Skip to content | Skip to navigation

Die ampte van die Kerk


Familiereëls » Die ampte van die Kerk


HOOFSTUK 2

DIE AMPTE VAN DIE KERK

 

Prinsipiële Besinning

 

AMPSBESKOUING

 

Ampte of geordende bedieninge is gawes en dienste waardeur God mense wat Hy in en deur Christus verlos het en tot geloof in Hom gebring het, toerus vir hulle dienswerk in die wêreld.  Ampsdraers met spesiale gawes werk in die bestuur en bedieninge van die gemeente en kerkverband saam om  lidmate te help om hulle diens as gelowiges in die wêreld te doen.

 

1.         Die Kerk volgens die Nuwe Testament het kragtens haar wese en opdrag 'n duidelike verantwoordelikheid om God te aanbid, haarself onderling te versorg en getuienis in die wêreld te lewer.  Die ampte is gerig op hierdie drie bedieningsterreine en word gevul volgens die gawes en dienste wat God aan sy Kerk gee.

 

2.         Alhoewel daar vanuit die Nuwe Testament geen spesifieke opdrag tot die blywende instandhouding van die eeue-oue instelling van die drie ampte van bedienaar van die Woord, ouderling en diaken is nie, het die Algemene Sinode in 1998 op grond van 'n Ondersoek na 'n Nuwe-Testamentiese Basis vir die Heraanpassing van die Bedieningstruktuur in die Nederduitse Gereformeerde Kerk herbevestig dat die bestaande drie ampte 'n Skriftuurlik-verantwoorde gestaltegewing van die Nuwe-Testamentiese ampsbeskouing is.  Daar word ook aanvaar dat daar vanuit die Skrif geen beswaar teen die verbreding van die inhoud van die bestaande ampte bestaan nie. 

 

3.         As beslissende fokuspunte vir die drie ampte moet die volgende geld:

 

3.1       Woordbediening in die verskillende gestaltes.

 

3.2       Die fokus van die amp van ouderling moet gerig wees op geestelike leiding, bestuur en toesig.

 

3.3       Die fokus van die amp van diaken moet op meer praktiese dienswerk in die gemeente val.

 

4.         Die drie ampte het in die gereformeerde tradisie in Artikel 30 en 31 van die Nederlandse Geloofsbelydenis neerslag gevind.  In die Nederduitse Gereformeerde Kerk voorsien hierdie ampte steeds in die bedieningsbehoeftes van die Kerk.  Die drie ampte is vir die Kerk noodsaaklik en sekere aanpassings behoort voortdurend ten opsigte van die inhoud daarvan gemaak te word om vir veranderende bedieningsbehoeftes voorsiening te maak.

 

5.         Die Algemene Sinode het in 1998 aanvaar dat daar volgens die Skrif geen prinispiële beswaar bestaan teen die vermeerdering van die aantal ampte nie.

 

6.         Terwyl uiters waardevolle hulpdiens deur "helpers" of "medewerkers"  (byvoorbeeld pastorale hulpe, kategete, kleingroepleiers, kolporteurs, kollektante, ensovoorts) verrig kan word, staan hulle in die amp van gelowige.  Hulle moet as bedienaar van die Woord, ouderling of diaken deur 'n kerkraad verkies (beroep) word en in die amp volgens die voorgeskrewe formulier bevestig word om hulle geordende bediening in gemeente- en kerkverband te beoefen en om sodoende in die kerklike vergaderinge te dien.  Toelating tot die amp geskied dus alleen deur die roeping van en amptelike indiensstelling deur die kerkvergadering.

 

6.1       Kerkraadslede word gekies om hulle fokusbedieninge in die wyer gemeenteverband uit te oefen en nie in die eerste plek binne wyk- of kleingroepverband nie.

 

6.2       Die kerkraad kan aan 'n kerkraadslid 'n bedieningswyk, 'n groep wyke, 'n kleingroep, 'n groepering van kleingroepe, 'n diensgroep of kategoriale bediening (byvoorbeeld jeug, enkellopendes, senior lidmate, vroue, ensovoorts) toewys, maar dit mag nie beteken dat die kerkraadslid daardeur onthef word van die verantwoordelikheid teenoor die gemeente as geheel nie.

 

6.3       Ringe moet toesien dat kerkrade aan die voorskrifte van die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Kerkorde vir die samestelling van kerkrade voldoen en dat kerkraadslede steeds hul ampstake binne die fokus van Artikels 9, 16 en 17 van die Kerkorde verrig.

 

BRONVERWYSING: Agenda en Handelinge Algemene Sinode 1998, bl 211-212, 217-221, 512.

 

 

2.1     ALGEMENE BEPALINGE

 

Artikel 3

 

3.1       Christus self deur die Heilige Gees verrig al die dienswerk in sy kerk. Hy doen dit deur:

 

3.1.1    die dienswerk van al die gelowiges;

 

3.1.2    die dienswerk van die drie besondere ampte, te wete:

*      dié van bedienaar van die Woord[1]

*      dié van ouderling

*      dié van diaken.

 

3.2                 Hierdie drie ampte is gelykwaardig, maar word in opdrag en werk onderskei. By die uitoefening van hulle roeping mag geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie, aangesien Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk is.

 

Kommentaar

 

PRIMUS INTER PARES

(EERSTE ONDER GELYKES)

 

Op grond van die Skrif word daar in die gereformeerde tradisie géén onderskeid in rang of stand gemaak tussen die ampte en ampsdraers onderling nie.  Daar is slegs van 'n onderskeid in bedieningsfokus en ampstake sprake.  Ampsbenaminge soos "senior leraar", "leierouderling", "leierdiaken" en selfs "moderator" wanneer 'n sinode nie in sitting is nie, is vreemd aan die Gereformeerde tradisie en bring die beginsel van ampsgelykheid in gedrang.  Wanneer 'n persoon in die Kerk leiding neem (byvoorbeeld as voorsitter van 'n vergadering), tree hy/sy slegs as eerste onder sy/haar gelykes (primus inter pares) op.  Christus bly die Hoof van sy Kerk en Hy voer sy gesag uit wanneer ampsdraers, wat daartoe geroep en afgesonder is, sáám in kerkvergaderinge aan die hand van die Woord en onder leiding van die Heilige Gees tot besluite kom.

 

SLEUTELTEKSTE EN VERKLARINGS: In Matteus 23 vers 10 en 11 staan geskryf: "Julle moet julle nie "leiers" laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus. Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien."  Die gemeente van Christus het 'n unieke karakter en lewenstyl.  In vers 8 tot 10 wys Jesus op die gevaar dat die uitsig op God verlore kan gaan as mense hulle in die Kerk vernaam ag en oor ander wil heerskappy voer.  Die Kerk as God se familie op aarde leef in verhouding tot net één Leermeester, één Vader en één Leier."  Ampsdraers word in 1 Petrus 5 vers 3 gewaarsku om nie hulle gesagsposisie te misbruik deur baasspelerig te wees nie.  Ouderlinge moet eerder medegelowiges lei deur die goeie voorbeeld wat hulle stel van nederige diens aan ander.

 

 

Artikel 4

 

Niemand mag in die kerk van Christus in een van die besondere ampte dien sonder dat hy

 

*          op wettige wyse beroep (of verkies) is,

*          die nodige approbasie verkry het, en

*          bevestig is nie.

 

2.2     DIE BEDIENAARS VAN DIE WOORD

 

Artikel 5

 

5.1       Vir die toelating tot die bediening van die Woord word vereis:

 

5.1.1    'n geskiktheid vir die amp;

 

5.1.2    'n deeglike teologiese opleiding; en

 

5.1.3    die ondertekening van die legitimasieverklaring waarin die ondertekening van die Formuliere van Eenheid vervat is.

 

5.2       Die Algemene Sinode bepaal die vereistes vir die opleiding, die aard en die toesig daaroor en die plekke waar dit moet geskied.

 

5.3       Die sorg vir, asook die beheer en toesig oor die opleiding van evangeliedienaars word deur 'n kuratorium behartig.

 

5.3.1    Wanneer meer as een sinode om historiese of ander redes by 'n kuratorium betrokke is, reël die betrokke sinodes onderling die wyse waarop die kuratorium saamgestel word. Ander sinodes het die reg om op eie koste elk een verteenwoordiger in die kuratorium te benoem.

 

5.3.2    Die kuratorium is verantwoordelik vir die keuring, begeleiding, toesighouding oor, eksaminering en aanbeveling vir toelating tot die evangeliebediening van teologiese studente. Hierdie verantwoordelikhede kan namens die kuratorium deur ('n) kommissie(s) van die kuratorium behartig word.

 

5.3.3    Die raad van dosente is meer bepaald vir die akademiese opleiding van die studente verantwoordelik.

 

5.3.4    Een lid van die raad van dosente het met adviserende stem sitting in die kuratorium.

 

5.4       Ten opsigte van universiteite waar daar nie 'n teologiese fakulteit van die Nederduitse Gereformeerde Kerk bestaan nie, geskied die keuring, begeleiding en toesighouding oor studente wat met die eerste fase van die opleiding vir die evangeliebediening besig is, deur 'n sinodale kommissie vir begeleiding wat deur die betrokke sinode benoem word.

 

5.5       Die kuratorium benoem 'n eksamenkommissie wat bestaan uit soveel lede as wat hy nodig ag uit bevoegde persone voorgelê aan die kuratorium deur die onderskeie sinodes en wat nie noodwendig lede van die kuratorium hoef te wees nie.

 

Die eksamenkommissie het as opdragte:

 

5.5.1    Die keuring en aanbeveling by die kuratorium van kandidate ná voltooiing van hul teologiese studies.

 

5.5.2    Die afneem van colloquium doctum.

 

Artikel 6

 

Die verlening van ampsbevoegdheid as bedienaar van die Woord in al sy gestaltes (KO artikel 9) of die wegneem daarvan geskied deur die Algemene Regskommissie namens die Algemene Sinode.

