Skip to content | Skip to navigation
Algemene Sinode
NG Kerk
Work
Posbus 73657
Lynnwoodrif
0040

WorkTel: 012 804 9543
FaxFaks: 012 804 94 62
E-Pos:

Bedieninge » Onderlinge Sorg » Mentorskap » MENTORSKAP

MENTORSKAP


2010/04/20

Agtergrond oor mentorskap

 

Reeds in 2004 het die Algemene Sinode 'n Mentorprogram vir die kerk goedgekeur. Die doel van die program is sodat gelukkige predikante vreugdevol kan funksioneer met God se eiendom, naamlik Sy gemeente. Die A-Z Beleid wat deur die Algemene Sinode goedgekeur is, plaas die saak van Mentorskap op die tafel van elke predikant, ring en sinode. Die saak word sterk gestel met die volgende stellings op die CD (Bedieningsvreugde met die A tot Z Beleid):

  • "Van elke leraar word verwag om in 'n mentorverhouding met 'n kollega te staan."
  • "Die gemeente moedig die predikant aan om by die mentorprogram van die sinode in te skakel en begroot vir die uitgawes hieraan verbonde."
  • "Die ring sorg dat die beleid/voorskrifte aangaande die mentorprogram uitgevoer word."

Al hoe meer predikante ly aan uitbranding, as gevolg van verskeie redes. Die doel van mentorskap is om die vreugde vir elke predikant weer in sy bediening terug te sit. Die doel is dat kollegas saam op 'n reis sal gaan en saam bedieningsvreugde en sin sal ontdek.

Predikante besef oor die algemeen dat hulle 'n verantwoordelikheid teenoor mekaar het, maar in die praktyk is dit 'n ander storie. Ons raak so besig dat daar nie tyd is om mekaar te help met self- en bedieningsontwikkeling nie. Gelukkig leer ons dat Paulus nie so teenoor Timoteus opgetree het nie. Hy het verantwoordelikheid aanvaar vir Timoteus se ontwikkeling as mens en as pastor. Daarvan is die pastorale briewe vol. So byvoorbeeld moedig hy hom aan in 1 Tim 4:16 – "Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin…"

Hierdie is 'n aktuele saak wat nie langer onaangeraak kan bly nie. Selfs in die nuwe gemeentebouprosesse word mentorskap herontdek as een van die sleutels in die ontsluiting van die predikant se potensiaal. 

 

Wat is Mentorskap?

 

Mentorskap is nie 'n alles-of-niks verhouding wat staties van aard is nie. 'n Mentor neem verskeie rolle aan om die behoeftes van die mentee effektief en voldoende te kan aanspreek. Dit beteken dat 'n goeie mentor heel waarskynlik 'n goeie fasiliteerder en ook 'n goeie leier sal wees. 'n Goeie mentor moet ook oor goeie beradingsvaardighede beskik om as reisgenoot 'n mentee te ondersteun en waarlik met hierdie persoon op reis te gaan ten einde persoonlike en of professionele probleme in 'n ander lig te kan sien. Tydens die Mentorskap-opleiding word daar aan al bogenoemde aspekte aandag  gegee sodat jy as individu bemagtig is.

 

Is Mentorskap nie dieselfde as "Coaching" nie?

 

Nee, beslis nie. Dit is meer as net "coaching". "Coaching" is die proses waar een persoon vanuit 'n ekspert posisie die ander persoon help om sekere aspekte rakende sy werk/bediening beter te kan doen. 'n Mentor is  daar om ook soms dit te doen, maar die hoofdoel is om die mentee te help om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel.

 

Watter voordele hou dit vir my as opgeleide Mentor in?

 

Tydens die kursus (Mentor Opleiding) sal jy volledig toegerus word. Jy sal nuwe perspektiewe ontwikkel en tydens die 3 dae sal jy ook persoonlike groei ervaar. Jy as opgeleide mentor sal waarde toevoeg tot 'n ander persoon se lewe. Jy sal persoonlike satisfaksie kry om te sien hoe daardie persoon persoonlike groei ervaar as gevolg van jou insette. Jyself sal groei ervaar in jou menswees en jou benadering tot ander mense. Jy sal 'n kardinale rol speel in die voortbestaan van goeie gelukkige predikante wat bedieningsvreugde ervaar in die NG Kerk.

