Oostelike Sinode
4. Die bedieninge van die kerk
Familiereëls » 4. Die bedieninge van die kerk
DIE BEDIENINGE VAN DIE KERK
Prinsipiële Besinning
DIE DRIE BEDIENINGE EN ONDERSTEUNINGSDIENSTE
Die Bedieninge vorm deel van die Sinode se visie, naamlik dat die Kerk gerig is op God (aanbidding), op mekaar (onderlinge sorg) en op die wêreld (getuienis).
1. Aanbidding
1.1 Aanbidding is die kommunikasiegebeure waarin God drie-enig en mens mekaar ontmoet.
1.2 Die Sinode se Bediening vir Aanbidding wil saam met gemeentes 'n lewensveranderende ontmoeting met God ontdek, in stand hou en uitbou.
1.3 Die Bediening vir Aanbidding se fokusareas is:
1.3.1 Die erediens met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: Woordbediening, liturgie, kerklike jaar en feeste, formuliere, musiek en sang, sakramente, rituele en simbole, en hulpmiddels (multimedia).
1.3.2 Die geestelike dissiplines met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: retraites, gawes van die Gees, gebed, geloofsvorming, toerusting en huisgodsdiens.
2. Onderlinge Sorg
2.1 Onderlinge Sorg is om as huisgenote van die geloof vir mekaar beskikbaar te wees, na mekaar te luister, mekaar te vermaan, mekaar te ondersteun, mekaar te bemoedig en te versterk ten einde mekaar in die geloof op te bou.
2.2 Die Sinode se Bediening vir Onderlinge Sorg wil aan gemeentes en lidmate leiding gee en hulle ondersteun om uit die hart van God vir mekaar te leef.
2.3 Die Bediening vir Onderlinge Sorg se fokusareas is:
2.3.1 Pastorale versorging met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: die bediening van die leraar, gestruktureerde besoeke deur ampsdraers en hulpwerkers, krisispastoraat, kleingroepbediening, opsig en tug. Die doelwit is om 'n effektiewe bediening daar te stel en te ondersteun om as ampsdraers en lidmate die gelowiges te versorg en op te bou in hulle geloof.
2.3.2 Bediening aan belangegroepe met onder andere die volgende be-dieningsaktiwiteite: nuwe lidmate-bediening, jeugbediening, vrouebediening, gesins- en huweliksbediening, senior lidmate-bediening, kampe-, manne-, en
belydende jongmense-bediening. Die doelwit is om die verskeidenheid van belangegroepe so te organiseer en te koördineer om aan die diversiteit van behoeftes in die gemeente genoegsaam aandag te gee.
2.3.3 Versorgingsdienste met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: ondersteuningsnetwerk vir getraumatiseerdes, gespesialiseerde hulp, voorkomende programme, noodgevalle, inrigtings, spreekkamers, gesinsklinieke en maatskaplike opheffingsprojekte. Die doelwit is om deur gemeentelike hulpverlening aan die besondere behoeftes in die Kerk aandag te gee op 'n spontane en gespesialiseerde wyse.
3. Getuienis
3.1 Die getuienis van die Kerk gaan uit van God drie-enig. Die inhoud van die getuienis is die verlossing wat Jesus Christus gebring het vir die totale skepping. Die styl en gesindheid van die Kerk in die getuienis is die liefde van God, soos wat Hy dit aan die wêreld in Jesus Christus bewys het.
3.2 Die Sinode se Bediening vir Getuienis wil saam met gemeentes die Kerk se gesig na die wêreld draai.
3.3 Die Bediening vir Getuienis se fokusareas is:
3.3.1 Christelike lewenstyl met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: Skrif- en belydenisgetroue standpunte, spiritualiteit en geestelike verdieping, waardes en etiek, diens van geregtigheid, en navorsing oor die konteks van kerkwees.
3.3.2 Roepingsbediening met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: getuienis in die werkplek en werketiek.
3.3.3 Missionêre diakonaat met onder andere Gereformeerde missionêre ekklesiologie en sosio-ekonomiese ontwikkelingsprogramme.
3.3.4 Kerklike skakeling met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: kerklike eenheid, ekumene en skakeling in kerkverband.
3.3.5 Sendingmobilisering met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: binne- en buitelandse sendingaksies, leierskapontwikkeling, opleiding en toerusting.
4. Ondersteuningsdienste
4.1 Ter wille van die welwese van die Kerk lewer ondersteuningsdienste gekoördineerde ondersteuning aan die bedieninge van die Sinode, ringe en gemeentes.
4.2 Die Sinode se Ondersteuningsdienste wil aan die Sinode, ringe gemeentes en bedieninge doeltreffende ondersteuning gee in die uitvoering van hulle roeping.
4.3 Ondersteuningsdienste se fokusareas is:
4.3.1 Administratiewe bestuur met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: inligting, eiendomme, beplanning en navorsing.
4.3.2 Hulpbronne met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: finansies, personeel en professionele dienste.
