Oostelike Sinode
3. Die vergaderinge van die kerk
Familiereëls » 3. Die vergaderinge van die kerk
HOOFSTUK 3
DIE VERGADERINGE VAN DIE KERK
Prinsipiële Besinning
AMPSDRAERS EN KERKVERGADERING
Die ampte is deur Christus ingestel en is as sodanig met gesag beklee. Die uitoefening van dié gesag geskied altyd in verband met die kerkvergadering en nie in persoonlike hoedanigheid nie. Die verantwoordelikheid om 'n Kerk te regeer, word deur Christus aan 'n kerkvergadering toevertrou. Die gesag wat Christus aan ampsdraers skenk, kom dus allereers in die kerkvergadering van die gemeente (kerkraad) saam. Hier funksioneer die ampte gesamentlik en dra hulle 'n gesamentlike gesag oor en verantwoordelikheid vir die gemeente. Hiervandaan kry ampsdraers ook toegang tot die ander kerkvergaderinge (meerdere vergaderinge van ring en sinode) kragtens hulle verkiesing (beroeping) en bevestiging as ampsdraers in die plaaslike Kerk of gemeente. Terwyl die kerkraad 'n vergadering van geroepe en geordende ampsdraers is, is die ring en sinode 'n vergadering van Kerke. Afgevaardigdes na die ring of sinode verskyn nie in hulle persoonlike hoedanigheid ter vergadering nie, maar met 'n geloofsbrief van die kerkraad om namens die kerkraad te handel.
Die plaaslike Kerk (ecclesia localis) is tegelyk 'n selfstandige openbaring van die liggaam van Christus én 'n deel van die algemene kerk (ecclesia catholica). Elke plaaslike Kerk het eie ampsdraers en is daarom 'n volwaardige, komplete en selfstandige Kerk wat nie iets anders of 'n ander Kerk nodig het om waarlik Kerk te wees nie. 'n Gemeente word nie eers Kerk as dit in verband met ander Kerke tree nie. 'n Plaaslike Kerk tree tot die verband toe, nie met die doel om Kerk te word nie, maar omdat dit Kerk is. Selfs waar 'n nuwe gemeente deur die inisiatief van die kerkverband gestig word, is dit 'n volledig selfstandige gemeente. Op elke gemeente rus wel die verpligting om tot die kerkverband toe te tree, maar dit bly 'n vrywillige daad. Die kerkverband is egter nodig om die vryheid van die gemeente en gemeentelede teen die heerssug en willekeur van ampsdraers te waarborg. Deur die reg van beroep op meerdere vergaderinge kan lidmate hulle besware aan die oordeel van 'n ander kerkvergadering voorlê. Waar probleme opduik wat nie plaaslik opgelos kan word nie, kan 'n ander kerkvergadering meer onpartydig oordeel wat gedoen behoort te word. In geval van wanbestuur deur 'n kerkraad, geskille en skeuring blyk die kerkverband absoluut noodsaaklik te wees. Hoewel die toetrede tot kerkverband dus 'n vrywillige handeling is, mag dit alleen om baie gewigtige redes geweier word.
BRONVERWYSING: EPJ Kleynhans (1985) Gereformeerde Kerkreg: Deel 3: Kerkverband en Kerkvergaderinge.
3.1 ALGEMENE BEPALINGS
Artikel 18
Daar is vier kerkvergaderinge: Kerkraad, Ring, Sinode en Algemene Sinode.
Artikel 19
Die opsig oor, die regering van en die tug in die Kerk word aan hierdie vergaderinge toevertrou.
Artikel 20
20.1 Hierdie vergaderinge het, elkeen na sy eie aard, 'n kerklike gesag deur Christus aan hulle verleen.
20.2 Die gesag van die ring oor die kerkraad is dieselfde as dié van die sinode oor die ring en van die Algemene Sinode oor die sinode.
Artikel 21
Die kerkvergaderinge behandel sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse.
Artikel 22
22.1 In meerdere vergaderinge word alleen die sake behandel wat daar tuis hoort of daarheen verwys is deur mindere vergaderinge en wat nie in mindere vergaderinge afgehandel kon word nie.
22.2 'n Meerdere vergadering kan optree indien 'n kerkraad of ring nie meer bestaan nie of nie kan konstitueer nie.
Artikel 23
23.1 Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigde kommissies is bindend, maar daaroor kan in appèl na 'n meerdere vergadering of die meerdere vergadering se gevolmagtigde kommissie gegaan word.[7]
23.2 Lidmate, ampsdraers en amptenare van die Nederduitse Gereformeerde Kerk mag hulle nie tot die burgerlike hof wend in hulle beswaar teen 'n kerkvergadering se besluit(e) nie, voordat hulle nie éérs die kerklike middele tot hulle beskikking aangewend en uitgeput het nie.
Besluite by Artikel 23
23b 1 Algemene Bepalings ten opsigte van Appèlprosedures
23b 1.1 Benewens die weg van revisie vir lede van kerkvergaderings, kan die weg van kerklike appèl deur enige lidmaat gevolg word.
23b 1.2 In die hantering van appèlle kan enige vergadering wat dit moet hanteer die saak éérs vir bemiddeling en versoening verwys (vgl. Riglyne vir die beslegting van kerklike geskille Funksionele besluite, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 113v).
Indien hierdie proses nie die gewenste resultaat lewer nie, gaan die appèl amptelik voort.
23b 2 Appèl teen besluite van kerkrade
23b 2.1 As eerste instansie neem die ring of sy gevolmagtigde appèlkommissie die appèlle van kerkrade, kerkraadslede en lidmate teen die besluite van kerkrade in behandeling.
23b 2.2 Kennis van appèl teen besluite van 'n kerkraad asook die appèlstukke word gestuur aan die skriba van die ring of sy appèlkommissie.
23b 3 Appèl teen besluite van ringe en ringsappèlkommissies
23b 3.1 Appèl teen die besluite van 'n ring of ringsappèlkommissie mag deur 'n lidmaat of kerkvergadering wat deur die besluit van 'n ring of ringsappèlkommissie verontreg voel, of wat meen dat die besluit in stryd is met die Skrif, die Belydenis of die Kerkorde, by die skriba van die sinode of die sinodale appèlliggaam aangeteken word.
23b 3.2 Kennis van appèl teen besluite van 'n ring asook die appèlstukke word gestuur aan die skriba van die betrokke sinode of die skriba van sy gevolmagtigde appèlkommissie.
23b 4 Appèl teen besluite van sinodes
23b 4.1 Kennis van appèl teen 'n besluit van 'n sinode word aan die skriba van die sinode of sy gevolmagtigde appèlkommissie gestuur.
23b 4.2 Die beslissing van die sinodale appèlliggaam is finaal ten opsigte van daardie aangeleenthede wat tot sy bevoegdheid behoort.
23b 4.3 Benewens die reg van appèl kan 'n lidmaat of 'n kerkvergadering wat beswaar op grond van die Skrif, die Belydenis of die Kerkorde teen 'n besluit van 'n sinode het, die beswaar by wyse van 'n gravamen/beswaarskrif aan die ring/ringskommissie waaronder hy/sy ressorteer voorlê. Die ring of ringskommissie oorweeg die beswaar en indien dit aanvaar word, word dit by wyse van 'n beskrywingspunt aan die sinode vir oorweging voorgelê.
