Skip to content | Skip to navigation

Reglemente


Familiereëls » Reglemente

HOOFSTUK 7

REGLEMENTE

REGLEMENT VAN ORDE

Hierdie ordereëls geld vir alle kerklike vergaderinge:

 

1.           ALGEMENE REËLS

1.1        Alle vergaderinge word met oop deure gehou, tensy die vergadering anders besluit.

 

1.2        Lede/afgevaardigdes kom bymekaar op die datum, tyd en plek soos vooraf bepaal en waarvan op die voorgeskrewe wyse kennis gegee is.

 

1.3        Die bywoning van vergaderinge is verpligtend. As 'n lid/afgevaardigde nie teenwoordig kan wees nie, moet hy/sy betyds, met opgawe van rede(s) daarvan kennis gee.

 

1.4        Dit is by rings- en sinodale vergaderinge toelaatbaar vir primarius- en sekunduslede om te verwissel met kennis aan die vergadering.

 

1.5        Vir die duur van die behandeling van tugsake, is vergaderinge geslote en is aanvulling of verwisseling van lede van die vergadering nie toelaatbaar nie.

 

1.6        'n Presensielys moet vir elke kerklike vergadering gehou word.

 

2.           VOORSITTERSKAP EN SKRIBAAT

 

2.1        Kerkraad

 

2.1.1     Die voorsitter word ingevolge Artikel 28.2 verkies.

 

2.1.2     'n Ondervoorsitter kan deur 'n kerkraad verkies word.

 

2.1.3     By afwesigheid van die voorsitter kan die ondervoorsitter, 'n ouderling of die konsulent as voorsitter optree.

 

2.2        Ring

 

2.2.1     Die voorsitter, ondervoorsitter en skriba word ingevolge Bepaling 27.3 verkies.

 

2.3        Sinode

 

2.3.1     Die Sinode verkies tydens die sinodesitting 'n voorsitter en ondervoorsitter ingevolge die Reglement vir die Sinode.

 

2.3.2     Die uitvoerende amptenaar tree as skriba van die Sinode op.

 

3.           KONSTITUERING EN OPENING

 

3.1        Indien die vereiste kworum teenwoordig is, konstitueer die vergadering onder leiding van die voorsitter met die personeel soos aangeteken op die presensielys.

 

3.1.1     By die ring/sinode stel die skriba 'n presensielys uit die geloofsbriewe wat ontvang is, saam en lê dit aan die vergadering voor.  Persone wie se name nie op die presensielys verskyn nie, mag nie deelneem aan die vergadering voordat hulle geloofsbriewe by die skriba van die sinode/ring ingedien en hulle teenwoordigheid aangeteken is nie.

 

3.1.2     'n Kerkraad konstitueer met meer as die helfte van die lede van die kerkraad.

 

3.1.3     'n Meerdere vergadering konstitueer wanneer ten minste twee derdes van die afgevaardigdes teenwoordig is.

 

3.2        Die voorsitter of 'n persoon deur die voorsitter daartoe versoek, open die vergadering.

 

4.           KWORUM

 

4.1        Vir die duur van die vergadering vorm meer as die helfte van die lede 'n kworum.

 

4.2        Lede mag die vergadering nie sonder verlof verlaat nie.

 

5.           BEHANDELING VAN SAKE

 

5.1        Na die opening van die vergadering word die agenda vasgestel.

 

5.2        Die voorsitter stel die sake aan die orde.

 

5.3        Terwyl 'n saak aan die orde is, word 'n saak bespreek, dien voorstelle en amendemente voor die vergadering en word daaroor gestem.

 

5.4        Spreekbeurte

 

5.4.1     Geen lid mag meer as een keer oor dieselfde saak praat nie, tensy die vergadering anders besluit.  Die voorsteller het reg van repliek.

 

5.4.2     In die bespreking wend elke lid hom/haar tot die voorsitter en onthou hom/haar van alles wat in stryd met die waardigheid van 'n kerklike vergadering is.  'n Persoon wat onordelik optree, word tot orde geroep.  Indien hy/sy nie gehoor gee nie, kan hy/sy met die toestemming van die vergadering gevra word om die vergadering te verlaat.

 

5.5        Voorstelle en amendemente

 

5.5.1      Oor 'n saak wat aan die orde is, kan net een voorstel voor die vergadering dien. 'n Amendement of amendemente op die voorstel moet skriftelik en gesekondeer ingedien word.

 

5.5.2      Amendemente het te doen met die wysiging van, 'n byvoeging tot, of 'n weglating uit die voorstel.

 

5.5.3      Voorstelle en amendemente kan met verlof van die vergadering teruggetrek word.  As 'n voorstel of amendement teruggetrek word, tree die daaropvolgende in die plek daarvan.

