Oostelike Sinode
Die belydenis en orde van die kerk
Familiereëls » Die belydenis en orde van die kerk
HOOFSTUK
1
DIE
BELYDENIS EN ORDE VAN DIE KERK
Prinsipiële
Besinning
GESAG VAN
DIE BELYDENISSKRIFTE
Die waarheid van die
drie belydenisskrifte wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk onderskryf, is
afhanklik van hulle Skriftuurlikheid. Hulle het nie, sê ons Gereformeerdes,
enige selfstandige gesag nie (norma
normans); hulle het slegs afgeleide gesag (norma normata). Aangesien hulle aan ons
'n samevatting van die leer van die Skrif oor bepaalde sake bied, is hulle met
die gesag van die Woord beklee. Derhalwe is hulle ook normatief en kan hulle
vandag nog dien as maatstaf in sake van leer en
lewenswandel.
1.
Die erkende belydenisskrifte moet as gesagvolle uitdrukking van die
Gereformeerde geloofsoortuiging aanvaar word "omdat" (quia) hulle met die Woord van God
ooreenstem. Hulle het gesag in die saak wat hulle volgens die Skrif wil bely.
Die erkenning van die gesag van die belydenisskrifte sluit nie hulle wysiging
en/of aanvulling uit nie, mits dit langs die ordelike kerklike weg van 'n
behoorlik getoetste gravamen geskied.
2.
Die belydenisskrifte is historiese dokumente wat op meer as een manier
die merktekens van die tyd waarin hulle ontstaan het, vertoon. As kontekstuele
geskrifte lê hulle aktualiteit daarin dat hulle die spesifieke interpretasie van
die evangelie vir mense in 'n bepaalde konteks weerspieël. Maar belydenisskrifte
het nie net aktualiteit nie. Hulle vertoon ook 'n kontinuïteit met die geloof
van die kerk van alle eeue en plekke. Die wisselende konteks speel dus wel 'n
rol en moet by die hantering van die belydenisskrifte in ag geneem word, maar
die blywende algemene, ongetwyfelde christelike geloof wat daarin tot
uitdrukking kom, staan steeds in 'n veranderde konteks
vas.
3.
Terwyl die Algemene Sinode in 1998 erkenning verleen het aan die vrye
ondersoek van die Skrif, wat die kritiese bestudering van die belydenisskrifte
in die lig van die Skrif insluit, het die Algemene Sinode hulle van die volgende
gedistansieer:
3.1 die
oordrewe beklemtoning van die gesag van die belydenisskrifte los van die Skrif
(konfessionalisme);
3.2 die totale
relativering van die gesag wat belydenisskrifte in die Kerk dra
(indifferentisme);
3.3 die
standpunt dat die belydenisskrifte aanvaar/onderteken word in soverre as (quatenus) hulle met die Skrif
ooreenstem;
3.4 die
skerp onderskeiding tussen vorm en inhoud van die belydenisskrifte, asof slegs
die inhoud en nie ook die vorm nie, gesaghebbend sou wees;
3.5 die
beskouing dat die belydenisskrifte as historiese beslissings 'n aanduiding kan
wees van wat geglo behoort te word, sonder dat hulle normatiewe gesag dra;
en
3.6 die
opvatting dat die belydenisskrifte kontekstuele geskrifte is wat in 'n bepaalde
konteks kon funksioneer, maar wat vir die huidige konteks geheel en al
geherinterpreteer moet word.
BRONVERWYSING: Agenda en Handelinge Algemene Sinode
1998, bl 60-63, 517.
Artikel
1
Die
Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en
onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord
van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op
die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van
die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse
Leerreëls.
Artikel
2
2.1
Waar
die Woord van God eis dat in die gemeente van Christus alles welvoeglik en
ordelik moet toegaan (1 Kor 14:40), word in die volgende artikels 'n aantal
bepalinge gegee vir die lewe en werk van die Kerk met die oog op die volbrenging
van sy taak en roeping ooreenkomstig die Heilige Skrif en die
Belydenis.
2.2 Hierdie bepalinge
handel oor die ampte in die Kerk, die vergaderinge van die Kerk, die
werksaamhede van die Kerk, regering en tug van die Kerk en die betrekkinge van
die Kerk na buite.
2.3 Die Nederduitse
Gereformeerde Kerk reël sy eie interne orde op grond van sy onvervreembare
roeping en interne bevoegdheid as Kerk van Jesus Christus en ook op grond van sy
reg tot vryheid van godsdiens.
Kommentaar
SKRIF,
BELYDENIS EN KERKORDE
Die
Skrif as primêre bron en die belydenis as vaslegging van die gesistematiseerde
leer gaan die kerklike orde vooraf.
