Skip to content | Skip to navigation

Betrekkinge van die kerk na buite


Familiereëls » Betrekkinge van die kerk na buite

HOOFSTUK 6

BETREKKINGE VAN DIE KERK NA BUITE

6.1     KERK EN STAAT

 

Artikel 67

 

67.1     In die lig van Romeine 13 erken die Kerk die staat as 'n dienaar van God tot ons beswil.  Dit is God wat aan die staat die opdrag gegee het om die reg te handhaaf en die kwaaddoeners te straf.

 

67.2     Die Kerk erken dat die staatsowerheid wat deur sy fisiese swaardmag in beheer van 'n bepaalde staatsgebied is, deur God beskik is en as sodanig eerbiedig moet word.  Die norm vir die Kerk se deelname aan die publieke regsverkeer en uitoefening van burgerlike regte is die Woord van God.

 

67.3     Christus is die Hoof van die Kerk.  Daarom beskou die Kerk sy reg op vryheid van godsdiens, wat sy Bybels-profetiese getuienis teenoor die staatsowerheid en die wêreld waarin hy staan, insluit, as onvervreembaar. In die uitoefening hiervan maak hy aanspraak op die regsbepaalde beskerming van die owerheid.

 

67.4     Die Kerk nader staatsowerhede op alle vlakke op 'n ordelike wyse.  Hierdie skakeling word gedoen deur sy erkende kerkvergaderings of die kommissies wat hulle daarvoor aanwys.  Skakeling oor sake wat die Kerk in sy algemene sinodale verband raak, geskied deur die Algemene Sinode of sy betrokke kommissie.  Skakeling sonder 'n opdrag van die Algemene Sinode geskied deur die betrokke kommissie in oorleg met die Moderamen.

 

6.2     KERK, MAATSKAPPY EN VRYE VERENIGING

 

Artikel 68

 

Waar moontlik, verleen die Kerk steun aan maatskaplike, nie-kerklike organisasies wat op 'n positiewe Christelike basis georganiseer is en daarop gemik is om die koninkryk van God te bevorder.  Hierdie steun geskied vanuit 'n kerklike perspektief en op 'n kerklike wyse.  Die vraag of 'n bepaalde organisasie kan aanspraak maak op die steun van die Kerk, hang af van sy grondslag en doelstellings en die uitlewing daarvan in die praktyk.

 

6.3     KERK EN ONDERWYS

 

Artikel 69

 

69.1     Die Kerk beywer hom daarvoor dat die Woord van God en Protestants-Christelike norme en waardes rigtinggewend sal wees in onderwys‑ en opvoedkundige instellings en ook vir die kultuuridioom waarin die onderwys plaasvind.

 

69.2     Die Kerk erken die interne bevoegdheid van onderwysinstellings om tipiese onderwysaangeleenthede (standaarde, leerinhoude, ensovoorts) te finaliseer.

 

69.3     Die Kerk beywer hom vir Christelike opvoeding en onderwys vir sy kinders en jongmense. Hierdie onderwys moet verantwoorde standaarde en leerinhoude insluit.

 

6.4     KERK EN EKUMENIESE BETREKKING

 

Artikel 70

 

70.1     Die Kerk streef daarna om deur middel van sy vergaderinge op 'n verantwoorde wyse met ander Christelike kerke saam te werk, 'n gemeenskaplike boodskap uit te dra en saam te stry vir die behoud van Christelike lewensbeginsels.

 

70.2     Die Algemene Sinode bepaal die aard en graad van die betrekkinge met ander Kerke of Kerkgemeenskappe deur middel van 'n gewone meerderheidstem.

 

70.3     Die graad en wyse van samewerking word in elke geval bepaal deur die graad van ooreenstemming ten opsigte van belydenis, kerkregering, erediens en die siening van die Christelike lewenswandel van die betrokke kerk.

 

70.4     Die besluit oor 'n aansoek of beëindiging van lidmaatskap van 'n ekumeniese organisasie word geneem met 'n tweederdemeerderheidstem van die Algemene Sinode.

 

Besluite by Artikel 70

EKUMENIESE BELEID

 

70b.1    UITGANGSPUNTE VIR DIE NG KERK MET BETREKKING TOT EKUMENIESE BETREKKINGE

 

Hierdie uitgangspunte moet saam gelees word met die volgende: (i)  Die Reglement: Die NG Kerk en ander Christelike Kerke en Groepe (Kerkorde 1998, Reglement 21);  (ii)  Agenda Algemene Sinode 1994:66, punt 14.2.1-14.2.5;  (iii) Die Ekumeniese Beleid.  Agenda Algemene Sinode 1990:61-64, Handelinge Algemene Sinode, 1990:546-549.

