Oostelike Sinode
7. Reglemente
Familiereëls » 7. Reglemente
REGLEMENTE
REGLEMENT VAN ORDE
Hierdie ordereëls geld vir alle kerklike vergaderinge:
1. ALGEMENE REËLS
1.1 Alle vergaderinge word met oop deure gehou, tensy die vergadering anders besluit.
1.2 Lede/afgevaardigdes kom bymekaar op die datum, tyd en plek soos vooraf bepaal en waarvan op die voorgeskrewe wyse kennis gegee is.
1.3 Die bywoning van vergaderinge is verpligtend. As ’n lid/afgevaardigde nie teenwoordig kan wees nie, moet hy/sy betyds, met opgawe van rede(s) daarvan kennis gee.
1.4 Dit is by rings- en sinodale vergaderinge toelaatbaar vir primarius- en sekunduslede om te verwissel met kennis aan die vergadering.
1.5 Vir die duur van die behandeling van tugsake, is vergaderinge geslote en is aanvulling of verwisseling van lede van die vergadering nie toelaatbaar nie.
1.6 ’n Presensielys moet vir elke kerklike vergadering gehou word.
2. VOORSITTERSKAP EN SKRIBAAT
2.1 Kerkraad
2.1.1 Die voorsitter word ingevolge Artikel 28.2 verkies.
2.1.2 ’n Ondervoorsitter kan deur ’n kerkraad verkies word.
2.1.3 By afwesigheid van die voorsitter kan die ondervoorsitter, ’n ouderling of die konsulent as voorsitter optree.
2.2 Ring
2.2.1 Die voorsitter, ondervoorsitter en skriba word ingevolge Bepaling 27.3 verkies.
2.3 Sinode
2.3.1 Die Sinode verkies tydens die sinodesitting ’n voorsitter en ondervoorsitter ingevolge die Reglement vir die Sinode.
2.3.2 Die uitvoerende amptenaar tree as skriba van die Sinode op.
3. KONSTITUERING EN OPENING
3.1 Indien die vereiste kworum teenwoordig is, konstitueer die vergadering onder leiding van die voorsitter met die personeel soos aangeteken op die presensielys.
3.1.1 By die ring/sinode stel die skriba ’n presensielys uit die geloofsbriewe wat ontvang is, saam en lê dit aan die vergadering voor. Persone wie se name nie op die presensielys verskyn nie, mag nie deelneem aan die vergadering voordat hulle geloofsbriewe by die skriba van die sinode/ring ingedien en hulle teenwoordigheid aangeteken is nie.
3.1.2 ’n Kerkraad konstitueer met meer as die helfte van die lede van die kerkraad.
3.1.3 ’n Meerdere vergadering konstitueer wanneer ten minste twee derdes van die afgevaardigdes teenwoordig is.
3.2 Die voorsitter of ’n persoon deur die voorsitter daartoe versoek, open die vergadering.
4. KWORUM
4.1 Vir die duur van die vergadering vorm meer as die helfte van die lede ’n kworum.
4.2 Lede mag die vergadering nie sonder verlof verlaat nie.
5. BEHANDELING VAN SAKE
5.1 Na die opening van die vergadering word die agenda vasgestel.
5.2 Die voorsitter stel die sake aan die orde.
5.3 Terwyl ’n saak aan die orde is, word ’n saak bespreek, dien voorstelle en amendemente voor die vergadering en word daaroor gestem.
5.4 Spreekbeurte
5.4.1 Geen lid mag meer as een keer oor dieselfde saak praat nie, tensy die vergadering anders besluit. Die voorsteller het reg van repliek.
5.4.2 In die bespreking wend elke lid hom/haar tot die voorsitter en onthou hom/haar van alles wat in stryd met die waardigheid van ’n kerklike vergadering is. ’n Persoon wat onordelik optree, word tot orde geroep. Indien hy/sy nie gehoor gee nie, kan hy/sy met die toestemming van die vergadering gevra word om die vergadering te verlaat.
5.5 Voorstelle en amendemente
5.5.1 Oor ’n saak wat aan die orde is, kan net een voorstel voor die vergadering dien. ’n Amendement of amendemente op die voorstel moet skriftelik en gesekondeer ingedien word.
5.5.2 Amendemente het te doen met die wysiging van, ’n byvoeging tot, of ’n weglating uit die voorstel.
5.5.3 Voorstelle en amendemente kan met verlof van die vergadering teruggetrek word. As ’n voorstel of amendement teruggetrek word, tree die daaropvolgende in die plek daarvan.
5.5.4 ’n Ordevoorstel het betrekking op die volgorde waarin sake ter tafel moet kom, of dat die bespreking van ’n bepaalde saak opgeskort of beëindig word, of dat van ’n bepaalde saak afgestap word. ’n Ordevoorstel kan op enige tydstip gedurende die voortgang van die bespreking ingedien word. Daaroor word dadelik sonder bespreking gestem. Dit word aan die oordeel van die voorsitter oorgelaat om die voorstel terug te hou as hy/sy van mening is dat dit aangewend word om ’n behoorlike bespreking van die onderwerp te voorkom.