 

Hoe kry ek 'n Mentor?

 

 Daar is reeds 'n aantal dominees opgelei as mentors. Hulle CV’s is tans op die Sinodale webblad http://www.sinoos.co.za/bedieninge/item/cv  Hulle kan enige tyd gekontak word om as mentors op te tree. Ons het egter gevind dat in die meeste gevalle het baie leraars reeds mentors in hulle lewe, nie noodwendig ander predikante nie. Die kerk moedig egter elke predikant aan om so besonderse persoon in sy of haar lewe as mede reisgenoot te gebruik. Dis tot jou eie voordeel. Jy het dalk reeds so persoon wat 'n groot rol in jou lewe speel, wil jy nie dit oorweeg om daardie persoon te stuur vir verdere formele mentor opleiding nie? Hoekom? Sodat jy nog meer waarde uit daardie verhouding kan put.

 

Hoe kan ek 'n Mentor word?

 

Skryf in vir die kursus van 3 dae en word toegerus om 'n daadwerklike verskil in iemand anders se lewe te maak. Hier sal jy leer wat behels mentorskap en jy sal ten volle bemagtig wees na die kursus. Jy sal met die nodige selfvertroue 'n mede reisiger kan wees.

 

Wie bied die opleiding aan?

 

Die kerk het 'n lisensie by "Learning Link" bekom om hulle mentorprogram aan te bied. 'n Aantal predikante het alreeds die program deurloop. Opleiding word van tyd tot tyd in verskeie dele van die land aangebied. Persone wat die opleiding sal hanteer is dr. Jean Strydom en Me. Minette Dempsey (tans betrokke by persoons- en leierskapontwikkeling van Hoof-bestuurslede by onder andere Anglo Gold en Standard Bank en vele ander organisasies)

 

Daar word jaarliks 2 kursusse aangebied. Die volgende een vind plaas 17-19 Augustus by Makarios (geleë op die oewer van die Krokodilrivier). Die Sinode dra van die kostes vir elke kursusganger. Meer inligting oor die finale koste vir die kursus sal nader aan die tyd verskaf word. Vir besprekings kontak dr. Jean Strydom by 083 572 4886 of jeanstr@absamail.co.za  

 

VBO Punte?

 

Leraars wat die kursus bywoon, kry 15 VBO punte vir die jaar. Indien jy in 'n Mentor Mentee verhouding is, kry jy 'n verdere 10 VBO punte vir die jaar. Vir meer inligting besoek www.excelsus.org.za

 

Indien ek reeds opgelei is?

  

Jy is welkom om weer die kursus by te woon. Daar is nuwe materiaal bygewerk. Ons wil jou uitdaag om op grondvlak as mentor op te tree en 'n verskil te maak. Sorg dat jou CV op die webblad gepubliseer is.

 

My CV op die webblad?

 

Ons wil graag jou CV op die databasis plaas sodat ander kan baat vind by jou kennis. Sodra jy die kursus voltooi het, plaas ons jou CV op die internet (sinodale webblad), sodat ander leraars jou moontlik kan kontak om vir hulle as mentor op te tree. Klik hier  http://www.sinoos.co.za/bedieninge/item/cv   om jou CV elektronies te verwerk en op die databasis te plaas.

 

Registrasie by buite instansies?

 

Indien jy die opleiding ondergaan het kan jy ook by buite instansies registreer as 'n mentor en jou CV op hulle webblad plaas. Jy kan dan deur maatskappye genader word om op te tree as 'n "spiritual mentor". Gewoonlik geskied hierdie diens teen vergoeding. besoek gerus www.comensa.co.za

 

Wie is die kontakpersoon vir verdere navrae?

 

 Dr. Jean Strydom by 083 572 4886 / jeanstr@absamail.co.za