23b 5 Appèl teen besluite van 'n Algemene Sinode
23b 5.1 Appèl teen 'n besluit van 'n Algemene Sinode mag deur 'n lidmaat of kerkvergadering wat deur 'n besluit van 'n Algemene Sinode veronreg word, of wat meen dat die besluit in stryd is met die Skrif, die Belydenis of Kerkorde, gemaak word by die skriba van die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde appèlkommissie.
23b 5.2 Kennis van appèl teen besluite van 'n Algemene Sinode asook die appèlstukke word gestuur aan die skriba van die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde appèlkommissie. Die appèlkommissie dien die volgende Algemene Sinode of die Algemene Sinodale Kommissie met 'n aanbeveling.
23b 5.3 Teen 'n besluit van die Algemene Sinode kan ook 'n gravamen/beswaarskrif ingedien word by die skriba van die beswaarde se sinode vir deursending na die Algemene Sinode indien dit deur die betrokke sinode, sinodale kommissie of moderamen aanvaar word.
23b 5.4 Ingevolge Artikel 44.3 van die Kerkorde kan sake in verband met leergeskille of geskille tussen sinodes onderling of tussen sinodes en mindere vergaderinge by wyse van appèl/beroep voor die Algemene Sinode of sy appèlkommissie dien. Dieselfde voorskrifte vir alle appèlle is ook met betrekking tot die behandeling van appèlle voor die Algemene Sinode of sy appèlkommissie van toepassing.
23b 6 Bepalings in verband met appèlle en beswaarskrifte wat geld vir alle kerkvergaderings wat appèlle en beswaarskrifte hanteer
23b 6.1 Vergaderings wat appèlle aanhoor, is geslote vergaderings.
23b 6.2 'n Lidmaat of 'n kerkvergadering wat hom/haar deur die beslissing van 'n kerkvergadering veronreg voel, of wat meen dat 'n besluit in stryd is met die Skrif, die Belydenis of die Kerkorde, mag binne 30 dae nadat hy/sy kennis geneem het van die besluit van die vergadering, kennis gee van appèl of beswaar (in die geval van 23b 4.3) by die skriba van die rings- of sinodale appèlliggaam binne wie se gebied die besluit geneem is.
23b 6.3 Die appellant gee ook skriftelik kennis van die appèl aan die skriba van die kerkvergadering teen wie se besluit geappelleer of beswaar aangeteken word. (Vergelyk Artikel 23.2 en Artikel 65 van die Kerkorde).
23b 6.4 Die appellant moet binne 30 dae nadat hy/sy kennis van appèl of beswaar gegee het die skriba van die appèlliggaam van 'n skriftelike uiteensetting van die gronde/redes van die appèl of beswaar (ter sake dokumentasie kan ingesluit word) voorsien, anders verval die reg op appèl.
23b 6.5 Die skriba van die appèlliggaam verkry by die kerkvergadering teen wie se besluit geappelleer of beswaar aangeteken word hulle skriftelike reaksie op die appèlgronde/redes (ter sake dokumentasie, waaronder alle dokumente, notules, bandopnames, ensovoorts, moet ingesluit word) en besorg dit aan die lede van die appèlliggaam wat die appèl of beswaar sal hanteer.
23b 6.6 Die indiener van 'n appèl of 'n beswaarskrif word by die indiening van die appèl of beswaarskrif in kennis gestel dat die uiteindelike koste van die saak van hom/haar gevorder mag word indien die betrokke appèlvergadering so besluit. Die indiener van die appèl/beswaarskrif moet dan skriftelik instemming met die reëling betuig.
23b 6.7 Die appèlliggaam vergader so spoedig moontlik en beslis oor die appèl na aanleiding van die stukke voor hom.
23b 6.8 Hoewel die appèlondersoek op grond van die skriftelike uiteensetting van die appèlgronde (en ter sake dokumentasie) deur die appellant en die skriftelike reaksie van die kerkvergadering op die appèlgronde (en ter sake dokumentasie) gedoen word, kan die appèlliggaam self versoek of verlof gee dat mondelinge getuienis deur die appellant en/of 'n verteenwoordiger(s) van die betrokke kerkvergadering voor hom gelewer word.
23b 7 Middele tot beskikking van 'n appèlliggaam
23b 7.1.1 Na oorweging van die appèl kan die appèlliggaam, behalwe in 'n geval wat onder 23b 7.2 val, die appèl op een van die volgende wyses hanteer:
23b 7.1.2 Die appèl geheel of gedeeltelik toestaan en die besluit van die kerkvergadering ter syde stel of wysig;
23b 7.1.3 Die appèl in geheel of gedeeltelik afwys en die besluit van die kerkvergadering in geheel of gedeeltelik bekragtig;
23b 7.2 Waar die appèl berus op wesenlike onreëlmatighede tydens die vergadering wat die besluit geneem het, stel die appèlliggaam die besluit van die betrokke kerkvergadering ter syde en verwys die aangeleentheid terug na die betrokke kerkvergadering om die aangeleentheid van nuuts af te hanteer. Die betrokke kerkvergadering kan 'n ander soortgelyke kerkvergadering vra om die aangeleentheid van nuuts af te hanteer.
23b 8 Besluit van die appèlliggaam
Die appèlliggaam kom tot 'n besluit oor die appèl wat hy saam met sy redes daarvoor notuleer. Skriftelike kennis hiervan word aan die partye gegee.
Artikel 24
Die handelinge van elke vergadering word daagliks met Skriflesing en gebed begin en met danksegging beëindig.
Artikel 25
Elke vergadering moet 'n voorsitter hê wat verantwoordelik is vir die leiding en ordelike verloop van die vergadering, en 'n skriba wat die handelinge van die vergadering opteken.
3.2 BESONDERE BEPALINGS
3.2.1 Die Kerkraad
Artikel 26
26.2 Elke gemeente het 'n kerkraad aan wie die opsig oor, die regering van en die tug in die gemeente toevertrou is.
26.3 Die kerkraad bestaan uit die bedienaars van die Woord asook die ouderlinge en diakens wat as kerkraadslede verkies is. Daar kan ook bedienaars van die Woord, ouderlinge en diakens wees wat nie in die kerkraad dien nie.
Artikel 27
27.2 'n Kerkraad mag desentraliseer en aan gedesentraliseerde kerkrade duidelik omskrewe bevoegdhede gee wat aan die ring vir goedkeuring voorgelê word.
27.3 Vir die behartiging van die besondere werksaamhede aan die onderskeie ampte verbonde, mag die ouderlinge en diakens gereeld afsonderlik vergader.
Artikel 28
28.1 Die kerkraad vergader minstens vier keer per jaar.
28.2 Die kerkraad kies jaarliks 'n voorsitter uit die leraar(s) en ouderlinge.
28.3 Buitengewone vergaderings van die kerkraad word deur die voorsitter byeengeroep na oorlegpleging met die leraar(s) indien die voorsitter nie 'n leraar van die gemeente is nie.