4.3.3 Kommunikasie en skakeling met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: eksterne en interne kommunikasie en bemarking.
4.3.4 Regsdiens met onder andere die volgende bedieningsaktiwiteite: kerkordelike reëlings, diensverhoudinge en staatsregtelike bepalings.
4.3.5 Opleiding, toerusting en fasilitering.
BRONVERWYSING: Agenda Sinode van Oos-Transvaal 1999, bl 167v.
Die indeling van die Artikels van die Kerkorde van die Algemene Sinode word steeds hieronder gevolg, maar in die Bepalinge van die Sinode van Oos-Transvaal word die Sinode se bedieningstruktuur weerspieël.
4.1 AANBIDDING
4.1.1 Die Openbare Erediens
Artikel 48
48.1 Die erediens is, onder leiding van die genadige werking van die Heilige Gees, die openbare samekoms van die gemeente tot ontmoeting met God en onderlinge gemeenskap van die heiliges onder leiding van die besondere ampte en deur die bediening van die Woord, die heilige sakramente, die gebed, kerklied en dankoffers.
48.2 Die inrigting van die eredienste word deur die kerkraad vasgestel met gebruikmaking van Bybelvertalings wat vir amptelike gebruik aanvaar is, die liturgiese orde van die erediens, asook die liederebundel(s) en die liturgiese formuliere, soos deur die Algemene Sinode vasgelê.
48.3 Die leiding van die eredienste berus by een van die volgende persone:
48.3.1 die bedienaar van die Woord van die plaaslike gemeente of, in sy/haar afwesigheid;
48.3.2 die konsulent;
48.3.3 'n ander bevoegde evangeliedienaar van gereformeerde belydenis wat deur die kerkraad daartoe uitgenooi is;[11]
48.3.4 'n student van 'n teologiese fakulteit van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (Artikel 5.2) wat, óf in ooreenstemming met die vereistes van die betrokke fakulteit en met toestemming van die kerkraad, deel van sy/haar praktiese opleiding in die gemeente ontvang, óf na voltooiing van sy/haar praktiese werk deur 'n kerkraad uitgenooi is;
48.3.5 'n ouderling van die betrokke gemeente wat 'n leesdiens waarneem.
48.4 Prediking
48.4.1 Met die oog op die verkondiging van die volle raad van God moet die prediking deurgaans volle reg aan die kerklike jaar en die belydenisskrifte laat geskied.
48.4.2 Die inhoud van die prediking moet steeds 'n verklaring en toepassing van die Heilige Skrif wees.
48.5 Die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls moet deurentyd sistematies aan die orde gestel word.
Bepaling 37
Die bediening van die Woord in die erediens
37.1 Die bediening van die Woord in die erediens word gerig deur
37.1.1 die kerklike jaar, waaronder die vier adventsweke en Kersfees, die lewe en werk van Jesus Christus, die sewe lydensweke, Goeie Vrydag en Paasfees, Hemelvaart, Pinkster en die koninkrykstyd met klem op die uitbreiding van die Kerk, die wederkoms, die eindoordeel en die ewige lewe;
37.1.2 besondere dae, waaronder verootmoedigings-, bid- en dankdae, Hervormings- en Geloftedag (Versoeningsdag);
37.1.3 aktuele gebeure van die dag;
37.1.4 die Belydenisskrifte van die Kerk;
37.1.5 die ongelowiges se nood.
37.2 In die bediening van die Woord word rekening gehou met die diversiteit van die gemeente.
4.1.2 Die Sakramente
Artikel 49
49.1 Die Doop
Die heilige doop word, behalwe by hoë uitsondering, in 'n erediens deur 'n bedienaar van die Woord bedien met gebruikmaking van 'n goedgekeurde liturgiese formulier.
49.2 Die Nagmaal
49.2.1 Die heilige nagmaal word minstens vier maal per jaar in elke gemeente gevier (vgl. Funksionele besluit 22).
49.2.2 Tot die heilige nagmaal word toegelaat:
49.2.2.1 belydende lidmate van die gemeente;
49.2.2.2 dooplidmate van die gemeente wat deur die kerkraad toegelaat is tot die heilige nagmaal (vgl. Funksionele besluit 22);
49.2.2.3 besoekers uit ander NG gemeentes;
49.2.2.4 besoekers uit ander Kerke (vgl. Reglement 21: 3.2.2.1 en 3.2.2.2)
Besluite by Artikel 49.1
49.1b 1 Wanneer geeneen van die ouers geregtig is om op die doopvrae te antwoord nie kan die kerkraad in oorleg met die ouers 'n doopgetuie(s) vind, wat genoegsame waarborg kan bied vir 'n christelike opvoeding van die dopeling.
49.1b 2 Die kerkraad moet toesien dat die doop van verbondskinders so gou as moontlik aangevra en bedien word.