5.5.5 Voorstelle en amendemente word genotuleer saam met die vergadering se besluit daaroor.
5.6 Stemming
5.6.1 Oor elke saak moet afsonderlik gestem word. Die amendemente word eers tot stemming gebring en wel so dat oor die wat laaste ingedien is, eerste gestem word. Amendemente wat aanvaar word, wysig die voorstel. Daarna word vir en teen die oorspronklike (as al die amendemente verwerp is) of die geamendeerde voorstel gestem.
5.6.2 Oor alle sake word met volstrekte meerderheid van stemme besluit. Indien die stemming op die verkiesing van persone betrekking het, geskied dit, tensy anders bepaal (kyk byvoorbeeld verkiesing van kerkraadslede in nuutgestigte gemeentes), op ’n geslote stemwyse.
5.6.3 Geen lid mag sonder verlof van die vergadering buite stemming bly nie. Indien verlof toegestaan is, word die volstrekte meerderheid van stemme deur die oorblywende stemme bepaal.
5.6.4 By die staking van stemme beslis die lot.
5.6.5 Persone wat die vergadering adviserend bywoon (byvoorbeeld die konsulent), mag nie stem nie.
5.6.6 Dit staan enige lid vry om te laat aanteken dat hy/sy teen ’n bepaalde voorstel of amendement gestem het.
5.7 Hersiening van besluite
5.7.1 Besluite van vergaderinge kan hersien word, indien oortuigend aangevoer word dat
5.7.1.1 in die bespreking van die saak waarom dit gaan, aan sekere aspekte daarvan glad nie of nie voldoende aandag gegee is nie, of
5.7.1.2 indien daar inligting na vore gekom het wat hersiening van die besluit noodsaaklik maak.
5.7.2 Besluite van ’n vergadering kan teen die einde van die vergadering waarop dit geneem is in hersiening geneem word. In die geval van die Sinode word elke versoek tot hersiening van ’n besluit na die tydelike Regsdiensgroep verwys.
5.7.3 Besluite van ’n vorige vergadering kan by enige daaropvolgende vergadering hersien word, indien al die lede van die vergadering/afgevaardigdes vooraf daarvan skriftelik in die agenda kennis ontvang het.
6. NOTULE
6.1 Die notule van ’n kerkraadsvergadering word tydens die volgende gewone vergadering goedgekeur en deur die voorsitter en skriba onderteken. Notules wat vooraf beskikbaar gestel word, mag nie inligting aangaande tugsake bevat nie.
6.2 Die notule van ’n meerdere vergadering word tydens die volgende sittingsdag goedgekeur en deur die voorsitter en skriba onderteken. Die laaste sittingsdag se notule word na die ringsdiensraad/sinodale diensraad verwys vir goedkeuring en ondertekening.
6.3 Verbeterings aan ’n kerkraadsnotule wat besluite raak, word genotuleer.
6.4 Verbeterings aan die notule van ’n meerdere vergadering word, voor ondertekening, in die oorspronklike reggestel.
7. AFSLUITING
Elke vergadering word met gebed afgesluit.
REGLEMENT VIR DIE SINODALE DIENSRAAD
1. Samestelling
1.1 Die voorsitter en ondervoorsitter van die Sinodale Diensraad dien as voorsitter en ondervoorsitter van die daaropvolgende Sinode.
1.2 Die Sinode verkies ’n diensleier vir elk van die drie bedieninge (Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis) en ’n leier vir Ondersteuningsdiens met sekundi.
1.3 Die Sinode verkies nog vyf sinodale leiers vir die Sinodale Diensraad met sekundi. Twee van die sewe sinodale leiers (asook twee sekundi) moet ouderlinge/diakens wees wat nie predikants- of proponentsbevoegdheid het nie.
1.4 Die lede van die Sinodale Diensraad word verkies vir ’n termyn van vier jaar en is nie in dieselfde hoedanigheid herkiesbaar nie. Die dagbestuur bestaan uit die voorsitter, ondervoorsitter en twee lede wat deur die Sinodale Diensraad uit eie geledere verkies is. Die skribaat word deur die uitvoerende amptenaar van die Sinode hanteer.
2. Nominasies
2.1 Die diversiteit van die Sinode word in aanmerking geneem. Minstens twee lede (asook twee sekundi) van die Sinodale Diensraad moet nie-gelegitimeerdes wees en geslag (veral vroue) en ouderdom (veral jeug) moet by nominasie en verkiesing oorweeg word.
2.2 Die drie bedieninge (Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis) en Ondersteuningsdiens lê elk nominasies aan die Sinode voor vir die verkiesing van die drie diensleiers van die bedieninge en die leier van Ondersteuningsdiens (hierna ook diensleier genoem) met sekundi.