 

5.5.4      'n Ordevoorstel het betrekking op die volgorde waarin sake ter tafel moet kom, of dat die bespreking van 'n bepaalde saak opgeskort of beëindig word, of dat van 'n bepaalde saak afgestap word.  'n Ordevoorstel kan op enige tydstip gedurende die voortgang van die bespreking ingedien word.  Daaroor word dadelik sonder bespreking gestem.  Dit word aan die oordeel van die voorsitter oorgelaat om die voorstel terug te hou as hy/sy van mening is dat dit aangewend word om 'n behoorlike bespreking van die onderwerp te voorkom.

 

5.5.5     Voorstelle en amendemente word genotuleer saam met die vergadering se besluit daaroor.

 

5.6        Stemming

 

5.6.1     Oor elke saak moet afsonderlik gestem word.  Die amendemente word eers tot stemming gebring en wel so dat oor die wat laaste ingedien is, eerste gestem word.  Amendemente wat aanvaar word, wysig die voorstel.  Daarna word vir en teen die oorspronklike (as al die amendemente verwerp is) of die geamendeerde voorstel gestem.

 

5.6.2     Oor alle sake word met volstrekte meerderheid van stemme besluit.  Indien die stemming op die verkiesing van persone betrekking het, geskied dit, tensy anders bepaal (kyk byvoorbeeld verkiesing van kerkraadslede in nuutgestigte gemeentes), op 'n geslote stemwyse.

 

5.6.3     Geen lid mag sonder verlof van die vergadering buite stemming bly nie.  Indien verlof toegestaan is, word die volstrekte meerderheid van stemme deur die oorblywende stemme bepaal.

 

5.6.4     By die staking van stemme beslis die lot.

 

5.6.5     Persone wat die vergadering adviserend bywoon (byvoorbeeld die konsulent), mag nie stem nie.

 

5.6.6     Dit staan enige lid vry om te laat aanteken dat hy/sy teen 'n bepaalde voorstel of amendement gestem het.

 

5.7        Hersiening van besluite

 

5.7.1      Besluite van vergaderinge kan hersien word, indien oortuigend aangevoer word dat

 

5.7.1.1  in die bespreking van die saak waarom dit gaan, aan sekere aspekte daarvan glad nie of nie voldoende aandag gegee is nie, of

 

5.7.1.2  indien daar inligting na vore gekom het wat hersiening van die besluit noodsaaklik maak.

 

5.7.2      Besluite van 'n vergadering kan teen die einde van die vergadering waarop dit geneem is in hersiening geneem word.  In die geval van die Sinode word elke versoek tot hersiening van 'n besluit na die tydelike Regsdiensgroep verwys.

 

5.7.3      Besluite van 'n vorige vergadering kan by enige daaropvolgende vergadering hersien word, indien al die lede van die vergadering/afgevaardigdes vooraf daarvan skriftelik in die agenda kennis ontvang het.

 

6.           NOTULE

 

6.1        Die notule van 'n kerkraadsvergadering word tydens die volgende gewone vergadering goedgekeur en deur die voorsitter en skriba onderteken.  Notules wat vooraf beskikbaar gestel word, mag nie inligting aangaande tugsake bevat nie.

 

6.2        Die notule van 'n meerdere vergadering word tydens die volgende sittingsdag goedgekeur en deur die voorsitter en skriba onderteken.  Die laaste sittingsdag se notule word na die ringsdiensraad/sinodale diensraad verwys vir goedkeuring en ondertekening.

 

6.3        Verbeterings aan 'n kerkraadsnotule wat besluite raak, word genotuleer.

 

6.4        Verbeterings aan die notule van 'n meerdere vergadering word, voor ondertekening, in die oorspronklike reggestel.

 

7.           AFSLUITING

 

Elke vergadering word met gebed afgesluit.

 

 

 


REGLEMENT VIR DIE SINODALE DIENSRAAD

 

1.           Samestelling

 

1.1        Die voorsitter en ondervoorsitter van die Sinodale Diensraad dien as voorsitter en ondervoorsitter van die daaropvolgende Sinode.

 

1.2        Die Sinode verkies 'n diensleier vir elk van die drie bedieninge (Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis) en 'n leier vir Ondersteuningsdienste met sekundi.

 

1.3        Die Sinode verkies nog vyf sinodale leiers vir die Sinodale Diensraad met sekundi.  Twee van die sewe sinodale leiers (asook twee sekundi) moet ouderlinge/diakens wees wat nie predikants- of proponentsbevoegdheid het nie.

 

1.4        Die lede van die Sinodale Diensraad word verkies vir 'n termyn van vier jaar en is nie in dieselfde hoedanigheid herkiesbaar nie.  Die dagbestuur bestaan uit die voorsitter, ondervoorsitter en twee lede wat deur die Sinodale Diensraad uit eie geledere verkies is.  Die skribaat word deur die uitvoerende amptenaar van die Sinode hanteer.

 

2.           Nominasies

 

2.1        Die diversiteit van die Sinode word in aanmerking geneem.  Minstens twee lede (asook twee sekundi) van die Sinodale Diensraad moet nie-gelegitimeerdes wees en geslag (veral vroue) en ouderdom (veral jeug) moet by nominasie en verkiesing oorweeg word.

