Oostelike Sinode
Bedieninge » Aanbidding » Woordwyser » WOORDWYSER 2009
WOORDWYSER 2009
2008/08/19
Dag-tot-dag Bybelleesprogram
Die Woordwyser II Bybelleesprogram het twee doelstellings: om die gelowige Bybellesers se leeservaring te verryk en om hulle geloofsbelewenis te verdiep. Hier die twee doelstellings hou verband met mekaar. 'n Gelowige lees van die Bybel bring ons immers nader aan God.
Die gelowige Bybelleser se leeservaring word verryk deur Bybelboeke nie te lees in die volgorde waarin dit normaalweg gerangskik is nie, maar in die volgorde waarin dit ontstaan het; eers die ouer Bybelboeke en dan die jongeres. Die gevolg is dat die leser Bybelboeke wat in dieselfde tyd geskryf is sáám lees. Só word 'n helderder en voller prentjie gekry van die agtergrond van elkeen van die Bybelboeke en daarmee saam natuurlik groter insig in die rykheid van betekenis wat in elke Bybelboek opgesluit lê. Die betekenis van voorheen onverstaanbare verse word so oopgebreek en die gevaar van verkeerde en skadelike uitleg verminder.
Om die leser te help om die ontstaanskontekste van elke boek te verstaan, is inleidings vir elke tydperk voorsien. Die lees en die bestudering hiervan is ontonbeerlik indien die volle potensiaal van hierdie leesprogram ontsluit wil word. Riglyne vir die hou van kleingroepbyeenkomste vir elke week van die jaar word ook weer soos in die verlede ingesluit.
Die redaksie se bede is dat elkeen wat hierdie leesprogram volg 'n intiemer wandel met die Here tot gevolg sal hê.
Eksegetiese Riglyne
Dit is elke predikant en gemeenteleier se begeerte en roeping om gelowiges te begelei op die pad van geloofsgroei. Hiervoor is 'n diep en insigryke verstaan van die Bybel ontonbeerlik. Die Woordwyser II Bybelleesprogram wil hiermee help.
Een van die maniere waarop gelowiges tot 'n beter verstaan van die Bybel gelei kan word, is om die Bybel nie van voor tot agter in normale volgorde deur te lees nie, maar in die volgorde waarin dit ontstaan het. Sodoende word Bybelboeke en –gedeeltes wat in dieselfde tydperk ontstaan het, saam gelees. Dit lei tot groter insig in die onstaanskonteks van die boeke van die Bybel en gevolglik tot groter begrip van die inhoud van elke boek.
Wat die Ou Testament aanbetref word 2009 gewy aan die tydperk net voor en tydens die ballingskap van 586-539 v.C – 'n besonder produktiewe tyd in die ontstaans- en samestellingsgeskiedenis van die Bybel. Die latere verwoesting van die tempel in 70 n.C. en die brand in Rome van 64 n.C. het onder andere weer gelei tot die opskrifstelling van 'n groot gedeelte van die Nuwe Testament, by name die sinoptiese evangelies. Matteus, Markus en Lukas kom derhalwe gedurende 2009 aan die orde.
Eksegetiese riglyne asook 'n liturgiese voorstel en kinderboodskap vir elke Sondag word in hierdie bundel voorsien. Visuele materiaal vir gebruik in eredienste word ook op die meegaande opsionele CD ingesluit. Hierbenewens word elke ontstaanstydperk wat behandel word voorafgegaan deur 'n deeglik inleiding; 'n deeglike lees en bestudering hiervan is onontbeerlik.
Bestel by http://www.sinoos.co.za/books
Navrae: 012 804 9543

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