2.3 Nominasies vir die sinodale leiers en die diensleiers word tydens die sinodesitting saam ontvang, maar die verkiesing van voorsitter en ondervoorsitter van die Sinodale Diensraad vind eerste plaas, daarna dié van die diensleiers, en dan dié van die ander vyf sinodale leiers.
2.4 Nominasies geskied op ’n goedgekeurde nominasievorm waarop die volgende verskyn: Die genomineerde se naam en van, sy/haar gemeente, sy/haar huidige sinodale betrokkenheid, die bydrae wat hy/sy op sinodale gebied kan lewer, die hoedanigheid/-hede waarvoor hy/sy genomineer word, die voorsteller (naam en handtekening van die afgevaardigde), die sekondante (naam en handtekening van twee afgevaardigdes) en die handtekening van die genomineerde dat hy/sy die nominasie aanvaar. Die nominasie is eers geldig as die persoon wat genomineer is die nominasievorm onderteken het en hom-/haarself beskikbaar gestel het.
2.5 Nominasies vir sinodale leiers word op ’n gegewe tydstip tydens die vergadering gevra en deur die voorsteller en sekondante voltooi en ingehandig. Die nominasievorm word daarna aan die genomineerde voorsien, wat geleentheid kry om dit biddend te oorweeg, met die afgevaardigdes van sy/haar gemeente te bespreek, bykomende inligting oor sinodale betrokkenheid/bydrae wat hy/sy kan lewer te voorsien en dit te onderteken. Die name van al die genomineerdes en die hoedanigheid/-hede waarvoor hulle benoem is, word dan tot beskikking van die hele vergadering gestel. Geleentheid word gegee vir enige bykomende nominasies, waarna die nominasielyste sluit.
2.6 Nominasies vir diensleiers (en die ander lede van die diensspan, naamlik onderdiensleier, skriba en twee addisionele lede) word tydens ’n vergadering van almal wat in die bediening belangstel en wat tydens die Sinodesitting plaasvind, ontvang en verder soos hierbo hanteer. Die bedieninge en Ondersteuningsdiens wys uit die genomineerdes vir diensleier en onderdiensleier twee of meer persone aan wie se name as genomineerdes vir primarius- en/of sekundusdiensleier aan die Sinode voorgelê word. Die Sinode kan vra dat enige ander persoon, wie deur ’n belangstellende in die betrokke bediening in die voorafgaande proses genomineer is, se naam bygevoeg word alvorens die verkiesing deur die Sinode plaasvind. Die aanwysing van die ander lede van die diensspan word slegs deur die Sinode op voorlegging van die bediening/Ondersteuningsdiens bekragtig.
3. Verkiesing
3.1 Stembriewe word voorberei waarop die hoedanigheid waarvoor die persoon genomineer is (bv. sinodale leier: voorsitter) en die name van al die genomineerdes in alfabetiese volgorde verskyn met hul gemeente se naam, amp, ouderdom en geslag in hakies.
3.2 Elke stemming geskied deur die lede wat aanwesig is. Sinodale en diensleiers asook sekundi, moet met ’n volstrekte meerderheid van stemme van die aanwesige lede verkies word. Verkiesing van persone geskied op ’n geslote stemwyse. Uit die name in die nominasielys stem elke stemgeregtigde vir soveel name as die getal persone wat in ’n bepaalde hoedanigheid verkies moet word. Indien vir ’n bepaalde hoedanigheid nie ’n volstrekte meerderheid van stemme op ’n persoon verenig is nie, vind ’n verdere stemming plaas uit die name wat die hoogste getal stemme gekry het en saam ’n volstrekte meerderheid vorm. Indien die stemme staak, vind ’n volgende stemming tussen dieselfde persone plaas, waarna die lot beslis.
3.3 Indien ’n persoon as voorsitter of ondervoorsitter van die Sinodale Diensraad verkies word, verval sy/haar nominasie as diensleier. Indien ’n persoon as diensleier verkies word, kan hy/sy nie ook as een van die ander vyf sinodale leiers verkies word nie. ’n Persoon wat as sekundus vir ’n diensleier verkies word, kan wel as sinodale leier verkies word, waarna die Sinode ’n ander sekundus, na voorlegging van nominasie(s) deur die bediening, vir die diensleier verkies.
4. Vakatures
Na afloop van die sinodesitting word vakatures in die Sinodale Diensraad uit die sekundi aangevul. Waar die lys van sekundi uitgeput is, word dit aangevul deur die Sinodale Diensraad.
REGLEMENT VIR DIE REËLING VAN EIENDOMME, GOEDERE EN FONDSE
(Slegs tersaaklike gedeeltes van die reglement word opgeneem. Die volledige reglement is in die Kerkorde, Algemene Sinode 2007 beskikbaar.)
3. RINGSEIENDOMME, GOEDERE EN FONDSE
3.1 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in ringsverband is ’n regspersoon en die ringsvergadering of sy gemagtigde(s) is sy orgaan.