49.1b 3 By die doop van 'n kind ouer as sewe jaar en voor belydenisaflegging:
49.1b 3.1 moet die kerkraad daarvan oortuig wees dat die ouers/doopgetuies se gesindheid en meelewing tans reg is, en die kind wat gedoop moet word, moet in staat wees om, na gelang van die kind se bevatlikheid, 'n eenvoudige belydenis van instemming met die Christelike waarheid af te lê, tesame met 'n getuienis aangaande liefde tot en geloof in Jesus Christus.
49.1b 3.2 Die eenvoudige belydenis word deur die kind slegs by die dooponderhoud afgelê.
49.1b 3.3 Tydens die dooponderhoud word die kind voorberei op die vrae en antwoord slegs met 'n "ja". Die vrae lui soos volg:
· Glo jy dat die Bybel die Woord van God is?
· Glo jy dat God, die Vader, die Skepper van hemel en aarde is?
· Glo jy dat die Here Jesus Christus vir jou sondes gesterf het en dat Hy uit die dood opgestaan het, en het jy Hom lief?
· Glo jy dat die Heilige Gees in jou woon en jou lewe nuut maak?
49.1 b4 Persone sestien jaar en ouer wat nie gedoop is nie kan gedoop word na openbare belydenis van geloof.
49.1 b5 Die doop van iemand uit 'n ander kerkverband word erken as dit geskied het in die Naam van die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees; met water bedien is; en deur 'n persoon met bevoegdheid in die betrokke kerkverband bedien is.
Bepaling 38
Die doop
38.1 Die doop word bedien aan kinders van ongesensureerde belydende lidmate van die gemeente. Indien ouers verlang om hulle kinders te laat doop in 'n ander gemeente as waarvan hulle lidmate is, verkry hulle daartoe skriftelike toestemming van die kerkraad onder wie se toesig hulle staan.
38.2 Die doop mag bedien word aan die kinders van lidmate van ander Kerke (kyk Reglement 21, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ander Christelike Kerke en Groepe, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 89, 3.2.1).
38.3 Doop van aangenome kinders
38.3.1 Wanneer die aanneming wetlik afgehandel is, kan aangenome kinders gedoop word.
Kommentaar
DOOP VAN AANGENOME NIE-VERBONDSKINDERS
DEUR VERBONDSOUERS
'n Kind, gebore uit nie-verbondsouers, word langs die weg van aanneming deur verbondsouers 'n verbondskind en verbondsverpligtinge moet nagekom word. Die verbondsbeloftes geld nie uitsluitlik waar daar sprake is van 'n bloedlyn nie, maar geld ook vir kinders wat opgeneem word in 'n verbondsgesin. Wanneer gelowige ouers 'n kind aanneem, word daardie kind wettiglik beskou as die eie kind van daardie betrokke ouerpaar. Uiteraard aanvaar die ouerpaar die verantwoordelikheid om die kind geestelik binne die verbond op te voed.
BRONVERWYSING: Handelinge Algemene Sinode 1986, bl 728.
38.3.2 Wanneer 'n aangenome kind reeds gedoop is, neem die aanneemouers die verpligting en voorregte van die verbondsouer oor.
Kommentaar
OORDRAAGBAARHEID VAN VERANTWOORDELIKHEID MET
BETREKKING TOT DIE DOOPBELOFTE
Wanneer 'n verbondsouer om een of ander rede nie meer die verbondskind, wat reeds ten doop gebring is, kan versorg nie en vir aanneming beskikbaar stel, is dit daardie ouer se verantwoordelikheid om toe te sien dat die kind deur 'n gelowige ouerpaar aangeneem word. Wanneer die natuurlike ouer die wens of voorwaarde (in geval van 'n nie-geopenbaarde aanneming) in hierdie verband aan die aannemingsorganisasie bekend gemaak het, moet die Kerk soveel te meer toesien dat 'n onderneming deur die aanneemouers gegee word, dat die doopbelofte nagekom sal word. Daarna neem die aanneemouers die verpligtinge en die voorregte van die verbondsouer oor. Die natuurlike verbondsouer kan nou nie verder vir die verbondsbeloftes verantwoordelik gehou word nie.
BRONVERWYSING: Handelinge Algemene Sinode 1990, bl 674.
38.4 Doop van kinders in pleegsorg
38.4.1 Kinders in pleegsorg kan gedoop word, nadat die kerkraad deur samesprekinge met pleegouers en die pleegsorginstansie hulleself daarvan vergewis het dat die betrokke pleegplasing na alle waarskynlikheid van 'n langtermyn aard is. Die finale besluit berus by die kerkraad, wat in alle gevalle moet waak teen die misbruik van die sakramente.
38.5 Doop van kinderhuiskinders
38.5.1 'n Ongedoopte kinderhuiskind van sewe jaar en ouer wie se kinderhuisplasing 'n min of meer permanente vorm aangeneem het, kan gedoop word.
38.5.2 Die kinderhuis of gemeente kan nie korporatief as pleegouer optree vir doeleindes van die aflê van en uitvoering van die doopgelofte nie.