 

70b.1.1 Die Kerk van Christus is wêreldwyd één.

 

70b.1.2 Die Kerk van Christus is oor die grense van plek en tyd één.

 

70b.1.3 Eenheid is 'n gawe aan en 'n roeping vir die Kerk

 

              Hierdie taak word veral ook op plaaslike vlak volvoer – hier word die kragtigste getuienis van eenheid tot stand gebring.  Plaaslike Kerke streef daarna om met die ware kerk van Christus (NGB Artikel 29) saam te aanbid, te getuig en te werk.

 

70b.1.4 Eenheid en verskeidenheid

 

              Eenheid is nie eendersheid nie.  Die verskeidenheid van volke, tale, gebruike en kulture moet erken word.  Ook die gevolglike ryk verskeidenheid in aan­bidding, konfessionele uitdrukkings, formuliere en kerkstrukture.  Die verskeidenheid mag egter nie tot geskeidenheid lei nie – dit is 'n verskeidenheid in die eenheid van Christus se Kerk.

 

70b.1.5 Eenheid in waarheid

 

              Kerke streef daarna om saam die waarheid van die Woord van die Here, wat nie ter wille van eenheid prysgegee moet word nie, te soek.

 

70b.2    DIE NG KERK EN EKUMENIESE BETREKKINGE, BILATERAAL EN MULTI­- LATERAAL (EKUMENIES)

 

70b.2.1 Die NG Kerk (Algemene Sinode) wil aktief bilaterale (een-tot-een) verhoudinge met ander Christelike Kerke (denominasies) aanknoop, handhaaf en bevorder,  beide op nasionale en internasionale vlak.

 

70b.2.2 Oor die Kerke met wie bilaterale verhoudinge aangegaan word en die aard en graad van elke verhouding besluit die Algemene Sinode op onder meer aanbeveling van sy Ekumeniese Kommissie ('n subkommissie van die Moderamen).

 

70b.2.3 Die NG Kerk wil ook sy roeping tot die eenheid van die Kerk bevorder en handhaaf deur in nasionale en internasionale ekumeniese organisasies en liggame op 'n multilaterale vlak (ekumenies) met ander Kerke en organisasies in verhouding te tree.

 

70b.2.4 Oor die ekumeniese organisasies of liggame met wie in verbinding getree word, die aard en graad van die multilaterale betrekkinge besluit die Algemene Sinode op aanbeveling van onder meer sy Ekumeniese Kommissie.

 

70b.3    BILATERALE KERKLIKE VERHOUDINGE

 

Bilaterale kerklike betrekkinge met ander Kerke (nasionaal of internasionaal) kan bestaan uit:

*        Volle verhoudinge

*        Gedeeltelike verhoudinge

*        Dialoogverhoudinge

*        Insidentele kontakverhoudinge

 

70b.3.1 Volle verhoudinge

 

70b.3.1.1   Die omvang van volle verhoudinge

'n Volle verhouding met 'n ander Kerk behels die volgende:

*1          Dit is 'n verhouding met 'n ander Kerk van Gereformeerde belydenis

*2          Die volle verhouding behels:

*2.1       die stuur van afgevaardigdes na mekaar se Sinodes

*2.2       die toelaat van leraars op mekaar se kansels

*2.3       die toelaat van mekaar se lidmate tot die nagmaalstafel

*2.4       gesamentlike optrede op terreine van gemeenskaplike verantwoordelikheid

*2.5       kommunikasie met mekaar oor sake van gemeenskaplike belang en kommer

*2.6       wedersydse opsig oor en sorg vir mekaar as Kerke ten einde die eenheid van die Kerk te bevorder

*2.7       die pastorale versorging van mekaar se lidmate wanneer hulle binne die grense van mekaar se kerke vestig

*2.8       die wedersydse erkenning van mekaar se teologiese opleiding en gevolglike oor-en-weer beroepbaarheid van leraars met inagneming van spesifieke vereistes wat 'n Kerk kan stel.

 

70b.3.1.2   Die Ekumeniese Kommissie sien toe dat die bepalings van 'n volle verhouding met 'n Kerk namens die NG Kerk in 'n ooreenkoms neerslag vind en nagekom word.

 

70b.3.1.3   Die Ekumeniese Kommissie bly op hoogte van ontwikkelinge in dié Kerke met wie die NG Kerk volle verhoudinge het en lig die Algemene Sinode gereeld daaroor in.