 

 

Artikel 7

 

7.1                 'n Bedienaar van die Woord vir 'n plaaslike gemeente word deur die kerkraad van die gemeente met goedkeuring van die gemeente en die ring, beroep. Voordat die beroepsbrief afgestuur word, moet

 

7.1.1    die goedkeuring van die gemeente deur afkondiging verkry word;

 

7.1.2    die Ring (of sy gevolmagtigde Kommissie) skriftelik bevestig dat daar aan al die kerklike vereistes vir die uitbring van die beroep voldoen is. Indien nie aan die vereistes voldoen is nie, word die beroep deur die Ring of sy gevolmagtigde Kommissie ongeldig verklaar.

 

7.1.3    Besware teen 'n beroep of beroepene word by die betrokke ring of ringskommissie ingedien wat dit volgens die Bepalinge van die betrokke sinodale gebied hanteer.

 

7.2       Bedienaars van die Woord in diens van die kerkverband (Ring, Sinode of Algemene Sinode (sien Reglement 3: 2.3.1 en 2.3.2)) word deur die betrokke kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie beroep. Voordat die beroepsbrief afgestuur word, moet

 

7.2.1    die goedkeuring van die kerkverband verkry word deur bekendmaking van die beroep in die Kerkbode en

 

7.2.2    die betrokke Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde skriftelik bevestig dat daar aan al die kerklike vereistes vir die uitbring van die beroep voldoen is. Indien nie aan die vereistes voldoen is nie, word die beroep deur die betrokke Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde na die kerkvergadering terugverwys vir regstelling, of, indien nodig, die beroep ongeldig verklaar.

 

7.3       Die beroepsvergadering stel die beroepsbrief op.

 

7.3.1    'n Verteenwoordiger van die Ringskommissie, wat nie lid van die betrokke gemeente is nie, adviseer die kerkraad.

 

7.3.2    In gevalle van beroepe deur die kerkverband, word die advies deur die betrokke Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde gegee.

 

7.4       Die beroepsbrief is die diensaanbod wat aan die hand van KO artikel 9 die diensopdrag en na aanleiding van KO artikel 13 die diensvoordele van die beroepene omskryf. In gevalle van beroepe deur die kerkverband, word die nodige aanpassings gemaak ten opsigte van die diensopdrag en diensvoordele.

 

7.5       Binne die raamwerk van die Kerkorde en die sinodale besluite van toepassing is die bepalinge in die beroepsbrief onderhandelbaar by oorweging van die beroep.

 

7.6       Na oorweging van die bepalinge van die beroepsbrief en enige onderhandelinge daaromtrent, word die diensooreenkoms waarvolgens die bedienaar van die Woord in diens van die gemeente of die kerkverband gaan tree, finaal opgestel.

 

7.7       Die finale diensooreenkoms met 'n gemeenteleraar word deur die Ring (of sy gevolmagtigde Kommissie) en in geval van 'n Bedienaar van die Woord in diens van die kerkverband deur die betrokke Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde goedgekeur.  Hierna word die finale ooreenkoms deur beide partye onderteken en kan die bevestiging plaasvind met in agneming van die ander vereistes vir bevestiging (sien KO artikel 8).

 

7.8       Hierdie diensooreenkoms kan van tyd tot tyd gewysig word met instemming van beide partye en skriftelike goedkeuring van die Ring (of sy gevolmagtigde Kommissie) in die geval van 'n gemeenteleraar, en die betrokke Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde in die geval van 'n leraar in diens van die kerkverband.

 

Besluite by Artikel 7

 

7b1       Proforma vir 'n beroepsbrief en die finale diensooreenkoms

 

7b1.1    Identifikasie van die partye.

 

7b1.2    Aanhef.

 

7b1.3    Diensomskrywing: Algemene diensverpligtinge (Artikel 9) met gepaardgaande spesifieke verwagtinge.

 

7b1.4    Vergoeding en byvoordele (Artikel 13).

 

7b1.5    Die wedersydse erkenning deur die partye dat hulle geskrewe ooreenkoms onderhewig is aan die bepalinge van die Kerkorde en die besluite van die Algemene Sinode en die betrokke Sinode soos van tyd tot tyd gewysig.

 

7b1.6    Aanvangsdatum (a) in die geval van leraars in diens van gemeentes of in diens van die kerkverband, die datum van demissie. (b) In ander gevalle waar 'n beroep aanvaar is, is die aanvangsdatum die datum van bevestiging of 'n datum soos ooreengekom.

 

7b1.7    'n Verklaring deur die beroepene dat daar geen hangende of dreigende tughandeling teen hom/haar is nie en dat hy/sy aan die plegtige legitimasieverklaring getrou sal bly.

 

7b1.8    Die partye se handtekeninge met getuies en datum van ondertekening as aanvaarding dat 'n diensooreenkoms tussen die partye tot stand kom.

 

7b2       Besluit ter verduideliking van Artikel 7.1 (Kyk ook Bepaling 3)

 

7b2.1.   Hierdie beroeping vind plaas vanuit 'n groslys wat saamgestel is op die volgende wyse:

 

7b2.1.1 Die kerkraad van die beroepende gemeente stel die groslys saam en elke kerkraadslid het die reg om soveel name op die groslys te plaas as wat daar vakatures is EN/OF

 

7b2.1.2 Die kerkraad kan ook geskikte name van die ringskommissie en die Algemene Kommissie vir Gemeentebediening aanvra om die groslys aan te vul EN

 

7b2.1.3 Die lidmate van die gemeente moet versoek word om by die skriba van die kerkraad/ pre-advieskommissie name in te gee vir plasing op die groslys EN/OF

 

7b2.1.4 Die kerkraad kan die naam van die beroepende gemeente en die datum van die beroepsvergadering onder amptelike berigte in die Kerkbode plaas.  Leraars en proponente kan dan indien hulle wil, vertroulik daarop reageer deur hulle name tesame met 'n curriculum vitae aan die kerkraad voor te lê.  Kerkrade van beroepende gemeentes kan aan leraars op die groslys 'n vraelys uitstuur, waarin uitdruklike bedieningsgerigte vrae gestel word.

 

7b2.1.5 Die kerkraad het die reg om 'n curriculum vitae aan te vra van enige leraar of proponent wie se naam op die groslys verskyn.  Beroeping geskied in die strengste vertroulikheid volgens die bepalings van elke Sinode.

 

7b2.2.   Indien die kerkraad van 'n pre-advieskommissie gebruik maak, word die beskikbare name aan die kommissie voorgelê wat daaruit minstens drie name kies en dit in alfabetiese volgorde aan die kerkraad voorlê tesame met al die ander name op die groslys.  Enige lid van die kerkraad het die reg om 'n verdere naam op die groslys te plaas.

 

7b3       Besluit ter verduideliking van Artikel 7.5

 

Enige vorm van onderhandeling met iemand wie se naam op die groslys verskyn, kan slegs plaasvind nadat 'n beroep op hom/haar uitgebring is. Kerkrade word daarop gewys dat hulle in hierdie verband nie verder kan gaan as wat die besluite van die Algemene Sinode voor ruimte laat nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Dokumentasie

 

LEGITIMASIEVERKLARING

 

Ek, die ondergetekende                                                               (volle naam en van) oortuig van my roeping deur die Here en toegelaat tot die openbare bediening van die Woord in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, verklaar hiermee voor die Here:

 

1.           dat ek glo dat die leer soos vervat in die drie algemene belydenisskrifte en die drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica), die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, ooreenkom met die Woord van God;

 

2.           dat ek hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef;

 

3.           dat ek alle dwalinge wat met hierdie leer in stryd is, sal weerlê en alles in my vermoë sal doen om dit uit die Kerk te weer;

 

4.           dat, indien ek later enige beswaar of ander insig oor die leer ontwikkel, ek dit nie sal leer of bevorder voordat ek dit aan 'n bevoegde kerkvergadering vir 'n beslissing voorgelê het nie;

 

5.           dat ek my aan die orde van die NG Kerk sal hou;

 

6.                      dat ek, om beroep te word, volgens die Kerkorde en besluite van die Nederduitse Gereformeerde Kerk sal optree;

 

7.                      dat ek my op die uitbreiding van die koninkryk van God sal toelê deur die bevordering van kennis van, vertroue in en gehoorsaamheid aan die Drie-enige God.

 

8.                      dat ek myself verbind tot voortgesette teologiese opleiding.

 

Ek verbind my deur my handtekening tot al die voormelde.

 

                                                       

Geteken te                                                        op                                       20  _____

 

Geteken in my teenwoordigheid:                                                             

(Namens die Taakspan Regte van die Algemene Sinode)

 

 

Hierby word aanvullend deur die Sinode van Oos-Transvaal bepaal:

 

Bepaling 1

Wie is beroepbaar

 

1.1         Persone wat oor bevoegdheid in die NG Kerk beskik (kyk Reglement vir die Reëling van die Bevoegdheid van Predikante en Proponente, Kerkorde, Algemene Sinode, 2004, bl 39v) en nog nie die ouderdom van 65 jaar bereik het nie, is beroepbaar.

 

1.2         Persone wat oor bevoegdheid in die NG Kerkfamilie beskik en ingevolge Artikel 5.1 (Kerkorde, Algemene Sinode, 2004) aan die vereistes van die NG Kerk vir die toelating tot die bediening van die Woord voldoen, is beroepbaar.