Die kerklike orde gaan oor die verhouding tussen Christus en sy Kerk en
kom primêr voor binne die ruimte van die gemeente waar die Woord verkondig
word. Die orde wat in die plaaslike
gemeente tot uiting kom, is die orde wat deur die Woordverkondiging geskep word
en wat gelowig aangeneem en gehoorsaam word. Juis omdat die verkondigde Woord
gehoorsaam moet word, geld ook die kerklike dissipline as middel om almal in
gehoorsaamheid aan die Woord van God te hou. In hierdie verband leef die lidmate in
wese as die huisgenote van God in noue verband met mekaar en is hulle op mekaar
aangewese. Lidmate van die gemeente
is allermins onbesproke en gelowiges het die verantwoordelikheid om na mekaar om
te sien en mekaar tot goeie dade aan te spoor. Die plaaslike gemeente word in die
gereformeerde kerkreg geag ecclesia
completa et incompleta (volledig Kerk, maar ook nie volledig Kerk nie) te
wees. In verband (verhouding) met
ander gemeentes (Kerke) wat dieselfde belydenis onderskryf, het die plaaslike
gemeente bepaalde Skrifgefundeerde maatreëls nodig, sodat die werk van die Kerk
in die wêreld ordelike voortgang kan geniet. By gebrek hieraan kan die kerklike lewe
plaaslik en elders in wanorde verval.
Daarom word 'n kerkorde by wyse van onderlinge ooreenkoms tussen
gemeentes deur 'n kerkvergadering (Algemene Sinode) tot stand gebring. In so 'n
kerkorde onderneem gemeentes teenoor mekaar om volgens 'n vasgestelde
Skrifgefundeerde en belydenisgetroue orde in die nouste verband (in kerkverband
van Ring, Sinode en Algemene Sinode) met mekaar saam te
werk.
Kerkorde
en kerkbegrip is onlosmaaklik met mekaar verbind. Kerkbegrip (identiteit) word
bepaal deur die wyse waarop daar na die Skrif en belydenis geluister word. Aan
hierdie kerkbegrip (verstaan van die Skrif en die belydenis) gee die kerkorde
gestalte. Die Kerkorde word in die praktiese kerklike lewe as hulpmiddel gebruik wanneer
kerkvergaderinge besluite neem oor sake soos: hoe eredienste en kerklike byeenkomste ingerig
word (aanbidding), hoe die ampte (dienste of bedieninge) funksioneer en die gelowige
gemeenskap bedien word (onderlinge
sorg) en hoe die evangelie aan die wêreld verkondig word en die samelewing gedien word (getuienis). Verskil in
Skrifbeskouing lei tot verskil in kerkbegrip en alles - waaronder ook die
belydenis en kerklike verordeninge - wat daaruit voortvloei. In die Gereformeerde tradisie word
aanvaar dat 'n Bybelsgefundeerde kerkbegrip 'n Bybels-belydenis-genormeerde
Kerkorde daarstel, wat die lewe van die Kerk nie laat stagneer nie, maar
dinamies daaraan rigting gee. Die heerskappy van Christus as die enigste Hoof en
Heer van die Kerk moet deur die toepassing van die Kerkorde in die vergaderinge
van die ampte en in die lewe van die lidmate van die Kerk sigbaar
word.
Die
grondreëls vir die kerklike orde, vind dus vanuit die Skrif via die belydenis ruimte in die
Kerkorde. Die Kerkorde is nie
belydenis nie en kan nooit aan die Skrif gelyk wees nie. Daar kan nie te veel
van die kerkorde verwag word nie.
Dit bly aanpasbaar, want die Kerk is 'n dinamiese gemeenskap. Dit is slegs 'n middel tot 'n doel en
nooit die doel in sigself nie. Dit
is nie 'n stok om mee te slaan of 'n skans om agter weg te kruip nie. Dit is net 'n vasgestelde orde vir die
Kerk om diensbaar te wees - om die
heerskappy van Christus as die enigste Hoof en Heer van die Kerk prakties tot
uitdrukking te bring en om die geordende bane aan te dui vir alles wat op 'n
gegewe tydstip vir die Kerk daaruit voortvloei.
Die
Kerkorde moet gevolglik verseker dat geen lidmaat of gemeente eenkant gelaat of
aan hom- of haarself oorgelaat word nie.
Die huisgenote van God moet op grond van eenheid in belydenis, regering,
liturgie en diens saamgebind word, as lidmate van die één Nederduitse
Gereformeerde Kerk met genoeg ruimte vir onderlinge verskeidenheid in gawe,
behoefte, styl en omgewing.
Hiervoor is 'n Kerkorde 'n nuttige en onontbeerlike
hulpmiddel.
KERNAANHALING: D
Nauta in Verklaring van de Kerkorde van
de Gereformeerde Kerken in Nederland, bl 13: "Het samenleven van en de
samenhorigheid in de kerkenzijn er als een roeping, die steunt op Gods Woord;
een roeping welke kan worden verstaan en ter harte genomen ook zonder
kerkorde. De eigenlijke basis en
grondslag voor het kerkelijk samenleven moet worden gezocht in Gods Woord en in
de belijdenis van het geloof. Die
diepere overeenstemming, dat accoord des geloofs, word door de kerkorde
verondersteld; zij is dat accoord niet."

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