28.4 Indien die plaaslike leraar(s) nie by 'n gewone of buitengewone kerkraadsvergadering teenwoordig kan wees nie, moet die konsulent of 'n ander ringsleraar deur hom/haar daartoe versoek, die vergadering adviserend namens die ring bywoon. Die konsulent kan ook op versoek van die kerkraad as voorsitter optree.
Bepaling 17
Samestelling van die kerkraad
17.1 Die kerkraad bepaal hoeveel kerkraadslede daar moet wees, maar 'n kerkraad moet te alle tye uit minstens vyf lede bestaan.
17.2 Daar moet sover moontlik ewe veel ouderlinge en diakens in die kerkraad wees.
17.3 Indien 'n kerkraad nie kan konstitueer nie, tree die ringsdiensraad op om die kerkraad tot die vereiste getal aan te vul. Die aanvulling word gedoen tydens 'n gemeentevergadering waarvan op twee opeenvolgende Sondae by die erediens(te) kennis gegee is.
Bepaling 18
Kennisgewing van kerkraadsvergaderinge
18.1 Kerkraadsvergaderinge geskied na kennisgewing by die erediens(te) op twee opeenvolgende Sondae.
18.2 Buitengewone kerkraadsvergaderinge word opgeroep met kennisgewing aan al die lede, wanneer by die voorsitter skriftelik daarvoor aansoek gedoen word met opgawe van rede(s) deur minstens drie lede van die kerkraad, óf wanneer die voorsitter dit self nodig ag (kyk Artikel 28.3). Op die sakelys van 'n buitengewone vergadering dien slegs sake waarvan vooraf kennis gegee is, tensy die vergadering anders besluit.
Bepaling 19
Desentralisering van kerkrade
19.1 Die kerkraad kan besluit om te desentraliseer in wykskerkrade[8].
19.2 Die kerkraad ken aan so 'n wykskerkraad duidelik omskrewe bevoegdhede toe.
19.3 Die kerkraad bepaal met inagneming van Bepaling 20 die samestelling van die kerkraad en wykskerkrade.
19.4 Die kerkraad beroep die bedienaars van die Woord van die gemeente.
19.5 Die kerkraad kies al die ouderlinge en diakens van die gemeente, goedskiks op pre-advies van die wykskerkrade.
19.6 Die kerkraad hanteer alle sake waartoe wykskerkrade geen omskrewe bevoegdheid het nie.
19.7 In die uitoefening van sy bevoegdhede tree die wykskerkraad as kerkraad op en is alles op die wykskerkraad van toepassing wat volgens die Kerkorde en Aanvullende Bepalings vir 'n kerkraad geld. Die besluite geneem deur 'n wykskerkraad oor sake waartoe die wykskerkraad bevoeg is, het bindende krag en hoef nie deur die kerkraad goedgekeur te word nie. Daaroor kan in appél na die ring gegaan word.
Kommentaar
'N GEMEENTE HET NET EEN KERKRAAD
Die gebruik om in onderskeiding van die wykskerkraad van 'n sentrale kerkraad te praat en die sentrale kerkraad dan saam te stel uit afgevaardigdes of verteenwoordigers van die wykskerkrade, is nie kerkordelik korrek nie. Waar die wykskerkraad as 'n vyfde kerkvergadering funksioneer, kom die beginsel gestel in Artikel 18 van die Kerkorde van die Algemene Sinode (2004) in gedrang, naamlik dat daar in die NG Kerk net vier kerkvergaderinge is. Volgens Bepaling 19.7 van die Sinode van Oos-Transvaal handel 'n wykskerkraad as dié kerkraad in die uitoefening van sy omskrewe bevoegdhede en is die wykskerkraad vir sy optrede nie verantwoording aan 'n sogenaamde sentrale kerkraad verskuldig nie. Verder dui die samestelling van 'n kerkraad deur verteenwoordiging of afvaardiging op 'n kerkregtelike ongerymdheid. Die kerkraad moet alle ampsdraers wat in die kerkraad dien (lede van die wykskerkraad ingesluit) op 'n wettige wyse verkies en in amptelike diens van die gemeente as geheel (as lid van die kerkraad) of vir 'n bepaalde deel (as lid van 'n wykskerkraad) of van die gemeente as geheel én vir 'n bepaalde deel (lid van die kerkraad én van 'n wykskerkraad) stel (kyk Artikel 4 van die Kerkorde van die Algemene Sinode 2004).
Bepaling 20
Huishoudelike bepalings van die kerkraad
Die kerkraad mag huishoudelike bepalings opstel. Dergelike bepalings mag nie in stryd wees met die Woord van God, die Belydenisskrifte, die Kerkorde en Aanvullende Bepalings en ander besluite van die Algemene Sinode of die Sinode van Oos-Transvaal nie.
3.2.1.1 Bepalings insake lidmaatskap van die gemeente
Bepaling 21
Uit wie die gemeente bestaan
21.1 Elke gemeente bestaan uit:
21.1.1 die belydende en dooplidmate van die NG Kerk wat binne die gemeentegrense woon en wie se lidmaatskap deur die kerkraad erken en aangeteken is;
21.1.2 die nog ongedoopte kinders van belydende lidmate van die NG Kerk wat kragtens die verbond van God in betrekking tot die gemeente staan.
21.2 Elke gemeente het 'n duidelik omskrewe grens as aanduiding van die gemeente se primêre bedieningsgebied. Daar kan bona fide-redes wees waarom lidmate verkies om by ander gemeentes as die geografiese gemeente in te skakel. Sulke uitsonderingsmaatreëls moet op 'n ordelike wyse geskied.
21.3 Besluite oor Kerklike Lidmaatskap
Kyk Kerkorde, Algemene Sinode, 2004, bl 104v, 16.
Bepaling 22
Beëindiging van lidmaatskap
22.1 Lidmaatskap word beëindig wanneer 'n lidmaat
22.1.1 deur die kerklike tug van die gemeente en aldus van die Kerk afgesny word (Artikel 64.2.3 en 64.3.3);
22.1.2 skriftelik bedank;
22.1.3 deur woord en daad toon dat hy/sy hom/haar van die gemeente en aldus van die Kerk afgeskei het.
22.1.3.1 Afskeiding deur woord geskied wanneer 'n persoon mondeling voor twee kerkraadslede wat in opdrag van die kerkraad optree, verklaar dat hy/sy die band met die gemeente verbreek;
22.1.3.2 Afskeiding deur daad geskied wanneer 'n persoon deur sy/haar optrede sy/haar verband met die gemeente verbreek het en by 'n ander kerk of groep ingeskakel het.
22.2 Die kerkraad verklaar die lidmaatskap van die gevalle in Bepaling 22.1.1 tot 22.1.3 genoem, as vervalle. 'n Verklaring insake Lidmaatskap kan op versoek uitgereik word.
22.3 Wanneer 'n lidmaat wil oorgaan na 'n erkende kerk en sy/haar voorneme skriftelik te kenne gee, word 'n Verklaring insake Lidmaatskap aan hom/haar uitgereik en aan die eersvolgende kerkraadsvergadering daaroor verslag gedoen.