38.5.3 Kerkrade kan, nadat die biologiese ouer(s), waar moontlik, geraadpleeg is, lidmate van die gemeente wat bereid is om verantwoordelikheid te neem vir die verbondsopvoeding, aanwys om as doopgetuies of geestelike voogde op die formulier te antwoord by die bediening van die doop aan 'n kinderhuiskind ouer as sewe jaar.
38.5.4 By die doop van en daarna by die nagmaalbediening aan 'n kinderhuiskind, moet die begeerte eers van die kinderhuiskind self kom en kerkrade moet daarteen waak dat ander oorweginge nie 'n aanleidende rol speel nie.[12]
38.6 Doop van kinders uit buiteland
Kyk Kerkorde, Algemene Sinode, 2004, bl 102, 12.3.
Bepaling 39
Voorbereiding met die oog op die doop
39.1 Ouers wat die doop vir hulle kinders verlang, moet hulle vroegtydig vir 'n doopgesprek aanmeld soos deur die kerkraad gereël. Tydens die dooponderhoud word 'n gesprek met die doopouers gevoer oor die betekenis van die doop en aan hulle toerusting gegee in verband met die nakoming van die doopbelofte.
39.2 Indien die bedienaar van die Woord persoonlik of die bedienaar van die Woord tesame met die ouderling(e) om een of ander rede bedenkinge het oor die bediening van die doop in bepaalde gevalle, mag die doop uitgestel word om die mening van die Kerkraad of sy gevolmagtigde liggaam in te win.
39.3 In gevalle waar die doop met toestemming van 'n ander gemeente bedien word, is dit die verantwoordelikheid van die kerkraad wat die toestemming verleen, om toe te sien dat 'n dooponderhoud met die betrokke ouers gevoer word.
Bepaling 40
Die nagmaal
40.1 Die nagmaal word, behalwe by hoë uitsondering, in die erediens deur 'n bedienaar van die Woord aan ongesensureerde lidmate van die gemeente bedien. Besoekers uit ander gemeentes mag die nagmaal gebruik op voorwaarde dat hulle in hulle eie gemeentes toegang en vrymoedigheid daartoe het (kyk Reglement 21, Algemene Sinode, 2004, bl 88, 3.2.2).
40.2 Die kerkraad besluit oor die bediening van die nagmaal in uitsonderlike gevalle.
Algemene Sinode Besluit
TOELATING VAN KINDERS TOT DIE NAGMAAL
(Kerkorde, Algemene Sinode, 2004, bl 107)
1. Die Algemene Sinode besluit dat
· gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo,
· aan die vereistes van 1 Korintiërs 11 voldoen, en
· die begeerte het om nagmaal te gebruik tot die nagmaal toegelaat mag word.
2. Praktyk van toelating van kinders by die Nagmaal
Die Algemene Sinode besluit dat, ter wille van die goeie orde en eenheid van die Kerk, die toelating op die volgende wyse geskied:
2.1 Kerkrade besluit wanneer die gemeente daarvoor gereed is. Die Algemene Sinode besluit om Kerkrade te versoek om die gemeentes te begelei en toe te rus, en so tot gereedheid te voer vir toelating van kinders tot gebruik van die nagmaal as 'n gesinsmaal. Hierdie leiding moet op 'n pastorale wyse met groot liefde en toewyding gedoen word.
2.2 Ouers se verantwoordelikheid
Ouers het die verantwoordelikheid om hulle kinders voortdurend te begelei en te onderrig in die volle rykdom van die betekenis van die nagmaal, net soos kerkrade die plig het om volwassenes te begelei.
2.3 Dit is die verantwoordelikheid van elke kerkraad om spesifieke reëlings te tref oor die wyse waarop die toelating plaasvind. Wykskerkraadslede en/of kategete kan ook in die opsig saam met die ouers betrek word (Handelinge, Algemene Sinode 2002, bl 552, 15/16).
2.4 Die Algemene Sinode beklemtoon dat ouers hulle kinders moet begelei met die oog op die kinders se deelname aan die nagmaal en om die besondere geleentheid te benut om die nagmaal saam met hulle kinders te gebruik.
2.5 Die Algemene Sinode versoek kerkrade om deurlopend aandag te gee aan die toerusting en begeleiding van ouers, sodat hulle hulle kinders kan begelei in die deelname aan die nagmaal.
2.6 Die Algemene Sinode besluit:
2.6.1 By die toelating van kinders tot die nagmaal verval belydenisaflegging as toelatingsvoorwaarde vir die nagmaal.
2.6.2 Die praktyk van kategese en belydenisaflegging word gehandhaaf in ooreenstemming met die vorige besluite van die Algemene Sinode.
(Handelinge, Algemene Sinode, 1998, bl 432, 4.)
Riglyne
BEDIENING VAN DIE NAGMAAL
BUITE DIE EREDIENS
Die volgende algemene riglyne word deur die kerkraad gehandhaaf by die bediening van die nagmaal buite die erediens:
1. Die kerkraad evalueer die meriete van elke aansoek.
2. Die Woord moet bedien word.
3. Die ware betekenis van die nagmaal word verduidelik sodat bygeloof uitgeskakel kan word hetsy deur die formulier of andersins.