3.2 Die Nederduitse Gereformeerde Ring van ............ is dus die eienaar van alle roerende en onroerende bates wat deur die Ring beheer en verkry word en vaste eiendom word in die naam van Die Nederduitse Gereformeerde Ring van ............ geregistreer.
3.3 Eiendomme, goedere en fondse word geadministreer deur ’n kommissie deur die ring benoem met verslag aan die ringsvergadering.
3.4 Onderhewig daaraan dat die inkomste en eiendom van die Ring, met inbegrip van eiendom of inkomste wat deur enige kommissie bestuur word, nie aan enige persoon uitgekeer mag word nie maar uitsluitlik aangewend mag word vir die beoefening van die aktiwiteite van die Ring en die bevordering van die oogmerke waarvoor dit ingestel is en om tussentydse belegging te maak, (met dien verstande dat niks wat hierin bepaal is, die betaling ter goeder trou belet van redelike besoldiging (syne vergoeding wat nie oormatig is, inaggenome wat algemeen as redelik geag word in die sektor en met betrekking tot die diens gelewer) aan enige werknemer of beampte van die Ring vir dienste wat sodanige persoon werklik aan die Ring gelewer het nie) is die kommissie soos in 3.3 aangedui, bevoeg om in opdrag van die ring enige regshandeling wat verband hou met die beskikking, verkryging, vervreemding, beswaring of versekering van die betrokke bates te verrig met insluiting van die volgende:
3.4.1 Om eiendomme, roerend en/of onroerend, te verkry deur skenking, erflating, aankoop, huur of op enige ander wyse; Met dien verstande dat die Ring, met inbegrip van enige Kommissie deur die Ring ingestel, nie ’n skenking wat herroeplik op aandrang van die skenker is, vir ander redes as die wesenlike versuim om aan die aangewese oogmerke en voorwaardes van bedoelde skenking te voldoen (met inbegrip van enige wanvoorstelling met betrekking tot die belastingaftrekbaarheid daarvan ingevolge Artikel 18A van die Inkomstebelastingwet) sal aanvaar nie; Met dien verstande verder dat ’n skenker nie enige voorwaarde mag oplê wat bedoelde skenker of enige verbonde persoon met betrekking tot bedoelde skenker in staat kan stel om enige direkte of indirekte voordeel uit die aanwending van die skenking te verkry nie.
3.4.2 Om eiendomme, roerend en/of onroerend, te verkoop, te verruil, te verhuur, te skenk of op enige ander wyse te vervreem, te verbind, in pand, as sekuriteit of as borg te gee, of op enige ander wyse te beswaar met dien verstande dat:
3.4.2.1 skenkings slegs gemaak mag word ter bevordering van die doelstellings van die ring of aan teologiese studente, leraars, werknemers en amptenare van die NG Kerk asook aan godsdienstige, liefdadigheids- en/of opvoedkundige inrigtings wat ingevolge die bepalings van die Inkomstebelastingwet van belasting vrygestel is;
3.4.2.2 slegs borg gestel of sekuriteit gegee mag word vir die verpligtinge van die ring, teologiese studente, leraars, werknemers en amptenare van die NG Kerk asook aan godsdienstige, liefdadigheids- en/of opvoedkundige inrigtings wat ingevolge die bepalings van die Inkomstebelastingwet van belasting vrygestel is.
3.4.3 Om gelde onder sy beheer te belê en om sodanige beleggings te gelde te maak, op te vra, te kanselleer, te sedeer, te verander of andersins daarmee te handel met dien verstande dat beleggings slegs gemaak mag word:
3.4.3.1 by geregistreerde finansiële instellings, soos omskryf in Artikel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Belegging van Fondse), 1984 (Wet no. 39 van 1984);
3.4.3.2 in aandele genoteer op ’n aandelebeurs soos omskryf in Artikel 1 van die Wet op Beheer van Aandelebeurse, 1985 (Wet no. 1 van 1985) omskryf; en/of
3.4.3.3 in die ander versigtige beleggings in finansiële instrumente en bates wat die Kommissaris: Suid-Afrikaanse Inkomstediens bepaal, na oorlegpleging met die Uitvoerende Beampte van die Raad op Finansiële Dienste en die Direkteur van Organisasies Sonder Winsoogmerk;
met dien verstande dat die ring of ’n ringskommissie nieteenstaande bostaande beperkings:
(A) ’n belegging (uitgesluit ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit) wat dit as ’n skenking, bemaking of erflating verkry, mag behou in die vorm waarin dit verkry is;
(B) ’n belegging in die vorm van ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit (of enige bate in so ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit) wat dit as ’n skenking, bemaking of erflating voor 1 Januarie 2001 verkry het, mag behou of voortsit in die vorm waarin dit verkry is vir ’n tydperk van 5 jaar na 1 Januarie 2001.
3.4.4 Om gelde uit te leen op eerste verband oor vaste eiendom of ander sekuriteit wat hy mag goeddink aan teologiese studente, leraars, werknemers en amptenare van die NG Kerk asook aan godsdienstige, liefdadigheids- en/of opvoedkundige inrigtings wat ingevolge die bepalings van die Inkomstebelastingwet van belasting vrygestel is.