 

Algemene Sinode Besluit

OOR-EN-WEER BEROEPBAARHEID

(Handelinge Algemene Sinode 1994, bl 452, 2.8.6.1)

 

Kerkorde Artikels 5 en 6, die Reglement vir die Reëling van die Opleiding en Legitimasie van Evangeliedienaars en die Reglement vir die Reëling van die bevoegdheid van Predikante en Proponente en verbandhoudende besluite van die Algemene Sinode oor die opleiding, legitimasie en bevoegdheid van leraars in die NG Kerk, geld vir die NG Kerkverband en is as sodanig ook bepalend vir die interpretasie van die besluit van die Algemene Sinode oor die erkenning van die opleiding en legitimasie van die ander lede van die NG Kerkfamilie, asook die besluit oor die oor-en-weer beroepbaarheid van leraars binne die Familie van NG Kerke.

 

 

Riglyne

 

BEROEP VAN 'N GELEGITIMEERDE VAN 'N LIDKERK VAN DIE NG KERKFAMILIE

 

Die NG Kerk het die volgende vereistes gestel vir die beroepbaarheid van 'n leraar of proponent van die NG Kerkfamilie:

 

1.                      Die NG Kerk erken die opleiding en legitimasie van die lede van die NG Kerkfamilie op voorwaarde dat dit voldoen aan die vereistes wat die NG Kerk stel vir sy eie opleiding en legitimasie.

 

2.           Indien die opleiding van 'n gelegitimeerde van die NG Kerkfamilie nie gelykwaardig is aan die vereistes wat die NG Kerk vir sy eie gelegitimeerdes stel nie, is so 'n persoon nie sonder meer beroepbaar in die NG Kerk nie.

 

3.                      Voldoen 'n gelegitimeerde van die NG Kerkfamilie nie aan die vereistes wat die NG Kerk vir sy gelegitimeerdes stel nie, sal sodanige persoon die nodige aanvullende kwalifikasies moet verkry ten einde beroep te kan word na 'n NG gemeente of benoem te kan word in 'n pos in die NG Kerkverband.

 

4.                      Die Algemene Sinode het aan ringe opdrag gegee om toe te sien dat, by die goedkeuring van beroepe uit die NG Kerkfamilie, daar aan die vereistes van die NG Kerk vir opleiding en legitimasie voldoen word.

 

5.                      Die drie Formuliere van Eenheid moet as die enigste belydenis van die NG Kerk aanvaar word alvorens 'n gelegitimeerde van die NG Kerkfamilie in 'n gemeente van die NG Kerk bevestig kan word.

 

BRONVERWYSING: Handelinge Algemene Sinode 1990, bl 707; Agenda en Handelinge Algemene Sinode 1994, bl 159-160, 452.

 

Bepaling 2

Wie mag beroep

 

2.1         Die beroeping van 'n predikant vir 'n gemeente geskied tydens 'n kerkraads-vergadering wat op twee agtereenvolgende Sondae by die erediens(-te) afgekondig is.

 

2.2         Twee of meer gemeentes kan per onderlinge ooreenkoms afsonderlik dieselfde persoon as deeltydse predikant vir die onderskeie gemeentes beroep.

 

Bepaling 3 (Kyk ook Besluit, Algemene Sinode, 7b2)

Prosedure by beroeping

 

3.1         Wanneer die kerkraad 'n nuwe pos skep of 'n bestaande pos vakant is, word aanvullend tot Artikel 7 bepaal:

 

3.1.1      Na verstryking van die datum waarop CV's ingedien kon word, evalueer die kerkraad se pre-advieskommissie die CV's met in agneming van Artikel 7 en Bepaling 1.

 

3.1.2      Die pre-advieskommissie lê die name ooreenkomstig besluit 7b 2.2 voor en kan toeligting gee oor hulle geskiktheid in terme van die posvereistes.

 

3.1.3      Die kerkraad beroep per geslote stembrief met volstrekte meerderheid. Indien stemme by die finale stemming staak, beslis die lot.

 

3.1.4      Na beroeping word die beroepsbrief opgestel (kyk Artikel 7.3 en 7.4).

 

3.2         Na afloop van die beroepsvergadering word

 

3.2.1      die beroepene in kennis gestel dat 'n beroep op hom/haar uitgebring is;

 

3.2.2      die naam van die beroepene per afkondiging op twee opeenvolgende Sondae vir goedkeuring aan die gemeente voorgelê (kyk ook Bepaling 4);

 

3.2.3      aan die Kerkbode berig gestuur van die beroep.

 

3.3         Na goedkeuring van die beroep deur die gemeente word die beroepsbrief aan die beroepene gestuur met die oog op oorweging van die beroep en enige onderhandelinge rakende die beroepsbrief (kyk Artikel 7.5 en 7.6).

 

Algemene Sinode Besluit

MISBRUIKE RONDOM DIE BEROEPSTELSEL

(Handelinge Algemene Sinode 2002, bl 406, 1.3.2)

 

1.           Die Algemene Sinode oordeel dat daar talle misbruike rondom die "advertering" van vakatures van leraarsposte en die samestelling van groslyste in die huidige beroepstelsel ontstaan het.

 

2.           Die Algemene Sinode wys beroepende vergaderinge, ringe en sinodes daarop dat die vergunning wat die Algemene Sinode in 1990 gemaak het ten opsigte van bekendstelling van vakatures en 'n alternatiewe wyse van samestelling van groslyste slegs die volgende behels:

 

2.1                  Die kerkraad kan die vakature in die Kerkbode bekendstel met 'n aanduiding van die besondere vereistes wat ten opsigte van die vakature gestel word. Predikante en proponente kan dan op die bekendstelling reageer deur hulle name tesame met 'n curriculum vitae aan die kerkraad voor te lê.

 

2.2         Kerkrade het die reg om predikante te versoek om hulle curriculum vitae met die oog op beroeping te voorsien.

 

Dokumentasie

 

KONSEP BEROEPSBRIEF

BEDIENAAR VAN DIE WOORD

(Kan aangepas word na eie behoefte.)

 

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE GEMEENTE

(NAAM VAN GEMEENTE)

AAN

(NAAM VAN BEROEPENE)

 

AANHEF

Die goedheid en vrede van God ons Vader en Christus Jesus ons Here is by u!  Ons is saam met u deel van God se nuwe familie en het goeie nuus vir u:  Die Kerkraad van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente (Naam van Gemeente) het u op (Datum) beroep tot bedienaar van die Woord van hierdie gemeente.  Ons gebed is dat u hierdie beroep in afhanklikheid teenoor die Here ernstig sal oorweeg en ons gou sal laat weet of u die beroep aanvaar.


 

 

 

 

Die Sinode van Oos-Transvaal onderskryf die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God, die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 en die Kerkorde met reglemente en besluite van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

 

DIE PARTYE

Die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE GEMEENTE (Naam van Gemeente), hierna genoem die Gemeente in die hoedanigheid as werkgewer, hierin verteenwoordig deur die Kerkraad van die gemeente, met die kantoor te (Adres van Gemeente), maak hiermee aan (Naam van Beroepene), hierna genoem die Predikant in sy/haar hoe-danigheid as werknemer, hierdie diensaanbod.

 

Die partye erken en aanvaar dat hierdie geskrewe ooreenkoms onderhewig is aan die bepalinge van die Kerkorde en die besluite van die Algemene Sinode en die Sinode van Oos-Transvaal, soos van tyd tot tyd gewysig.  (Soos vervat in die Familiereëls.)  Die Personeelbeleid van die Gemeente vorm daarby 'n integrale deel van die Predikant se diensooreenkoms.

 

DIENSOMSKRYWING

Die Predikant is verantwoordelik vir die uitvoering van alle ampstake soos in Artikel 9 van die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en in 'n afsonderlike POSBESKRYWING vervat.  Die posbeskrywing, wat deel uitmaak van die predikant se diensooreenkoms, kan van tyd tot tyd gewysig word soos op 'n redelike wyse skriftelik tussen die partye ooreengekom.

 

Die Gemeente onderneem om dit vir die Predikant moontlik te maak om sy/haar diensverpligtinge te verrig en aan hom/haar die liefde en medewerking te bied, sodat hy/sy tot vervulling van sy/haar besondere taak ondersteun word.

 

DATUM VAN DIENSAANVAARDING

Die datum van diensaanvaarding is (Datum).

 

WERKURE EN WERKDAE

Vanweë die aard van kerklike werk en die feit dat die Predikant in terme van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (1997) 'n senior bestuurswerknemer geag word, op wie gewone werkure en voorgeskrewe vergoeding vir oortyd nie van toepassing is nie, is vaste diensure nie moontlik nie.  Daar word dus van die Predikant verwag om billikerwys beskikbaar te wees vir die uitvoering van sy/haar verantwoordelikhede teenoor die Gemeente.

 

LEWENSONDERHOUD, TOELAES EN ANDER BYVOORDELE

Die aanstelling in die pos as Predikant is onderworpe aan die bepalings van die Kerkorde en reglemente, sinodale besluite, die personeelbeleid van die gemeente en toepaslike wetgewing.  Om van bekommernis oor tydelike dinge te vrywaar, onderneem die Gemeente om die volgende bruto jaarlikse vergoedingspakket van (Bedrag), gebaseer op die riglyne deur die Algemene Sinode, maar deur die Gemeente vasgestel, te voorsien.  'n Detail ontleding van die PAKKET, wat belastingvriendelik gestruktureer kan word, word by hierdie diensaanbod aangeheg en vorm 'n integrale deel van die diensooreenkoms.

 

Die Kerkraad of hulle gevolmagtigdes evalueer jaarliks die pakket volgens die nuutste riglyne van die Algemene Sinode en die heersende finansiële posisie van die Gemeente en maak daarna die nodige aanpassings.

 

Maandelikse betalings geskied op die                dag van die maand.

