Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

5. Die kerklike opsig en tug


Familiereëls » 5. Die kerklike opsig en tug

HOOFSTUK 5

DIE KERKLIKE OPSIG EN TUG

Prinsipiële Besinning

 

KERKLIKE TUG DRA 'N GEESTELIKE KARAKTER

 

Kragtens die gesag wat Christus aan sy Kerk verleen het (potestas ecclesiastica), is dit die uitsluitlike prerogatief van die Kerk om die tug oor sy lidmate uit te oefen.  Die Kerk kan alleen die geestelike regspraak (spiritualis iurisdictio) uitoefen.  Tughandeling is egter nie sonder meer geestelik omrede daar nie van burgerlike prosedures of wêreldse magsmiddele gebruik gemaak word nie.  Die geestelike karakter van die tughandeling moet tot openbaring kom in die wyse waarop die Woord van God in die tughandeling funksioneer en die gesindheid waarin dit uitgeoefen word.  Ten diepste is tughandeling Woordverkondiging.  Tug moet deur die sondaar as tug uit liefde ervaar word. Tughandeling moet so verloop dat dit duidelik is dat Christus self daarby teenwoordig is en deur sy Gees daaraan leiding gee.

 

Enige kerklike tughandeling moet as pastorale, geestelike en liefdesorg aan kerklidmate verstaan en beoefen word.  Die oorspronklike betekenis van die woord "tug" dui op terugwen van lidmate vir die saak van die Here.  'n Ander woord vir "tug" is "dissipline."

 

BRONVERWYSING: T H N Sadler (1979) Die Kerklike Tughandeling, bl 7v.

 

 

Artikel 58

 

Diensverhoudinge

 

58.1     Werknemers anders as predikante in diens van 'n gemeente of die kerkverband se diensverhouding, word per diensooreenkoms gereël.

 

58.2     Vir die diensverhouding van predikante sien Art. 12.

 

58.3     In geval van wangedrag deur werknemers, anders as predikante, tree die verantwoordelike kerkvergadering op in gevolge die diensooreenkoms en indien nodig die prosedure van die kerklike tug.

 

Artikel 59

 

59.1     Kerklike opsig word gehou en kerklike tug uitgeoefen

 

59.1.1  tot eer van God;

 

59.1.2  tot heil van die Kerk;

 

59.1.3  tot behoud van die sondaar;

59.2     volgens voorskrifte van

 

59.2.1  die Woord van God;

 

59.2.2  die Belydenisskrifte;

 

59.2.3  die Kerkorde en ander bepalinge van die Kerk.

 

Artikel 60

 

60.1     Die kerklike opsig en tug dra 'n geestelike karakter en pas by die kerk as 'n geloofs- en liefdesgemeenskap.  Opsig en tug word dus op 'n kerklike wyse en met geestelike middele uitgeoefen.

 

60.2     Die amptelike uitoefening van die tug deur kerkvergaderinge of hulle gevolmagtigdes vervang nie die roeping van die gelowiges tot onderlinge vermaning nie, maar vul dit aan.

 

60.3     Amptelike kerklike opsig en tug is pastoraal-kerkregtelik van aard en moet uit 'n Bybelse en geestelike oogpunt billik en regverdig toegepas word.

 

Artikel 61

 

Tugwaardige sondes

 

61.1     Tugwaardige sondes is sondes wat indruis teen die Woord van God en die belydenis van die Kerk.

 

61.2     Sondes wat openbare aanstoot gee of wat na aanleiding van die voorskrifte van Matteus 18:15 - 17 onder die aandag van die Kerk kom, stel die oortreder(s) bloot aan 'n amptelike tugondersoek.

 

61.3     Wangedrag deur werknemers van die Kerk in terme van diensverhoudinge kan ook tugwaardige sondes wees.

 

61.4     Die kerklike opsig gaan oor die hele lewenswandel (leer en lewe) van al die lidmate (doop en belydend) van die gemeente, ampsdraers ingesluit.