3.5 In alle regsgedinge of dispute oor eiendomme, goedere en fondse tree die kommissie soos in 3.3 aangedui sonder meer bepaalde lasgewing sowel eisend as verwerend ten behoewe van die ring op, met goedkeuring van die ring/ringskommissie. Die ring word egter ten sterkste aanbeveel om in sodanige situasies die advies van die sinodale regskommissie te verkry.
3.6 Die ring sal nie ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteite bedryf nie, behalwe in die mate wat:
3.6.1 die bruto inkomste uit bedoelde besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit verkry, nie die grootste van:
(A) 15 persent van die bruto ontvangste van die ring; of
(B) R25 000;
of sodanige hoër bedrag of persentasie as wat die Inkomstebelastingwet van tyd tot tyd mag toelaat, te bowe gaan nie;
3.6.2 die onderneming of aktiwiteit:
(A) integraal en direk verwant is tot die oogmerk van die ring; en
(B) beoefen of uitgevoer word op ’n grondslag waarvan wesenlik die geheel gerig is op die verhaling van koste en wat nie onregverdige mededinging met betrekking tot belasbare entiteite tot gevolg sal hê nie;
3.6.3 die onderneming of aktiwiteit, indien nie integraal en direk verwant aan die oogmerk van die ring nie, van ’n toevallige aard is en wesenlik onderneem word met vrywillige bystand sonder vergoeding; of
3.6.4 die onderneming of aktiwiteit deur die Minister van Finansies by kennisgewing in die Staatskoerant goedgekeur is.
3.7 by die ontbinding van die Ring, en die inlywing van die Ring by ’n ander NG ring of ringe na goedkeuring deur die Sinode, word die bates wat oorbly, na voldoening van al die Ring se verpligtinge gegee of oorgemaak aan die ander ring(e) wat ingevolge artikel 30 van die Inkomstebelastingwet goedgekeur is as ’n openbare weldaadsorganisasie(s). Sien ook klousule 13 van hierdie dokument.
4. GEMEENTELIKE EIENDOMME, GOEDERE EN FONDSE
4.1 Elke gemeente is ’n regspersoon en die kerkraad of sy gemagtigde(s) is sy orgaan
4.2 Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente ............ is dus die eienaar van alle roerende en onroerende bates wat deur die kerkraad beheer en verkry word en vaste eiendom word in die naam van Die Nederduitse Gereformeerde Gemeente ............ geregistreer.
4.3 Eiendomme, goedere en fondse word geadministreer deur die kerkraad met jaarlikse verslag aan die gemeente en ring.
4.4 Onderhewig daaraan dat die inkomste en eiendom van die gemeente nie aan enige persoon uitgekeer mag word nie maar uitsluitlik aangewend mag word vir die beoefening van die aktiwiteite van die gemeente en die bevordering van die oogmerke waarvoor dit ingestel is en om tussentydse belegging te maak, (met dien verstande dat niks wat hierin bepaal is, die betaling ter goeder trou belet van redelike besoldiging (synde vergoeding wat nie oormatig is, inaggenome wat algemeen as redelik geag word in die sektor en met betrekking tot die diens gelewer) aan enige werknemer, lidmaat of beampte van die gemeente vir dienste wat sodanige persoon werklik aan die gemeente gelewer het nie) is die kerkraad bevoeg om enige regshandeling wat verband hou met die beskikking, verkryging, vervreemding, beswaring of versekering van die betrokke bates te verrig met insluiting van die volgende:
4.4.1 Om eiendomme, roerend en/of onroerend te verkry deur skenking, erflating, aankoop, huur of op enige ander wyse; met dien verstande dat die kerkraad nie ’n skenking wat herroeplik op aandrang van die skenker is, vir ander redes as die wesenlike versuim om aan die aangewese oogmerke en voorwaardes van bedoelde skenking te voldoen (met inbegrip van enige wanvoorstelling met betrekking tot die belastingaftrekbaarheid daarvan ingevolge artikel 18A van die Inkomstebelastingwet) sal aanvaar nie: met dien verstande verder dat ’n skenker nie enige voorwaarde mag oplê wat bedoelde skenker of enige verbonde persoon met betrekking tot bedoelde skenker in staat kan stel om enige direkte of indirekte voordeel uit die aanwending van die skenking te verkry nie.
4.4.2 Om eiendomme, roerend en/of onroerend, te verkoop, te verruil, te verhuur, te skenk of op enige ander wyse te vervreem, te verbind, in pand, as sekuriteit of as borg te gee, of op enige ander wyse te beswaar met dien verstande dat:
4.4.2.1 skenkings slegs gemaak mag word ter bevordering van die doelstellings van die gemeente of aan teologiese studente, leraars, werknemers en amptenare van die NG Kerk asook aan godsdienstige, liefdadigheids- en/of opvoedkundige inrigtings wat ingevolge die bepalings van die Inkomstebelastingwet van belasting vrygestel is;
4.4.2.2 slegs borg gestel of sekuriteit gegee mag word vir die verpligtinge van die gemeente, teologiese studente, leraars, werknemers en amptenare van die NG Kerk asook aan godsdienstige, liefdadigheids- en/of opvoedkundige inrigtings wat ingevolge die bepalings van die Inkomstebelastingwet van belasting vrygestel is.