 

1.           TRAKTEMENT

              'n Traktement van (Bedrag) word aan die Predikant betaal. Die traktementskaal is (Skaal).  Erkenning word verleen vir diensjare vanaf ordening as predikant in (Jaartal) tot op datum van diensaanvaarding en die Predikant word op kerf

              (Getal) aangestel.

 

2.           DIENSBONUS

              'n Jaarlikse bonus van (Bedrag) word vanaf datum van indienstreding op (Datum) betaal.

 

3.           VERLOF

              Verlof word in ooreenstemming met die Reglement vir die Verlof van Predikante en Sinodale Amptenare (Kerkorde Algemene Sinode 2004, Reglement 22) toegestaan.

4.           PENSIOEN

              Pensioenvoorregte (aftree-, sterfte- en ongeskiktheidsvoordele) ooreenkomstig die Reglement vir die Predikante Pensioenfonds van die Nederduitse Gereformeerde Kerk.  Lidmaatskap is verpligtend.  Die Gemeente betaal die werkgewerskontribusie soos vasgestel vir die lidmaatskapkategorie: 100% en hierdie bedrag is tans (Bedrag) per jaar.  Die ledebydrae is 7,5% van pensioengewende besoldiging en beloop (Bedrag) per jaar bereken teen pensioengewende besoldiging van (Bedrag).  Die ledebydrae word maandeliks van besoldiging afgetrek en saam met die werkgewerskontribusie deur die Gemeente aan die Pensioenfonds oorbetaal.

 

5.           MEDIESE FONDS           

              Dit is die Gemeente se verantwoordelikheid om te sorg dat die Predikant oor voldoende dekking vir mediese versorging beskik.  As permanente voltydse werknemer skakel die Predikant in by die mediese fonds waarmee die Nederduitse Gereformeerde Kerk 'n ooreenkoms het en lidmaatskap is verpligtend.  Die jaarlikse premie word met (Bedrag) uit die werknemer se pakket gefinansier, terwyl die Gemeente die (Bedrag) per jaar betaal.  Die Gemeente verhaal die werknemersbydrae maandeliks by wyse van 'n aftrekking van die besoldiging en is verantwoordelik vir die oorbetaling van die bydraes aan die mediese fonds.  In die geval waar die Predikant se gade oor dekking vir mediese versorging beskik en hy/sy by daardie mediese fonds as afhanklike geregistreer is, is dubbele lidmaatskap nie nodig nie.

 

6.           GROEP- EN GADEVERSEKERING

              Die Gemeente betaal die helfte van die premies ten opsigte van die Groeplewensversekeringskema van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Transvaal.  Aftrekking van die werknemersbydraes geskied maandeliks van die besoldiging en die Gemeente is verantwoordelik vir die oorbetaling van die premies aan die versekeraar. Die werkgewersbydrae vir die Groeplewensversekeringskema beloop (Bedrag) per jaar.  Die Predikant betaal die volle premie vir die Gadeversekeringskema van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Transvaal.  Die aftrekking geskied maandeliks van besoldiging en word deur die Gemeente aan die versekeraar oorbetaal.  Die premie vir die gadeversekeringskema beloop (Bedrag) per jaar.

 

              Indien die Predikant in diens van die Gemeente te sterwe kom en afhanklikes nalaat, word 'n bedrag gelykstaande aan die lewensonderhoud en toelaes vir ses maande aan hulle betaal. Dekking geskied deur 'n Groeplewens-versekeringskema vir die versorging van afhanklikes van leraars (VAL).  Die  Gemeente betaal maandeliks die premies, wat (Bedrag) per jaar beloop.

 

7.           ONGEVALLEVERSEKERING

              Die Gemeente betaal tot 'n maksimum van (Bedrag) per jaar die premie vir dekking teen persoonlike ongevalle.  Die Gemeente is verantwoordelik vir die betaling van die premie(s) aan die versekeraar en betaling geskied jaarliks of maandeliks.

 

8.           BEHUISING

              Die Gemeente voorsien gratis behuising aan die Predikant en die Gemeente is verantwoordelik vir alle redelike instandhoudingskoste, wat die terrein, geboue en munisipale dienste insluit.  Die behuisingvoordeel word addisioneel tot die vergoedingspakket geag.  Die predikant betaal die belasting op hierdie byvoordeel.  Indien die Predikant sy/haar eie behuising voorsien, betaal die Gemeente aan hom/haar 'n behuisingstoelae van (Bedrag) per jaar.  Dit word in maandelikse paaiemente betaal.  Indien die Predikant in diens van die Gemeente te sterwe kom, word gratis behuising of 'n behuisingstoelae vir ses maande vanaf datum van afsterwe aan sy/haar afhanklikes voorsien.

 

9.           MOTOR- EN REISVOORDELE

              Daar word van die Predikant verwag om voorsiening te maak vir geskikte vervoer vir die uitvoering van sy pligte.  Die Gemeente betaal hiervoor 'n motortoelae van (Bedrag) per jaar aan die Predikant.  Dit word in maandelikse paaiemente betaal.

 

10.         TELEFOONKOSTE

              Die gemeente voorsien 'n telefoon vir amptelike gebruik.  Privaat oproepe is vir die Predikant se rekening.

 

11.         REKENAAR- EN BOEKETOELAE

              Die Predikant ontvang met die oog op die uitvoering van sy pligte 'n rekenaar- en boeketoelae van (Bedrag) per jaar.

 

WYSIGING VAN VERPLIGTINGE EN VOORDELE

Die aanpassing van diensverpligtinge en -voordele word jaarliks deur die Kerkraad oorweeg en met die Predikant onderhandel.  Wysiging van diensverpligtinge en -voordele kan alleen na behoorlike skriftelike kennisgewing en met wedersydse instemming geskied.

 

PRIVAAT- OF ANDER WERK

Terwyl die Predikant in diens van die Gemeente is, mag hy/sy geen privaat en/of ander werk verrig om 'n bykomende inkomste van enige aard te verdien, sonder die vooraf skriftelike goedkeuring van die Kerkraad of hulle gevolmagtigdes nie.

 

DISSIPLINE

Die Predikant onderwerp hom/haar aan die dissiplinêre en grieweprosedure soos vervat in die Kerkorde met reglemente en besluite van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, asook die Personeelbeleid van die Gemeente.

 

Die Predikant verklaar by ondertekening van die diensooreenkoms dat daar geen hangende of dreigende tughandeling teen hom/haar is nie en dat hy/sy aan sy/haar legitimasieverklaring getrou sal bly.  Die Kerkraad hou toesig oor die leer en lewe van die Predikant en het die reg om klagtes teen die Predikant te ondersoek of om daarvoor 'n gevolmagtigde ondersoekkommissie aan te wys.

 

DUUR EN BEËINDIGING VAN DIE OOREENKOMS

Hierdie ooreenkoms geld tot die datum waarop die Predikant om welke rede ook al die diens van die Gemeente verlaat.  Die Predikant emeriteer wanneer hy/sy die ouderdom van 65 jaar bereik.

 

Wedersydse skriftelike kennisgewing van 3 (drie) kalendermaande word vereis vir die beëindiging van hierdie ooreenkoms, onderworpe aan die toepaslike kerkordelike bepalinge en ander besluite.

 

VERVANGING VAN ALLE VORIGE OOREENKOMSTE

Hierdie ooreenkoms vervang alle ooreenkomste tussen die partye aangegaan wat op diensverhoudinge betrekking het.

 

ONDERTEKENING

DIENSAANBOD geteken te ________________________________ op hierdie        

 

dag van _______________________ 20  _________

 

 

__________________________________________             

NAMENS DIE GEMEENTE VAN (NAAM)

 

 

                                    GETUIES:     1.  ______________________________

 

                                                            2.  _______________________________

 

 

DIENSOOREENKOMS aanvaar en geteken te ___________________________ op

 

hierdie ______ dag van ______________________ 20 _____

 

 

___________________________________________                      

(NAAM VAN BEROEPENE)

 

 

                                    GETUIES:     1.  _______________________________

 

                                                            2.  _______________________________

 


 

BYLAE

(NAAM VAN GEMEENTE)

 

VERGOEDINGSPAKKET

 

PREDIKANT

(NAAM VAN BEROEPENE)

 

 

              KONTANT

 

              TRAKTEMENT                                           _______.__

              BONUS                                                        _______.__

              PENSIOENBYDRAE                                 _______.__

              MEDIESE FONDS BYDRAE                    _______.__

              GROEPVERSEKERING                           _______.__

              GADEVERSEKERING                              _______.__

              ONGEVALLEVERSEKERING                 _______.__

              MOTORTOELAE                                        _______.__

              REKENAAR- EN BOEKETOELAE         _______.__

              TOTAAL                                                      _______.__

 

              IN NATURA

 

              BEHUISING

              Word deur die Gemeente voorsien. 'n Huistoelae van (Bedrag) per jaar is deur die Gemeente aan die Predikant betaalbaar, indien hy/sy eie behuising voorsien.

 

              AFTREKKINGS

 

              WERKNEMERSBELASTING

              Soos deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens bepaal.

              WERKLOOSHEIDSVERSEKERING      _______.__

              PENSIOENBYDRAE                                 _______.__

              MEDIESE FONDS BYDRAE                    _______.__

              GROEPVERSEKERING                           _______.__

              GADEVERSEKERING                              _______.__

 

Bepaling 4

Besware teen 'n beroep

 

4.1         Enige ongesensureerde, belydende lidmaat van die beroepende gemeente mag binne tien dae vanaf die eerste afkondiging van 'n beroep 'n skriftelike beswaar met opgawe van redes by die betrokke Ring of Ringsdiensraad indien, en wel op grond van bepaalde klagtes teen die leer of lewe van die beroepene, of op grond van klagtes insake onreëlmatigheid in verband met die uitbring van die beroep (kyk Kerkorde, Algemene Sinode 2002, Artikel 7.1.3).* OPGESKORT

 

 

 

4.2         Die vergadering wat die beswaar ondersoek,[2]  bepaal of die beswaar gegrond is. Indien gegrond, stel die betrokke vergadering die beroep ter syde en word die beroepene en die kerkraad onder wie se opsig hy/sy staan, dienooreenkomstig in kennis gestel. Indien die beswaar ongegrond is, word met die beroep voortgegaan.

