Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Bedieninge » Aanbidding » Kerklike Jaar » PAASTYD

PAASTYD


2011/04/20

PAASTYD

       

Paasfees was nie net die hoogtepunt van die Joodse liturgiese jaar nie, maar word ook as die hoogtepunt van die Christelike kerklike jaar beskou. Paulus het 'n duidelike verband tussen die Israeliete in Egipte, sy mense se situasie onder die Romeinse heerskappy en Jesus se kruisiging gelê. Hy het Christus en die gelowiges, na aanleiding van Eksodus 12:6-8, as God se Paaslam en nuwe, ongesuurde deeg beskryf (1 Korintiërs 5:7-8). Paasfees het vir Christene "die pasga van die Here" geword en hulle het jaarliks Jesus se opwekking en opstanding gevier. Later het hulle dit ook elke Sondag gedoen.

 

Paastyd sluit, saam met Paasfees en Pinksterfees (ook bekend as Opstanding- of Paassondag), sewe Sondae in. Gedurende hierdie seisoen word die betekenis van die opwekking en opstanding van Jesus in die liturgie geïntegreer. Dít was van vroeg af die hart van die Christelike geloof. Paulus het geskryf: "Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons" (Romeine 8:34). Dit is egter nie al nie, "God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek" (1 Korintiërs 6:14). Die opwekking van Christus is volgens hom nie net die inhoud van die geloof nie, maar ook van die prediking: "En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud" (1 Korintiërs 15:14, en veral vers 15).

 

Ons word in Paastyd veral herinner aan die nuwe lewe: die oue is verby, die nuwe hét gekom. "Dit alles is die werk van God" (2 Korintiërs 5:17-18). Ons word betrek in die bediening van die versoening en ons word uitgedaag om ánders teenoor mense op te tree as vroeër (2 Korintiërs 5:11-21). In Paastyd verkondig ons Christus se opstanding. Omdat ons self opgewek word tot nuwe lewe, leer ons aan wat dit behels en oefen ons dit in. Omdat Paastyd 'n tyd van nuwe lewe is, is dit ook 'n tyd van nuwe drome en nuwe moontlikhede. Christus lééf, en ons met Hom!

 

Johannes se verhale oor Jesus se verskynings ná die opstanding (20:1-18; 20:19-31; 21:1-14 en 21:15-25) behoort op die Sondae in Paastyd gelees te word. Die motief van "nuwe lewe", wat regdeur Trito-Jesaja en die profete wat gedurende hierdie tyd gelees word, moet ook voldoende aandag kry. Dit is belangrik dat gelowiges besef dat die gedagte dat geloof die oorwinning oor die sonde en dood behaal, reeds in die Ou Testament bestaan het.

 

Die betekenis van Vryheidsdag (27 April) en Werkersdag (1 Mei) moet ontgin word. Met Vryheidsdag moet die verband tussen die demokratiese waardes wat in die Grondwet verskans word en die nuwe lewe nie geringgeskat word nie. Dit is belangrik dat gelowiges leer om 'n gesonde Bybelse samelewingskritiek aan te kweek en ook gemotiveer word om goeie landsburgers te wees. Die profete wie se geskrifte in Paastyd gelees word, het baie hieroor te sê gehad. Hulle het ook 'n goeie werksetiek voorgestaan. Die verband tussen die volk se harde werk en die Here se ingrype word goed verwoord in Joël 3:18: "Daardie dag sal daar volop wyn wees op die berge, oorvloed melk op die heuwels. In al die slote van Juda sal daar water loop, 'n fontein sal uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei."

 


SIMBOLE, KLEURE EN GEBRUIKE IN PAASTYD

 

Lopende water kan gebruik word om Paastyd en die nuwe lewe, asook die verfrissende karakter van die versoening, te simboliseer. Die oop graf, paaskers, 'n kruis (of drie kruise, waarvan een vol blomme), die opkomende son of die son wat deur wolke breek, blomme, 'n lelie of lelies, skoenlapper(s), 'n kandelaar met sewe brandende kerse is alles gepaste simbole vir Paastyd. So ook dooie blare, vuur en paaseier(s) en ander lekkernye. Ander simbole is 'n lam, die chi-rho, die alfa en die omega, 'n doopvont, nagmaalbeker, brandende fakkel, koringaar, 'n oop hek en die herout se trompet. Baniere met die woorde "Hy leef!" of "Christus leef!" (saam met "... en ons mét Hom"), "Die Heer het opgestaan!" en Paasfeessimbole daarop kan ook in die kerkgebou aangebring word.

 

Die hoofkleure op Paassondag en vir die duur van die hele Paastyd is wit en goud of wit wat met goud omraam is. Lewe, oorwinning, vrede en vreugde word hierdeur uitgedruk. Eintlik kan enige vrolike kleure hiermee saam gebruik word.

 

Wanneer die doop bedien word, behoort klem op die eenheid met Christus, die afsterwe van die ou lewe en die opstanding van die nuwe lewe gelê te word. Dit is alles tekens wat die geldigheid van God se verbond met ons waarborg. Met nagmaal word die gemeenskap met Christus en mekaar en dat dit 'n fees van dankbaarheid is, beklemtoon. Gee die brood en wyn met die woorde "Hy het opgestaan", "Die Here lewe" of "Hy leef ook in jou" aan. Herinner lidmate aan hulle doop. Ons moet ons geloof soveel as moontlik bely, bevestig en verwoord. Die misterie van die opstanding moet deurgaans uitgelig en beklemtoon word.

 

Gerhard Bothma