 

Artikel 62

 

62.1     Alle doop- en belydende lidmate van die gemeente val onder die opsig en tug van die kerkraad.

 

62.2     Alle ouderlinge, diakens en predikante, wat emeriti en proponente insluit, staan onder die opsig en tug van die ring, sonder om die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit (vgl. Artikel 31.7).

 

62.3     Predikante in diens van die kerkverband (waarby teologiese dosente ingesluit word), staan wat hulle leer en lewe betref onder die opsig en tug van die ring binne wie se gebied hulle lidmaat is van 'n gemeente.

 

Artikel 63

 

Die amptelike ondersoek

 

63.1     Die Ondersoekliggaam

 

63.1.1  Amptelike ondersoeke van beweerde tugwaardige sondes word deur 'n ondersoekliggaam gehanteer wat of die kerkvergadering self kan wees of 'n gevolmagtigde kommissie van die kerkvergadering.

 

63.1.2  Elke kerkvergadering met tugverantwoordelikheid, besluit of die vergadering self tugondersoeke gaan doen en of daar van 'n gevolmagtigde kommissie gebruik gemaak gaan word.

 

63.1.3  Indien 'n kerkraad van 'n gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam gebruik maak om 'n amptelike tugondersoek te hanteer, wys hy 'n kommissie van ten minste vyf lede aan.  Hierdie kommissie word saamgestel uit minstens drie ouderlinge van die gemeente.  Ander kundige lidmate van binne of buite die gemeente kan ook telkens na behoefte op die kommissie gekoöpteer word as volwaardige lede.

 

63.1.4  Indien 'n ring van 'n gevolmagtigde kommissie gebruik maak as ondersoekliggaam, wys hy 'n kommissie van ten minste vyf lidmate aan waarvan ten minste drie lede van die ringsvergadering moet wees.  Ander kundige lidmate van binne of buite die ring kan ook telkens na behoefte op die kommissie gekoöpteer word as volwaardige lede.

 

63.1.5  Indien 'n kerkvergadering (kerkraad of ring) besluit om self as amptelike ondersoekliggaam op te tree, kan kundige lidmate van binne of buite die gemeente na behoefte as volle lede van die ondersoekliggaam benoem word.

 

63.1.6  'n Lid van 'n ondersoekliggaam wat aan 'n ondersoek deelneem, behou sittingsreg in die vergadering tot die ondersoek voltooi is al sou die lid se ampstermyn in die betrokke kerkvergadering tydens die duur van die ondersoek verstryk.

 

63.1.7  As 'n situasie ontstaan waardeur of die ondersoekliggaam of die geïmpliseerde voel dat 'n regverdige en billike ondersoek nie kan plaasvind met die huidige samestelling van die ondersoekliggaam nie, het beide die reg om, met opgaaf van redes, aansoek te doen dat 'n ander ondersoekliggaam die ondersoek doen.

 

63.1.7.1   In geval van 'n ondersoek deur die kerkraad of sy gevolmagtigde kommissie wend hulle hul tot die ring/ringskommissie

 

63.1.7.2   In geval van 'n ondersoek deur die ring of sy gevolmagtigde kommissie wend hulle hul tot die Sinodale Kommissie/die moderatuur om 'n ander ondersoekliggaam aan te wys.

 

63.2     Aanmelding van 'n klag, gerug of 'n verslag

 

63.2.1  Die sondes waarna Artikel 61.2 verwys, kom op een van drie maniere voor die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde:

 

63.2.1.1   deur 'n nadelige gerug of

 

63.2.1.2   'n skriftelike klag of

 

63.2.1.3   'n verslag aan die kerkvergadering wat voortvloei uit amptelike werksaamhede.

