeinse provinsie van die 1ste eeu nC wat ook sekere suidelike gebiede soos Frigië, Likaonië en Pisidië ingesluit het. Dit maak egter nie juis saak waar die grense van Galasië gelê het nie! Dis alleen belangrik om te weet dat Paulus deur hierdie wêrelddeel gereis en oral waar hy gekom het, gemeentes op die been gebring het. En later, toe hy weer elders besig was met sendingwerk, moes hy verneem dat daar dwaalleraars was wat hard aan die werk was in die gemeente in Galasië! Hulle het naamlik valslik verkondig dat dit nie genoeg was om te glo dat Jesus Christus die Messias was nie, maar dat 'n mens ook aan bykomende vereistes moes voldoen, soos om die besnydenis te handhaaf (5:2-3) en die ou Joodse feeste te vier (4:10). En blykbaar was daar reeds gemeentelede wat die dwaalleraars geglo het (1:6).
Die mense wat hierdie brief gelees het, was waarskynlik Kelte van afkoms. Hulle is verwar deur die dwaalleraars wat ou Joodse tradisies aan hulle verkondig het. Dit is dus maklik om te verstaan dat hulle voor hulle bekering nie-Jode of heidene was. Die doel van Paulus se brief aan die Galasiërs was dus om die gemeentelede te probeer oorreed om nie voor die druk van die vals leraars te swig nie. Regdeur die brief probeer hy die vals leer ontmasker. En daarteenoor bevestig hy dat die evangelie wat hy aan hulle verkondig het, die enigste goeie nuus is wat van God af kom.
Is Galasiërs 'n brief, of nie?
Dat Galasiërs 'n egte brief is en nie sommer 'n geskrif wat in briefvorm gegiet is nie, word vandag algemeen aanvaar. Die brief wemel nie juis van persoonlike verwysings - wat kenmerkend is van sommige van Paulus se ander briewe - nie. Maar die gebrek aan sodanige verwysings beteken nie dat Galasiërs nié 'n brief is nie. 'n Mens sou eerder uit die goeie geloofsgemotiveerde raad vir die praktiese omstandighede van die Galasiërs se lewe kon aflei dat Galasiërs inderdaad 'n brief is wat aan mense met groot vraagtekens in hul gemoedere geskryf is. En boonop het Paulus die moeite gedoen om 'n sin of twee nie aan 'n medewerker se pen oor te laat nie, maar in sy eie groot handskrif te skryf!
Hoe is Galasiërs saamgestel?
Binne die raamwerk van die tipiese Griekse briefaanhef (1:1-5) en briefslot (6:11-18) wat in die 1ste eeu nC algemeen deur briefskrywers gebruik was, kan ons 'n aantal hoofdele in Paulus se Galasiërsbrief onderskei.
In die eerste hoofdeel, rofweg die eerste twee hoofstukke, vertel Paulus van 'n reeks ondervindings wat hy in sy lewe gehad het. Hy gebruik hierdie inligting om aan te toon dat God sy lewe gebruik om die evangelie by mense uit te bring. Hy wil bewys dat die boodskap wat hy verkondig, van God kom, onvervals is en die suiwer evangelie van verlossing is soos wat God dit vir die mense bedoel het.
Christus.
In die derde hoofdeel, rofweg die laaste twee hoofstukke, probeer Paulus dan verduidelik hoe 'n gelowige se lewe in die praktyk moet lyk. Om Christus alleen te beskou as die Verlosser en Hom te dien, het ook praktiese implikasies vir 'n gelowige mens se lewe.
Wanneer jy hierdie Kerstyd die Kindjie van die krip, wat ook die Christus van die kruis is, in Galasiërs soek, weet: jy is Syne. Dit is nie nodig om onder druk te presteer om in 'n goeie en innige verhouding met Hom te lewe nie. Jy hoef nie jou verlossing te verdien nie. Hy het jou verlos - verniet, omdat Hy jou liefhet, en omdat Hy graag wou.

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