4. Minstens een ampsdraer, verkieslik die wyksouderling, woon die nagmaalbediening by. Waar moontlik word gereël dat ander medegelowiges dit ook bywoon, sodat die gemeenskapskarakter van die nagmaal bewaar kan bly.
BRONVERWYSING: Handelinge Algemene Sinode 1994.
Riglyne
BEDIENING VAN DIE NAGMAAL
IN KLEINGROEPE
Die Sinode van Oos-Transvaal het die volgende besluit geneem:
1. Die Sinode bevind dat die nagmaal nie net in die groot ruimte van die kerkgebou gevier hoef te word nie, dit kan ook in die meer intiemer atmosfeer van kleiner groeperinge bedien word.
2. Die Sinode bevind dat die bediening van die nagmaal in kleingroepe aan die volgende riglyne moet voldoen:
3. Toegang tot die nagmaal in kleingroepe geskied volgens dieselfde riglyne as in die openbare erediens.
4. Dit moet 'n openbare geleentheid wees waar die Woord bedien word en enigiemand welkom is.
5. Die kerkraad, en meer spesifiek die ouderlinge, is verantwoordelik vir die toesig oor elke nagmaalsviering.
6. Die bediening word waargeneem deur 'n geordende leraar van die kerk.
7. Die bediening volg dieselfde liturgiese patroon; dieselfde tekens (brood en wyn) word met dieselfde simboliese betekenis bedien; en dieselfde instellings-formules as wat in die erediens gebruik word, word hier nagevolg.
BRONVERWYSING: Handelinge Sinode van Oos-Transvaal 2001, bl 163, Kerkorde, Algemene Sinode, soos, bl 124, 22.3.
Die Algemene Sinode het daarop die volgende besluit geneem. Aangesien daar by 'n toenemende aantal lidmate 'n behoefte is aan 'n nagmaalsbelewing in kleiner, meer intieme groepe, en daar geen Bybelse beswaar daarteen is nie, besluit die Sinode dat
nagmaal voortaan ook in kleingroepe in die gemeente bedien mag word onder dieselfde voorwaardes as wat in die gemeentes as geheel geld.
BRONVERWYSING: Handelinge, Algemene Sinode, 2002, bl 537.
40.3 Interkommunie met ander Kerke is geoorloof mits dit langs die weg van onderlinge oorlegpleging plaasvind. Interkommunie met 'n Kerk wie se nagmaalsbeskouing van die Gereformeerde beskouing verskil, geskied slegs by wyse van uitsondering onder besondere omstandighede.
4.2. ONDERLINGE SORG
4.2.1 Jeugbediening
Artikel 50
50.1 Die jeug as wesenlike deel van die gemeente is die verantwoordelikheid van die Kerk en hierdie verantwoordelikheid is onvervreembaar en onoordraagbaar.
50.2 Die bediening aan die jeug as verbondsjeug is 'n geïntegreerde deel van die omvattende gemeentelike bediening waarin God deur sy Woord tot die jeug kom deur verkondiging, onderrig, toerusting, herderlike sorg en dienswerk. Hierdie gemeentelike bediening geskied onder die leiding van die ampte aan en deur die jeug.
50.3 Die kinders van die gemeente, asook alle buitekerklikes wat belydende lidmate van die gemeente wil word, moet onderrig word in die Woord van God en die leer van die Kerk. Hierdie onderrig geskied met die oog op belydenisaflegging waardeur hulle deel in die volle regte en verantwoordelikhede van belydende lidmate.
Bepaling 41
Kategese
41.1 In aansluiting by die verbondsonderrig van die ouers is kategetiese onderrig van dooplidmate die taak van elke gemeente.
41.2 Die organisasie van die kategese, aanstelling van kategete en toelating tot belydenisaflegging is die kerkraad se verantwoordelikheid.
41.3 Die kategese omvat die geloofsinhoud en die betekenis daarvan soos dit tot uitdrukking kom in die Woord van God en die Belydenisskrifte. Daar word by die leerplan, soos deur die Algemene Sinode bepaal, gehou. Die Kerkraad kan hierdie leerplan aanvul.
41.4 'n Katkisant word toegelaat om belydenis van geloof af te lê na 'n ondersoek deur die kerkraad of hy/sy gereed is daarvoor. Tydens hierdie ondersoek word vasgestel of die katkisant Christus as persoonlike Verlosser bely, of die katkisant oor kennis van die inhoud van die Woord van God en Belydenisskrifte beskik en dit sy/haar eie gemaak het en of die katkisant sy/haar verantwoordelikheid as lidmaat besef.
41.5 Aflegging van belydenis van geloof geskied tydens 'n erediens met gebruikmaking van die toepaslike formulier. Ongedoopte katkisante word na belydenisaflegging gedoop.