4.4.3 Om gelde onder sy beheer te belê en om sodanige beleggings te gelde te maak, op te vra, te kanselleer, te sedeer, te verander of andersins daarmee te handel met dien verstande dat beleggings slegs gemaak mag word:
4.4.3.1 by geregistreerde finansiële instellings, soos omskryf in Artikel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Belegging van Fondse), 1984 (Wet no. 39 van 1984);
4.4.3.2 in aandele genoteer op ’n aandelebeurs soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Beheer van Aandelebeurse, 1985 (Wet no. 1 van 1985) omskryf; en/of
4.4.3.3 in die ander versigtige beleggings in finansiële instrumente en bates wat die Kommissaris: Suid-Afrikaanse Inkomstediens bepaal, na oorlegpleging met die Uitvoerende Beampte van die Raad op Finansiële Dienste en die Direkteur van Organisasies Sonder Winsoogmerk; met dien verstande dat die kerkraad nieteenstaande bostaande beperkings:
(A) ’n belegging (uitgesluit ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit) wat dit as ’n skenking, bemaking of erflating verkry, mag behou in die vorm waarin dit verkry is;
(B) ’n belegging in die vorm van ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit (of enige bate in so ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit) wat dit as ’n skenking, bemaking of erflating voor 1 Januarie 2001 verkry het, mag behou of voortsit in die vorm waarin dit verkry is vir ’n tydperk van 5 jaar na 1 Januarie 2001.
4.4.4 Om gelde uit te leen op eerste verband oor vaste eiendom of ander sekuriteit wat hy mag goeddink aan teologiese studente, leraars, werknemers en amptenare van die N G Kerk asook aan godsdienstige, liefdadigheids- en/of opvoedkundige inrigtings wat ingevolge die bepalings van die Inkomstebelastingwet van belasting vrygestel is.
4.5 In alle regsgedinge of dispute oor eiendomme, goedere en fondse tree die kerkraad sonder meer bepaalde lasgewing sowel eisend as verwerend en ten behoewe van die gemeente op. Die kerkraad word egter ten sterkste aanbeveel om in sodanige situasie die advies van die sinodale regskommissie te verkry.
(Bostaande is besluit met dien verstande dat punte 2, 3 en 4 as leidrade vir sinodes dien.)
4.6 Die gemeente sal nie ’n besigheidsonderneming of handelsaktiwiteite bedryf nie, behalwe in die mate wat:
4.6.1 die bruto inkomste uit bedoelde besigheidsonderneming of handelsaktiwiteit verkry, nie die grootste van:
(A) 15 persent van die bruto ontvangste van die gemeente; of
(B) R25 000;
of sodanige hoër bedrag of persentasie as wat die Inkomstebelastingwet van tyd tot tyd mag toelaat, te bowe gaan nie;
4.6.2 die onderneming of aktiwiteit:
(A) integraal en direk verwant is tot die oogmerk van die gemeente; en
(B) beoefen of uitgevoer word op ’n grondslag waarvan wesenlik die geheel gerig is op die verhaling van koste en wat nie onregverdige mededinging met betrekking tot belasbare entiteite tot gevolg sal hê nie;
4.6.3 die onderneming of aktiwiteit, indien nie integraal en direk verwant aan die oogmerk van die gemeente nie, van ’n toevallige aard is en wesenlik onderneem word met vrywillige bystand sonder vergoeding; of
4.6.4 die onderneming of aktiwiteit deur die Minister van Finansies by kennisgewing in die Staatskoerant goedgekeur is.
4.7 In geval van ontbinding van ’n gemeente sonder dat die gemeente by ’n ander gemeente van die NG Kerk ingelyf word, word die bates van die gemeente wat oorbly na voldoening aan al sy verpligtinge, gegee of oorgemaak aan ’n ander gemeente of inrigting, met doelstellings soortgelyk aan die van die gemeente en wat ingevolge artikel 30 van die Inkomstebelastingwet no. 58 van 1962, soos gewysig, goedgekeur is as ’n openbare weldaadsorganisasie, wat ingevolge die prosedure voorgeskryf in die betrokke Kerkorde, Bepalings en Reglemente wat op die gemeente van toepassing is deur die Kerkraad en/of Ring aangewys is. Sien ook Basisdokument vir gemeentes klousule 8.7 en 13.
5. RIGLYNE VIR FINANSIËLE BESTUUR SOOS GOEDGEKEUR DEUR DIE ALGEMENE SINODE 2002
5.1 Riglyne vir bestuur van kerklike fondse
Riglyne en voorskrifte vir die bestuur van kerklike fondse word weergegee in die Kerkorde Artikels 43.2.1, Artikel 57 en Reglement 7 en 9.