 

70b.3.1.4   Die Ekumeniese Kommissie adviseer die Algemene Sinode oor die Kerke met wie volle verhoudinge aangegaan en volgehou kan word.

 

70b.3.1.5   Indien alle aspekte van 'n volle kerklike verhouding vanweë praktiese omstandighede nie gerealiseer kan word nie, kan volle betrekkinge ten opsigte van sommige aspekte aangegaan word.  Die doel moet steeds volle betrekkinge ten opsigte van alle fasette wees.

 

70b.3.2 Gedeeltelike verhoudinge

 

70b.3.2.1   Die NG Kerk streef daarna om gedeeltelike kerklike verhoudinge na te streef en aan te gaan met Kerke van Gereformeerde oortuiging met wie die NG Kerk nie in volle verhouding staan nie.

 

70b.3.2.2   Voorwaardes vir die aangaan van 'n gedeeltelike kerklike verhouding is:

 

*1      Wedersydse erkenning van 'n gemeenskaplike basis in Gereformeerde geloofsoortuiginge soos uitgedruk in reformatoriese belydenisskrifte.

*2      'n Wedersydse begeerte om 'n kerklike verhouding aan te gaan.

 

70b.3.2.3   'n Gedeeltelike verhouding word aangegaan met die veronderstelling dat dit tot 'n volle kerklike verhouding kan lei.

 

70b.3.2.4   Samewerkingsooreenkomste, gesamentlike optrede ten opsigte van gemeenskaplike verantwoordelikhede, voortgaande kommunikasie oor sake van gemeenskaplike kommer en wedersydse sorg vir mekaar se lidmate indien daartoe versoek, is moontlik met Kerke met wie die NG Kerk in 'n gedeeltelike verhouding staan.

 

70b.3.2.5   Die Ekumeniese Kommissie identifiseer met verantwoording aan die Algemene Sinode die Kerke met wie die NG Kerk gedeeltelike verhoudinge wil aangaan en is, indien nodig, namens die NG Kerk verantwoordelik vir die samewerkingsooreenkomste, gesamentlike optredes, voortgaande kommunikasie en die implementering van die wedersydse versorging van lidmate indien daartoe versoek.

 

70b.3.2.6   Die Ekumeniese Kommissie adviseer die Algemene Sinode wanneer 'n gedeeltelike verhouding kan oorgaan in 'n volle verhouding.

 

70b.3.3 Dialoogverhoudinge

 

70b.3.3.1   Die NG Kerk streef daarna om deur die Ekumeniese Kommissie in gereelde dialoog te tree met 'n wye verskeidenheid Kerke wat nie noodwendig dieselfde belydenisgrondslag of standpunte het nie ten einde ingelig te word oor hulle kerklike lewe, verhoudinge en standpunte.

 

70b.3.3.2   Die Ekumeniese Kommissie identifiseer die Kerke en voer die gesprekke op 'n gereelde basis met verantwoording aan die Algemene Sinode.

 

70b.3.3.3   Benewens dat die dialoog kan lei tot gedeeltelike of volle kerklike verhoudinge, kan die gesprekke ook op kort termyn die moontlikhede van samewerking, gesamentlike optredes en kommunikasie oor sake van gemeenskaplike kommer oorweeg en soos nodig verder voer.

 

70b.3.4 Kontakverhoudinge

 

70b.3.4.1   Die NG Kerk wil ook die roeping tot ekumene uitvoer deur na luid van behoeftes, omstandighede en geleenthede, insidentele kontak op te neem met ander Kerke.

 

70b.3.4.2   Die kontakverhoudinge word deur die Ekumeniese Kommissie behartig met verantwoording aan die Algemene Sinode.

 

70b.4    MULTILATERALE KERKLIKE VERHOUDINGE

 

70b.4.1 Die NG Kerk wil sy ekumeniese roeping bevorder en uitbou deur:

 

70b.4.1.1   deel te wees van ekumeniese organisasies waar die Kerk met ander Gereformeerde Kerke kan saamwerk;

 

70b.4.1.2   deel te neem aan ekumeniese organisasies, geselskappe en verenigings wat die Kerk sal toelaat om die ekumeniese verantwoordelikhede wyd, effektief en doeltreffend na te kom;


70b.4.1.3   verhoudinge met ekumeniese organisasies te ontwikkel.