41.6 Die aflê van belydenis van geloof mag in 'n ander gemeente plaasvind met skriftelike toestemming van die kerkraad of sy gevolmagtigde.
Aflê van belydenis van geloof deur 'n verstandelik gestremde kind
Kyk Handelinge Algemene Sinode 1986, bl 618-619 vir riglyne.
4.2.2 Herderlike Sorg
Artikel 51
Die bedienaars van die Woord, ouderlinge en diakens moet deur die behartiging van getroue huisbesoek die herderlike sorg uitstrek tot alle lidmate van die gemeente, in besonder behoeftiges, siekes en oues van dae. Hulle moet besoek, bemoedig, vertroos en ondersteun word. Voorts moet lidmate voortdurend gewaarsku word teen valse leringe en dwalinge, teen wêreldsgesindheid en goddelose lewenspraktyke.
4.2.3 Gemeentebediening
Artikel 52
52.1 Die Kerk rig hom deur middel van gemeentebediening tot die lidmate ten einde die gemeente op te bou tot vervulling van sy dienswerk.
52.2 Die Kerk rig hom deur intensiewe gespesialiseerde gemeentebediening tot kerkvervreemdes wat formeel nog lidmate is ten einde hulle daadwerklik te bereik en hulle tot gemeenskap met Christus te bring.
Bepaling 42
Onderlinge Sorg
42.1 Die kerkraad sien toe dat alle kategorieë van lidmate geestelik en andersins bedien en versorg word.
42.2 Die kerkraad kan diensgroepe benoem om hierdie werksaamhede te behartig.
4.3 GETUIENIS
4.3.1 Sending/getuienis
Artikel 53
53.1 Sending is die heilshandeling van die drie-enige God, Vader en Heilige Gees met die wêreld, waardeur Hy uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente deur sy Woord en Gees vergader.
Deur dié gemeente
* laat God sy Woord aan die gevalle wêreld verkondig,
* bring Hy die gemeenskap van die heiliges uit alle nasies tot stand en
* laat Hy diens aan die wêreld in nood lewer,
* laat Hy sy opdrag om die skepping te bewaar en te bewerk sigbaar tot uitdrukking kom, en
* word sy geregtigheid aan die samelewing en wêreld verkondig.
So laat Hy sy koninkryk kom tot aan die voleinding van die wêreld.
53.2 Deur sending bedien die Kerk die evangelie in al sy dimensies aan mense buite die Kerk.
53.3 Sending is die roeping van elke lidmaat asook die gemeente. Waar die omvang en ander omstandighede van die werk dit vereis, word dit in kerkverband van ring en sinode onderneem.
4.3.2 Diens van Barmhartigheid
Artikel 54
54.1 Die Kerk moet met priesterlike bewoënheid omsien na die armes en ander sorgbehoewendes deur hulle te help, te troos en geestelik op te hef.
54.2 Waar die omvang en ander omstandighede van die werk dit vereis, onderneem die gemeentes in kerkverband van ring en sinode barmhartigheidsbediening.
4.3.3 Dienswerk van die gelowiges
Artikel 55
55.1 Dit is noodsaaklik dat die lidmate van die gemeente geaktiveer word om werksaam te wees ten opsigte van die Skriftuurlike opdragte tot die opbouing van die liggaam van Christus en die uitbreiding van die Koninkryk van God.
55.2 Hierdie dienswerk van die gelowiges kan ongeorganiseerd en spontaan geskied, maar behoort ook ter wille van die groter krag en doeltreffender funksionering daarvan kerklik georganiseer te word. Sodanige organisasie moet egter altyd geskied met toepaslike verantwoording aan die kerkraad, ring en sinode.
55.3 Die Kerk het die onvervreembare reg om sy eie lidmate vir bepaalde werksaamhede te organiseer deur kommissies van die kerkraad, ring of sinode óf te laat organiseer deur organisasies wat van die Kerk daartoe opdrag gekry het.
55.4 Waar daar kerklike organisasies vir bepaalde dienswerk bestaan in sinodale en algemeen-sinodale verband, behoort alle georganiseerde dienswerk op daardie terrein daarby in te skakel.
55.5 Organisasies wat in hierdie verband tot stand kom, lê hulle bepalinge aan die betrokke kerkvergadering vir goedkeuring voor. Die voorlegging geskied deur die kerklike kommissie wat verantwoordelik is vir die afdeling van die Kerk se werk waarby die organisasie die nouste betrokke is.
Bepaling 43
Getuienis
43.1 Die kerkraad sien toe dat die gemeente hulle getuienistaak in die wêreld nakom.
43.2 Die kerkraad kan diensgroepe benoem om hierdie werksaamhede te behartig.
Uitstuur van Sendelinge
Kyk Reglement vir die Sending/Getuienis van die NG Kerk, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 80v, asook Riglyne vir die Samewerking met ander Sendingorganisasies, Agenda en Handelinge Algemene Sinode 1998, bl 178-179, 421.