22.4 Alle gevalle van lidmaatskapbeëindiging word tydens 'n erediens aan die gemeente bekend gemaak.
Bepaling 23
Lidmaatskap uit ander Kerke
23.1 Terugkeer na die Kerk
Belydende lidmate wat die gemeente en aldus die Kerk verlaat het en hulle by ander christelike Kerke en groepe gevoeg het, word na behoorlike ondersoek en tot bevrediging van die kerkraad weer as lidmate van die gemeente erken, mits hulle na die Kerk terugkeer met bewys van berou oor hulle dwaling.
23.2 Oorkoms na die Kerk
Kyk Reglement 21, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ander Christelike Kerke en Groepe, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 88v, 3.3.
Bepaling 24
Attestaat
24.1 Oordrag van lidmaatskap van een gemeente na 'n ander geskied by wyse van attestaat. Die attestaat is 'n getuigskrif van die kerkraad oor die leer en lewe van 'n belydende lidmaat tydens sy/haar verblyf in die gemeente. Die naam van 'n lidmaat wat gedoop is, word saam met dié van sy/haar ouers(s) op die attestaat vermeld. Indien dit nie moontlik is nie, word 'n doopattestaat uitgereik as getuienis dat die lidmaat gedoop is en, indien moontlik, te getuig oor die leer en lewe van die lidmaat.
24.2 Die Kerkraad neem die attestaat van die lidmaat in ontvangs en aanvaar die pastorale verantwoordelikheid vir die lidmaat. As sodanig het die Kerkraad toesig oor die leer en lewe van die lidmaat. Die Kerkraad moet toesien dat die lidmaat aktief meeleef in die gemeente deur sy/haar gawes beskikbaar te stel tot opbou van die gemeente en die uitbou van die koninkryk van God in die wêreld.
24.3 Met lidmate wat aanmeld, word gesprek gevoer met die oog op inskakeling by die gemeente en die gevolglike verlening van lidmaatsregte.
Kommentaar
LIDMAATSREGTE
Lidmaatsregte behels onder meer die reg tot die gebruik van die sakramente, die reg om tydens vergaderinge te stem, die reg om tot die kerkraad verkies te word en die reg om beswaar te maak teen die verkiesing van 'n kerkraadslid. In die geval van belydende lidmate kan hierdie lidmaatsregte deur die toepassing van sensuur as tugmaatreël opgeskort word (kyk Artikel 64.3.2 van die Algemene Sinode 2002).
24.4 Wanneer 'n vertrekkende lidmaat onder tug staan, word 'n attestaat met 'n begeleidende brief aan die kerkraad van die nuwe gemeente gestuur met kennisgewing aan die betrokkene.
24.5 Indien 'n lidmaat se lidmaatinskrywing nie opgespoor kan word nie, kan die kerkraad 'n Verklaring van Lidmaatskap aanvaar.
24.6 Lidmate wat tydelik elders vertoef, ontvang 'n Reisattestaat.
3.2.2 Die Ring
Artikel 29
As uitdrukking van die kerkverband en met die oog op behoorlike kerklike dissipline, word naburige gemeentes onderling gegroepeer tot ringe. Hierdie groepering van gemeentes word van tyd tot tyd deur die sinode gedoen. Die ring vergader een maal per jaar of soos deur die betrokke sinode bepaal.
Artikel 30
30.1 Die ring word saamgestel uit die leraar(s) en een ouderling/diaken as afgevaardigdes deur die kerkraad van elke gemeente binne die ringsgebied.
30.2 As 'n gemeente meer as een predikantspos het, het die kerkraad die reg om nog een ouderling/diaken vir elke bykomende predikantspos af te vaardig, indien die sinode daartoe besluit.
30.3 Vir elke afgevaardigde word 'n sekundus aangewys. 'n Ouderling/diaken mag as sekundus vir 'n leraar optree.
30.4 Alle afgevaardigdes moet van geloofsbriewe voorsien wees.
Artikel 31
Tot die werksaamhede van die ring behoort:
31.1 Kerkvisitasie;
31.2 die opsig oor die gemeentes, om toe te sien dat kerkrade en gemeentes hulle roeping nakom;
31.3 advies en hulp aan kerkrade;
31.4 die stigting van nuwe gemeentes of ontbinding van gemeentes op versoek van kerkrade en die reëling van gemeentelike grense;
31.5 die behandeling van sake wat óf in eerste instansie óf in beroep voor die ringsvergadering gebring word;
31.6 die behartiging van sending, barmhartigheidsdiens, gemeentebediening, leer en aktuele sake, jeugsake en ander algemene sake wat binne die ringsgebied aandag vereis.
31.7 die opsig en tug oor alle ouderlinge, diakens en predikante, wat emeriti en proponente insluit, sonder om die opsig van die kerkraad oor sy ampsdraers uit te sluit (sien Artikel 62.2).
Bepaling 25
Die herindeling van ringe
Die herindeling van ringe geskied deur die Sinode/Sinodale Diensraad op voordrag van 'n ad hoc-diensgroep aangewys deur die Sinode/Sinodale Diensraad. Nuwe en gewysigde ringe konstitueer so spoedig moontlik. Die bedienaar van die Woord met die langste diens in die ring, tree as sameroeper op.
Bepaling 26
Ringsvergaderinge
26.1 Ringe vergader ten minste jaarliks.
26.2 'n Buitengewone ringsvergadering kan na die oordeel van die ringsdiensraad of op versoek van 'n kerkraad met kennisgewing van twee weke aan al die kerkrade deur die ringsdiensraad saamgeroep word.
26.3 'n Buitengewone ringsvergadering word saamgestel met die afgevaardigdes na die vorige gewone ringsitting. Nuwe afgevaardigdes moet van geloofsbriewe voorsien wees.
26.4 Op die sakelys van 'n buitengewone vergadering dien slegs sake waarvan vooraf kennis gegee is, tensy die vergadering anders besluit.
Bepaling 27
Konstituering en ampsdraers
27.1 Die voorsitter van die ringsdiensraad neem die konstituering en opening van die ringsvergadering waar.
27.2 Die uittredende ringsdiensraad lei die ringsvergadering, tensy die ring anders besluit.
27.3 Tydens 'n gewone vergadering van die ring word 'n nuwe ringsdiensraad, bestaande uit minstens 'n voorsitter, ondervoorsitter en skriba, met sekundi wat in volgorde opgeroep kan word, vir 'n termyn van een jaar gekies. Dieselfde persone word nie vir meer as twee agtereenvolgende gewone vergaderinge in dieselfde hoedanigheid verkies nie.
27.4 Die ring benoem 'n konsulent vir elke gemeente.
Riglyne
DIE KONSULENT
1. By afwesigheid van die plaaslike leraar (pastor loci) of wanneer 'n gemeente vakant is of wanneer 'n leraar in sy/haar diens gestuit is, woon die konsulent kerkraadsvergaderinge op versoek van die kerkraad in adviserende hoedanigheid by. Op versoek van die kerkraad kan die konsulent kerkraads-vergaderinge lei (kyk Artikel 28.4), eredienste hou en die sakramente bedien, kerkraadslede bevestig, die belydenisaflegging van katkisante waarneem en die gemeente pastoraal versorg.