 

70b.4.2 Oor die aard, graad en omvang van deelname aan 'n multilaterale ekumeniese organisasie, geselskap of vereniging, besluit die Algemene Sinode na 'n bestudering van die aard van 'n betrokke ekumeniese organisasie soos dit gevind en gedemonstreer word in die grondwet, basiese uitgangspunte, verklarings, aktiwiteite en optredes van elke organisasie.  Die Ekumeniese Kommissie adviseer die Algemene Sinode hierin.

 

70b.4.3 Grade van betrokkenheid by multilaterale organisasies kan, wat die NG Kerk betref, die volgende behels:

 

*1      volle lidmaatskap – dit wil sê volle deelname,  verkiesbaarheid tot ampte, aanvaarding van medeverantwoordelikheid vir besluite en aksies.

*2      waarnemerlidmaatskap – dit wil sê die Kerk neem net die  handelinge  en optredes van die betrokke organisasie waar en aanvaar nie verantwoordelikheid vir besluite en optredes nie; is ook nie verkiesbaar tot enige ampte nie.

 

70b.5    DIE EKUMENIESE KOMMISSIE

 

70b.5.1 Die Ekumeniese Kommissie word deur die Moderamen saamgestel en rapporteer aan die Algemene Sinode deur die Moderamen.

 

70b.5.2 Ooreenkomstig die uitgangspunte van die NG Kerk vir ekumeniese betrekkinge en ander besluite van die Algemene Sinode, dra die Algemene Sinode dit op aan die Ekumeniese Kommissie om belangstelling in en verhoudinge met die Kerk van Christus wêreldwyd (nasionaal en internasionaal) te handhaaf en te bevorder.

 

70b.5.3 Die taak van die Ekumeniese Kommissie in bilaterale verhoudinge

 

70b.5.3.1   Die taak van die Ekumeniese Kommissie met betrekking tot Kerke met wie die NG Kerk in volle verhouding is:

 

*1      Die Ekumeniese Kommissie identifiseer Kerke met wie die Algemene Sinode in volle verhoudinge kan tree en adviseer die Algemene Sinode daaroor.

 

*2      Die Ekumeniese Kommissie handhaaf noue en voortgesette verhoudinge met dié Kerke met wie die Algemene Sinode besluit het om in volle verhouding te tree.

 

*3      Die Ekumeniese Kommissie bly ingelig oor ontwikkelinge in dié Kerke met wie die Algemene Sinode volle verhoudinge aangegaan het en lig ook die Algemene Sinode dienooreenkomstig in.

 

*4      Benewens die normale spektrum van vol verhoudinge beveel die Ekumeniese Kommissie by die Algemene Sinode aan watter spesifieke soort vol verhoudinge met elke Kerk aangegaan moet word.

 

70b.5.3.2   Die taak van die Ekumeniese Kommissie met betrekking tot gedeeltelike verhoudinge

 

*1      Die Ekumeniese Kommissie identifiseer Kerke met wie die NG Kerk gedeeltelike verhoudinge wil aangaan en adviseer die Algemene Sinode daaroor.

 

*2      Die Ekumeniese Kommissie inisieer en/of maak kontak met Kerke met wie die NG Kerk gedeeltelike verhoudinge sou kon aangaan.  In hierdie proses kan van die volgende gebruik gemaak word:

 

*2.1  uitnodigings dat daar wedersyds afgevaardigdes na mekaar se Algemene Sinodes (of die ekwivalent) gestuur word, waar die afgevaardigdes erken word en geleentheid kry om verteenwoordigers van die Kerk te ontmoet.  Die NG Kerk sou ook aan die afgevaardigde van die ander Kerk geleentheid kon gee om kortliks groete oor te dra;

 

*2.2  indien daar nie van wedersydse ekumeniese afgevaardigdes gebruik gemaak word nie, kan daar per skrywe gekommunikeer word – verslag word aan die Algemene Sinode gedoen;

 

*2.3  daar kan ook wedersyds van persone of instellinge gebruik gemaak word wat per geleentheid by 'n Kerk kan besoek aflê;

 

*2.4  die gereelde stuur van agendas, handelinge, die kerkorde en ander amptelike dokumente aan die ander Kerk;

 

*2.5  die Ekumeniese Kommissie moet steeds ook weë bedink waarop die NG Kerk tot diens kan wees en dit onder die aandag van die ander Kerk(e) bring soos byvoorbeeld geleenthede vir opleiding van leraars en ander werkkragte, beskikbaarheid van onderrigmateriaal, of enige ander vorm van diens wat die NG Kerk sou kon lewer.  Daar moet ook kennis geneem word van die dienste wat ander Kerke sou kon lewer.