Riglyne
RIGLYNE WAT IN AG GENEEM BEHOORT TE WORD IN DIE SAMEWERKING TUSSEN KERKVERGADERINGE EN KOMMISSIES VAN VERSKILLENDE KERKVERBANDE IN DIE FAMILIE VAN NG KERKE.
1. Definisie
Samewerking tussen vergaderinge of kommissies van verskillende kerkverbande, beteken dat twee of meer kerkvergaderinge, of kommissies van
kerkvergaderinge van verskillende kerkverbande in die Familie van NG Kerke, as deel van die soeke na kerklike eenheid in die NG Kerk-familie, ten bate van die koninkryk van God en as gelyke deelgenote van mekaar, ooreenkomste aangaan vir die uitvoering van sekere gemeenskaplike werksaamhede.
2. Praktiese en kerkregtelike riglyne
2.1 Die aspekte of saak ten opsigte waarvan die partye samewerking beoog, moet duidelik omskryf word.
2.2 'n Skriftelike ooreenkoms moet opgestel word wat alle regte, pligte en verantwoordelikhede (insluitende finansies) van die partye duidelik omskryf.
2.3 Die bestaande reglemente wat handel oor kerklike fondse en kerklike goedere, moet by die opstel van die ooreenkoms in berekening gebring word.
2.4 Waar die standplaas of ander pos van 'n leraar kragtens die beoogde ooreenkoms in gedrang kan kom, moet die betrokke artikels van die Kerkorde in ag geneem word.
2.5 Indien dit die bedoeling is dat die samewerkingsliggaam die reg sal hê om sake te hanteer soos die beroep van 'n leraar en sy indiensstelling, moet aspekte soos konstituering, kworumvereistes, wyse van besluitneming, stemreg, befondsing, verantwoordelikheid vir die standplaas of aanstelling, pensioen, medies, administrasie, ensovoorts noukeurig uitgeklaar word.
2.6 Die ooreenkoms moet dit duidelik stel dat die daarstelling van die gemeenskaplike doelwitte kragtens die kontraktuele ooreenkoms, nie die regte en verantwoordelikhede van die kontrakterende kerkvergaderinge/ kommissies kan ophef of tot niet verklaar nie.
2.7 Die ooreenkoms kan voor die verstryking van die vasgestelde termyn gewysig of beëindig word indien die betrokke partye, na wedersydse kennisgewing, in hulle afsonderlike vergaderinge hulle goedkeuring daaraan heg.
2.8 Die kontrakterende party val steeds onder die regering, opsig en tug van die verantwoordelike kerkvergadering.
2.9 Tot tyd en wyl die lidkerke in een amptelike kerkstruktuur verenig is, bly die verteenwoordigers van die lidkerke in die samewerkingsliggaam gebonde aan die besluite van hulle eie sinodes.
2.10 Vergaderingsprosedures vind plaas volgens die reglement van orde van dié betrokke lidkerk waarop die samewerkingsliggaam eenmalig besluit of telkens besluit. Hierdie besluit moet telkens genotuleer word.
2.11 Finansies
2.11.1 Die dagbestuur stel met die oog op voorlegging aan en goedkeuring deur die samewerkingsliggaam 'n begroting op vir al die werksaamhede, projekte en vergaderings.
2.11.2 Die lidkerke dra by tot die begroting op 'n wyse en volgens 'n formule soos dit van tyd tot tyd bepaal word deur die lidkerke se kommissies wat fondse administreer.
2.12 Beheer en beskikking van bates
2.12.1 Bestaande bates van die lidkerke is in naam van die betrokke Kerk geregistreer en die beheer en beskikking daaroor geskied volgens die bepalinge en reglemente van die betrokke Kerk.
2.12.2 Aangesien die samewerkingsliggaam nog deur/uit die vier (of hoeveel) Kerke, elk 'n eie regspersoon, saamgestel word, sal die registrasie van bates wat die samewerkingsliggaam na sy konstituering verkry, asook die beheer en beskikking daaroor, in een van die vier lidkerke, kragtens dié se bepalinge en reglemente setel. Die dagbestuur besluit, met verslag aan die samewerkingsliggaam, telkens in welke lidkerk die registrasie, beheer en beskikking van nuwe bates moet setel.
2.12.3 Die samewerkingsliggaam besit die bevoegdheid om eiendom, roerend en onroerend, te verkry, onderhewig aan die bepalings van 2.12.2 hierbo.
2.12.4 Die samewerkingsliggaam kan slegs in ooreenstemming met die betrokke reglemente van die lidkerk lenings aangaan.
2.12.5 Alle besluite vir die koop en/of verkoop van onroerende bates en/of die aangaan van 'n lening ten opsigte van sodanige bates, word deur die dagbestuur geneem. Daarna word die nodige dokumente deur die bevoegde persone van die betrokke lidkerk, in wie die betrokke bate setel, onderteken in ooreenstemming met die reëlings van dié lidkerk in wie se naam die eiendom geregistreer is.
