Oostelike Sinode
1. Die belydenis en orde van die kerk
Familiereëls » 1. Die belydenis en orde van die kerk
DIE BELYDENIS EN ORDE VAN DIE KERK
Prinsipiële Besinning
GESAG VAN DIE BELYDENISSKRIFTE
Die waarheid van die drie belydenisskrifte wat die Nederduitse Gereformeerde Kerk onderskryf, is afhanklik van hulle Skriftuurlikheid. Hulle het nie, sê ons Gereformeerdes, enige selfstandige gesag nie (norma normans); hulle het slegs afgeleide gesag (norma normata). Aangesien hulle aan ons 'n samevatting van die leer van die Skrif oor bepaalde sake bied, is hulle met die gesag van die Woord beklee. Derhalwe is hulle ook normatief en kan hulle vandag nog dien as maatstaf in sake van leer en lewenswandel.
1. Die erkende belydenisskrifte moet as gesagvolle uitdrukking van die Gereformeerde geloofsoortuiging aanvaar word "omdat" (quia) hulle met die Woord van God ooreenstem. Hulle het gesag in die saak wat hulle volgens die Skrif wil bely. Die erkenning van die gesag van die belydenisskrifte sluit nie hulle wysiging en/of aanvulling uit nie, mits dit langs die ordelike kerklike weg van 'n behoorlik getoetste gravamen geskied.
2. Die belydenisskrifte is historiese dokumente wat op meer as een manier die merktekens van die tyd waarin hulle ontstaan het, vertoon. As kontekstuele geskrifte lê hulle aktualiteit daarin dat hulle die spesifieke interpretasie van die evangelie vir mense in 'n bepaalde konteks weerspieël. Maar belydenisskrifte het nie net aktualiteit nie. Hulle vertoon ook 'n kontinuïteit met die geloof van die kerk van alle eeue en plekke. Die wisselende konteks speel dus wel 'n rol en moet by die hantering van die belydenisskrifte in ag geneem word, maar die blywende algemene, ongetwyfelde christelike geloof wat daarin tot uitdrukking kom, staan steeds in 'n veranderde konteks vas.
3. Terwyl die Algemene Sinode in 1998 erkenning verleen het aan die vrye ondersoek van die Skrif, wat die kritiese bestudering van die belydenisskrifte in die lig van die Skrif insluit, het die Algemene Sinode hulle van die volgende gedistansieer:
3.1 die oordrewe beklemtoning van die gesag van die belydenisskrifte los van die Skrif (konfessionalisme);
3.2 die totale relativering van die gesag wat belydenisskrifte in die Kerk dra (indifferentisme);
3.3 die standpunt dat die belydenisskrifte aanvaar/onderteken word in soverre as (quatenus) hulle met die Skrif ooreenstem;
3.4 die skerp onderskeiding tussen vorm en inhoud van die belydenisskrifte, asof slegs die inhoud en nie ook die vorm nie, gesaghebbend sou wees;
3.5 die beskouing dat die belydenisskrifte as historiese beslissings 'n aanduiding kan wees van wat geglo behoort te word, sonder dat hulle normatiewe gesag dra; en
3.6 die opvatting dat die belydenisskrifte kontekstuele geskrifte is wat in 'n bepaalde konteks kon funksioneer, maar wat vir die huidige konteks geheel en al geherinterpreteer moet word.
BRONVERWYSING: Agenda en Handelinge Algemene Sinode 1998, bl 60-63, 517.
Artikel 1
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.
Artikel 2
2.1 Waar die Woord van God eis dat in die gemeente van Christus alles welvoeglik en ordelik moet toegaan (1 Kor 14:40), word in die volgende artikels 'n aantal bepalinge gegee vir die lewe en werk van die Kerk met die oog op die volbrenging van sy taak en roeping ooreenkomstig die Heilige Skrif en die Belydenis.
2.2 Hierdie bepalinge handel oor die ampte in die Kerk, die vergaderinge van die Kerk, die werksaamhede van die Kerk, regering en tug van die Kerk en die betrekkinge van die Kerk na buite.
2.3 Die Nederduitse Gereformeerde Kerk reël sy eie interne orde op grond van sy onvervreembare roeping en interne bevoegdheid as Kerk van Jesus Christus en ook op grond van sy reg tot vryheid van godsdiens.