 

2.2        Die drie bedieninge (Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis) en Ondersteuningsdienste lê elk nominasies aan die Sinode voor vir die verkiesing van die drie diensleiers van die bedieninge en die leier van Ondersteuningsdienste (hierna ook diensleier genoem) met sekundi.

 

2.3        Nominasies vir die sinodale leiers en die diensleiers word tydens die sinodesitting saam ontvang, maar die verkiesing van voorsitter en ondervoorsitter van die Sinodale Diensraad vind eerste plaas, daarna die van die diensleiers, en dan dié van die ander vyf sinodale leiers.

 

2.4        Nominasies geskied op 'n goedgekeurde nominasievorm waarop die volgende verskyn:  Die genomineerde se naam en van, sy/haar gemeente, sy/haar huidige sinodale betrokkenheid, die bydrae wat hy/sy op sinodale gebied kan lewer, die hoedanigheid/-hede waarvoor hy/sy genomineer word, die voorsteller (naam en handtekening van die afgevaardigde), die sekondante (naam en handtekening van twee afgevaardigdes) en die handtekening van die genomineerde dat hy/sy die nominasie aanvaar.  Die nominasie is eers geldig as die persoon wat genomineer is die nominasievorm onderteken het en hom-/haarself beskikbaar gestel het.

 

2.5        Nominasies vir sinodale leiers word op 'n gegewe tydstip tydens die vergadering gevra en deur die voorsteller en sekondant voltooi en ingehandig.  Die nominasievorm word daarna aan die genomineerde voorsien wat geleentheid kry om dit biddend te oorweeg, met die afgevaardigdes van sy/haar gemeente te bespreek, bykomende inligting oor sinodale betrokkenheid/bydrae wat hy/sy kan lewer te voorsien en dit te onderteken.  Die name van al die genomineerdes en die hoedanigheid/-hede waarvoor hulle benoem is, word dan tot beskikking van die hele vergadering gestel.  Geleentheid word gegee vir enige bykomende nominasies, waarna die nominasielyste sluit.

 

2.6        Nominasies vir diensleiers (en die ander lede van die diensspan, naamlik onderdiensleier, skriba en twee addisionele lede) word tydens 'n vergadering van almal wat in die bediening belangstel en wat tydens die Sinodesitting plaasvind, ontvang en verder soos hierbo hanteer.  Die bedieninge en ondersteuningsdienste wys uit die genomineerdes vir diensleier en onderdiensleier twee of meer persone aan wie se name as genomineerdes vir primarius- en/of sekundusdiensleier aan die Sinode voorgelê word.  Die Sinode kan vra dat enige ander persoon, wie deur 'n belangstellende in die betrokke bediening in die voorafgaande proses genomineer is, se naam bygevoeg word alvorens die verkiesing deur die Sinode plaasvind.  Die aanwysing van die ander lede van die diensspan word slegs deur die Sinode op voorlegging van die diensgroep/ondersteuningsdienste bekragtig.

 

3.           Verkiesing

 

3.1        Stembriewe word voorberei waarop die hoedanigheid waarvoor die persoon genomineer is (bv. sinodale leier: voorsitter) en die name van al die genomineerdes in alfabetiese volgorde verskyn met hul gemeente se naam, amp, ouderdom en geslag in hakies.

 

3.2        Elke stemming geskied deur die lede wat aanwesig is. Sinodale en diensleiers asook sekundi, moet met 'n volstrekte meerderheid van stemme van die aanwesige lede verkies word.  Verkiesing van persone geskied op 'n geslote stemwyse.  Uit die name in die nominasielys stem elke stemgeregtigde vir soveel name as die getal persone wat in 'n bepaalde hoedanigheid verkies moet word.  Indien vir 'n bepaalde hoedanigheid nie 'n volstrekte meerderheid van stemme op 'n persoon verenig is nie, vind 'n verdere stemming plaas uit die name wat die hoogste getal stemme gekry het en saam 'n volstrekte meerderheid vorm. Indien die stemme staak, vind 'n volgende stemming tussen dieselfde persone plaas, waarna die lot beslis.

 

3.3        Indien 'n persoon as voorsitter of ondervoorsitter van die Sinodale Diensraad verkies word, verval sy/haar nominasie as diensleier.  Indien 'n persoon as diensleier verkies word, kan hy/sy nie ook as een van die ander vyf sinodale leiers verkies word nie.  'n Persoon wat as sekundus vir 'n diensleier verkies word, kan wel as sinodale leier verkies word, waarna die Sinode 'n ander sekundus, na voorlegging van nominasie(s) deur die diensgroep, vir die diensleier verkies.

 

4.           Vakatures

 

Na afloop van die sinodesitting word vakatures in die Sinodale Diensraad uit die sekundi aangevul.  Waar die lys van sekundi uitgeput is, word dit aangevul deur die Sinodale Diensraad.

 

 

REGLEMENT VIR DIE VERMEERDERING,

KOMBINERING EENWORDING

EN SAMESMELTING VAN GEMEENTES

 

Kyk KO Algemene Sinode 2004, Reglement 6, bl 45v.