 

63.3     Aanvanklike hantering van 'n klag, gerug of verslag

 

63.3.1  By ontvangs van 'n klag, gerug of verslag en vóórdat besluit word om dit amptelik in behandeling te neem:

 

63.3.1.1   Word die kerkvergadering of die gevolmagtigde kommissie gesuiwer van die persone oor wie die klag, gerug of verslag gaan asook van die klaer of aanbringer van die gerug of verslag;

 

63.3.1.2   Stel die kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie, eers vas of die klag, gerug of verslag tot 'n amptelike ondersoek van beweerde tugwaardige sonde sou kon lei;

 

63.3.1.3   'n Kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie kan eers probeer om, waar toepaslik, die saak deur herderlike sorg, versoeningsaksie, of die hantering daarvan as 'n geskil, op te los. Indien so 'n proses nie die gewenste resultaat lewer nie, gaan die ondersoek amptelik voort;

 

63.3.1.4   Indien besluit word om 'n beweerde tugwaardige sonde nie amptelik te ondersoek nie, moet die klaer of aanbringer van die gerug of verslag, asook die persoon oor wie die klag of gerug gaan, waar nodig skriftelik in kennis gestel word;

 

63.3.1.5   'n Klag, gerug of verslag wat ontvang word, word nadat dit ter tafel geneem is, die besit van die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie en kan nie sonder toestemming van die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie teruggetrek word nie.

 

63.3.1.6   Indien besluit word om die beweerde tugwaardige sonde amptelik te ondersoek, word die inhoud op skrif gestel.

 

63.4     Opskrifstelling van 'n klag, gerug of verslag

 

63.4.1  Die aangewese ondersoekliggaam is verantwoordelik vir die opskrifstelling van die gerug.

 

63.4.2  In die geval van 'n klag kan die ondersoekliggaam die klaer adviseer met betrekking tot die formulering van die klag.  Dit geskied met goedkeuring van die klaer.

 

63.4.3  In die geval van 'n verslag formuleer die ondersoekliggaam self die beweerde sonde, wat ondersoek moet word.

 

63.4.4  'n Geformuleerde klag wat ondersoek word moet skriftelik die aard, plek en tyd van die beweerde sonde vermeld.

 

63.5     Besorging van klag of gerug

 

              Die inhoud van die geformuleerde klag of gerug moet 'n redelike tyd vóór die ondersoek daarvan, skriftelik aan die aangeklaagde of geïmpliseerde besorg word.

 

63.6     Die moontlikheid van stuiting

 

63.6.1   By beweerde ergerlike wangedrag[13] deur 'n ampsdraer (vgl. Artikel 61) mag die ring of sy gevolmagtigde kommissie na ontvangs van die klag, die verslag, of na kennisname van die gerug, die betrokkene in die diens stuit.  Die betrokke vergadering moet die geïmpliseerde ampsdraer vooraf skriftelik kennis gee van die voorneme om hom/haar in die amp te stuit.  Hierdie kennisgewing moet 'n bondige uiteensetting bevat van die beweerde ergerlike wangedrag en die betrokkene uitnooi om skriftelike vertoë te rig voordat 'n besluit tot stuiting gefinaliseer word.

 

63.6.2  Hierdie stuiting geskied met kennisgewing aan die betrokkene en die instansie in wie se diens hy/sy staan.

 

63.6.3  Kerklik gesproke is stuiting nie 'n tugmaatreël nie. Stuiting dien tot beskerming van die gemeente en/of individu(e) wat betrokke is in die ondersoek en die maatreël het betrekking op die uitoefening van ampsbevoegdhede tydens die ondersoek.

 

63.7     Die moontlikheid van 'n voorlopige ondersoek

 

63.7.1  Die ondersoekliggaam kan 'n voorlopige ondersoek deur van sy lede laat doen.

 

63.7.1.1   Die lede wat die voorlopige ondersoek doen, berei 'n verslag voor vir die ondersoekliggaam wat tot 'n bevinding(e) moet kom.

 

63.7.1.2   Die verslag moet slegs feitelike inligting betreffende die voorlopige ondersoek bevat, dws:

 

63.7.1.2.1    'n beskrywing van die inhoud en verloop van die ondersoek;

 

63.7.1.2.2    stawende materiaal (notules, dokumente ens.)

 

63.7.1.3   Die verslag mag geen bevinding(e) na aanleiding van die ondersoek of aanbevelings betreffende skuld of onskuld en moontlike tugmaatreëls bevat nie.

 

63.7.2  Die verslag van die voorlopige ondersoek dien voor die vergadering van die ondersoekliggaam wat 'n bevinding(e) moet maak en besluite moet neem betreffende die skuld of onskuld en moontlike tugmaatreëls.