 

Omruiling van Standplase

Kyk Kerkorde, Algemene Sinode, 2004, Funksionele besluit 20, bl 108v.

 

Tentmakerbediening

Kyk Reglement vir Tentmakerbediening, Kerkorde Algemene Sinode, 2004, bl 85v.

 

2.2.3         Die bevestiging van 'n bedienaar van die Woord

 

Artikel 8

 

8.1       Die bevestiging van 'n gemeenteleraar geskied nadat:

 

8.1.1    die Ring (of sy gevolmagtigde Kommissie) skriftelik bevestig het dat aan al die kerklike vereistes voldoen is.

 

8.1.2    'n Akte van demissie uit die vorige werkkring of in die geval van evangeliedienaars wat in 'n nie-kerklike betrekking gestaan het, ook 'n getuigskrif van eervolle ontslag en 'n attestaat uit die vorige gemeente aan die Ring of sy gevolmagtigde kommissie voorgelê en by die beroepende kerkraad ingedien is.

 

8.1.3    In die geval van proponente moet

 

8.1.3.1   die akte van legitimasie getoon word;

 

8.1.3.2   'n attestaat by die beroepende kerkraad ingelewer word en;

 

8.1.3.3   geskied die bevestiging met oplegging van hande waarna predikantsbevoegdheid verkry word.

 

8.2       Die bevestiging van 'n leraar in diens van die kerkverband vind plaas nadat:


8.2.1    Die betrokke Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde skriftelik bevestig het dat aan al die kerklike vereistes voldoen is;

 

8.2.2    'n Akte van demissie uit die vorige werkkring, of in die geval van evangeliedienaars wat in 'n nie-kerklike betrekking gestaan het, ook 'n ge-tuigskrif van eervolle ontslag en 'n attestaat uit die huidige gemeente aan die Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde voorgelê is.

 

8.2.3          In die geval van proponente, moet die akte van legitimasie aan die Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde voorgelê word en geskied die bevestiging met die oplegging van hande waarna predikantsbevoegdheid verkry word.

 

8.2.4          Dit is die verantwoordelikheid van die betrokke kerkvergadering in wie se diens die leraar/proponent is om onverwyld kennis aan die Algemene Regskommissie te gee van enige verandering wat mag intree ten opsigte van standplaas en/of bevoegdheid.

 

Bepaling 5

Die bevestiging

 

5.1                  Die bevestiging geskied deur 'n bedienaar van die Woord wat bevoegdheid in die NG Kerk het.

 

5.2                  Die handoplegging by die bevestiging van 'n proponent, is tot bedienaars van die Woord wat bevoegdheid in hulle onderskeie Kerke het, beperk.

 

 

Kommentaar

OPLÊ VAN HANDE

 

In Handelinge 6 simboliseer die handoplegging deur die apostels dat sewe manne wat oor die nodige geestelike gawes beskik, in die teenwoordigheid van die gemeente opsy gesit is vir 'n besondere taak in die Kerk.  Die oplegging van hande by die bevestiging in 'n amp was in die Joodse sinagoge gebruiklik, in navolging van die voorbeeld van Josua wat op dié wyse as opvolger van Moses bevestig is (Numeri 27:18-23) en toegerus is met die Gees van wysheid (Deuteronomium 34:9).  Deur handoplegging is die Leviete van die volk afgesonder en aan die diens van die Here gewy (Numeri 8:10).  Saulus en Barnabas word tydens 'n spesiale byeenkoms in die gemeente Antiogië die hande opgelê, as teken dat hulle nou "amptelik" vir hulle beplande en georganiseerde getuienistaak onder die heidene afgesonder is (Handelinge 13:3).

 

Aangesien die ampte deel van die gawes (charismata) is wat die Here deur sy Heilige Gees aan die Kerk gee (Efesiërs 4:12), word met die handoplegging simbolies aangedui dat die nuwe ampsdraer deur die werking van die Heilige Gees toegerus is met genadegawes om sy/haar amptelike werk te kan uitvoer (1 Timoteus 1:14).  Die oordrag van 'n amp, die afsondering daarvoor en die toerusting gepaardgaande daarmee, word dus deur die handoplegging versimboliseer.

 

Dit is gepas om te let op die vermaning van 1 Timoteus 5:22 dat iemand nie oorhaastig die hande opgelê moet word nie.

 

BRONVERWYSING: Agenda Algemene Sinode 1990, bl 373, 6.7.

 

Bepaling 6

Kennisgewing van bevestiging

 

6.1.        Die skriba van die beroepende vergadering gee aan die Sinode huis van die bevestiging van 'n proponent kennis en versoek dat 'n akte van bevestiging uitgereik en, indien nodig, aansoek gedoen word om aanstelling as huweliksbevestiger deur die Staat.

 

6.2         Die skriba van die beroepende vergadering gee aan die Sinode huis van die bevestiging van 'n proponent of predikant kennis met vermelding van sy/haar vorige en huidige adres, sodat die Minister van Binnelandse Sake in kennis gestel kan word van die adresverandering van 'n huweliksbevestiger.

 

6.3         Die skriba van die beroepende vergadering gee in die Kerkbode kennis van die bevestiging van 'n proponent of predikant.

 

Artikel 9

 

Die amp of bediening van die bedienaar van die Woord is gerig op die Woordbediening in sy verskillende gestaltes en omvat:

 

9.1       die prediking;

 

9.2       die bediening van die sakramente;

 

9.3       die diens van gebede;

 

9.4       die leiding van die eredienste;

 

9.5       die kerklike onderrig, in samewerking met die ander ampte en die gelowiges;

 

9.6       die behartiging van die herderlike sorg, veral in die vorm van huisbesoek, saam met die kerkraadslede;

 

9.7       die ywer vir die uitbreiding van die koninkryk van God;

 

9.8       die regering, organisasie, leiding en bestuur van die gemeente saam met die ouderlinge en diakens;

 

9.9       die uitoefening, saam met die ouderlinge en diakens, van die opsig en tug oor die gemeente;

 

 

9.10             die gee van leiding aan kerkraads- en ander vergaderinge;

 

9.11             verantwoordelikhede ten opsigte van die kerkverband.

 

Artikel 10

 

'n Bedienaar van die Woord mag geen ampspligte (Artikel 9) uitoefen binne die grense van 'n ander gemeente sonder die toestemming van daardie kerkraad nie.

 

Artikel 11

 

Predikante kan die kerkdiens slegs om ernstige en gewigtige redes verlaat. Hulle hou op om predikant te wees indien hulle hulle gemeente of werkkring in die kerkverband verlaat om 'n ander betrekking te aanvaar. Hulle kan egter vooraf van die Algemene Regskommissie verlof ontvang om hulle bevoegdheid as proponent te behou. Sodanige behoud van die bevoegdheid kan alleen verleen word indien die betrekking wat hulle aanvaar, 'n geestelike karakter dra wat regstreeks met die verkondiging van die Woord in verband staan en ten bate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk geag word.

 

Besluit by Artikel 11

 

11b1     Dit staan kerkrade vry om predikante vir 'n bepaalde termyn en vir 'n bepaalde taak te beroep in gevalle waar dit nie gaan om 'n permanente pos nie.

 

11b2     Die termynbepaalde pos word geskep met approbasie/goedkeuring van die Ring/Ringskommissie wat die meriete daarvan moet oorweeg.

 

11b3     Aan die einde van die termyn behou so 'n persoon die bevoegdheid wat hy/sy gehad het voor hy/sy in die pos bevestig is.

 

Die Bevoegdheid van Predikante en Proponente

 

Kyk Reglement vir die Reëling van die Bevoegdheid van Predikante en Proponente, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 39v. Voeg by 7.3, 7.4 en 7.5.3 na "sinodale kommissie" en/of "moderamen" die volgende in: "Sinodale Diensraad" en by 7.5.2 na "kommissie": "/ad hoc-diensgroep".

 

Jaarlikse aanmelding

 

Die Algemene Sinode besluit dat alle dienende predikante jaarliks via hulle gemeenteskriba die skriba (bevoegdheidsregister) van die ARK moet inlig oor hulle huidige gemeente en posisie. (Kerkorde, Algemene Sinode, 2004, bl 110, 22.1).

 

Bepaling 7

Verlening van demissie[3]

 

7.1         Indien 'n predikant 'n beroep aangeneem/benoeming aanvaar het, onthef die kerkvergadering in wie se diens hy/sy staan hom/haar van sy/haar ampsbetrekking en reik aan hom/haar 'n akte van demissie uit. Die Ring sien toe dat alle verpligtinge teenoor die vertrekkende leraar nagekom is.

 

7.2         Indien 'n bedienaar van die Woord se diens in terme van Artikel 12 van die Kerkorde beëindig word, word aan hom/haar 'n akte van demissie uitgereik met 'n aanduiding van die rede vir diensbeëindiging.

 

7.3         By verlies van bevoegdheid word nie 'n akte van demissie uitgereik nie (kyk Reglement  vir die Reëling van die Bevoegdheid van Predikante en Proponente, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 39v, 6).

 

Bepaling 8

Emeriti wat terugkeer tot die evangeliediens

 

8.1         'n Predikant wat emeritaat aanvaar het en vóór ouderdom 65 weer tot die evangeliediens wil toetree, moet hom/haar wend tot die ring/ringsdiensraad binne wie se gebied hy/sy woon met

 

8.1.1      mediese sertifikate van twee geneeshere ter stawing van geskiktheid, en

 

8.1.2      'n getuigskrif of verklaring van die kerkraad van die gemeente waarvan hy/sy lidmaat is.

