Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Filemon

Die boodskap van die brief

 

"Heropbou en ontwikkeling" het sedert 1994 huishoudelike terme in Suid-Afrika geword.  Ons lig nie eers meer 'n wenkbrou as ons hierdie woorde hoor nie;  soms weet ons dalk nie eers presies wat daarmee bedoel word nie.  Paulus se kort brief aan Filemon – die kortste brief in die Nuwe Testament wat aan Paulus toegeskryf word – gaan nie oor "heropbou en ontwikkeling" in dieselfde sin van die woord as in Suid-Afrika nie.   Maar dat hierdie 25 verse van 'n totale afbreek van 'n "ou" orde en die opbou van 'n "nuwe" orde praat, kan nie betwyfel word nie.

 

In hierdie brief gebruik Paulus sy gesag en statuur om op 'n uiters smaakvolle manier aan Filemon  -  en elke moderne leser van hierdie brief  -  te toon hoe 'n mens deur die verlossing in Christus verander en nuut kan word sodat niks ooit weer dieselfde sal wees nie.  Dit sluit ook jou verhouding met ander mense in.

 

Dit is 'n bekende feit dat slawerny in die 1ste eeu nC algemeen voorgekom het.  Daar was selfs Christene wat òf slawe òf slaafeienaars was -  hoe ondenkbaar dit ook al vir ons mag klink!  Paulus spreek hom nêrens in sy briewe eksplisiet teen die praktyk van slawerny uit nie – trouens, hierdie saak word nêrens in die Nuwe Testament direk veroordeel nie.  Maar tussen die lyne spreek Paulus hom in sy brief aan die welaf Griekse grondeienaar Filemon wel teen slawerny uit.  Filemon was 'n geestelike leier in Kolosse en eienaar van die slaaf Onesimus.  Onesimus het Filemon skade aangedoen deur weg te loop.  Nou vra Paulus dat Filemon hom  as broer in Christus in sy huis moet terug ontvang.  Onesimus was nie sommer net 'n wegloopslaaf nie  -  hy was nou 'n bekeerde wegloopslaaf.  Filemon is  Paulus se vriend.  Paulus gebruik sy goeie verhouding met Filemon en die respek wat Filemon vir hom gehad het om druk op hom te plaas om te erken dat daar vanweë Onesimus se bekering nou 'n nuwe verhouding tussen eienaar en slaaf, beskikker en ondergeskikte, tot stand gekom het.  Filemon bly nog Onesimus se eienaar en Onesimus sy "besitting", maar hulle het nou 'n nuwe gedeelde belang:  hulle is nou albei dienaars van Jesus Christus, en daarom ook mekaar se broers.  Hierdie besondere gemeenskaplikheid behoort die sosiale standverskille wat nog tussen hulle bestaan, te oorbrug.

 

Hooftemas van die brief

 

v      Vergifnis.  Hoewel hy alle rede daartoe het, vra Paulus dat Filemon nie vir Onesimus moet straf nie, maar soos 'n broer in sy huis moet ontvang.  As hy dit regkry, sou dit 'n belangrike getuienis wees van hoe liefde en aanvaarding die verhoudings tussen gelowige mense nuut kan laat word, ongeag die sonde wat daardie selfde verhoudings vroeër in ander rigtings gestuur het.

 

v      Die oorsteek van grense.  Die oorsteek van die grens tussen slaaf en vrymens was in die 1ste eeu nC byna onmoontlik. In Filemon se geval sou dit simbolies wees van die oorsteek van grense wat gelowige mense van mekaar skei  -  en geen 21ste eeuse gelowige mag sy roeping in hierdie verband ontken nie.

v      Respek.  Paulus respekteer Filemon as vriend, mens en medegelowige.  Daar is nie sprake dat hy 'n verpligting op Filemon se skouers plaas nie.  Hy versoek hom egter in liefde dringend om sy geloof in Jesus Christus in sy verhouding met Onesimus prakties en sigbaar te laat word. Net so behoort alle Christene mekaar as mense en medegelowiges te respekteer en ruimte vir mekaar te maak eerder as om toe te laat dat jou eie vooroordele jou van hulle verwyder.

 

Hoekom is die brief geskryf?

 

Paulus was in die tronk toe hy hierdie brief geskryf het (Filem 1).  Hy sou die brief dus òf uit Sesarea teen ongeveer 56-58 nC (Hand 23:23-26:32),  òf uit Rome teen ongeveer  60 nC (Hand 28:30-31) kon geskryf het.  Die presiese tyd maak egter nie saak nie.  Want 'n wegloopslaaf se pad kruis Paulus s'n, en hy word deur Paulus se bemiddeling 'n Christen (Filem 10).  Paulus oorreed hom dan om nie langer van sy verantwoordelikhede af weg te hardloop nie, maar die foute van die verlede te probeer regmaak deur na sy wettige eienaar terug te gaan.  Om Onesimus te help, gee Paulus vir hom 'n getuigskrif  -  hierdie brief  - saam om hom nuut by sy eienaar aan te beveel. Sy pleidooi aan Filemon is om nie toe te laat dat mensgemaakte grense hom verhinder om sy geloof in Christus in sy verhouding met sy slaaf sigbaar te laat word nie.

 

Hoe is die brief saamgestel?

 

Dat ons hier met 'n egte brief te doen het wat in die bekende Griekse briefstyl van die 1ste eeu nC gegiet is, kan nie betwyfel word nie.  Al die klassieke elemente is daar:  die briefaanhef wat die naam van die skrywer, die ontvanger en 'n groetewoord bevat;  die hoofdeel van die brief word op die normale manier tussen hierdie aanhef en 'n slotwoord ingebed.

 

Die opbou van die Filemonbrief is soos 'n kleiner weergawe van enige van Paulus se ander briewe in die Nuwe Testament.  Paulus begin hierdie brief soos al die ander met 'n briefaanhef (1-3).  Dan volg sy dankwoorde teenoor God vir Filemon se nougesette lewe deur en uit sy geloof (4-7).  Hierna volg die hoofdeel van sy brief, sy pleidooi dat Filemon sy wegloopslaaf Onesimus moet terugontvang en soos 'n broer in sy huis moet inneem (8-22). Paulus beredeneer sy punt uiters strategies!  Eers sê hy dat hy genoeg gesag het om Filemon sommer net te beveel, maar dat hy hom eerder in liefde wil vra om Onesimus terug te ontvang (8-9).  Sy versoek beskryf hy eers in die algemeen (10-14), dan gooi hy sy pleidooi oor die boeg van Onesimus se nuutgevonde Christenskap (15-16), en uiteindelik sê hy sommer reguit wat hy eintlik wil hê (17-22).  Dan sluit hy sy brief af met groete en seënwense (23-25).

 

Wanneer jy hierdie kort en baie persoonlike brief van Paulus aan sy vriend Filemon lees, doen gerus ook 'n bietjie selfondersoek en bepaal hoe die vergifnis en afbreek van grense ten opsigte van en respek vir ander mense in jou lewe lyk.