 

70b.5.3.3   Die taak van die Ekumeniese Kommissie met betrekking tot Kerke met wie die NG Kerk in dialoog/ kontak is.

                  

                   In uitvoering van die standpunt van die NG Kerk om betrekkinge met ander Kerke te bevorder en te handhaaf, gee die Ekumeniese Kommissie deur studie en kontak – soos die geleentheid hom voordoen – uitvoering aan die beleidstandpunt van die Kerk.  Dit gebeur deur dialoog of ander vorme van kontak met:

 

*1      Kerke wat belangstel om een of ander vorm van betrekking aan te gaan;

 

*2      Kerke wat spesifiek met die NG Kerk 'n betrekking wil aangaan;

 

*3      Kerke wat hulle bande met die NG Kerk verbreek het of hulle om een of ander rede teruggetrek het uit 'n vorige verhouding;

*4      Kerke van verskillende historiese of konfessionele agtergronde wat bereid is om sake van gemeenskaplike belang of oor sake wat opklaring verg, te praat of te kommunikeer.

 

70b.5.3.4   Die taak van die Ekumeniese Kommissie met betrekking tot multilaterale verhoudinge

 

*1      Die Ekumeniese Kommissie dien as kontakliggaam van die NG Kerk met ekumeniese organisasies.

 

*2      Die Ekumeniese Kommissie dien as die skakelligaam tussen die NG Kerk en dié ekumeniese liggame of organisasies met wie die NG Kerk betrekkinge het.  Ten opsigte van hierdie liggame/organisasies moet die Ekumeniese Kommissie:

 

*2.1  hulle aktiwiteite bestudeer en die Algemene Sinode met 'n verslag en aanbevelings dien;

 

*2.2  persone identifiseer wat die NG Kerk by die onderskeie organisasies/liggame verteenwoordig.

 

*3      Die Ekumeniese Kommissie stel ondersoek in na verskillende ekumeniese organisasies, neem dit waar, bestudeer dit en doen daaroor aan die Algemene Sinode verslag.

 

70b.6    DIE STAND VAN SAKE VAN DIE NG KERK SE EKUMENIESE BETREKKINGE

 

Onderstaande is die stand van sake in Oktober 2004.  Die Algemene Sinode sal gereeld op hoogte gehou word van die toedrag van sake.

 

70b.6.1 Kerke met wie die NG Kerk in vol betrekkinge staan

 

70b.6.1.1   Die Familie van NG Kerke in Suid-Afrika.

 

70b.6.1.2   Die NG Kerk staan in 'n besondere betrekking met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, wat vir die huidige uitdrukking vind in die Tussenkerklike Raad.

 

70b.6.1.3   Die NG Kerk staan in 'n besondere betrekking met die lede van die NG Kerkfamilie buite SA wat vir die huidige uitdrukking vind in die Federale Raad.

 

70b.6.2 Ander Kerke met wie die NG Kerk in vol betrekking staan

 

70b.6.2.1   Christian Reformed Church in North America

 

70b.6.2.2   Christian Reformed Churches of Australia

 

70b.6.2.3   Reformed Church in Japan

 

70b.6.3 Kerke met wie die NG Kerk in dialoog is

 

70b.6.3.1   Evangelische Kirche Deutschland

 

70b.6.3.2   Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika

 

70b.6.3.3   Methodist Church

 

70b.6.3.4   Uniting Presbyterian Church in Southern Africa

 

70b.6.3.5   Rooms-Katolieke Kerk van Suid-Afrika

 

70b.6.3.6   Afrikaanse Protestantse Kerk

 

70b.6.3.7   Gereformeerde Kerke van die Nederlande

 

70b.6.3.8   Church of England in South Africa

 

70b.6.3.9   Church of the Province of Southern Africa

 

70b.6.3.10     Federasie van Switserse Protestantse Kerke

 

70b.6.4 Multilaterale verhouding

 

70b.6.4.1   Volle lidmaatskap

 

*1      Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER)

 

*2      Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK)

 

*3      Suid-Afrikaanse Bond van Gereformeerde Kerke (SABGK)

 

*4      Federale Raad van die NG Kerkfamilie

 

*5      Konvent van Reformatoriese Kerke

 

*6      Tussenkerklike Raad (TKR)

 

*7      Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK)

 

*8      Alliance of Reformed Churches in Africa (ARCA)

 

*9      The Evangelical Alliance (TEASA)