 

8.2         Indien die aansoek slaag, word in die Kerkbode gepubliseer dat hy/sy beroepbaar is.

 

2.2.4   Diensbeëindiging

 

Artikel 12

 

12.1     Predikante word vir die uitvoering van hulle amp of bediening deur 'n kerkvergadering (kerkraad, ring, sinode, Algemene Sinode) beroep en in diens gestel.

 

12.2     'n Predikant is, as geroepene van die Here deur Sy kerk, aan die Here én aan die betrokke kerkvergadering verantwoording verskuldig.

 

12.3     Die kerkvergadering gee aan die predikante die respek en ondersteuning wat hulle as geroepenes van die Here en sy kerk in staat kan stel om hulle amp en bediening effektief uit te voer.

 

12.4     Indiensneming en diensbeëindiging geskied deur die betrokke kerkvergadering soos bepaal deur die Kerkorde en ander geldende besluite.

 

12.5     Slegs persone wat die nodige ampsbevoegdheid het (vgl. KO Artikel 6) kan in 'n gemeente of in die kerkverband as predikant dien (vgl. voetnota by KO Artikel 3 en ook Reglement 3).

 

12.6     'n Predikant se dienste word met onmiddellike effek beëindig by verlies van ampsbevoegdheid ingevolge die Reglement vir die reëling van die bevoegdheid van predikante en proponente.

 

12.7     Die betrokke kerkvergadering, soos bepaal deur die Kerkorde en ander geldende besluite, kan die dienste van 'n predikant in die volgende gevalle beëindig:

 

12.7.1  op grond van wangedrag (vgl. Kerkorde, hoofstuk 5);

 

12.7.2  op grond van onbekwaamheid of ongeskiktheid (vgl. 12b 2.2);

 

12.7.3      op grond van die gemeente op kerkverband se finansiële onvermoë (vgl. 12b 2.3).

 

Inligting

 

RASIONALISASIE

 

Die Algemene Sinode bevestig dat rasionalisasie van 'n leraar kragtens Artikel 12.5.3 nie noodwendig afskaffing van die leraarspos beteken nie.  Kerkrade word egter daarop gewys dat die vulling van so 'n vakature met versigtigheid moet geskied.

 

BRONVERWYSING: Handelinge Algemene Sinode 2002, bl 562, 4.1.

 

 

Besluite by Artikel 12

 

12b 1         Algemene uitgangspunte

 

12b 1.1      Elke kerkvergadering het 'n kommissie wat die diensverhouding tussen hom as werkgewer en sy werknemers bestuur. Die kommissie kan kundiges betrek.

 

12b 1.2      In alle gevalle van diensbeëindiging ingevolge Artikel 12.7 word aan die Algemene Regskommissie kennis gegee van die predikant se diensbeëindiging.

 

12b 1.3      Werkgewers moet vir elke predikant 'n rekord hou waarin die aard van optrede ingevolge Artikel 12, die optrede van die werkgewer en die redes vir die optrede aangedui word.

 

12b 1.4      Vir die diensverhouding tussen gemeentes en die kerkverband met ander werknemers as predikante sien Artikel 58.

 

12b 2         Prosedures (wyses van optrede)

 

12b 2.1      Wangedrag

 

                   In geval van wangedrag deur predikante tree die toesighoudende ring volgens die prosedure vir kerklike tug op.

 

12b.2.2      Onbekwaamheid of ongeskiktheid

 

                   Indien 'n kerkraad of die betrokke ring as toesighoudende liggaam, oordeel dat 'n formele ondersoek na die bekwaamheid of geskiktheid van 'n predikant nodig is, word die saak op die agenda van die kerkraad geplaas vir hantering aan die hand van die volgende prosedure met verslag aan die ring.

 

12b 2.2.1   Die betrokke kerklike vergadering versoek sy kommissie wat die diensverhouding tussen predikant en gemeente/kerkverband hanteer, bygestaan deur die Ringskommissie of ten minste drie lede van die laaste ringsvergadering deur die Ringskommissie aangewys, om die bekwaamheid of geskiktheid van die predikant formeel te ondersoek.  Die vereistes vir 'n formele ondersoek is dieselfde as die vereistes wat geld vir 'n tugondersoek (vgl. KO Artikel 63) soos aangepas vir die formele ondersoek na bekwaamheid of geskiktheid.

 

12b2.2.2    Tydens die ondersoek kry die predikant die geleentheid om sy/haar kant van die saak te stel en hom/haar te verweer teen die besware teen sy/haar diens. Die predikant kan deur 'n medelidmaat bygestaan word.

 

12b 2.2.3   Die besware oor ongeskiktheid of onbekwaamheid wat formeel ondersoek gaan word, moet skriftelik onder die aandag van die predikant gebring word.

 

12b 2.2.4   Indien bevind word dat die predikant onbevredigende diens lewer, moet die redes vir die onbevredigende diens en die vereistes waaraan hy/sy moet voldoen, in oorleg met hom/haar en skriftelik onder sy/haar aandag gebring word.

 

12b 2.2.5   Die kommissie doen alles in sy vermoë om deur toepaslike evaluering, toerusting, begeleiding (leiding en advies) en berading die betrokke predikant te help om bevredigende diens aan die gemeente te lewer.

 

12b 2.2.6   'n Redelike tyd word toegelaat vir die predikant om sy/haar dienste te verbeter en te voldoen aan die vereistes wat die kerkraad aan hom/haar gestel het.

 

12b 2.2.7   Die kerkraad oorweeg ander wyses buiten diensbeëindiging om die aangeleentheid reg te stel.

 

12b 2.2.8   Indien die kommissie tot die gevolgtrekking kom dat die onbekwaamheid of ongeskiktheid nie uit die weg te ruim is nie, kan die kerkraad die predikant uit diens van die gemeente ontslaan met behoud van bevoegdheid en die  uitreiking van 'n akte van demissie.

 

12b2.2.9    In gevalle waar die predikant in diens van die kerkverband is, versoek die kerkvergadering sy kommissie wat die diensverhouding tussen die predikant en die kerkvergadering hanteer, om in samewerking met die Sinodale Regs-/Kerkordekommissie of sy gevolmagtigde die bekwaamheid of geskiktheid van die predikant formeel te ondersoek.  Dieselfde prosedure soos uiteengesit in 12b2.2.2 – 12b2.2.8 soos aangepas, word gevolg.

 

12b.2.3      Die gemeente/kerkverband se finansiële onvermoë (bedryfsvereistes)

 

                   Indien 'n kerkraad of die betrokke ring as toesighoudende liggaam, oordeel dat 'n gemeente om finansiële redes nie meer 'n predikant kan bekostig nie, word die saak op die agenda van die kerkraad geplaas vir hantering aan die hand van die volgende prosedure met verslag aan die ring.

 

12b 2.3.1   Die kerkraad versoek sy finansiële kommissie om in samewerking met die ring se kommissie vir fondse en in oorleg met sy kommissie wat die diensverhouding tussen predikant en kerkraad hanteer, die saak formeel te ondersoek.

 

12b 2.3.2   Die kommissie bepaal die omvang van die finansiële probleem en wend daadwerklike pogings aan om oplossings te soek.[4]

 

12b 2.3.3   Indien diensbeëindiging die enigste oplossing blyk te wees, pleeg die kommissie oorleg met die predikant(e) wat waarskynlik deur die beoogde diensbeëindiging geraak sal word.

 

12b 2.3.4   Die oorlegplegende partye poog om eenstemmigheid te bereik oor:

 

12b 2.3.4.1    geskikte maatreëls om die diensbeëindiging te vermy, dit tot die minimum persone te beperk, die tydsberekening daarvan te verander en die nadelige gevolge daarvan te versag;

 

12b 2.3.4.2    die metode van selektering van die predikant(e) wie se dienste beëindig gaan word;

 

12b 2.3.4.3    voorsiening by diensbeëindiging (uittreeloon of skeidingspakket).

 

12b 2.3.5   Die kommissie voorsien skriftelik aan die predikant(e) met wie oorleg gepleeg word:

 

12b 2.3.5.1    die redes vir die beoogde diensbeëindiging;

 

12b 2.3.5.2    alternatiewe wat oorweeg is voordat diensbeëindiging voorgestel is en die redes waarom elk van die alternatiewe verwerp is;

 

12b 2.3.5.3    die aantal predikante wat waarskynlik geraak gaan word;

 

12b 2.3.5.4    die voorgestelde metode van selektering van welke predikant(e) se diens beëindig moet word;

 

12b 2.3.5.5    die datum waarop die diensbeëindiging waarskynlik van krag sal word;

 

12b 2.3.5.6    die voorgestelde voorsiening by diensbeëindiging (uittreeloon of skeidingspakket);

 

12b 2.3.5.7    enige bystand wat die kerkraad beoog om aan te bied;

 

12b 2.3.5.8    die moontlikheid van 'n toekomstige beroep.

 

12b 2.3.6   Die betrokke predikant(e) word geleentheid gebied om vertoë te rig oor enige aangeleentheid waaroor oorleg gepleeg word, en die kommissie oorweeg die vertoë en reageer daarop.  Indien die kommissie nie daarmee eens is nie, verstrek die kommissie redes daarvoor.

 

12b 2.3.7   Die kommissie selekteer die predikant(e) wie se diens beëindig gaan word volgens maatstawwe waaroor die oorlegplegende partye ooreengekom het of wat, indien daar nie eenstemmigheid is nie, billik en objektief is.