2. Tydens 'n beroepsvergadering adviseer 'n verteenwoordiger van die ringsdiensraad, wat nie lidmaat van die betrokke gemeente is nie, die kerkraad ter vergadering (kyk Artikel 7.3.1 van die Kerkorde Algemene Sinode 2002). Hy/sy sien veral toe dat daar aan die kerkordelike vereistes voldoen word.
3. Die konsulent neem die bevestiging van 'n leraar in 'n vakante gemeente waar.
4. Die konsulent kan in oorleg met die kerkraad 'n ander leraar van die ring versoek om namens hom/haar op te tree.
5. Die konsulent ontvang 'n billike vergoeding van die gemeente wat hy/sy bedien.
6. Die konsulent lewer verslag aan die ring oor sy/haar optrede in 'n gemeente.
Bepaling 28
Pligte van die ringskriba
Benewens die optekening van die handelinge van die ringsvergadering (kyk Artikel 25 van die Kerkorde van die Algemene Sinode 2002), behartig die skriba van die ring die volgende opdragte met verslag aan die volgende gewone vergadering van die ring:
Die ringskriba
28.1 stuur die beskrywingspunte van die ring deur na die Sinodale Diensraad.
Riglyne
BESKRYWINGSPUNT
1. 'n Beskrywingspunt word skriftelik per begeleidende brief/op die voorgeskrewe vorm deur 'n kerkraad of ring minstens drie maande voor die aanvang van 'n sinodesitting by die skriba van die Sinodale Diensraad ingedien.
2. Daar word aangedui watter kerkvergadering die beskrywingspunt indien.
3. Aangesien 'n beskrywingspunt na 'n bepaalde bediening/ondersteuningsdiens van die Sinode verwys word om daaroor 'n aanbeveling aan die Sinode te maak, word skribas versoek om beskrywingspunte verkieslik los van mekaar (dit wil sê op aparte bladsye) deur te stuur.
4. Dit word van 'n kort, samevattende opskrif voorsien.
5. Dit word so geformuleer dat die Sinode by die lees daarvan sonder enige moeite sal weet presies wat die beskrywingspunt vra, sê of bedoel.
6. Dit word, waar enigsins moontlik, van 'n motivering vergesel.
7. Dit bevat 'n duidelike verwysing na 'n bestaande sinodebesluit of betrokke bepaling, indien die beskrywingspunt 'n voorstel vir die hersiening (revisie) van 'n sinodebesluit of bepaling behels.
8. Dit word soos volg ingelei: "Die Sinode besluit dat "
9. Dit hoef nie gesekondeer te wees nie.
10. Dit stel ondubbelsinnig voor dat iets deur die Sinode gedoen, gemagtig of gereël word of dat die Sinode oor 'n bepaalde saak standpunt inneem.
11. Dit handel oor 'n saak wat op die terrein van die Sinode val (kyk Artikel 35 van die Kerkorde van die Algemene Sinode 2002 vir die taak en bevoegdheid van die Sinode).
12. Dit moet positief gestel word sodat elke afgevaardigde presies sal weet waarvoor hy stem as hy "ja" of "nee" daarop moet sê.
13. Dit dien tot opbou van die kerk.
BRONVERWYSING: Sinode van Oos-Transvaal 1991, bl 54, 300.
28.2 sorg dat 'n kopie van die notule van die ring tesame met alle bylaes wat daarby hoort, en al die verslae wat voor die ring gedien het, binne twee maande na afloop van die vergadering aan die argivaris van die Kerk besorg word;
28.3 stuur na afloop van die vergadering alle besonderhede wat benodig word aan Die Jaarboek;
28.4 gee so spoedig moontlik na die vergadering van die ring aan die kerkrade binne die ringsgebied kennis van al die besluite wat op hulle betrekking het;
28.5 gee aan Kerkbode kennis van die bevestiging, demissie of emeritaat van 'n bedienaar van die Woord.
Bepaling 29
Diensgroepe van die ring
Die ring benoem diensgroepe vir die bedieninge van aanbidding, onderlinge sorg en getuienis asook ondersteuningsdienste. Hierdie diensgroepe funksioneer tydens en tussen ringsittings en organiseer gesamentlike werksaamhede na gelang van die behoeftes binne die ringsgebied.
Bepaling 30
Kerkvisitasie
30.1 Die ring reël dat persoonlike visitasie by elke gemeente in die ring gedoen word.
30.2 Die ring bepaal die aard en inhoud van die visitasie.
30.3 Die visitatore is die konsulent van die gemeente en 'n ouderling uit sy/haar gemeente.
30.4 Die visitatore ontmoet die bedienaar(s) van die Woord en die kerkraad by afsonderlike geleenthede.
30.5 Die voorsitter van die kerkraad tree by die ontmoeting van die visitatore met die kerkraad as voorsitter op, tensy die kerkraad anders besluit en die konsulent daartoe versoek. Die gemeente kan na hierdie ontmoeting uitgenooi word.
30.6 Die visitatore doen skriftelik aan die ring en aan die kerkraad verslag. Die kerkraad bring hierdie verslag onder aandag van die gemeente.
30.7 Die ring bespreek die visitatore se verslag.
3.2.3 Die Sinode
Artikel 32
Die sinode word saamgestel uit afgevaardigdes van gemeentes wat geografies 'n eenheid vorm en maklik vergader. Die groepering kan deur die Algemene Sinode/Algemene Sinodale Kommissie gewysig word op versoek en met goedkeuring van die betrokke Sinode(s)/Sinodale Kommissie(s).[9]
Artikel 33
33.1 Sinodes word op een van die volgende maniere - waaroor elke sinode self besluit - saamgestel:
33.1.1 'n Gelyke aantal leraars en ouderlinge/diakens uit elke gemeente in die sinodale gebied as afgevaardigdes van elke kerkraad. Die sinode besluit op die aantal afgevaardigdes per gemeente.
33.1.2 'n Gelyke aantal leraars en ouderlinge/diakens uit elke ring in die sinodale gebied. Die Sinode besluit op die wyse van afvaardiging en die aantal afgevaardigdes per ring.
33.2 Die teologiese opleiding word in adviserende hoedanigheid verteenwoordig deur een lid van die personeel van die Teologiese Fakulteit Stellenbosch en/of die Teologiese Fakulteit Pretoria en/of die Teologiese Fakulteit Bloemfontein.
33.3 Vir elke afgevaardigde word 'n sekundus aangewys. 'n Ouderling/diaken mag as sekundus vir 'n leraar optree.
33.4 Afgevaardigdes moet van geloofsbriewe voorsien wees.
Artikel 34
Die sinode vergader ten minste elke vier jaar, sover moontlik in die jaar na die gewone vergadering van die Algemene Sinode.