5.2 Riglyne vir bedryfsinstansies van en in belang van die kerk.
Die volgende riglyne word goedgekeur vir die bestuur van bedryfsinstansies wat aan diensgroep, taakspan of kommissies van die Algemene Sinode verslag doen:
5.2.1 Alle werksaamhede diensgroepe, taakspanne en kommissies wat opgeneem is in die begroting van die Algemene Sinode se fondse word deur die betrokke kommissie onder leiding en toesig van die ATF bedryf en bestuur.
5.2.2 Diensgroepe, taakspanne of kommissies wat oor die vermoë beskik om selfstandig fondse te genereer, hetsy deur handelsaktiwiteite en/of beleggingsinkomste en selfonderhoudend is (geen fondse vanaf die Algemene Sinode bekom nie) en voldoen aan die reglemente van die Algemene Sinode ten opsigte van eiendomme en finansies, administreer en bestuur hulle eie fondse en doen jaarliks verslag aan die ATF met die nodige stawende dokumente soos finansële state, begrotings, toekenningsbeleid, ens. Hierdie kommissies doen selfstandig verslag aan die Algemene Sinode.
5.3 Bestaande ooreenkomste of reglemente (Aktes van oprigting en statute) ten opsigte van Artikel 21-maatskappy en ander tipe regsentiteite, word gehonoreer. Bogenoemde instansies wat ’n noue verbintenis met die NG Kerk het en aan die kerk dienste lewer, behoort ook jaarliks verslag te lewer aan die Moderamen en ATF met die voorsiening van die nodige finansiële inligting.
5.4 Indien ’n kerklike kommissie of instansie ’n Artikel 21-maatskappy of ander regsentiteit wil vorm moet dit in noue samewerking en met die goedkeuring van die Moderamen geskied.
5.5 Enige oordrag van fondse of beleggings van een kerklike kommissie of werksaamheid, aan ’n ander kommissie, instansie of sinode, behoort met die nodige samewerking en konsultasie van die ATF te geskied.
5.6 Die gebruik van die naam van die kerk deur Artikel 21-maatskappy en ander instansies, behoort nie sondermeer toegelaat te word nie vanweë die latente risiko’s wat dit vir die Kerk skep. (vgl. besluit Algemene Sinode 1990 Handelinge bl. 638 pt 8).
5.7 Ten opsigte van korporatiewe bestuur verwag die Algemene Sinode dat kerklike instansies aan die hoogste standaarde en norme sal voldoen (bv die Riglyne van die King-Kommissie 2002).
REGLEMENT VIR DIE VERLOF VAN PREDIKANTE EN SINODALE AMPTENARE
(Sinodale amptenare hierna predikante genoem)
1. JAARLIKSE VERLOF
1.1 Kerkrade/kommissies reël en notuleer verlof waarop die predikant soos ooreengekom jaarliks geregtig is, met inagneming van die besondere omstandighede van die gemeente en advies wat van tyd tot tyd deur die ATDV gegee word. Ongereelde werksure, werksdruk en gesinsomstandighede word ook in ag geneem. ’n Minimum van 30 dae en ’n maksimum van 42 kalenderdae verlof per jaar kan toegeken word.
1.2 Verlof val ’n predikant pro rata vanaf bevestiging (diensaanvaarding) toe.[1]
1.3 Verlof kan oorgedra word na ’n volgende jaar, onderhewig aan die bepaling dat:
1.3.1 ’n predikant in enige stadium slegs 30 dae opgehoopte verlof tot krediet mag hê;
1.3.2 ’n maksimum van 30 dae opgehoopte verlof[2] by diensbeëindiging uitbetaalbaar is. Vir die berekening van die waarde van die verlof geld lewensonderhoud en alle toelaes, met die insluiting van behuisingsvoordele.[3]
2. SIEKTEVERLOF
2.1 Kerkrade/kommissies kan aan predikante siekteverlof met volle lewensonderhoud en toelaes toestaan:
2.2.1 120 dae siekteverlof word in siklusse van 3 jaar toegestaan.
2.2.2 In die geval van oorskryding van toegekende siekteverlof binne ’n siklus van drie jaar, kan ’n werknemer kies om enige vakansieverlof tot sy/haar beskikking aan te wend vir siekteverlof. Indien geen toegekende siekteverlof of vakansieverlof meer vir ’n werknemer beskikbaar is nie en die werknemer steeds deur swak gesondheid verhinder word om sy/haar werksaamhede doeltreffend te verrig, kan so ’n werknemer aansoek doen vir verdere siekteverlof en in die geval waar so ’n aansoek goedgekeur word neem die werkgewer ’n besluit oor vergoeding vir daardie tydperk.