 

12b 2.3.8   By bereiking van 'n ooreenkoms en na ondertekening daarvan deur die oorlegplegende partye, beëindig die kerkraad die diens van die predikant(e) met behoud van bevoegdheid en uitreiking van 'n akte van demissie.  Indien daar nie eenstemmigheid is nie, besluit die werkgewer op billike en objektiewe wyse in die lig van die voorgeskrewe voorsiening.

 

12b 2.4      Voorsiening

 

                   In gevalle van diensbeëindiging geld die volgende reëling met betrekking tot billike voorsiening:

 

12b 2.4.1   Diensbeëindiging weens wangedrag

 

12b 2.4.1.1    Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement vir die Verlof van Predikante en Sinodale Amptenare (Reglement 22).

 

12b 2.4.1.2    In gevalle van summiere ontslag word behuisingsvoordele vir 30 dae na die ontslag voorsien.

 

12b 2.4.1.3    In gevalle van ontslag op 'n datum soos besluit deur die kerkraad word lewensonderhoud, toelaes en behuisingsvoordele voorsien soos ooreengekom tot op dié datum.

 

12b 2.4.2        Diensbeëindiging weens onbekwaamheid of ongeskiktheid

 

12b 2.4.2.1    In gevalle van diensbeëindiging weens onbekwaamheid, 'n uittreeloon/skeidingsloon gelyk aan ten minste twee weke se lewensonderhoud en toelaes vir elke voltooide jaar van aaneenlopende diens by die betrokke werkgewer, asook reëlings in verband met pensioendekking en die werkgewer se bydraes tot die mediese fonds en groepversekering vir hierdie periode. In dié verband geld 'n minimum van 4 weke en 'n maksimum van 26 weke.

 

12b 2.4.2.2    Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement vir die Verlof van Predikante en Sinodale Amptenare (Reglement 22).

 

12b 2.4.3   Diensbeëindiging weens mediese ongeskiktheid

 

12b 2.4.3.1    In gevalle van mediese ongeskiktheid ontvang die predikant toelae volgens die bepalinge van die betrokke reglement.[5]

 

12b 2.4.3.2    In gevalle waar 'n reglement wat ongeskiktheidsvoordele reël nie van toepassing is nie, 'n uittreeloon/skeidingsloon gelyk aan ten minste 2 weke se lewensonderhoud en toelaes vir elke voltooide jaar van aaneenlopende diens by die betrokke werkgewer, asook reëlings in verband met pensioendekking en die werkgewer se bydraes tot die mediese fonds en groepslewensversekering vir hierdie periode.  In dié verband geld 'n minimum van 4 weke en 'n maksimum van 26 weke.

 

12b 2.4.3.3    Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement vir die verlof van predikante en sinodale amptenare (Regement. 22).

 

12b 2.4.4   Diensbeëindiging weens finansiële onvermoë

 

12b 2.4.4.1    In gevalle van diensbeëindiging weens die gemeente/kerkverband se finansiële onvermoë, 'n uittreeloon/skeidingsloon gelyk aan ten minste twee weke se lewensonderhoud en toelaes vir elke voltooide jaar van aaneenlopende diens by die betrokke werkgewer, asook reëlings in verband met pensioendekking en die werkgewer se bydraes tot die mediese fonds en groepsversekering vir hierdie periode.

 

12b 2.4.4.2    Die uitbetaling van alle uitstaande verlof ingevolge die bepalings van die Reglement vir die Verlof van Predikante en Sinodale Amptenare (Reglement 22).

 

12b 3         Appèl

 

12b 3.1      In alle gevalle van diensbeëindiging het die predikant die reg van appèl ingevolge Artikel 23 By diensbeëindiging ingevolge Artikel 12.7 word die predikant oor die rede ingelig en herinner aan die reg van appèl.

 

12b 3.2      In geval van die verlies van bevoegdheid het 'n predikant die reg van appèl na die Algemene Sinodale Kommissie/Algemene Sinode.

 

Artikel 13

 

Die gemeente, kerkverband of instansie in wie se diens 'n bedienaar van die Woord staan, moet omsien na sy/haar geestelike, emosionele en fisiese behoeftes en beroepsontwikkeling en is verantwoordelik vir sy/haar lewensonderhoud (of in geval van deeltydse bediening vir die kontraktuele deel van die lewensonderhoud en toelaes).

 

Bepaling 9

Die kerkvergadering se verantwoordelikheid

 

9.1         Die bedienaar van die Woord se lewensonderhoud en toelae word in die diensooreenkoms vervat en sluit die volgende in: 'n traktement en diensbonus, 'n woning of 'n huistoelae met gebruiklike byvoordele (water en elektrisiteit en amptelike telefoonkoste), vry vervoer met 'n gemeentemotor of 'n jaarlikse reistoelae en jaarlikse verlof gereël volgens die verlofreglement.

 

9.2         Enige wysiging van 'n bestaande diensooreenkoms geskied met die skriftelike instemming van  die kerkvergadering en predikant. Elke wysiging, behoorlik gedokumenteer en onderteken, word by die oorspronklike diensooreenkoms aangeheg of 'n nuwe ooreenkoms word opgestel waarin gemeld word dat alle vorige ooreenkomste herroep word.

 

9.3         Die kerkvergadering in wie se diens 'n leraar staan, sien toe dat alle verpligtinge teenoor die leraar, met insluiting van verlof en alle ander toelae, afgehandel is by die datum van demissie (kyk Reglement vir die Verlof van Predikante en Sinodale Amptenare, Kerkorde Algemene Sinode 2004, bl 91v). Die Ring sien toe dat alle verpligtinge teenoor die vertrekkende leraar nagekom is.

 

9.4         Wanneer 'n beroepene 'n beroep aanneem, is die gemeente/kerkverband in wie se diens hy/sy tree, verantwoordelik vir sy/haar trekonkoste.

 

9.5         Elke kerkvergadering wat 'n predikant beroep of benoem, is verplig om voorsiening te maak vir pensioen volgens die bepalings van die reglement.

 

9.6         Lidmaatskap van die Predikante Pensioenfonds van die Nederduitse Gereformeerde Kerk is verpligtend vir alle predikante wat in die sinodale gebied bevestig word.  Slegs 'n tentmakerbedienaar ('n deeltydse werknemer) is hiervan uitgesluit, op voorwaarde dat hy/sy by die ander werkgewer se pensioenskema ('n geregistreerde pensioenfonds) inskakel en vóór aanvaarding van die beroep (ondertekening van die finale diensooreenkoms) by die Trustees van die Predikante Pensioenfonds toestemming daartoe verkry.

 

Artikel 14

 

Wanneer bedienaars van die Woord weens verswakte gesondheid of ouderdom of andersins uit die diens tree en as hulle daarvoor kwalifiseer, moet hulle toelae ontvang volgens die bepalinge van die betrokke reglement. Daar behoort ook voldoende voorsiening gemaak te word vir die weduwees en wese van die bedienaars van die Woord.

 

Bepaling 10

Emeritaat, pensioen en versorging van afhanklikes van bedienaars van die Woord

 

10.1       'n Bedienaar van die Woord se aftree-ouderdom is 65 jaar en word as sodanig in die diensooreenkoms tussen die predikant en gemeente/kerkverband vervat. Pensioenvoordele word ooreenkomstig die reglement (kyk Reglement vir die Predikante Pensioenfonds, verkrygbaar by die Sinodale huis) betaal.

 

10.2       'n Bedienaar van die Woord kan ook tussen ouderdom 55 en 65 jaar volgens die reëls van die pensioenfonds aftree.

 

10.3             'n Bedienaar van die Woord wat emeriteer, word van sy/haar betrekking tot die gemeente onthef nadat die ring gekontroleer het of daar aan al die kerkordelike vereistes voldoen is.  'n Akte van Emeritaat word deur die kerkvergadering aan hom/haar oorhandig.

 

10.4       Die skriba van die kerkvergadering wat die emeritaat verleen, gee aan die Sinode huis en die Kerkbode daarvan kennis.

 

10.5       Indien 'n bedienaar van die Woord voor ouderdom 60 jaar weens mediese ongeskiktheid emeriteer en daarvoor kwalifiseer, ontvang hy/sy voordele ooreenkomstig die Predikante Voorsieningsfonds.

 

10.6       As 'n bedienaar van die Woord te sterwe kom en afhanklikes nalaat, het hulle die reg op 'n bedrag gelykstaande aan die volle traktement en alle toelae wat vir ses maande lank aan die betrokke pos verbonde sou wees.  Huisvesting of 'n huistoelae vir ses maande word voorsien.

 

10.7       Die binnelandse trekonkoste van 'n bedienaar van die Woord by emeritaat, of van sy/haar naasbestaande(s) in geval van afsterwe voor emeritaat, word deur die kerkvergadering in wie se diens hy/sy was na die plek van vestiging gedra tensy in die diensooreenkoms anders bepaal.  

 

2.3     OUDERLINGE EN DIAKENS

 

Artikel 15

 

15.1             Ouderlinge en diakens onderskryf met hulle bevestiging deur hulle handtekening hulle instemming met die belydenis van die kerk.

 

15.2     Daar behoort 'n gereelde aftrede van ouderlinge en diakens te wees. Elke sinode bepaal die dienstermyn van ouderlinge en diakens.

 

Artikel 16

 

16.1     Die amp of bediening van die ouderling is gerig op geestelike leiding, bestuur en toesig, en omvat:

 

16.1.1  die toerusting van lidmate vir hulle dienswerk;

 

16.1.2  die regering van die gemeente;

 

16.1.3  die doen van huisbesoek;

 

16.1.4  die uitoefening van opsig en tug;

 

16.1.5  waaksaamheid oor die suiwerheid van die leer;

 

16.1.6  medeverantwoordelikheid vir die kategetiese onderwys;

 

16.1.7  die roeping om ander na Christus te lei;

 

16.1.8  ander opdragte wat deur die kerkraad bepaal word in die lig van 16.1.