 

63.7.3  Die vereistes vir die voorlopige ondersoek is dieselfde as dié vir die ondersoekliggaam wat tot 'n bevinding(e) en besluite moet kom.

 

63.7.4  Deelname aan so 'n voorlopige ondersoek ontneem die lede nie van sittingsreg aan die ondersoekvergadering wat die saak hanteer nie.

 

63.8     Vereistes vir 'n tugondersoek

 

           Ooreenkomstig Artikel 59.2 en om gestalte te gee aan Artikel 60.3, moet kerkvergaderings of hulle gevolmagtigdes aan die volgende uitvoering gee tydens die ondersoek:

 

63.8.1      Suiwering van die ondersoekliggaam

 

               Niemand met 'n botsende belang ten opsigte van die saak wat ondersoek word, mag deel wees van 'n liggaam wat 'n tugondersoek doen en besluite daaroor neem nie.  Die ondersoekliggaam moet dus gesuiwer word van persone soos die partye (die klaer(s) en die aangeklaagde(s)), hulle getuies, persone wat in die eerste of tweede graad aan die partye verwant is en ander persone wat een of ander persoonlike belang by die saak het.

 

63.8.2      Vergaderings wat tugondersoeke doen, is geslote vergaderings.

 

63.8.3      Klaer(s), aangeklaagde(s) en getuies moet voldoende geleentheid kry om hulle saak te stel.

 

63.8.4      Die partye is nie geregtig op iemand wat namens hulle optree nie, maar kan bygestaan word deur 'n lidmaat van die eie of 'n ander gemeente.

 

63.8.5      Die ondersoek van 'n beweerde tugwaardige sonde vind deurentyd plaas in die teenwoordigheid van die klaer(s) en die aangeklaagde(s). Vrae deur al die aanwesiges kan oor en weer gestel word.  Die betrokke vergadering kan self ook getuies oproep en getuienis aanbied om tot 'n behoorlike bevinding in sy ondersoek te kom.  Die partye self kan in die loop van die saak verdere getuienis aanbied om lig op die saak te werp.

 

63.8.6      Indien enige van die partye weier om voor die betrokke ondersoekliggaam te verskyn of die voortgang van die ondersoek verhinder kan die ondersoekliggaam met opgaaf van redes die ondersoek in sy/haar afwesigheid voortgesit.

 

63.8.7      Die lede van 'n ondersoekliggaam wat tot 'n bevinding(e) en besluite in 'n tugsaak kom, moet almal vir die volle duur van die ondersoek teenwoordig wees.

 

63.8.8      Ná die ondersoek maak die gesuiwerde ondersoekliggaam in afwesigheid van die partye sy bevinding(e) en neem besluite.

 

63.8.9      Die bevindinge en besluite tot tugmaatreëls van kerkvergaderinge of hulle gevolmagtigde ondersoekliggame moet met opgaaf van redes gepaard gaan.

 

63.8.10           Die koste van 'n tugondersoek kom op die rekening van die betrokke kerkvergadering, met dien verstande dat die partye self vir die koste van hulle getuies verantwoordelik is.

 

Riglyne

 

ONTTREKKING (REKUSERING)

 

'n Lid van 'n ondersoekliggaam moet hom/haar van 'n ondersoek onttrek as sy/haar onpartydigheid nie bo twyfel is nie.

 

Onttrekking vind plaas wanneer

·        'n party daarvoor vra

              en/of

·        'n lid self oor sy/haar onpartydigheid twyfel

              en/of

·        'n kerkvergadering of ondersoekliggaam dit versoek.

 

Onttrekking vind plaas nadat getuienis daaroor aangehoor is en die kerkvergadering/ondersoekliggaam sodanig besluit het.  Die lid kan nie oor sy eie onpartydigheid beslis nie.

 

'n Vakature wat weens onttrekking in 'n ondersoekliggaam ontstaan, word deur die ondersoekliggaam self vanuit die sekundi aangevul of deur die kerkvergadering wat die ondersoekliggaam saamgestel het.