Artikel 35
Tot die taak en bevoegdhede van die sinode behoort:
35.1 die opstel en wysiging van bepalinge en reglemente vir die werksaamhede aan hom toevertrou, mits dit nie met die Kerkorde in stryd is nie;
35.2 die behartiging van die gemeenskaplike roeping en gesamentlike werksaamhede van die gemeentes in sy gebied, met inagneming van Artikel 22 en daarom ook Artikel 26, 31 en 43 van die Kerkorde. Die aard en omvang van hierdie sake word deur die sinode self bepaal;
35.3 die opleiding van evangeliedienaars soos deur Artikel 5 bepaal;
35.4 die opbou van die nodige fondse met die oog op eie werksaamhede en die finansiering van die Algemene Sinode volgens 'n aanvaarde formule;
35.5 die behandeling van alle sake wat in eerste instansie of by wyse van appèl voor hom gebring word;
35.6 die aanwysing van afgevaardigdes na die Algemene Sinode uit sy lede.
Artikel 36
Die samestellende Kerke of Sinodes behou volle seggenskap oor hul eiendomme, finansies, werksaamhede, ensovoorts, wat hulle voor toetreding tot die algemene sinodale verband gehad het of daarna verwerf, behalwe dié wat volgens die Kerkorde aan die Algemene Sinode oorgedra is of sal word, of deur die Algemene Sinode in trust gehou word.
Artikel 37
Dit staan die samestellende Kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so 'n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.
Bepaling 31
Vergaderinge van die Sinode
31.1 Die Sinode vergader op 'n tyd en plek soos deur die Sinode/Sinodale Diensraad bepaal. Die Sinode word opgeroep deur 'n kennisgewing aan al die kerkrade.
31.2 Elke gemeente vaardig ten minste een bedienaar van die Woord en een ouderling of diaken na die sinodesitting af. Vir elke ander bedienaar van die Woord wat afgevaardig word, word ook 'n ouderling of diaken afgevaardig.
31.3 Die Sinodale Diensraad het die reg om die vergadering uit te stel of 'n buitengewone vergadering byeen te roep met kennisgewing aan al die kerkrade.
Bepaling 32
Konstituering
32.1 Die Dagbestuur van die Sinodale Diensraad lei die vergadering.
32.2 Die voorsitter van die Sinodale Diensraad neem die konstituering en opening van die sinodesitting waar (kyk Reglement van Orde).
Bepaling 33
Werksaamhede van die Sinode
Die Sinode
33.1 gee leiding aan gemeentes om hulle wesenlike roeping as Kerk ten opsigte van aanbidding, onderlinge sorg en getuienis uit te leef. In die uitlewing van die gemeenskaplike roeping moet daar rekening gehou word met die unieke omstandighede van gemeentes en die diversiteit van behoeftes;
33.2 sien toe dat gemeentes as deel van dieselfde familie van God mekaar met pastorale bewoënheid versorg en ondersteun;
33.3 koördineer en kanaliseer die kerklike werksaamhede deur 'n infrastruktuur met besluitnemingsprosesse daar te stel;
33.4 sien toe dat die finansiële en menslike hulpbronne deur kommunikasie en aanwending van vaardighede benut word;
33.5 skep geleenthede sodat die onderlinge verhouding tussen predikante, gemeentes en ringe uitgebou en versterk kan word;
33.6 adviseer en ondersteun gemeentes deur fasilitering, begeleiding, toerusting, bemagtiging en mobilisering;
33.7 doen navorsing en studie en skep geleenthede vir opleiding en toerusting om veranderende behoeftes aan te spreek;
33.8 bepaal beleid en gee opdragte aan die Sinodale Diensraad, die bedieninge en ondersteuningsdienste;
33.9 wys afgevaardigdes aan om die Sinode te verteenwoordig;
33.10 hanteer alle sake wat deur ringe, gemeentes en bedieninge verwys is;
33.11 oorweeg beskrywingspunte en appèlle.
Bepaling 34
Die Sinodale Diensraad[10]
34.1 Die Sinode verkies elke vier jaar 'n Sinodale Diensraad (kyk Reglement vir die Sinodale Diensraad).
34.2 Die Sinodale Diensraad vervul die funksies soos aan hulle toevertrou ooreenkomstig die uitgangspunte, waardes en visie van die Sinode.
Prinsipiële Besinning
UITGANGSPUNTE, WAARDES EN VISIE VAN DIE SINODE
Die Sinode van Oos-Transvaal verrig hulle werk aan die hand van die volgende uitgangspunte, waardes en visie:
1. Uitgangspunte
1.1 Die Sinode is die sigbare uitdrukking van die wesenlike eenheid van die Kerk. Dit word bepaal deur: (a) die Gereformeerde Skrifverstaan en (b) die drie Gereformeerde belydenisskrifte.
1.2 Die Sinode aanvaar dat ons in 'n veranderende konteks lewe, wat sekere veranderings in die styl en werkswyse van die Sinode mag vra.
1.3 Die Sinode aanvaar dat die familiemetafoor ons kan help om 'n klimaat te skep waarbinne ons in ons tyd sinvol Kerk kan wees.
1.4 Die Sinode stem saam met die Bybelse uitgangspunt dat die Kerk in verhouding staan met God, haarself en die wêreld en dat hierdie verhouding gestalte kry deur die werksaamhede van die Sinode te struktureer in drie bedieninge, naamlik Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis.
1.5 Die Sinode aanvaar die uitgangpunt dat die Sinode ter wille van die gemeentes bestaan. Dit beteken dat die Sinode waarde wil toevoeg tot die gemeentes se bedieninge van Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis.
1.6 Gerigtheid op 'n gebroke wêreld.
2. Waardes
Die volgende word as waardes van die Sinode gevestig:
2.1 Coram Deo: 'n Lewe in teenwoordigheid van God in navolging van Christus.
2.2 Prinsipieel-teologies gegronde besluitneming op grond van die Skrif en die belydenis van die kerk.
2.3 Verhoudingsgerigtheid binne die raamwerk van die familiemetafoor.
2.4 Kontekstuele sensitiwiteit in die lig van veranderende omstandighede.
2.5 Erkenning van die diversiteit in die Sinode: gemeentes, geslagte, generasies, kulturele verskille, persoonlikhede.
2.6 Gerigtheid op 'n gebroke wêreld.
2.7 Ekumeniese sensitiwiteit met die oog op die uitlewing van die roeping van die Kerk.
3. Visie
3.1 Die Sinode van Oos-Transvaal het as visie geformuleer dat dit die Kerk se wesenlike taak en roeping is om God drie-enig te aanbid, mekaar onderling te versorg en om getuienis in die wêreld te lewer.
3.2 Die feit dat die Sinode dink vanuit die roeping (visie) as Kerk en daardeur gemotiveer word om waarlik Kerk van Christus in die wêreld te wees, behoort ook beslag te kry in die wyse waarop gemeentes hulle werksaamhede in drie bedieninge en ondersteuningsdienste struktureer.
BRONVERWYSING: Agenda Sinode van Oos-Transvaal 1999, bl 156v.