 

16.2     Die kerkraad bepaal met inagneming van 16.1.1 tot 16.1.8 die bedieningsverantwoordelikheid van elke ouderling.

 

Artikel 17

 

17.1     Die amp of bediening van die diaken is gerig op praktiese dienswerk. Dit begin in die erediens, en gaan vandaar uit na die gemeente en die wêreld waarin die lidmate leef. Die diakenamp omvat:

 

17.1.1  die toerusting van lidmate vir hulle dienswerk;

 

17.1.2  die opheffing, vertroosting en ondersteuning van almal wat in een of ander opsig barmhartig­heidsdiens benodig;

 

17.1.3  die insameling en besteding van middele wat vir die diakonale werk nodig is;

 

17.1.4  die organisering en leiding van die barmhartigheidsbediening van die gemeente;

 

17.1.5  ander opdragte wat deur die kerkraad bepaal word in die lig van 17.1.

 

17.2     Die kerkraad bepaal, met inagneming van 17.1.1 tot 17.1.5, die bedieningsverantwoordelikheid van elke diaken.

 

Bepaling 11

Wie as kerkraadslede mag dien

 

Ongesensureerde belydende lidmate van die gemeente, wie se attestaat by die gemeente ingedien is, kan as kerkraadslede dien.

 

Bepaling 12

Wie kies kerkraadslede

 

12.1       Verkiesing van kerkraadslede geskied deur 'n kerkraadsvergadering waarvan op twee opeenvolgende Sondae by die erediens(te) kennis gegee is.

 

12.2       Die verkiesing van kerkraadslede in 'n nuutgestigde gemeente geskied deur 'n gemeentevergadering wat met die stigtingsvergadering saamval.  Daar word op twee opeenvolgende Sondae by die erediens(te) van die gemeente(s) waarvan afgestig word, van die vergadering kennis gegee.  By hierdie vergadering is alle belydende lidmate wie se lidmaatskap na die nuwe gemeente oorgedra word, stemgeregtig (kyk ook Bepaling 13.3).

 

Bepaling 13

Hoe word kerkraadslede verkies

 

13.1       Persone wat begeer om as ouderling of diaken verkies te word, maak dit aan die kerkraad bekend.

 

13.2       Die nominasie en verkiesing van kerkraadslede geskied met geslote stembriewe op 'n wyse soos deur die kerkraad bepaal.  Die kerkraad mag van pre-advies gebruik maak, maar 'n kerkraadslid kan enige ander persoon tydens die vergadering nomineer.  Kerkraadslede word met 'n meerderheid van stemme verkies.

 

13.3       Die verkiesing van kerkraadslede in 'n nuutgestigde gemeente geskied soos volg:  Die gemeentevergadering bepaal hoeveel kerkraadslede daar gekies moet word, vorm daarna 'n groslys deur nominasies uit die vergadering en stem dan met die opsteek van hande.  Diegene wat 'n meerderheid van stemme verkry, is verkies.

 

13.4       Persone wat verkies is, ontvang so gou moontlik skriftelik kennis van hulle verkiesing as kerkraadslede.

 

Bepaling 14

Goedkeuring deur die gemeente

 

14.1       Die name van persone wat tot kerkraadslede verkies is, word op twee opeenvolgende Sondae by die erediens(te) vir goedkeuring voorgelê.

 

14.2       Enige ongesensureerde, belydende lidmaat van die gemeente mag binne tien dae vanaf die eerste aankondiging 'n skriftelike beswaar met opgawe van redes by die kerkraad indien teen die leer of lewe van 'n persoon wat as kerkraadslid verkies is.

 

14.3       Die voorsitter belê so spoedig moontlik 'n kerkraadsvergadering om die beswaar te oorweeg of om die hantering daarvan na 'n gevolmagtigde kommissie te verwys.  Die volgende word in ag geneem:

 

14.3.1   'n Kerkraadslid wat 'n beswaar indien of betrokke is by 'n beswaar, mag nie tydens die behandeling van die beswaar sitting neem nie.

 

14.3.2   Die kerkraad bepaal of die beswaar gegrond is.  Indien gegrond, word die verkiesing ter syde gestel en die verkosene word dienooreenkomstig in kennis gestel.  Indien die beswaar ongegrond blyk te wees, word met die bevestiging voortgegaan.

 

14.3.3   By die ondersoek na die beswaar word die reëls van natuurlike geregtigheid[6]  toegepas.

 

14.4       As dit 'n beswaar is insake onreëlmatigheid in verband met die prosedure van verkiesing, beslis die ring of sy gevolmagtigde kommissie daaroor.

 

14.5       Indien die kerkvergadering of sy gevolmagtigde kommissie die beswaar gegrond bevind, verval die verkiesing en word 'n ander persoon gekies.  Indien die beswaar ongegrond is, vind die bevestiging van die betrokke persoon plaas (kyk Bepaling 15.1).

 

14.6       Indien daar beswaar gemaak word teen die verkiesing van een of meer van die eerste kerkraadslede wat vir 'n pasgestigde gemeente gekies is, word die bevestiging van die betrokkene(s) uitgestel, totdat die kerkvergadering of hulle gevolmagtigde kommissie die geleentheid kry om dit te oorweeg.

 

Bepaling 15

Die bevestiging van kerkraadslede

 

15.1       Lidmate wat hulle verkiesing as kerkraadslede aanvaar en teen wie daar geen beswaar ingekom het nie, of aangaande wie bevind is dat die besware ongegrond is, word so gou moontlik bevestig.

 

15.2       Die bevestiging geskied met die voorgeskrewe formulier tydens 'n erediens. Die bevestiging word waargeneem deur 'n bedienaar van die Woord van die gemeente of die konsulent of 'n ander bedienaar van die Woord in die kerkverband wat deur die kerkraad of die konsulent daartoe versoek is.

 

Bepaling 16

Die dienstermyn van kerkraadslede

 

16.1       Die kerkraad bepaal die dienstermyn van kerkraadslede.

 

16.1.1   'n Kerkraadslid word vir 'n termyn gekies.

 

16.1.2   By verstryking van hierdie termyn, kan 'n kerkraadslid se dienstyd vir ('n) verdere vasgestelde termyn(e) verleng word, sonder dat die persoon weer bevestig word.

 

16.1.3   Die verlenging van 'n kerkraadslid se dienstermyn word vir goedkeuring aan die gemeente voorgelê.

 

16.2       'n Kerkraadslid wie se dienstermyn verstreke is, bly in diens totdat sy/haar plaasvervanger bevestig is, tensy die kerkraad anders besluit.

 

16.3       'n Kerkraadslid se dienstermyn word beëindig by bedanking of verhuising en is onmiddellik van krag.  'n Kerkraadslid wat verhuis en hom/haar binne 'n ander geografiese gemeente vestig, maar by die vorige gemeente as kerkraadslid wil aanbly, moet eers die toestemming van die kerkrade van die twee gemeentes verkry, alvorens hy/sy as kerkraadslid kan aanbly.

 

16.4       In gevalle waar 'n kerkraadslid tydens sy/haar dienstyd tot 'n ander amp verkies word, beteken die bevestiging in die nuwe amp dat die dienstyd in die vorige amp beëindig word.

 



[1]      In die Kerkorde verwys "leraar", "evangeliedienaar" en "predikant" na "bedienaar van die Woord" en het die begrippe ooreenstemmende betekenisse.

[2]      Die reëls van natuurlike geregtigheid is tydens die ondersoek van toepassing.  Dit behels die twee basiese beginsels van enige billike en regverdige ondersoek: A. Die audi alteram partem-beginsel (hoor die ander kant): Iemand wat beskuldig of verdink word van wangedrag, moet in kennis gestel word van die beskuldiging teen hom/haar.  So 'n persoon moet 'n redelike geleentheid gebied word om op sulke beskuldigings te antwoord en sy/haar kant van die saak te stel, onder meer deur getuienis wat hy/sy aanbied (getuies kan ook geroep word) en die beredenering daarvan.  Die ondersoekliggaam moet na beide kante van die saak luister. B. Die nemo iudex in causa sua-beginsel (niemand mag regter in sy eie saak wees nie) wil 'n onpartydige ondersoek verseker en kom daarop neer dat geen lid van die ondersoekliggaam 'n belang by die saak mag hê nie.

3       Die woord "demissie" beteken "ontslag uit die diens" en dui op die amptelike losmaking van die band tussen 'n predikant en die gemeente.

[4]      Voorbeelde is: voortgesette diens teen verminderde diensvoordele en -verpligtinge, tentmakerbediening, aanstelling in 'n ander pos, standplaasruiling en kombinasie.

[5]      Kerkrade moet hulle voor die beëindiging van diens weens mediese ongeskiktheid vergewis van die bepalinge van die betrokke reglement.

[6]      Die reëls van natuurlike geregtigheid is tydens die ondersoek van toepassing.  Dit behels die twee basiese beginsels van enige billike en regverdige ondersoek: A. Die audi alteram partem-beginsel (hoor die ander kant):  Iemand wat beskuldig of verdink word van wangedrag, moet in kennis gestel word van die beskuldiging teen hom/haar.  So 'n persoon moet 'n redelike geleentheid gebied word om op sulke beskuldigings te antwoord en sy/haar kant van die saak te stel, onder meer deur getuienis wat hy/sy aanbied (getuies kan ook geroep word) en die beredenering daarvan.  Die ondersoekliggaam moet na beide kante van die saak luister. B. Die nemo iudex in causa sua-beginsel (niemand mag regter in sy eie saak wees nie) wil 'n onpartydige ondersoek verseker en kom daarop neer dat geen lid van die ondersoekliggaam 'n belang by die saak mag hê nie.