 

Waar onttrekking 'n hele vergadering sou lamlê en daar geen moontlikheid is om die vereiste kworum deur aanvulling te verkry nie, behoort die versoek/aansoek om rekusering van die hand gewys te word en sal dit nie 'n hersienbare onreëlmatigheid wees as die vergadering voortgaan met die ondersoek nie.

 

Kyk ook Artikel 63.1.7, Kerkorde, Algemene Sinode, 2004.

 

BRONVERWYSING: T H N Sadler (1979) Die Kerklike Tughandeling, bl 90.

 

 

Artikel 64

 

Tugmaatreëls

 

64.1       Die onderstaande tugmaatreëls kan deur ondersoekliggame toegepas word.[14]

 

64.2     Dooplidmate

 

64.2.1  'n bestraffing in 'n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam;

 

64.2.2  sensuur wat bestaan uit onthouding van die nagmaal en/of weerhouding van die aflegging van belydenis van geloof;

 

64.2.3  afsnyding van die gemeente deur die gebruik van die betrokke formulier.

 

64.3     Belydende lidmate

 

64.3.1 'n bestraffing in 'n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam;

 

64.3.2  sensuur wat bestaan uit die onthouding van die sakramente en die opskorting van ander lidmaatsregte;[15]

 

64.3.3  afsnyding van die gemeente nadat sensuur en voortgesette herderlike sorg nie tot berou gelei het nie, en deur die gebruik van die betrokke formulier.

 

64.4     Ouderlinge en diakens

 

64.4.1  'n bestraffing in 'n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam;

 

64.4.2  skorsing met of sonder onthouding van die sakramente en met of sonder opskorting van lidmaatsregte totdat daar bewys van grondige berou is;

 

64.4.3  afsetting uit die diens met opskorting van lidmaatsregte en onthouding van die sakramente.

 

64.5     Evangeliedienaars

 

64.5.1  'n bestraffing in 'n privaatgesprek of ter vergadering van die ondersoekliggaam;

 

64.5.2  skorsing vir 'n vasgestelde tydperk met een of meer van die volgende maatreëls:

 

64.5.2.1   opskorting van lidmaatsregte;

 

64.5.2.2   onthouding van die sakramente;

 

64.5.2.3   gedeeltelike of volle weerhouding van lewensonderhoud en toelaes.

 

64.5.3  Indien die ondersoekliggaam nie oortuig is van die egtheid van die berou nie, kan hierdie skorsing verleng word.[16]

 

64.5.4  Ontslag met een of meer van die maatreëls: opskorting van lidmaatsregte en/of onthouding van die sakramente. Ontslag kan wees:

 

64.5.4.1   ontslag uit die diens van die gemeente of uit die diens van die kerkverband;

 

64.5.4.2   ontslag uit die diens van die gemeente of uit die diens van die kerkverband met die aanbeveling aan die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde kommissie dat die betrokke leraar se ampsbevoegdheid opgeskort word;

 

64.5.4.3   ontslag uit die diens van die gemeente of uit die diens van die kerkverband met die aanbevelings dat die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde kommissie die leraar se ampsbevoegdheid beëindig wat die nietigverklaring van die akte van legitimasie insluit.

 

 

 

 

 

Artikel 65

 

Appèlle

 

65.1     Ooreenkomstig Artikel 23 kan daar teen die bevindinge en tugmaatreëls van tugliggame geappelleer word.

 

65.2     Oor leerstellige sake en bevoegdheidsaangeleenthede van gelegitimeerdes kan tot by die Algemene Sinode geappelleer word (vgl. Artikel 44.4).

 

65.3     Oor ander sake wat met die tug verband hou, kan daar nie verder as die sinode geappelleer word nie.[17]

 

Artikel 66

 

Opheffing van Tugmaatreëls

 

66.1     Tugmaatreëls het berou en inkeer ten doel en word, met inagneming van Artikel 59.1, opgehef in die geval van

 

66.2     Lidmate

 

66.2.1  Wanneer 'n belydende lidmaat berou betoon nadat hy/sy onder sensuur geplaas is, hef 'n ondersoekliggaam of kerkraad wat oortuig is van die egtheid van die berou, die sensuur op.