2.12.6 Alle besluite vir die koop en/of verkoop van roerende bates en/of die aangaan van lenings ten opsigte van sodanige bates, word deur die betrokke samewerkingsliggaam geneem. Die nodige dokumente word deur die bevoegde persone van die betrokke lidkerk, in wie die betrokke bate setel, onderteken.
2.13 Verslaggewing
Een kommissieverslag word opgestel wat aan die betrokke kerkvergaderinge voorgelê word.
3. Implementering
Die betrokke kerkvergaderinge/kommissies moet die skriftelike ooreenkoms afsonderlik in hulle onderskeie vergaderinge goedkeur.
BRONVERWYSING: Handelinge, Algemene Sinodale Kommissie 2 en 3 Mei 2000, bl 12, 7.3.8.
4.3.4 Leer en Aktuele Sake
Artikel 56
Die Kerk beywer hom vir Skrifgefundeerde beskouinge ten opsigte van aktuele, leerstellige en etiese aangeleenthede en die bevordering van 'n sedelik gesonde openbare lewe.
4.4 ONDERSTEUNINGSDIENSTE
4.4.1 Rentmeesterskap
Artikel 57
Elke kerkvergadering maak die nodige voorsiening vir die sorgvuldige beheer van die stoflike aangeleenthede van die Kerk en doen jaarliks verslag van sy rentmeesterskap aan die gemeente, ring, sinode of Algemene Sinode, soos die geval mag wees.
Bepaling 44
Gemeentelike eiendomme, goedere en fondse
44.1 Die verantwoordelikheid vir die insameling, besteding, administrasie en beheer van alle gemeentelike eiendomme, goedere en fondse berus by die kerkraad.
44.2 Eiendomme word in die naam van die gemeente as regspersoon geregistreer (kyk Reglement vir die Reëling van Eiendomme, Goedere en Fondse, Kerkorde Algemene Sinode, 2004, bl 52).
44.3 Die gemeente word op 'n jaarlikse basis uitgenooi en geleentheid gegee om die geouditeerde, finansiële state ter insae te kry.
44.4 Die kerkraad is verplig om die verantwoordelikhede in verband met rings- en sinodale werksaamhede na te kom.
44.5 Alle fondse van die gemeente word in 'n enkele finansiële stelsel geadministreer.
44.6 Waar twee of meer gemeentes saam 'n bepaalde werksaamheid onderneem, word die administrasie gesamentlik behartig. Vaste eiendomme word geregistreer in die naam van een van die gemeentes, wat dit in trust hou.
Bepaling 45
Ringseiendomme, -goedere en -fondse
45.1 Alle fondse van die Ring word in 'n enkele finansiële stelsel geadministreer en jaarliks geouditeer.
45.2 Alle eiendom van 'n Ring word in die naam van die Ring geregistreer (kyk Reglement vir die Reëling van Eiendomme, Goedere en Fondse, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 52).
Bepaling 46
Sinodale eiendomme, goedere en fondse
46.1 Sinodale fondse word deur Ondersteuningsdienste geadministreer. Die Sinode/Sinodale Diensraad beskik oor alle fondse.
46.2 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Oos-Transvaal is die eienaar van alle roerende en onroerende bates wat deur die Sinode beheer en verkry word, en eiendom word in die naam van die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Oos-Transvaal geregistreer (kyk Reglement vir die Reëling van Eiendomme, Goedere en Fondse, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 52).
4.4.2 Argivering
Bepaling 47
Argief
Daar word 'n Gesamentlike Kommissie vir Argief- en Bestuursinligtingsdiens (ABID) benoem, bestaande uit een verteenwoordiger van elk van die Sinodes van Wes-Transvaal, Noordelike Sinode, Hoëveld Sinode en Oos-Transvaal, wat nie noodwendig lede van die sinodale vergadering hoef te wees nie. Die argivaris word deur die Taakspan Argief benoem en is ampshalwe lid en skriba van die Kommissie (kyk Argief- en Museumreglement en Reglement vir die Argivaris).
11 Onder 'n bevoegde bedienaar van die Woord wat eredienste kan lei, word verstaan 'n persoon met ampsbevoegdheid in die NG Kerk of 'n ander Kerk van Gereformeerde belydenis. Wanneer 'n kerkraad aan 'n persoon wat nie sodanig bevoeg geag word nie, 'n uitnodiging rig om 'n erediens te lei, word daar strydig met die Kerkorde gehandel. (Vgl. Handelinge Algemene Sinode 1998, bl 409, 1.19.2.2.)
[12] Net soos alle kinderhuiskinders bo sewe jaar, nie sonder meer gedoop kan word nie, kan alle dooplidmate nie sonder meer tot die nagmaaltafel toegelaat word nie. Dit is dus nie besluite wat kerkrade sonder die uitgesproke begeerte van die betrokke ongedoopte of dooplidmaat en sonder die versekering van behoorlike ouerlike of plaasvervangende begeleiding en sorg kan neem nie.

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

