Oostelike Sinode
Filippense
INLEIDING TOT FILIPPENSE
1. Wat sê die brief?
Die fokuspunt van die boek is 2:5-11 met die vernedering van Christus tot die dood aan die kruis as hoogtepunt. Die hoofboodskap is dat 'n lewe wat in innige verbondenheid met Christus geleef word, daartoe lei dat gelowiges in alle omstandighede met blydskap kan lewe. Die bekende Filippense 4:4 vat dit goed saam waar ons lees "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly".
Die uitdrukking "in Christus" of "in die Here" is 'n vaste uitdrukking wat dui op die innige verhouding wat tussen ons en Christus bestaan. Hy is die bron van ons vreugde, Hy is die kanaal waardeur God met ons werk, Hy bepaal ons gedrag en wat van Hom waar is, word ook van ons waar. Hierdie uitdrukking "in Christus" kom een en twintig keer voor; net soveel as in die hele Romeine brief! Die woord "blydskap" kom in al sy wisselvorme veertien maal voor in die vier hoofstukke. Terselfdertyd kom die verwysing na Christus in al sy wisselvorme nege en veertig maal voor, terwyl "God" vier en twintig maal en die "Gees" vyf maal voorkom. Die betekenis hiervan is duidelik: die Christelike lewe word totaal beheers deur Christus en word gekenmerk deur blydskap.
Om in Christus te leef, veronderstel dat 'n mens Christus "ken" (3:8-10). Hierdie kennis verwys nie na "breinkennis" waardeur ons allerlei dinge aangaande Christus te wete kom nie. Dit dui op "verhoudingskennis". Dit is die dinge wat ons van Christus weet omdat ons Hom, soos Paulus, êrens langs die lewenspad ontmoet het en Hy nou ons daaglikse lewe bepaal. Hy géé dus nie net die lewe aan gelowiges nie, Hy ís die lewe vir gelowiges! Daarom kan Paulus sê: "Want vir my is die lewe Christus en om te sterf 'n wins" (1:21). Dit geskied deur die geloof (3:9) waardeur alle ander dinge wat gewoonlik deur ons belangrik geag word, waardeloos word wanneer dit in Christus se teenwoordigheid ter sprake kom (3:4-9). Verder behels die ken van Christus dat hy ook die allesoorheersende bepaler van ons gedrag is. Dit verander ons gesindheid en 'n veranderde gesindheid loop uit op veranderde gedrag: "Die hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees" (1:27). So tree ons op as "ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra" (2:15,16).
Sulke mense kom ook in 'n nuwe verhouding met mekaar te staan en word saam gevoeg in die kerk (vergelyk 4:16). Hierdie mense word "heiliges" genoem. Saam vorm hulle 'n hegte eenheid wat tot uiting kom in die begrip "gemeenskap", wat verwys na mense wat dieselfde belange deel (vergelyk 1:5, 1:7, 2:1 en 4:14). Volgens 4:14 ontstaan die gemeenskap deurdat hulle gemeenskaplik deel kry aan die Gees. Verder vorm hulle deel van God se nuwe volk deurdat hulle die ware besnydenis ontvang het (3:3). Laastens is die kerk ook deel van die uitvoering van die sendingopdrag. Hulle deel in Paulus se bediening (1:5) en hy noem sommige van hulle "medewerkers" (2:25, 4:3). Die gemeente as geheel is egter ook hierby betrokke (2:16). Opsommender wys kan ons die boodskap soos volg saamvat: Deur die geloof kry mense deel aan Christus. Deur hulle innige verbondenheid met Hom, leer hulle Hom waarlik ken tot die mate dat hulle lewens deur Hom beheers word. Dit verander hulle gedrag teenoor mekaar en die wêreld sodat hulle medewerkers word in die uitdra van die evangelie. Omdat hulle almal deel het aan die Gees en sy gawes word hulle ook aan mekaar verbind om eensgesind en eendragtig te leef en werk. Waar Christus die middelpunt van die kerk is, volvoer die kerk haar taak in blydskap ten spyte van teenstand en ongunstige omstandighede.
2. Hoe en wanneer het die brief ontstaan?
Aangesien Paulus die brief uit die tronk skryf, is Rome tradisioneel aangewys as die plek vir die ontstaan van die brief (vergelyk Hand 28 en Fil 1:13,17,19-26). Latere verklaarders het egter ook die moontlikheid van Cesarea en Efese oorweeg. Alles in ag geneem, lê die oorwig steeds by Rome. Die tyd van skrywe is dan êrens tussen 60 en 63 nC.
Paulus het self die gemeente gestig (vergelyk Hand 16:11vv) en skryf die brief omdat hy bekommerd is oor die situasie wat in die gemeente ontstaan het. Daarom stuur hy vir Epafroditos met die brief terug na die gemeente toe. In die brief spreek Paulus vier sake aan. Eerstens bedank hy die gemeente vir hulle ondersteuning en verseker hulle dat sy gevangenskap nie die uitbreiding van die evangelie verhinder het nie. Verder vermaan hy ook die gemeente oor 'n gebrek aan eensgesindheid wat die getuienis van die gemeente nadelig beïnvloed. Daar is ook dwaalleraars in die gemeente wat hulle mislei en teen wie die gemeente gewaarsku word. Laastens word hulle ook opgeroep om bereid te wees om vir Christus te ly.
3. Watter soort brief is dit?
Filippense is een van die "gevangenskapsbriewe". Die ander drie is Efesiërs, Kolossense en Filemon. Van die vier is Filippense waarskynlik die laaste geskryf.
4. Hoe is dit saamgestel?
Briefaanhef, skrywers, geadresseerdes en seëngroet 1:1-2
Danksegging en voorbidding 1:3-11
Inligting oor Paulus se omstandighede 1:12-26
Verskillende vermanings oor eensgesindheid 1:27-2:18
Inligting oor twee afvaardigings 2:19-30
Verskillende vermanings oor dwaalleraars en regte optrede 3:1-4:9
Paulus oor sy lewensonderhoud 4:10-20
Briefslot, groete en seën 4:21-23
Freddie Schoeman

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

