Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Deuteronomium

DIE PLEK VAN DEUTERONOMIUM IN DIE OU TESTAMENT

Die naam "Deuteronomium" is die Latynse weergawe van die Griekse naam van die boek.  In die Griekse vertaling van die Bybel (Septuagint) word die vyfde boek van die Bybel met die woorde "afskrif van die wet"  weergegee.  Die Latynse vertaling hiervan is "deutero nomos'" wat "tweede wet" beteken.  Op grond hiervan is die boek geïnterpreteer as 'n tweede wet, 'n byvoeging by die wet wat by Sinai ontvang is.  Hierdie perspektief het meegebring dat die boodskap van Deuteronomium vir lank as ondergeskik aan ander wetsgedeeltes in die Bybel gesien .  Vandag word Deuteronomium beskou as een van die belangrikste boeke in die hele Ou Testament.  Die teologie van die boek Deuteronomium is inderdaad belangrik vir die verstaan van die Ou Testament in geheel.

 

Die navorsing rondom Deuteronomium is onlosmaaklik deel van die navorsing rondom die ontstaan en boodskap van die eerste vyf boeke van die Bybel (die sogenaamde Pentateugvraagstuk).  Uit die laaste deel van Deuteronomium het dit gou duidelik geword dat Moses wat as skrywer van die eerste vyf boeke van die Bybel aanvaar is, nie die skrywer van die deel van die boek kon gewees het nie.  Die laaste gedeeltes van die boek is duidelik na sy dood geskryf.  De Wette, 'n Ou-Testamentiese navorser, het aan die begin van die negentiende eeu reeds bewys dat Deuteronomium in styl heeltemal van die res van die Pentateug verskil.  Hierna was daar heelwat verskillende menings oor waar Deuteronomium tuishoort.  Van die navorsers het Deuteronomium as die inleiding van 'n geskiedeniswerk wat tot 2 Konings gestrek het beskou terwyl ander weer van Genesis tot 2 Konings as een werk gesien het.  Deuteronomium soos wat die boek in ons Bybel voorkom, vervul 'n baie belangrike skakelfunksie tussen die eerste boeke van die Bybel en die geskiedenisboeke wat daarop volg. 

 

PLEK EN TYD VAN ONTSTAAN

'n Wye verskeidenheid van stof is in Deuteronomium saamgevat wat op 'n lang ontstaansproses dui.  Uit die taal en stylverskille en die dubbele inleiding en slothoofstukke in die boek wil dit voorkom asof daar meer as een redakteur of samesteller aan die boek gewerk het.  Sommige navorsers meen dat daar 'n kern of sogenaamde oerdeuteronomium was wat later redaksioneel uitgebrei is.  Die inhoud van die boek dui op elemente in Israel se geskiedenis wat strek van die oergeskiedenis van die volk tot die ballingskap en na-ballingskapsperiode.  Die wetboek wat in koning Josia se tyd ontdek is (2 Kon 22) kon moontlik die oerdeuteronomium of ten minste 'n deel daarvan gewees het.  Die wetboek het immers 'n beduidende rol in koning Josia se hervorminge gespeel.  Uit navorsing is dit duidelik dat die wetboek 'n bekende dokument was met 'n vroeë ontstaansgeskiedenis wat in 'n stadium weer nuwe betekenis gekry het. 

 

Die vraag na die skrywers is ewe gekompliseerd.  Sekere navorsers het die ontstaan van die boek by die Priesters en Leviete gesoek.  Hulle was bekend met die wetlike tradisies van Israel en sou maklik die samestellers van die boek kon wees.  Sommige elemente in die boek, soos die sentralisering van die heiligdom, sou egter juis die Leviete benadeel het.  Die profete is 'n volgende moontlikheid.  Die kultus het gegroei by die aanbiddingsplekke by Gilgal, Bet-el en Samaria.  Dit was juis by die plekke waar die tradisies van die profete oorgelewer is.   Navorsers is dit eens dat ons moeilik kan sê dat die stof uit een bron afkomstig is en dat ons dalk moet aanvaar dat die boek uit priester sowel as profetekringe kon ontstaan het.  Die teologie in die boek kom ook nie net uit die Noordryk of die Suidryk nie maar is 'n wye verskeidenheid van perspektiewe.  Al hierdie gegewens dui daarop dat die boek Deuteronomium 'n lang ontstaans-geskiedenis gehad het.  Die datering van die boek is, net soos by ander wetboeke soos Levitikus, minder belangrik aangesien die konteks van die wette waarbinne dit in die huidige weergawe voorkom meer belangrik as die datering is. 

 

HOOFSTUKINDELING

Deuteronomium word in die styl van 'n afskeidspreek wat deur die mond van Moses aan die volk oorgedra word, voorgehou.  Buiten hierdie formele voorkoms vertoon die opbou van die boek die struktuur van 'n verbondsooreenkoms tussen twee partye.  Gewoonlik het 'n ooreenkoms tussen twee partye die volgende elemente bevat:

a)      Die inleiding waarin die koning bekendgestel word.

b)      Die verbondstipulasies

c)      Seën en vloeke

d)      Ooggetuies by die verbondsluiting

 

Deuteronomium het die basiese vorm van die verbondsooreenkoms behou.  Later is dit uitgebrei in die vorm van 'n preek.  Die indeling van die boek sien as volg daarna uit:

1-11           Historiese oorsig van die Sinai-gebeure

12-26:15     Lees van die Wet

26:16-19     Voltrekking van die verbond

27-34         Seën en vloeke

 

DIE BOODSKAP VAN DEUTERONOMIUM

Op grond van die opbou van die boek is dit duidelik dat Deuteronomium geskryf is om die volk te herinner aan die verbond met God.  Hulle word opgeroep om die eise en verpligtinge van die verbond na te kom.  In tye waar respek vir ou tradisies verlore gegaan het, word hulle juis opgeroep om die tradisies te laat herleef.  God se liefde vir sy volk word duidelik uitgespel.  Hulle moet egter onthou dat die Wet tot alle aspekte van hulle lewens strek.  Seën sal oor hulle uitgestort word as hulle die verbond nakom en die Wet onderhou.  Die teenoorgestelde is egter ook waar.  Vloek sal hulle tref as hulle die Wet en die verbond minag.  Uit die bostaande is dit duidelik dat die boek in verskillende tye en omstandighede die volk opgeroep het om terug te draai en God weer met toewyding te dien.