Oostelike Sinode
Bedieninge » Onderlinge Sorg » Mentorskap » MENTORSKAP OPLEIDING 17 TOT 19 OKTOBER 2011
MENTORSKAP OPLEIDING 17 TOT 19 OKTOBER 2011
2011/09/12
14 September 2011
Die Voorsitter van die Kerkraad
MENTORSKAP
Binne die Sinode is ons predikante vir ons baie belangrik, as ampsdraers is hulle welstand hoog op ons prioriteitslys. Ek neem aan u voel binne die gemeente dieselfde, daarom dat ek vrymoedigheid neem om hierdie saak onder u as kerkraad se aandag te bring.
Die Algemene Sinode het 'n omvattende beleid rakende predikante goedgekeur. Hierdie beleid is vervat in 'n A-Z Handleiding (CD) wat destyds beskikbaar gestel is aan leraars en gemeentes. Deel van hierdie beleid is mentorskap. Die betrokke besluite lui soos volg:
· "Van elke leraar word verwag om in 'n mentorverhouding met 'n kollega te staan."
· "Die gemeente moedig die predikant aan om by die mentorprogram van die sinode in te skakel en te begroot vir die uitgawes hieraan verbonde."
Graag neem ek dan die vrymoedigheid om aan u as kerkraad die volgende vraag te stel: "Hoe gaan dit met u predikant(e)?" Daar is te veel predikante wat lewensmoeg en plat teen die vloer moedeloos is, wat nie meer kans sien vir die bediening nie, maar ook geen ander keuse het as om voor te gaan nie. Wat het van hulle bedieningsvreugde geword? 'n Droom lank verlore tussen al die vergaderings en siekebesoek en geen tyd saam met hul gesin nie?
Dit is waar mentorskap 'n belangrike rol speel. Om predikante wat lewensmoeg is weer te motiveer en toe te rus om in 'n mentorskapsverhouding betrokke te raak asook predikante wat emosioneel en geestelik sterk is toe te rus om ander weer by te staan.
Ek wil dat u asseblief die saak tydens die volgende kerkraadsvergadering sal bespeek. Dit is in belang van die predikant wat in diens is van die gemeente en vir die gemeente self. 'n Uitgebrande oorwerkte predikant kan nie 'n gemeente effektief lei en dien nie. Neem vandag as kerkraad 'n besluit en belê in u predikant(e) en ervaar die verskil. Diepredikant gaan dit nie noodwendig vanself doen nie.
Graag gee ek inligting deur oor ons volgende mentor opleidingsgeleentheid. Die opleidingsmateriaal word gereeld hersien, sodat ons net die beste bied aan ons kursusgangers. Daar word intensiewe aandag gegee aan persoonlike ontwikkeling, leierskap, asook intensiewe opleiding aangaande mentorskapsvaardighede.
Ons volgende opleiding vind vanaf 17-19 Oktober 2011 by Makarios plaas. Dit is aan die oewer van die Krokodilrivier by die Krugerwildtuin. Ons het vasgestel dat dit beter is om 'n eiland situasie te skep vir hierdie tipe opleiding. Die koste per kursusganger beloop R600 per persoon. 'n Groot gedeelte van die koste word reeds deur die Sinode gesubsidieer. Indien dit nie vir u gemeente moontlik is om hierdie koste te dra nie, is u welkom om my te kontak. Inskrywings is op die webblad www.mentorskap.org beskikbaar, maar ons sal ook aan elke gemeente en leraar 'n brief en e-pos stuur.
Ons vra ook dat u, u predikant sal aanmoedig om sy / haar bediening te verryk deur van die dienste van 'n mentor gebruik te maak.
Ons nooi u ook graag uit om gemeentelede (veral leiers) wat graag mentoropleiding wil hê, vir hierdie kursus in te skryf.
Vir meer inligting of navrae is u meer as welkom om my te skakel by 083 572 4886. Meer besonderhede is ook op ons webblad beskikbaar: www.mentorskap.org
Met seënwense.
Jean Strydom
DR J STRYDOM (Diensgroep vir predikante)
083 572 4886

Getuienisgemeenskap wat deur ons lewe en woorde aan die mekaar en die wêreld wil vertel van die nuwe lewe wat God aan ons gegee het.
Gemeenskap waarin ons onderlinge sorg onsself en ander gedurig daaraan herhinner dat God ons daagliks versorg.
Aanbiddingsgemeenskap wat daarna streef om God in opregtheid en vreugde te aanbid.