Kommentaar
SKRIF, BELYDENIS EN KERKORDE
Die Skrif as primêre bron en die belydenis as vaslegging van die gesistematiseerde leer gaan die kerklike orde vooraf. Die kerklike orde gaan oor die verhouding tussen Christus en sy Kerk en kom primêr voor binne die ruimte van die gemeente waar die Woord verkondig word. Die orde wat in die plaaslike gemeente tot uiting kom, is die orde wat deur die Woordverkondiging geskep word en wat gelowig aangeneem en gehoorsaam word. Juis omdat die verkondigde Woord gehoorsaam moet word, geld ook die kerklike dissipline as middel om almal in gehoorsaamheid aan die Woord van God te hou. In hierdie verband leef die lidmate in wese as die huisgenote van God in noue verband met mekaar en is hulle op mekaar aangewese. Lidmate van die gemeente is allermins onbesproke en gelowiges het die verantwoordelikheid om na mekaar om te sien en mekaar tot goeie dade aan te spoor. Die plaaslike gemeente word in die gereformeerde kerkreg geag ecclesia completa et incompleta (volledig Kerk, maar ook nie volledig Kerk nie) te wees. In verband (verhouding) met ander gemeentes (Kerke) wat dieselfde belydenis onderskryf, het die plaaslike gemeente bepaalde Skrifgefundeerde maatreëls nodig, sodat die werk van die Kerk in die wêreld ordelike voortgang kan geniet. By gebrek hieraan kan die kerklike lewe plaaslik en elders in wanorde verval. Daarom word 'n kerkorde by wyse van onderlinge ooreenkoms tussen gemeentes deur 'n kerkvergadering (Algemene Sinode) tot stand gebring. In so 'n kerkorde onderneem gemeentes teenoor mekaar om volgens 'n vasgestelde Skrifgefundeerde en belydenisgetroue orde in die nouste verband (in kerkverband van Ring, Sinode en Algemene Sinode) met mekaar saam te werk.
Kerkorde en kerkbegrip is onlosmaaklik met mekaar verbind. Kerkbegrip (identiteit) word bepaal deur die wyse waarop daar na die Skrif en belydenis geluister word. Aan hierdie kerkbegrip (verstaan van die Skrif en die belydenis) gee die kerkorde gestalte. Die Kerkorde word in die praktiese kerklike lewe as hulpmiddel gebruik wanneer kerkvergaderinge besluite neem oor sake soos: hoe eredienste en kerklike byeenkomste ingerig word (aanbidding), hoe die ampte (dienste of bedieninge) funksioneer en die gelowige gemeenskap bedien word (onderlinge sorg) en hoe die evangelie aan die wêreld verkondig word en die samelewing gedien word (getuienis). Verskil in Skrifbeskouing lei tot verskil in kerkbegrip en alles - waaronder ook die belydenis en kerklike verordeninge - wat daaruit voortvloei. In die Gereformeerde tradisie word aanvaar dat 'n Bybelsgefundeerde kerkbegrip 'n Bybels-belydenis-genormeerde Kerkorde daarstel, wat die lewe van die Kerk nie laat stagneer nie, maar dinamies daaraan rigting gee. Die heerskappy van Christus as die enigste Hoof en Heer van die Kerk moet deur die toepassing van die Kerkorde in die vergaderinge van die ampte en in die lewe van die lidmate van die Kerk sigbaar word.
Die grondreëls vir die kerklike orde, vind dus vanuit die Skrif via die belydenis ruimte in die Kerkorde. Die Kerkorde is nie belydenis nie en kan nooit aan die Skrif gelyk wees nie. Daar kan nie te veel van die kerkorde verwag word nie. Dit bly aanpasbaar, want die Kerk is 'n dinamiese gemeenskap. Dit is slegs 'n middel tot 'n doel en nooit die doel in sigself nie. Dit is nie 'n stok om mee te slaan of 'n skans om agter weg te kruip nie. Dit is net 'n vasgestelde orde vir die Kerk om diensbaar te wees - om die heerskappy van Christus as die enigste Hoof en Heer van die Kerk prakties tot uitdrukking te bring en om die geordende bane aan te dui vir alles wat op 'n gegewe tydstip vir die Kerk daaruit voortvloei.
Die Kerkorde moet gevolglik verseker dat geen lidmaat of gemeente eenkant gelaat of aan hom- of haarself oorgelaat word nie. Die huisgenote van God moet op grond van eenheid in belydenis, regering, liturgie en diens saamgebind word, as lidmate van die één Nederduitse Gereformeerde Kerk met genoeg ruimte vir onderlinge verskeidenheid in gawe, behoefte, styl en omgewing. Hiervoor is 'n Kerkorde 'n nuttige en onontbeerlike hulpmiddel.
KERNAANHALING: D Nauta in Verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, bl 13: "Het samenleven van en de samenhorigheid in de kerkenzijn er als een roeping, die steunt op Gods Woord; een roeping welke kan worden verstaan en ter harte genomen ook zonder kerkorde. De eigenlijke basis en grondslag voor het kerkelijk samenleven moet worden gezocht in Gods Woord en in de belijdenis van het geloof. Die diepere overeenstemming, dat accoord des geloofs, word door de kerkorde verondersteld; zij is dat accoord niet."

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