2.2.3 In die geval van ’n werknemer wat aansoek doen om verdere siekteverlof soos hierbo bedoel kan die werkgewer, benewens deur te oorweeg om die aansoek vir verdere siekteverlof goed te keur of af te keur, ook oorweeg om ’n gepaste alternatiewe reëling te tref.
2.2.4 By ’n aansoek om siekteverlof vir meer as 3 dae kan die werkgewer aandring op ’n verslag van ’n geregistreerde mediese praktisyn in sodanige bewoording wat die werkgewer in staat stel om:
* te bepaal dat die applikant nie in ’n geskikte toestand van gesondheid verkeer om sy/haar pligte te verrig nie; en
* dat die tydperk van verlof waarvoor aansoek gedoen word, vir die herstel van sy/haar gesondheid nodig is.
2.2.5 Die werkgewer sal die reg hê om ’n mediese sertifikaat deur ’n geneesheer, op koste van die werkgewer te verkry, voordat siekteverlof goedgekeur word, indien hy van mening is dat die omstandighede dit regverdig.
2.2.6 Indien die siekteverlof 120 dae oorskry, word die advies van die ringskommissie ingewin met die oog op die voortgang van die Evangeliebediening in die gemeente.
3. LANGVERLOF
3.1 Predikante is bo en behalwe verlof, met goedkeuring van die kerkraad/kommissie, geregtig op langverlof onderhewig aan die volgende voorwaardes:
3.1.1 Ná verloop van drie jaar in dieselfde werkkring is ’n predikant geregtig op 30 dae langverlof;
3.1.2 Langverlof word daarná bereken op die basis van 10 dae per jaar diens;
3.1.3 ’n Predikant mag in enige stadium slegs 90 dae langverlof tot krediet hê;
3.1.4 Langverlof kan nie van een gemeente/werkkring na ’n ander oorgedra word nie;
3.1.5 Langverlof kan slegs in periodes van 30 dae of langer geneem word, tensy met die kerkraad/kommissie anders gereël word.
3.1.6 Die waarde van die helfte van uitstaande regsgeldige langverlof (lewensonderhoud en alle toelaes met insluiting van die behuisingsvoordele) is met die goedkeuring van die kerkraad/kommissie, slegs by diensbeëindiging uitbetaalbaar.
4. STUDIEVERLOF
4.1 Studieverlof is ’n vergunning en werkgewers en predikante moet in die lig van plaaslike omstandighede ooreenkom oor studieverlof.
4.2 Indien die studietydperk langer as ses maande duur, is ’n predikant verplig om demissie by die werkgewer aan te vra.
4.3 Die predikant tref self reëlings met die Algemene Taakspan Regte met betrekking tot behoud van bevoegdheid indien van toepassing.
4.4 Predikante is verplig om eers opgehoopte verlof te gebruik voordat hulle kan aanspraak maak op studieverlof. ’n Werknemer kan aansoek doen om ’n terugskrywing op verlof, vir verlof wat hy/sy vir toepaslike studiedoeleindes gebruik het, mits in ’n kursus(se) wat vooraf deur die werkgewer goedgekeur is, geslaag is.
4.5 Wanneer die werkgewer ’n predikant verplig om opleiding te ondergaan (bv. VBO) of om ’n kursus/predikantekonferensie by te woon, geld dit nie as studieverlof of gewone verlof nie.
5. KRAAMVERLOF
5.1 ’n Vrou in die amp as predikant is geregtig op minstens 4 opeenvolgende maande kraamverlof. So ’n predikant kan met kraamverlof begin vanaf 4 weke voor die verwagte datum van geboorte, tensy anders ooreengekom.
5.2 Die predikant ontvang gedurende kraamverlof volle lewensonderhoud en toelaes, minus die bedrag wat sy uit die Werkloosheidsversekeringsfonds kan kry.
6. OPENBARE VAKANSIEDAE
’n Predikant is geregtig op openbare vakansiedae. Indien die predikant ’n diensverpligting het, kom die predikant en werkgewer ooreen op ’n gepaste reëling.
7. VERLOF VIR GESINSVERANTWOORDELIKHEID
’n Predikant is, met die oog op gesinsverantwoordelikhede, geregtig op 3 dae menslikheidsverlof per jaar, wat nie oploopbaar is nie.
REGLEMENT VIR DIE VERMEERDERING, KOMBINERING EENWORDING EN SAMESMELTING VAN GEMEENTES
Kyk KO Algemene Sinode 2007, Reglement 6, bladsy 65v.
[1] Dit beteken dat 'n predikant na een jaar diens reeds 12 dae verlof moes geneem het, sodat daar nie meer as 30 dae opgehoop word nie.
[2] Sien die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, 1997, hoofstuk 3, artikel 20. In ander state geld die wetgewing wat daar van toepassing is.
[3] Opgehoopte verlof is ongebruikte verlof van die vorige jaar of jare. Ander regsgeldige verlof is die pro rata-deel van die huidige jaar se verlof wat nog nie gebruik is nie. Albei is uitbetaalbaar by diensbeëindiging.

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

