Oostelike Sinode
Bedieninge » Aanbidding » Kerklike Jaar » PINKSTERTYD
PINKSTERTYD
2009/05/20
PINKSTERTYD
Pinkster word vyftig dae ná Paasfees gevier en die datum daarvan word deur die datum van Paasfees bepaal. Ons herlei ons viering terug na die uitstorting van die Heilige Gees tydens die viering van die Ou-Testamentiese fees Shavuot (Pentekoste of Pinksterfees), net na Jesus se opstanding en hemelvaart (Handelinge 2).
Die vroeë Israeliete het die Kanaäniete se oesfees in die vroegsomer oorgeneem, net soos wat hulle ook met ander feeste en gebruike gedoen het. Op die laaste aand daarvan, tydens 'n vier-en-twintig uur lange nagwaak, het hulle die gee van die Wet deur God en die ontvangs daarvan deur Moses by Sinaïberg gevier. Lukas het in sy teks die naam Pentekoste behou, maar die viering van die gee van die Tora met die gee van die Heilige Gees (sien Romeine 7:6) vervang. Hy vertel van Johannes die Doper wat gesê het dat iemand, wat groter as hy was en met die Heilige Gees en vuur doop, na hom sou kom (Lukas 3:15-17; hy maak hier ook 'n aansluiting met die skoonmaak van die dorsvloer). Nadat Jesus gedoop is en terwyl Hy gebid het, het die hemel bo hom oopgegaan en die Heilige Gees het op Hom neergedaal. Daar word uit die hemel aangekondig dat Jesus God se geliefde Seun is oor wie God Hom verheug (3:21-22). Dit ís die nuwe, ware Pinksterfees.
Lukas volg sy vertelling oor die eerste Pinksterfees in Handelinge 2 op, wanneer die Gees wat Jesus ontvang het aan sy dissipels gegee word. Die gebeure daar korrespondeer met Genesis 10 tot 11 en 2 Konings 2:1-18, wat in hierdie tyd in die sinagoges gelees is. Lukas neem vertellings waarmee sy lesers vertroud was en omskep dit om te sê dat Jesus nie net groter as Johannes is nie, maar ook groter as hulle profeet Elia. Toe Elia na die hemel opgevaar het, het hy sy gees op sy volgeling, Elisa, laat neerdaal, maar Jesus gee sy Gees duisendvoudig. Net soos wat Elisa se lewe verander is, is die dissipels se lewens gereinig, geheilig en vernuwe en het Jesus se Gees in hulle lewens ontvlam.
Anders as by Elia, vernietig Jesus se Gees nie die Jode se vyande nie, maar word die hele menslike familie in God verenig. Die dissipels kommunikeer oor die grense van menslike taal heen, want die taal van liefde is universeel. Handelinge 2:9-11 se lys van volke verwys na mense uit die hele destyds bekende wêreld en stem ooreen met die lys van Noag se nageslag in Genesis 10. Die menslike familie, wat by die toring van Babel uitmekaargedryf is, is weer byeengebring en in God verenig! Al is die Jode se tempel – soos Babel se toring – verwoes, is hulle terug uit ballingskap en deur God tot één nuwe mensheid gemaak (Efesiërs 4:3-7).
Uit 'n Kanaänietiese oesfees het daar 'n viering ontwikkel waarin nie gerwe, soos wat dit deur wette voorgeskryf is nie, maar mense deur God se liefde byeengebring is. Lukas help sy lesers om die lewe in en deur die Gees, waarvan Paulus ook vertel het, aan nóg 'n konkrete verwysingspunt te verbind. Hy bied nie, soos Matteus met die Bergrede (Matteus 5-7), "die nuwe Moses" se "nuwe wet" en sy vertolking daarvan aan nie, maar sê dat die Gees van God, oftewel God sélf, as "Geskenk" aan hulle gegee is.
Matteus het in sy leesmateriaal vir die Pinksterfees aangesluit by Psalm 119, wat tydens die nagwaak in agt eenhede gelees is, en dit omskep in die sogenaamde saligsprekinge (Matteus 5:3-12). Sy oktaaf word ingelei en afgesluit met die verklaring dat God se koninkryk belowe word aan húlle wat arm van gees is (5:5) en húlle wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is (5:12). Dit word opgevolg met 'n "preek" oor elkeen van die saligsprekinge. Die laaste saligspreking kom eerste aan die beurt (5:11-20 oor 5:10) en so word teruggewerk (5:21-26 oor 5:9, 5:27-37 oor 5:8; 5:38-48 oor 5:7, ensovoorts) tot by die eerste een.
Met die viering van Pinkster vier ons God, wat Homself aan ons geskenk het. Ons vier sy teenwoordigheid en die vrug daarvan in ons lewens (Galasiërs 5:22-23), asook die seëninge (Efesiërs 1:3) en gawes (Romeine 12:4) wat ons ontvang. Ons erken daarmee saam dat ons deur die Gees lewe en wy onsself opnuut daaraan dat die Gees ook ons gedrag bepaal (Galasiërs 5:25). Ons streef daarom onderlinge eenheid na en bevorder gasvryheid.
GEBRUIKE, SIMBOLE EN KLEURE IN PINKSTERTYD
Pinkstertyd se kleure is vuurrooi, warm oranje en goud. Simbole is 'n duif, vuur, vuurtonge, 'n afwaartse pyl, 'n reënboog, 'n druiwetros, afgeskilde sitrusvrugte (die vrug se lobbe vorm saam 'n eenheid), 'n geskenkhouer of 'n verskeidenheid geskenkhouers, asook rooi kerse en/of blomme en/of linte.
Gerhard Bothma

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