34.3 Die Sinodale Diensraad:
34.3.1 konstitueer onder leiding van die voorsitter wat deur die Sinode aangewys is;
34.3.2 gee uitvoering aan die besluite en opdragte van die Sinode;
34.3.3 koördineer die werksaamhede van die Sinode;
34.3.4 gee leiding aan en tree begeleidend op teenoor gemeentes;
34.3.5 bestuur die Sinode, neem besluite, lig in en skakel;
34.3.6 vul vakatures aan;
34.3.7 hanteer spoedeisende sake met verslag aan die Sinode;
34.3.8 wys namens die Sinode 'n gevolmagtigde appèlliggaam aan wanneer die Sinode nie in sitting is nie.
Bepaling 35
Bedieninge en Ondersteuningsdienste
35.1 Die Sinode funksioneer met drie Bedieninge, naamlik Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis, en Ondersteuningsdienste, wat elke vier jaar tydens 'n vergadering van die Sinode, onder leiding van 'n lid van die Sinodale Diensraad konstitueer.
35.1.1 'n Diensspan vir elk van die drie Bedieninge en vir Ondersteuningsdienste word tydens die Sinode vir 'n tydperk van vier jaar verkies (kyk Reglement vir die Sinode).
35.1.2 Die Bedieninge en Ondersteuningsdienste vergader na afloop van die Sinode om uitvoering te gee aan die opdragte van die Sinode, bedieningsaktiwiteite te beplan en dit te implementeer.
35.1.3 Die Bedieninge en Ondersteuningsdienste doen aan die Sinodale Diensraad verslag.
35.1.4 Die Bedieninge en Ondersteuningsdienste kan diensgroepe vorm om aan bepaalde bedieningsaktiwiteite uitvoering te gee.
35.2 Ondersteuningsdienste lewer administratiewe en ander ondersteuning aan die gemeentes, ringe, die bedieninge en die Sinode.
35.3 Ondersteuningsdienste kan diensgroepe vorm, waaronder die:
35.3.1 Personeeldiensgroep wat
35.3.1.1 as die Sinode se Kommissie vir Diensverhoudinge optree (kyk Kerkorde Algemene Sinode 1998, Artikel 12, besluit 12b 1.1);
35.3.1.2 gemeentes en ringe oor sake rakende diensverhoudinge adviseer.
35.3.2 Fondse diensgroep wat
35.3.2.1 die sinodale bydraes van gemeentes vasstel;
35.3.2.2 die finansiële toekennings vir sinodale werksaamhede bepaal;
35.3.2.3 die Sinode en die gemeentes se finansiële state kontroleer;
35.3.2.4 die goedere, eiendomme en fondse van die Sinode bestuur.
35.3.3 Regsdiensgroep wat
35.3.3.1 kerkordelike en ander regsadvies op aanvraag voorsien;
35.3.3.2 toesien dat geskille op 'n kerklike wyse besleg word;
35.3.3.3 aan kerkvergaderinge leiding, hulp en advies oor die toepassing van kerkordelike bepalinge en sinodale besluite gee;
35.3.3.4 die Sinode/Sinodale Diensraad adviseer met betrekking tot enige saak wat deur die Sinode/Sinodale Diensraad na die Regsdiensgroep verwys word;
35.3.3.5 die Familiereëls (Kerkorde) hersien en publiseer;
35.3.3.6 optree as die Sinode se gevolmagtigde appèlliggaam, indien deur die Sinode/Sinodale Diensraad daartoe aangewys;
35.3.3.7 kerkvergaderinge en ampsdraers met advies bedien in gevalle waar hulle op grond van die uitvoering van hulle ampspligte by die wêreldlike hof aangekla mag word.
3.2.4 Die Algemene Sinode
Artikel 38
38.1 Die Algemene Sinode bestaan uit 'n maksimum van 400 lede wat saamgestel word uit afgevaardigdes van die sinodes.
38.2 Die afvaardiging van elke sinode moet uit 'n gelyke aantal predikante en ouderlinge/diakens bestaan en word soos volg saamgestel:
38.2.1 'n Vaste komponent van 10 predikante en 10 ouderlinge/diakens; en
38.2.2 'n proporsionele komponent waarvolgens 100 afgevaardigdes aangewys word volgens 'n formule gebaseer op die aantal gemeentes en 100 afgevaardigdes gebaseer op die aantal lidmate. Dit word telkens 'n jaar voor die vergadering van die Algemene Sinode deur die moderamen bereken.
38.2.3 Sinodes het die reg om minder afgevaardigdes te stuur.
38.3 Die teologiese opleiding word in adviserende hoedanigheid verteenwoordig deur een lid van die personeel van elk van die teologiese fakulteite van Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein.
38.4 Elke afvaardiging moet van 'n geloofsbrief voorsien wees.
Artikel 39
Die moderatuur van die Algemene Sinode, bestaande uit 'n moderator, 'n assessor, 'n aktuarius en 'n addisionele lid, lei die Sinode (Artikel 25).
Artikel 40
40.1 Voor die verdaging van die Algemene Sinode word 'n Moderatuur verkies en 'n Moderamen van die Algemene Sinode saamgestel.
40.2 Lede van die Moderatuur kan vir meer termyne in dieselfde posisie verkies word.
Besluit by Art 40.2
Indien die huidige 2 jaar-siklus verander word na 'n 3 of 4 jaar-siklus, kan die moderatuur vir 2 termyne in dieselfde posisie verkies word. Indien die huidige 2 jaar-siklus behou word, kan die moderatuur vir 3 termyne in dieselfde posisie verkies word. Die persoon mag daarna wel in een van die ander posisies verkies word.
Artikel 41
Die afgevaardigde leraar met die langste diens wat die oudste in jare is, gaan op die Algemene Sinode voor totdat die moderator gekies is.
Riglyn by Artikel 41
In die lig van Artikel 39 open die leraar met die langste diens, wat die oudste in jare is, die Algemene Sinode. Daarna lei die Moderatuur die vergadering.
Artikel 42
42.1 Die Algemene Sinode besluit self wanneer die volgende Algemene Sinode byeenkom, met dien verstande dat die Algemene Sinode nie langer as vier jaar uitmekaar vergader nie.
42.2 Die Moderatuur roep 'n buitengewone Algemene Sinode byeen indien hy dit nodig ag, óf op eie inisiatief, óf op versoek van een of meer sinodes.
Artikel 43
Tot die taak van die Algemene Sinode behoort:
43.1 Wat kerklike roeping en standpunte betref:
43.1.1 die formulering van die roeping / leidende beginsels / standpunte in sake van gemeenskaplike belang wat deur alle kerkvergaderings kragtens hulle deelname aan die verband gevolg moet word;
43.1.2 die behartiging van die openbare getuienis van die Ned Geref Kerk in sy breedste verband;
43.1.3 die aanwysing van die Bybelvertaling(s) wat amptelik gebruik moet word;
43.1.4 die vasstelling van die Belydenisskifte ooreenkomstig Artikel 44, die Kerkorde, die liturgiese formuliere en gebruike, die liederebundel(s) en die liturgiese grondlyne vir eredienste;
43.1.5 die vasstelling van die formele vereistes vir die opleiding van die bedienaars van die Woord;
43.1.6 die bepaling op algemene sinodale terrein van verhoudinge en ooreenkomste met die staat en ander nie-kerklike lewenskringe;
43.2 Wat werksaamhede betref:
43.2.1 die administrasie van vaste eiendom en fondse van die Algemene Sinode;
43.2.2 die behartiging van sake waar eenvormigheid en/of samewerking vir die hele kerkverband noodsaaklik is;
43.2.3 die behartiging van die ekumeniese belange van die Kerk op sy terrein;
43.2.4 die beheer oor algemene kerklike media;
43.2.5 die hantering van appèlsake.