 

66.2.2 Wanneer belydenis van geloof weerhou is, laat die kerkraad die dooplidmaat toe tot belydenisaflegging wanneer die tugliggaam oortuig is van die egtheid van berou.

 

66.2.3  Wanneer 'n lidmaat wat van die gemeente afgesny is, berou betoon en verlang om weer in die gemeente opgeneem te word, neem die kerkraad, as hy oortuig is van die egtheid van die berou, die persoon weer in die gemeente op met die gebruik van die betrokke formulier.  By dooplidmate kan hierdie stap gepaard gaan met belydenisaflegging.

 

66.3     Ouderlinge en diakens

 

           As die ring of sy gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam oortuig is van die egtheid van berou, kan die sensuur of skorsing van ouderlinge en diakens opgehef word.  Ouderlinge en diakens wat afgesit is, kan dan weer verkies word tot die kerkraad.[18]

 

66.4     Evangeliedienaars

 

66.4.1  As die ring of sy gevolmagtigde kommissie as ondersoekliggaam oortuig is van die egtheid van berou, word die sensuur en skorsing as tugmaatreëls opgehef met verslag aan die Algemene Regskommissie.

 

66.4.2  By ontslag volgens Artikel 64.5.4.2 moet die ring of sy gevolmagtigde kommissie, as ondersoekliggaam, die sensuur ophef voor die Algemene Regskommissie die ampsbevoegdheid kan herstel.[19]

 

66.4.3  Herstel in diens van die gemeente kan alleen deur 'n beroep geskied of na 'n suksesvolle appél teen die ontslagtugmaatreëls genoem in Artikel 64.5.4.1 - 64.5.4.3.

 

66.4.4  Legitimasie na verlies van bevoegdheid van 'n predikant of proponent vind plaas deur die Algemene Regskommissie na colloquium doctum op aanbeveling van die sinode/sinodale kommissie na oorweging van die getuienis van die ring wat die aansoek om hertoelating hanteer (vgl. Reglement 3, Kerkorde, Algemene Sinode, 2004, punt 7).

 

66.4.5  In die geval van ontneming van bevoegdheid deur tughandeling as gevolg van ergerlike sondes soos owerspel, onsedelikheid, egskeiding, moord, meineed, diefstal of na afsetting as gevolg van leerdwaling, mag toestemming tot legitimasie alleen by hoë uitsondering, nadat gunstige aanbevelings van alle betrokke instansies ontvang is, deur die Algemene Sinode in sitting verleen word.

 

 

 



[13]     Ergelike wangedrag kan onder meer die volgende behels: owerspel, onsedelikheid, egskeiding, moord, meineed, diefstal en leerdwaling.

[14]     Hoewel die maatreëls in hierdie Artikel vervat opeenvolgend toegepas kan word, sal dit nie in alle gevalle die aangewese weg wees nie.

[15]     Lidmaatsregte wat deur hierdie tugmaatreël geraak kan word, behels onder meer die reg om verkies te word as kerkraadslid, die reg om as doopgetuie te staan, die reg om 'n attestaat te ontvang, die reg om belydenis van geloof af te lê, die reg om onderrig te gee in die gemeente, die reg om deel te neem aan 'n  gemeentevergadering, in die geval van ampsdraers die reg om hulle ampspligte uit te oefen, in die geval van leraars ook die reg om beroep te word of om 'n ongekwalifiseerde akte van demissie te ontvang.  Die reg op herderlike versorging van lidmate word nie deur hierdie tugmaatreël geraak nie.

[16]     Ter wille van die bediening in die gemeente moet die skorsing nie onbepaald voortduur nie.  Ringe moet toesien dat die gemeentebediening nie skade ly nie.

[17]     Vir die reëlings in verband met appèlle vergelyk Artikel 23 en toepaslike besluite.

[18]     Al hierdie maatreëls hoef nie almal of gelyktydig opgehef te word nie.

[19]     Al hierdie maatreëls hoef nie almal of gelyktydig opgehef te word nie.