Artikel 44
44.1 Die wysiging van die Belydenis kan alleen geskied nadat elke sinode afsonderlik met 'n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het.
Nuwe 44.1
44.1 Die wysiging van die Belydenis kan alleen geskied nadat elke sinode afsonderlik met 'n tweederdemeerderheid én twee derdes van alle kerkrade elk met 'n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het.
(Die nuwe 44.1 word van krag nadat al die sinodes hierdie wysiging met 'n tweederdemeerderheid goedgekeur het en die Algemene Sinode daarna met 'n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit het).
44.2 Artikel 44.1 en 44.2 word gewysig nadat elke sinode afsonderlik met 'n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit het en die Algemene Sinode daarna met 'n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit.
44.3 Die Algemene Sinode mag, met uitsondering van Artikel 44.1 en 44.2, die Kerkorde wysig of aanvul met 'n tweederdemeerderheidstem.
44.4 Sake in verband met leertug, leergeskille of geskille tussen sinodes en mindere vergaderinge kan by wyse van appèl voor die Algemene Sinode dien. In gevalle van leertug en leergeskille word 'n tweederde-meerderheidsbesluit vir die bekragtiging van die uitspraak van die Algemene Sinode vereis (vgl. Artikel 65.2).
44.5 Indien 'n tweederdemeerderheid nie verkry word nie, mag enige van die partye 'n verdere beroep op die afsonderlike sinodes doen. Die gesamentlike volstrekte meerderheid van stemme van die afsonderlike sinodes is dan beslissend.
Artikel 45
45.1 Die Algemene Sinode kan vir sy vergadering en diensgroepe/kommissies reglemente opstel.
45.2 Die Algemene Sinode mag artikels van die Kerkorde, met die uitsondering van Artikel 44.1 en 44.2, met 'n tweederdemeerderheidstem óf opskort óf daarvan vrystelling verleen.
Artikel 46
Die Algemene Sinode mag diensgroepe/kommissies benoem om hom van advies te bedien of om besluite en opdragte uit te voer.
Artikel 47
Die Algemene Sinode kan deur die Algemene Kommissie vir Fondse kerkkantore organiseer en personeel aanstel om die kantore te beman.
Bepaling 36
Afvaardiging na die Algemene Sinode en verteenwoordigers/lede van die Sinode in Kommissies van die Algemene Sinode
36.1 Afgevaardigdes na die Algemene Sinode en verteenwoordigers/lede van die Sinode in kommissies van die Algemene Sinode (met sekundi) word, tydens die vergadering van die Sinode voor die eersvolgende vergadering van die Algemene Sinode, uit die afgevaardigdes aangewys.
36.2 Twintig predikante en twintig ouderlinge/diakens (met sekundi), word uit 'n groslys wat soos volg saamgestel word, verkies:
36.2.1 Die sewe sinodale leiers (met sekundi), waarvan minstens twee ouderlinge of diakens wat nie predikants- of proponentsbevoegdheid het nie, moet wees.
36.2.2 Die Diensleiers van die drie Bedieninge (Aanbidding, Onderlinge Sorg en Getuienis) en die Voorsitter van Ondersteuningsdienste (met sekundi).
36.2.3 Die Kerkregkundige (met sekundus) indien hy/sy 'n afgevaardigde na die sinodesitting is.
36.2.4 Die Uitvoerende Amptenaar, indien hy/sy 'n afgevaardigde na die sinodesitting is.
36.2.5 Een predikant en twee ouderlinge of diakens (met sekundi) deur elke Bediening en Ondersteuningsdienste aangewys, met inagneming van verteen-woordigers/lede van die Sinode wat in Kommissies van die Algemene Sinode dien. Geen Bediening of Ondersteuningsdienste word deur meer as twee predikante en twee ouderlinge of diakens verteenwoordig nie.
36.2.6 Een predikant (met sekundus) uit elke ring wat nog nie verteenwoordig is nie, deur die ring/ringsdiensraad aangewys.
36.2.7 Twee ouderlinge of diakens (met sekundi) uit elke ring wat nog nie verteenwoordig is nie, deur die ring/ringsdiensraad aangewys.
36.2.8 Die ontbrekende getal predikante en ouderlinge/diakens (met sekundi), word deur die Sinode self, uit die afgevaardigdes na die sinodesitting aangevul.
36.3 Die sekundi waarna hierbo verwys word, is ook die sekundi vir die afgevaardigdes na die Algemene Sinode. Na afloop van die vergadering van die Sinode voor die eersvolgende Algemene Sinode, word vakatures in die afvaardiging deur die Sinodale Diensraad uit die sekundi aangevul.
36.4 Waar die lys van sekundi uitgeput is, word dit aangevul deur die Sinodale Diensraad, waar van toepassing na voorlegging deur die betrokke Bediening of ring.
Kommentaar
ALGEMENE SINODE AS SYNODUS CONTRACTA
(VERKLEINDE SINODE)
Die Algemene Sinode is in wese 'n verkleinde Sinode (synodus contracta). 'n Kerkraadsvergadering word saamgestel uit ampsdraers wat verkies (beroep) en bevestig is, 'n regstreekse gesag van Christus oor die gemeente ontvang het en gesamentlik tot die regering van die gemeente geroep is. Daarteenoor kan die ring en sinode as 'n vergadering van plaaslike Kerke (conventus ecclesiarum) beskryf word. In hierdie meerdere kerkvergaderinge is gemeentes direk by wyse van afgevaardigdes verteenwoordig. Die Algemene Sinode is in werklikheid 'n vergadering van Sinodes. Dit is wel afgevaardigde leraars en ouderlinge/diakens wat hulle plekke in dié kerkvergadering inneem, maar dan as verteenwoordigers van die Sinodes wat hulle aanwys. Dit is dus 'n indirekte en verskraalde verteenwoordiging van gemeentes.
[7] Indien 'n kerkvergadering van 'n appèlkommissie gebruik maak, wys hulle die kommissie aan na goeddunke.
[8] Met die term "wyk" word nie net 'n geografiese wyk verstaan nie, maar ook ander groeperinge in die gemeente aan wie die kerkraad duidelik omskrewe bevoegdhede kan gee.
[9] Verskillende Sinodes het verskillende name (byvoorbeeld Moderamen, Diensraad, Sinodale Dienskommissie) vir 'n liggaam wat die funksies van die Sinodale Kommissie verrig.
[10] Waar die Kerk in breër verband in die bepalinge na 'n "sinodale kommissie/moderamen" verwys, vervul die Sinodale Diensraad in Oos-Transvaal hierdie funksie.

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

